by Orania Beweging | Aug 17, 2016 | Nuus |

Oor net meer as ’n jaar van nou af vind die vierjaarlikse federale verkiesing in Duitsland plaas. Terwyl Angela Merkel omstrede is weens haar immigrasiebeleid is die vraag of daar volgende jaar enige werklike opposisie teen haar gaan wees.
Hoewel Merkel nog nie-amptelik haar kandidaatskap aangekondig het nie, raak dit duidelik dat sy haarself vir ’n vierde termyn beskikbaar gaan stel. Merkel, wie hierdie week na haar jaarlikse somervakansie na Berlyn terugkeer om haar regering se agenda vir die volgende twaalf maande tot en met die verkiesing te bepaal, is blykbaar reeds besig om haar verkiesingsveldtog vir volgende jaar te beplan.
Toe Merkel in 2005 tot bondskanselier verkies is, het min mense gedink dat sy een van die bekendste, soms gewildste en soms mees omstrede leiers van Europa sou word. Merkel het gedurende die 1990’s haar opgang in Duitse politiek gemaak. Onder leiding van haar mentor Helmut Kohl het sy deur die range van die Christen-Demokratiese Party gevorder. In 1999 het Merkel ’n leiersrol in Kohl se ondergang gespeel toe sy in ’n artikel in een van die bekende Duitse koerante druk op Kohl geplaas het om te bedank.
Weens ’n korrupsie-skandaal binne haar party het die een groot leier na die ander geval en in 2003 was Merkel gereed om as leier van die party oor te neem. Sy was die een kandidaat sonder bagasie en hoewel nie noodwendig die beste nie, wel die veiligste. Sedert Merkel se verkiesing in 2005 as bondskanselier het haar pragmatiese, versigtige en byna wetenskaplike benadering tot politieke besluite tot Duitsers gespreek.
Wat baie kommentators egter sedert Merkel se toetrede tot Duitse politiek misgekyk het, is die wyse waarop sy van politieke opponente ontslae geraak het. ’n Bekende Britse politikus, Jonathan Powell het ’n tyd gelede Merkel se politiek as Machiavelliaans bestempel, verwysende na die onverskrokke wyse waarop sy mag nastreef en politieke opponente uit die weg ruim.
Vandag het Merkel geen politieke opponente of potensiële opvolgers binne haar eie party nie. Merkel se kabinet bestaan uit politici sonder veel ambisie, persone sonder die vermoë om haar uit te daag en natuurlik individue wat volledig lojaal aan Merkel is.
Merkel het selfs daarin geslaag om haar grootste politieke opponent, die Sosiaal-Demokratiese Party, te verswak deurdat sy talle van dié party se beleidsrigtings haar eie gemaak het. Leiers binne die Sosiaal-Demokrate oorweeg om nie eers volgende jaar ‘n kandidaat teen Merkel te stel nie.
Die Angela Merkel wat haar land weg van omstredenheid, oorloë en ekonomiese slaggate gehou het, het egter vroeg in die somer van 2015 besluit om die grootste stap van haar loopbaan te neem. Sy het Duitsland se grense vir meestal Moslem-immigrante uit die Midde-Ooste en Noord-Afrika oopgegooi. Sedertdien het haar en haar party se steun gedaal en is sy lankal nie meer die veilige keuse vir Duitsers nie. Met byna geen wesenlike sterk alternatief tot Merkel nie, sal sy waarskynlik volgende jaar herkies word en sal die onindrukwekkende karakter, maar geharde politikus Duitsland se toekoms vir altyd in ‘n rigting stuur waaraan sy waarskynlik reeds vir jare beplan.
by Orania Beweging | Aug 15, 2016 | Nuus |
Die afgelope naweek is Taaldag herdenk. Op 14 Augustus dink ons terug aan die Genootskap van Regte Afrikaners wat op daardie dag in 1875 byeengekom het om die onderdrukking van die Afrikaanse taal te beveg. `n Afrikaanse Bybel, Afrikaanse kunstefeeste en Afrikaans as algemene gebruiksstaal kan direk toegeskryf word aan die stryd wat deur ons voorgeslagte gevoer is. Die GRA was ook verantwoordelik vir die eerste Afrikaanse koerant wat as Die Patriot bekendgestaan het. Vandag word die nuus in koerante, op televisie en natuurlik op radio in Afrikaans aan die publiek gebring.
Die feit dat Afrikaans op soveel platforms beskikbaar is kan direk toegeskryf word aan die werk wat vroeër gedoen is en die fondasie wat daar gelê is. Ons moet onthou dat daar `n fel stryd teen Afrikaans was na die Anglo Boereoorlog. Afrikanerkinders wat nie die Engelse uitsprake kon baasraak nie moes in klaskamers op stoele staan met die word ‘donkie’ om hulle nekke. Selfs lank voor dit, in die 1800’s was Nederlands die taal wat bo Afrikaans verkies is. Die gewildheid en internasionale bekendheid van Afrikaans was dus ‘n opdraende pad.
Vandag is die woorde ‘Afrikaans must fall’ oral op kampusse te sien. Dit is nie `n veldtog om moedertaalonderrig uit te brei en ander Afrikatale te laat insluit by tersiêre onderrig nie maar `n terughunkering na `n eentalig Engelse onderrigmedium. Baie soortgelyk aan die stryd wat teen Afrikaans gevoer is kort na 1902. Ook in die staatsdepartemente kom Afrikaans toenemend onder druk.
Daar is talle persone en instansies wat hulle kant bring om Afrikaans se regmatige plek te beskerm. Organisasies soos AfriForum het al verskeie hofaksies daarvoor aangepak. Die taalaktivis, Kerneels Lourens, doen ook sy deel om Afrikaans se regmatige plek in die howe en op ander plekke te beskerm. In Orania word daar `n stad gebou waar Afrikaans beskerm en bevorder sal word. Hierdie inisiatiewe speel almal `n groot rol in die uitbou van Afrikaans.
Die vraag is egter nie wat ander doen of reeds gedoen het vir Afrikaans nie. Elke spreker van die taal, elke individu, het `n rol wat hulle moet speel. Die rol kan so eenvoudig wees soos die ondersteuning van Afrikaanse skrywers of die inskakel op `n Afrikaanse radiostasie. Hollywood neem die voortou as dit by die vervaardiging van rolprente kom maar ondersteun gerus ook die Afrikaanse produksies – mits dit van `n bepaalde gehalte is. Moedig jou kinders aan om Afrikaanse werke te lees – nuwe werke asook die digkuns van Eugene Marais, Totius en DJ Opperman.
Oor `n honderd jaar gaan ons nageslagte terugkyk en vra wat ons nagelaat het vir hulle. Watter fondasie het ons gelê waar op die taal verder uitgebou kon word? Ons mag hulle nie teleurstel nie.
by Orania Beweging | Aug 10, 2016 | Nuus |
Jare gelede vertel my skoonpa, ook ’n predikant, die volgende verhaal. By geleentheid word predikante gevra om in ander gemeentes sakramente te bedien, gewoonlik omdat die familie betrokke is of omdat dié gemeente vakant is. So word my skoonpa gevra om by ’n naburige gemeente die doop te gaan bedien. Om by ’n ander gemeente te preek is gewoonlik ’n nuwe, vreemde ervaring, daar is tog iets van ’n plaaslike kultuur en mens beleef dit sommer met die telefoniese reëlings al van die betrokke Sondag. As voorbeeld mens se skakeling met die orrelis oor die liturgiese liedere. Soms verwag sy dit twee weke voor die tyd alreeds om te oefen, soms is die orrelis so gemaklik dat sy sommer self op die houtbordjies kyk waar die ou koster die nommertjies aanbring. Met die aankomslag gaan die vreemdhede voort: Wie jou kom verwelkom, die tipe koffie wat jy aangebied word, die uitleg van die kerkgebou. Ook binne die konsistorie beleef mens dit, heelwat vreemde gesigte wat gesels oor dorpsdinge en mense waarvan jy nie veel weet nie. Dit is amper of mens jouself op die intreeslag op die volksvreemde sendingveld beleef. Anders.
Met meeste uitpreke wil jy as predikant so ’n vinnige draai op die kansel maak voor die tyd, om die papiere en boeke reg te sit, die klank te toets en net so ’n gevoel te kry van wat voorlê. Hierdie spesifieke Sondag word hierdie kardinale voorbereiding egter nagelaat en so ’n oordeelsfout skep gewoonlik die teelaarde vir ten minste ’n opwindende en interessante ervaring. Dit stel nie teleur nie.
Die betrokke Sondag verloop alles soos verwag met die verwelkoming in die konsistorie, die statige voorsitter wat die dominee verwelkom, die doopkaartjie met die name wat oorgegee word en die ouderling wat hartroerend bid vir die diens wat voorlê en vir die teken van redding wat bedien gaan word aan ’n kindjie.
Voor mens instap, deur die sydeur aan die ouderlinge toegeken, altyd van die gemeente se kant af die linker een, hoor mens gewoonlik die gemeente se “God is hier teenwoordig” of iets in der voege, dan gooi jy gou jou toga oor jou skouers, gryp jou pakkie boeke en stap statig deur die deur, kerkbinne. Die Predikant stop dan by die trappies, om te bid vir leiding, wysheid en meermale beskerming teen jou eie minder as volmaakte voorbereiding. Dan begin die diens.
Die betrokke Sondag, so vertel my skoonpa, gaan die prediking oor redding met die water van die doop as simbool van Christus se offer wat ons reinig van al ons sondes, gefundeerd in die verbond van God met die mens. Na die preek beweeg hy af na die liturgiese ruimte vir die sakrament, die ouers kom na vore en oupa bring die kriewelende bondeltjie verbondskind in. Dit is toe dat hy die potensiële probleem bemerk. Hierdie betrokke gemeente, het ’n indrukwekkende glas doopfont, ’n geskatte meter hoë glas kunswerk, amper soos ’n groot buis. Mooi. Dit op sig self is nie ’n probleem nie, die probleem is die feit dat hy bespeur dat die water in die font, omtrent elmboog diepte van die die bokant af lê. Nou moet ek moontlik by voorbaat noem dat met glas, water en die refraksie verskynsel van lig mens maklik oordeelsfoute kan maak en so ’n fout is deur hom begaan.
Toe die formulier afgehandel is, my skoonpa die verbondskindjie in sy arms neem, begin hy met die woorde…..sê nou maar sommer Jacobus Daniel van der Westhuyzen, ek doop jou in die naam… en met hierdie woorde en die oordeelsfout, druk my skoonpa sy regterand, elmboogdiepte in die font in, salig onbewus van die feit dat die water eintlik, perfek, 100%, tot by die rant van die font vol gegooi is en die lig hom geflous het. Elmboog diep nat, water wat die hele ruimte vol stort, doop hy die ouers, grootouers en sy eie skoene sommer ook. Johannes 2:7 sal nog getoonset moet word vir so ’n geleentheid: “Jesus sê vir hulle: Maak die kanne vol water. En hulle het hul tot bo toe volgemaak.”
Jacobus Daniel van der Westhuyzen, ek doop jou in die naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees…terwyl die water uit sy toga-arm stroom. Die reënboog dien as teken dat die aarde nooit weer met ’n vloed sal vergaan nie, die waardigheid van die sakrament, op daardie betrokke Sondag, het egter met ’n oordeelsfout en ’n vloed heengegaan
Die fout wat begaan is, is eintlik eenvoudig: Redding het vir hom te vêr gelyk. In ons eie lewens van kleingeloof maak ons ook die parallaksfout. Soms laat die glas en lig van hierdie lewe ook die redding veel verder lyk as wat dit eintlik is.
by Orania Beweging | Aug 5, 2016 | Nuus |
Sedert sy hoogtepunt in 2004 verloor die ANC geleidelik steun, en dit is ook met die munisipale verkiesing voortgesit. Dit is ook die eerste keer sedert 1994 dat die ANC minder as 60% van die landswye steun kry. Die ANC het steun verloor, die DA het steun gewen en kon Port Elizabeth by die ANC afneem en het ook beduidend toeneem in die belangrike metropole Johannesburg en Pretoria. In al twee sal waarskynlik koalisies regeer, of onder DA- of onder ANC-leiding. Die vreemde kombinasie van DA en EFF lyk na ‘n moontlikheid as die metropole uit die hande van die ANC geneem moet word. Maar die groot wegholoorwinning vir die DA en die ernstige terugslag vir die ANC, wat die media voorspel het, het nie gebeur nie. Suid-Afrika se politiek is eintlik baie staties en baie vervelig. In ‘n Europese land sou ‘n regerende party wat so droogmaak soos die ANC by ‘n verkiesing geslag word. Die steun wat die ANC verloor het, het ook nie soseer na die DA toe gegaan nie, maar eerder na die EFF en dit is beslis nie goeie nuus vir ons nie. Die DA se groei is veral deur kleiner partye soos Cope se steun op te raap, en weens die lae stempersentasie in die swart gebiede. Maar ‘n verskuiwing van swartmense uit die middelklas van die ANC na die DA, weliswaar nog nie beduidend nie, vind wel plaas.
Al die partye het meer links geskuif want dit is waar verkiesings in Suid-Afrika gewen word. ‘n Ideologiese indeling word toenemend moeiliker en partye is meer en meer netwerke om poste te kry en persoonlike loopbane te verseker, ten spyte van die retoriek om die mense te wil dien. Die ANC gebruik gereeld die uitgediende maar onder hulle kiesers hoogs doeltreffende retoriek van wit skuld om van sy eie onvermoë af te lei. Die DA het vir alle praktiese doeleindes ‘n ANC light geword en nog steeds kon hulle nie werklik deurbreek in swart gebiede nie, terwyl wit kiesers (en in die Weskaap bruin kiesers) bankvas agter hulle staan.
Die EFF as nuwe party het goed gevaar, maar het agter hulle eie mikpunte gebly en kon geen enkele munisipaliteit wen nie. Hulle verteenwoordig die populiste, wat geraas maak en nie hoef aanspreeklikheid te aanvaar nie, omdat hulle net in opposisie is. Met talle munisipaliteite waar nóg die ANC nóg die DA die meerderheid het, kan die EFF die beslissende koalisievennoot word en sal dan ook moet uithaal en wys.
Die verkiesing het die ANC se gebruiklike selfvertroue, om nie te sê verwaandheid effens geknou. Die party het nog altyd die fout elders gesoek en blameer alles en almal behalwe hulleself vir enigiets wat verkeerd loop. As die party nou tot selfkritiek bereid sou wees is dit ‘n groot skuif in die Suid-Afrikaanse politiek, maar ek sou nie my geld daarop wed nie.
Die IVP, wat op ‘n afwaartse pad was, het danksy die nie-toelating van die NVP ‘n tweede asem gekry en hulle tradisionele hartland in die noorde van Kwazulu-Natal van die ANC terug gewen. Die Vryheidsfront Plus het aansienlik beter gedoen, moontlik danksy die DA se swart leier en fokus op die swart stemme, maar is as minderheidsparty met baie verspreide steun landswyd geen werklike faktor nie. Om egter onder sulke omstandighede nie net te oorleef nie, maar selfs te groei is op sigself ‘n prestasie.
Die ysterwette van die SA politiek geld, die uitslag ten spyt, nog steeds:
- Swartmense stem vir die ANC, ongeag wat hulle doen of nie doen nie, oor die swart bevrydingsmitologie. Die ANC sal nog vir lank die dominerende party wees.
- Witmense bly vir die DA stem, ongeag wat hulle sê, oor die “sterk opposisie” mitologie en oor goeie bestuur van brood en botter sake. Oortuigings speel in die Suid-Afrikaanse politiek al hoe minder ‘n rol en ‘n tradisioneel konserwatiewe en godsdienstige volk soos die Afrikaner is al lankal gemaklik binne ‘n sekulêre en liberale party.
- Nuwe partye maak opgang kort na hulle stigting en kwyn dan van verkiesing tot verkiesing weg. Ons het dit gesien met die UDM, met Cope, met Agang (wat al met die eerste verkiesing gefaal het en net ‘n mediaverskynsel was). Nou sal ons sien of die EFF hier is om te bly.
- Die Weskaap is vas in die hande van die DA, die res bly in die hande van die ANC, veral die meer plattelandse provinsies.
Armes en plattelandse mense sal ANC bly stem, ongeag hoe sleg dit gaan. In teendeel, dit wil voorkom asof hulle juis ANC stem as dit sleg gaan omdat hulle dan maklik vatbaar is vir beloftes en vir omkopery met kospakkies en T-hemde. Die ANC kan eintlik nie bekostig om arm mense op te hef nie, want sodra arm mense in die middelklas inbeweeg, word hulle makliker DA-stemmers en verloor die ANC sy steunbasis. Dieselfde geld vir die EFF. Hulle bestaansrede is arm en ontevrede swartmense wat onregverdig behandel voel.
Partye bly etnies gedomineer, ten spyte van hulle retoriek om vir “almal” te wees en hulle uitreik na ander groepe. So het die ANC geen noemenswaardige wit steun nie en krimp die steun van ander minderhede soos bruinmense en Indiërs. Die DA breek nie werklik deur na swartmense toe nie en bly ten spyte van hulle beleid as links-liberale party wat geen etnisiteit ken nie en die smeltkroes-idee meer voorstaan as enige ander party ‘n keuse vir witmense en Wes-Kaapse bruinmense. Veral bly dit ‘n party vir die middelklas, ongeag die tallose veldtogte in arm, swart gebiede. Die IVP, wat hulle nêrens as Zulu-party bemark nie, maar as ‘n soort beter en meer gematigde ANC, se basis bly die meer tradisionele en plattelandse Zululand, soos dit van die begin af was. Selfs die VF+, wat probeer het om ‘n breër minderheidsparty te word en wat blykbaar ‘n hele paar bruin kandidate in die Wes- en Noordkaap opgestel het, kon baie min steun uit die oorde kry en bly afhanklik van Afrikanersteun.
In die Noordkaap is dinge eintlik soos dit altyd is, met alle munisipaliteite wat onder ANC beheer bly en geen beduidende verskuiwings nie. Orania bly uit die Suid-Afrikaanse munisipale verkiesings en die onwaardige gevryery na stemme deur middel van allerhande beloftes uit en kies oudergewoonte sy eie Orania Verteenwoordigende Raad (OVR) met 11 lede, net op ‘n individuele grondslag en sonder partyverbintenis. Die OVR het tot stand gekom op grond van die 2000 hofsaak wat Orania se status as eie plaaslike owerheid bevestig het. Die OVR verteenwoordig nie net aandeelhouers nie, maar alle inwoners van die groter Orania, ook na buite. Dit is ‘n stuk direkte, plaaslike demokrasie, en juis dit is vir die media elke keer vreemd en moeilik om te begryp. Die OVR gaan ook nie oor dienslewering nie (dit word reeds goed hanteer deur Orania Dorpsraad) maar oor die handhawing en uitbou van Orania as selfstandige Afrikanergemeenskap.
by Orania Beweging | Aug 1, 2016 | Nuus |
Vir besoekers en voornemende intrekkers, met wie ek daagliks kommunikeer, is Orania amper ‘n soort utopia, ‘n plek wat in die res van die land ondenkbaar lyk en die vraag: “maar hoe kry julle dit reg?” word dikwels gevra.
Vir ons as inwoners is dit wat ons het ‘n gegewe en ons werk ons dikwels op oor dit wat nie ideaal is nie, soos mense wat nie aan die ideaalbeeld van ‘n Christen-Afrikaner voldoen nie, die gewone geskinder en bekgevegte wat enige gemeenskap kenmerk, sekere dinge wat die dorpsraad dalk nie reg doen nie ensovoorts.
Uit die aard van die saak is ons nie die utopia of die Afrikanerhemel waar alles net reg loop nie. Mense is geneig om dit wat hulle net gedeeltelik ken te idealiseer, en dit wat hulle té goed ken, vlak te kyk. Dikwels idealiseer ons ander samelewings op grond van ander se eensydige beriggewing, of ons idealiseer die verlede omdat ons in films en boeke net van die mooi dele hoor en lees. Maar dan is dit ook nie reg om jou as Oraniër die hele tyd vas te kyk teen dit wat nie ideaal is nie. Die mense buite sien net die woud en vergeet dat ‘n indrukwekkende woud ook dooie bome het. Ons in Orania sien te dikwels net die enkele bome raak en vergeet die groter geheel wat van die somtotaal van die bome ‘n pragtige ekosisteem en lewensruimte maak.
Kom ons staan ‘n oomblik terug en, sonder om onkrities of vol selfprysing te wees, verwonder ons in dit wat die gemeenskap van Orania, met die hulp van bo, reggekry het. Dit is heelwat, selfs al was ons aanvanklike mikpunt onrealisties hoog.
Ons kan in tye waar Afrikaans onder druk is en uit die openbare sfeer verwyder word in ‘n gemeenskap lewe waar Afrikaans die amptelike taal is en alles in Afrikaans gedoen word, van kuier en gesels oor onderwys en opleiding tot kuns en kultuur.
Waar elders die christelike godsdiens uit die openbaar verdwyn, die samelewing heeltemal sekulêr raak en daar geen verskil tussen Sondag en die weeksdae is nie, leef ons in ‘n plek waar meeste mense kerk toe gaan, waar feitlik almal ten minste nominaal Christene is en waar Sondag (met enkele uitsonderings) eerbiedig word.
Waar Afrikaners buite sukkel om werk te kry en waar daar vir werklose Afrikaners dikwels geen ander heenkome is as bedel nie en waar diegene wat nog posisies het op ander Afrikaners trap om dit te behou (soos die rektore van die Afrikaanse universiteite of talle joernaliste), het ons ‘n maatskaplike netwerk wat mense opvang en hulle weer oprig deur middel van werk, maatskaplike berading en gesubsidieerde mediese dienste en behuising.
Terwyl Afrikaner-erfenis verniel en gevloek word, kan ons dit hier bewaar en aan inwoners en besoekers ten toon stel om sodoende die band met die verlede en die trots op die eie lewendig te hou.
Terwyl feitlik elke Afrikaner in ‘n mindere of meerdere mate in vrees lewe en dikwels al ‘n slagoffer van misdaad was, kan ons ons eie veiligheid hanteer en staan ons as gemeenskap saam om aanslae van buite (en binne indien nodig) af te weer.
Waar elders basiese dienste nie meer voorsien word nie en die drinkwater besoedel is (as dit hoegenaamd beskikbaar is) en rioolwerke tot stilstand kom, het ons ‘n dorp wat werk en waar alles in
stand gehou word.
Dit is alle nog baie min in vergelyking met wat die Afrikaner gehad het, maar gemeet aan die totale magsverlies, agteruitgang en krisis waarin ons volk verkeer as ‘n mens eerlik is, is dit baie om op trots te wees en om op voort te bou, maar veral ook om voor dankbaar te wees.
by Orania Beweging | Jul 28, 2016 | Nuus |
Uit die aard van die saak raak gebeure in die land ons ook, al is die impak minder direk omdat ons ‘n groot mate van beheer het. Doemprofete voorspel dat dinge in die land so erg sal gaan dat ook Orania “weggespoel” sal word. Die vraag wat ons sal doen as “busse vol EFF-ondersteuners op Orania toesak” word dikwels gevra.
Laat ek daarop die volgende antwoord gee: Daar is gebeurlikheidsplanne in plek en ons veiligheid is opgeskerp. Ons monitor ook die gebeure in die land en het ons inligtingsnetwerk. Daar is egter ook ander noodsituasies wat dalk meer waarskynlik is en waarvoor ‘n mens ook net kan beplan, soos ‘n vloede, brande en ander natuurrampe wat op enige plek op aarde kan gebeur. Jy kan en moet daarvoor gereed wees en oefen, maar as dit jou tref dan sal dinge in elk geval nooit presies gebeur soos verwag nie.
Om reaktief te wees is egter nie al antwoord nie. Elke huis en besigheid in Suid-Afrika is beveilig en nog steeds word ingebreek, gemoor en gesteel. Wat ons anders maak is dat ons ‘n ander werklikheid skep wat risikos soos grootskaalse aanvalle, besettings, geweldpleging ensovoorts onwaarskynlik maak.
Ten eerste opereer ons vanuit ‘n gemeenskapsbenadering en nie ‘n individuele benadering nie. Ons help mekaar en staan as gemeenskap saam en verlaat ons nie vir beskerming op vreemdelinge nie. Die belangrikheid van volkseie arbeid kan nie genoeg beklemtoon word nie. Dit is die hoeksteen van Orania en skep nie net werk vir ons mense wat elders sukkel om werk te kry weens hulle velkleur nie, dit skep ook ‘n omgewing waarbinne misdaad baie minder voorkom. Misdaad, so wil dit vir my voorkom, gedy in ‘n samelewing wat gestroop is van hegte gemeenskappe met reëls en norme, en waar daar ‘n gedurige wisselwerking tussen mense uit verskillende groepe, klasse en volke is, sonder dat hulle gemeenskaplike waardes en belange het.
Verder is die Afrikaners ook pioniers van afkoms en behoort meer moed aan die dag te lê. Pleks om altyd te vra: “maar wat as dit en dat gebeur?” en om oorsee te wil vlug moet ons
die werklikheid in oënskou neem en dan volhard met die gekose pad. Orania se konsep was reg omdat dit deur jarelange beplanning voorafgegaan is. Dit het egter nie net by idees en planne gebly nie, maar dit is uitgevoer en by die beginsels gehou, met enkele praktiese aanpassings hier en daar. Niemand het destyds geweet waar dit gaan eindig nie, en ons weet dit nou ook nog nie. Wat ons wel weet is dat ons op die regte pad is en by ons bestemming sal uitkom, al weet ons nie wat om die volgende draai lê of hoe lank die pad is nie. Geen pionier het al ooit iets reggekry deur vrees en twyfel nie, en pioniers weet ook dat God hulle inspanning seën, maar dat die seën gewoonlik al heelwat later kom. As ‘n mens net vir hier en nou leef dan sal jy moedeloos raak en dink alles is verlore. ‘n Volk gaan egter deur tye van teëspoed en voorspoed en rig mekaar op en dink aan die volgende generasie.
Al vir 25 jaar gaan Orania vorentoe, partymaal baie stadig, dan weer vinnig. Van die begin af was daar bedreigings en uitdagings en dit sal ook in die toekoms so wees. Maar van die begin af was ons vertroue op God en ook op ons vermoëns wat ons gekry het. Daar is sowel gebid asook gedoen. Die Here het ons immers nie ‘n gees van vrees gegee nie, maar ‘n gees van oorwinning. Om die rede moet mense ook nie Orania toe kom omdat hulle vrees vir die EFF of wie ook al, want as jy vrees dan sal jy nie kan verdedig nie, dan hardloop jy met ‘n bedreiging net weer na die volgende plek toe.
‘n Inspirierende boek om te lees oor hierdie onderwerp van opstaan as volk is dr. Dirk Hermann se “Begrond”.