by Orania Beweging | Aug 31, 2016 | Nuus |
Met vanjaar se Olimpiese Spele in Brasilië nou agter die rug, verskuif die fokus na Japan waar die volgende spele oor vier jaar sal plaasvind. Hoewel ‘n Olimpiese Spele ’n vertoning van internasionale sporttalent is, plaas dit ook die kollig op die land waar die spele aangebied word.
Oor die afgelope paar maande het die wêreld gefokus op Brasilië se politieke, misdaad en ekonomiese probleme. Brasilië se rol in die die wêreld is ontleed en bespreek.
Oor die volgende vier jaar sal Japannese, maar ook die res van die wêreld opnuut na Japan kyk. In ’n snelveranderende wêreld sal die uitdagings wat Japan vandag in die gesig staar bespreek en ontleed word. Japan het vandag die derde grootste ekonomie in die wêreld en die per capita-inkomste van Japannese tel onder die top 30 in die wêreld. Tog het Japan geopolitieke uitdagings met veral sy verhouding met China wat versleg. Die land se bevolkingsaanwas is so laag dat ’n verouderende bevolking katastrofiese gevolge vir die land se ekonomie kan inhou. Die vraag is waardeur gaan die Japan van die toekoms gekenmerk word?
Die Japannese skrywer Ryuichi Narita skryf dat Japan deur die eeue nog altyd deur een van drie modelle gekenmerk is: Voortreflikheid, universalisme en vergrype het deur die eeue Japan se hoogte- en laagtepunte gekenmerk. Gedurende die laat negentiende en vroeë twintigste eeu het Japan besluit om die modernisme in Westerse lande na te volg. Dit het tot ekonomiese groei en ongekende ontwikkeling gelei. Ook in hierdie tyd het Japan militêre sukses bepaal in oorloë teen onder andere China en Rusland. Die Japannese Ryk het uitgebrei en Japan het ’n belangrike wêreldmoondheid geword. Universalisme het ’n hoogbloei in Japan beleef en dit gekoppel met die modernisme het Japannese laat glo dat hulle nou in die wêreld gerespekteer word.
Met die aanbreek van die Groot Depressie in 1929 het Japan egter teruggeval in sy outoritêre verlede wat die land vir 200 jaar voor die modernisme van die laat twintigste eeu, gekenmerk het. Modernisme is verwerp en Japannese het slegs hul ou kultuur van voortreflikheid gehad op om te bly staatmaak. Met oorlog in die lug het die land egter verval in ’n situasie waar hy sy rol in die wêreld eerder as ’n voortreflike militêre aggressor beskou het. In die komende jare tot en met die einde van die Tweede Wêreldoorlog sou dit tot die verlies van baie lewens en die verwoesting van groot dele van Japan lei.
Na ’n tydperk van selfondersoek en besinning is Japan sedert die 1950’s heropgebou as ’n land wat al sy sterkpunte in een kragtige meganisme kon organiseer. Die universalisme, ou tradisie van voortreflikheid, benutting van hernude modernisering in die Weste en ou bekende nasionale waardes het bymekaargekom om weer eens van Japan ’n supermoondheid te maak.
Die afgelope tyd is daar weer ’n benoudheid in Japan. Veiligheidsvrese, ekonomiese stagnasie en demografiese verval skep uitdagings wat toenemend tot politieke onstabiliteit lei. Sal die ou bekende Japannese voortreflikheid weer ’n antwoord hierop kan bied of kan ook Japan, soos in die verlede, ’n donker periode binnegaan?
by Orania Beweging | Aug 29, 2016 | Nuus |

Vervulling van kiesers se materiële behoeftes: Die NP sou nie vir meer as 40 jaar kon regeer nie as hy nie aan sy kiesers se verwagtings en materiële behoeftes voldoen het nie. Die emosionele appel tot Afrikaner-eenheid sou nie so lank kon gehou het nie as daar nie ook beduidende materiële voordele vir die NP se ondersteuners gerealiseer het nie. Die NP regering het die Afrikaner ekonomies bemagtig en ʼn breë middelklas gevorm wat aan die party lojaal gebly het, al was hulle sentimente nie meer dieselfde as in die 1940’s nie.
Die ANC het benewens die bevrydingstema ook materiële voordele vir sy kiesers belowe. ʼn Deel daarvan is vervul, soos die Heropbou- en Ontwikkelingsprogram (HOP) waarmee derduisende huise en gratis basiese dienste voorsien is, asook basiese medies en toelaes vir die armes. Deur swart ekonomiese bemagtiging en sogenaamde regstellende aksie is ʼn nuwe swart elite gevestig maar anders as die NP regering het die ANC te veel klem gelê op instandhouding van strukturele armoede deur toelaes en te min op die uitlig van die mense uit armoede deur middel van werksgeleenthede en opgang na die middelklas. Die NP het nie steun verloor omdat die Afrikaners verarm het nie, maar eerder omdat hulle nie meer vertrou is met die langtermyn politieke oorlewing van die Afrikaners nie. Soos wat hulle in die 1940’s en 1950’s veral deur Afrikaners uit die werkersklas vertrou is om hulle teen swart kompetisie te beskerm, so het die werkers hulle in die 1980’s nie meer vertrou nie, soos wat swartmense toenemend toegelaat is tot middel posvlakke. Die Afrikaner-elite en middelklas het lojaal gebly omdat hulle posisies beveilig was en daar was ook geen party wat hulle beter kon verteenwoordig as die NP nie. Die NP het egter geen strategie as opposisieparty gehad nie en het na die uittrede uit die regering van nasionale eenheid vinnig weggekwyn en was niks meer vir niemand nie. Die ANC verloor steun sowel uit die middelklas na die DA toe, asook van die heel armes na die EFF toe, maar die armes, veral op die platteland, bly die ANC se steunbasis. Die ANC is nie gewoond aan opposisie nie en dit wil voorkom asof hulle plekke wat hulle eers verloor het, soos die Wes-Kaap, nie weer kan herower nie omdat hulle geen nuwe idees het nie en die mag en beheer oor die staat nodig het om aan hulle kiesers se verwagtings te voldoen.
Internasionale en historiese konteks: Sowel die NP asook die ANC is “laatbloeier”, wat hulle hoogtepunt bereik het op ʼn stadium waar die ideologie waarvoor hulle gestaan het al internasionaal ongewild geraak het. Die NP as uitgesproke nasionalistiese en behoudende party het juis opgang gemaak in ʼn tyd waar elders linkse idees steun gekry het. Ons praat nie net van die kommunistiese segetog in veral die nie-Westerse wêreld nie, maar ook van die oorwinning van gematig linkse en Sosiaal-demokratiese partye in die Weste. Suid-Afrika het vir lank teen die stroom geswem en die internasionale druk het al hoe meer toegeneem. Die isolasie van Suid-Afrika het wel meegebring dat internasionale tendense nie ʼn direkte impak op die land gehad het nie. Danksy die Koue Oorlog kon Suid-Afrika as quasi-bondgenoot van die Weste (wat op ʼn afstand gehou is) nog tot in die 1980’s aanhou met sy minderheidsbewind, maar met die val van kommunisme, die einde van die Koue Oorlog en die oorwinning van demokrasie in voormalige diktatorskappe was die posisie van ʼn blanke minderheidsbewind onhoudbaar. Die NP het hervorm en apartheid afgeskaf, maar dit was te laat en in die oë van die wêreld eerder ʼn verandering van strategie as van gesindheid, en die party kon nie ʼn geloofwaardige alternatief bied nie.
Die ANC was met sy kommunistiese verbintenis in die 1960’s en 1970’s verseker van internasionale steun vanuit die Oos-blok en die Derde Wêreld en met sy swart bevrydingsideologie op die voorpunt van ʼn golf wat oor die wêreld gespoel het en saamgegaan het met Westerse selfhaat en Derde Wêreld selfvertroue. Maar die gety het gedraai en in die laat 1980’s en vroeë 1990’s was kommunisme ʼn ideologie wat elders verwerp is en is bevryding eerder met Westerse demokrasie en vrye mark geassosieer as met die outydse, linkse weergawe. Die ANC moes heelwat ideologiese bagasie soos nasionalisering en sy kommunistiese retoriek oorboord gooi en die deuntjie van “vryheid en ʼn beter lewe vir almal” sing. Alhoewel dit ook ʼn strategiese skuif eerder as ʼn diepgrondige hartsverandering was, het die wêreld dit gekoop, veral omdat dit deur die charismatiese Nelson Mandela bemark is. Intussen het die ANC egter weer in ʼn groot mate terug geval in sy ou spore van staatsbeheer oor die ekonomie, en stel nuwe diskriminasie in en vereenselwig met onderdrukkende regimes en begin sy glans internasionaal verdof. Suid-Afrika is vandag minder geisoleerde as onder die NP-bewind, en minder ekonomies selfstandig en dus ook meer afhanklik van internasionale tendense. Soos RW Johnson vasgestel het word Suid-Afrika se lot deur internasionale gebeure bepaal, al dink die land se leiers dat Suid-Afrika ʼn planeet op sy eie is.
Al dink die ANC dat hulle nooit die mag kan verloor en nooit hulle glans as die “oorwinnaars oor apartheid” sal verloor, wat nog om eendag as party verdwyn, wel, die NP het in die 1970’s ook gedink hulle is onstuitbaar. Die res is geskiedenis.
by Orania Beweging | Aug 26, 2016 | Nuus |
Dit mag vreemd voorkom om die Nasionale Party en die ANC met mekaar te wil vergelyk en parallelle tussen hulle te wil trek, want daar is baie wat die partye van mekaar onderskei en hulle onderskeie ideologieë is aan weerskante van die politieke spektrum. Wat hulle wel gemeenskaplik het, is dat hulle regimes eerder as regerings was oftewel is. ʼn Regering word vir ʼn termyn gekies en sy taak is die goeie administrasie van die land, in lyn met sy beleid. Regerings dink gewoonlik nie verder as een termyn nie. ʼn Regime het ʼn roeping om die land en samelewing blywend te omvorm en het gewoonlik strukture in plek wat verseker dat hulle lank aan bewind bly. In hulle eie hubris regeer hulle vir altyd en beskou opposisie as lastig en ondermynend van hulle missie. Uit die opkoms, hoogbloei en afgaan van die NP is daar dalk belangrike lesse vir die ANC ook. Al is die ANC vir seker nog lank met ons, sal die party nie vir ewig regeer nie. Die onlangse verliese in die munisipale verkiesing is nog lank nie die begin van die einde nie, maar waarskynlik het die ANC sy hoogtepunt oorskry. Die Nasionale Party het meer as 40 jaar regeer en na sy hoogtepunt in steun en institusionele mag in die middel 1970’s het dit nog steeds om en by 20 jaar geneem voor die party die mag oorgegee het, en nog 10 jaar voor die party ontbind het. Laat ons na enkele aspekte van die twee partye kyk.
Stigtingsmite: ʼn Party is gewoonlik ʼn voertuig om ʼn sekere ideologie, maar meer dikwels sekere belange te bevorder. Sowel die Nasionale party asook die ANC het ʼn sterk geroepenheid om geregtigheid te laat geskied aan onderskeidelik die Afrikanervolk en die swartmense van Suid-Afrika. Al twee is dus ten diepste nasionalisties en staan vir ʼn duidelik omlynde groep. Die stigtingsmite, wel edel, was vir die NP om die vernederde Afrikanervolk teenoor die Engelstaliges tot sy reg te laat kom en om die volk as geheel te laat opstaan en sy selfrespek te herwin. By die ANC het dit weer daaroor gegaan om die swart meerderheid te bevry en die vernederende apartheidmaatreëls af te skaf, ʼn strewe wat op die stadium algemeen aanvaar is en wat aan die ANC die beeld van edele stryders teen onreg besorg het waarop die party nog steeds teer.
ʼn Stigtingsmite het egter ook ʼn vervaldatum. Soos wat Afrikaners suksesvol gemoderniseer het en toenemend welvarend geword het, het opheffing en opstaan as volk toenemend in ʼn beskerming en bevordering van eie belange deur middel van staatsinstellings verander. Moreel was die NP in die 1980’s bankrot. Die ANC het intussen eweneens mag so gesentraliseer en die staat so sterk volgens hulle eie ideale getransformeer dat hulle kwalik nog kan aanspraak maak om die pleitbesorger van die armes en verontregtes te wees wat moet aanhou stry teen onreg van die verlede. Dat die ANC ten spyte van feitlik totale beheer oor die staatsinstellings, anders as die NP, nie sy mense op groot skaal kan of wil ophef nie, laat die stigtingsmite sy krag verder verloor.
Netwerk van steungroepe: Die NP kon nie so sterk word en Suid-Afrika volgens sy idees omvorm sonder takke in elke dorp en sonder ʼn netwerk van stutgroepe op bykans elke terrein nie. Die Afrikaner Broederbond as geheime organisasie het aanvanklik gehelp om die gemarginaliseerde Afrikaners te help, maar het later ontaard in ʼn bevoordelingsmasjien vir NP-lede, ten koste van ander Afrikaners. Dan was daar ook nog talle ander organisasies op bykans elke terrein, soos die ATKV, die ASB, Rapportryers, die AHI en in praktyk ook die NG kerk, noem maar op. Ook die ANC kon nie die magtige organisasie word sonder die massasteun van Cosatu en die intellektuele en organisatoriese steun van die SAKP nie. Ook organisasies soos die ANC- Vroueliga en Jeugliga en verskeie ANC-gesinde besigheids- en professionele verenigings is belangrik as stutorganisasies.
Al twee organisasies se monolitiese posisie het verswak soos wat alternatiewe strukture buite die NP en die ANC onderskeidelik gestig is. Die KP en behoudende Afrikaners het parallelle kultuurorganisasies gestig of help uitbou, vakbonde soos die destydse Mynwerkersunie was toenemend in opposisie tot die NP-regering en die Afrikaner was teen die 1980’s nie meer een blok nie, maar twee of meer, alhoewel die NP nog steeds die meerderheid verteenwoordig het. Sou die NP-regering in die 1960’s of 1970’s, op die toppunt van konsolidasie van mag, onderhandelinge met die ANC en ander swart organisasies oorweeg het? Vir seker nie. Ook die ANC se houvas op die mag het verswak deur vakbonde buite die Cosatu-stal wat opgang maak, deur afsplitsings soos die UDM en Cope en meer onlangs en meer ingrypend die EFF. Sal ʼn verswakkende ANC meer toegeeflik en meer nederig wees, of sal dit meer diktatoriaal neig om sy mag ten alle koste te behou? Die NP het vriend en vyand verras met hulle gemaklike oorgawe van die mag, maar in die swart politiek gebeur die oorgawe van mag ongelukkig selde sonder geweldpleging.
Leierskap: Die NP kon nie opgang gemaak het sonder goeie leierskap nie. Die houvas van die partyleier op die party het met verloop van tyd toegeneem, van Malan oor Strijdom tot Verwoerd. Wat ook al ʼn mens se opinie van dr. Verwoerd mag wees, was hy sonder twyfel ʼn uitstekende en bekwame leier wat die volk agter hom gehad het. Sy opvolger John Vorster was nie van dieselfde stoffasie nie, maar het vir ʼn tyd nog voortgegaan op die stoom wat onder sy voorganger opgebou is. Onder Botha het die NP toenemend uit idees uit geraak en legitimiteit verloor en onder de Klerk het die NP sy radikale omswaai gemaak wat wel internasionaal verwelkom is, maar intern meer en meer Afrikaners van die party vervreem het. De Klerk het ook geen ondervinding as opposisieleier gehad nie en was niks sonder die mag van die staat agter hom nie. Sy swak leierskap het verder duidelik geword deur sy swak keuse vir sy opvolger, Marthinus van Schalkwyk, wat die NP vernietig het. Van die berg Verwoerd tot die molshoop van Schalkwyk in net 40 jaar.
By die ANC was daar heelwat goeie leierskap terwyl hulle ondergrond was, soos Albert Luthuli en Oliver Tambo (al verskil ʼn mens met die ideologie), en Nelson Mandela as president was die regte man op die regte tyd en het die regte gebalanseerde beleid gehad vir die oorgangstydperk, al was hy eerder die verkoopsman en gesig van die party as die werklike leier wat die werk gedoen het. President Mbeki was op sy manier suksesvol, ten spye van sy gebrek aan charisma, en het ook nog voortgestoom op sy voorganger se beeld en steun. Sy politieke beleid was egter reeds in vele opsigte ʼn ramp en die ANC het onder hom reeds begin verval, selfs al het die party sy hoogtepunt wat steun betref in 2004 bereik. In ʼn sekere sin was hy die John Vorster van die ANC, wat geteer het op sy voorganger se roem maar nie sy skoene kon volstaan nie. Die hoogtepunt van die NP se steun was ook onder Vorster, nie onder Verwoerd nie, maar die krake was reeds besig om te wys. Kgalema Motlanthe was te kort aan bewind en net bedoel as plekhouer om regtig ʼn oordeel oor hom te kan vel. President Zuma het weer die charisma en aanvoeling vir die grondvlak terug gebring wat Mbeki ontbreek het, maar is ʼn swak bestuurder en, soos intussen bo alle twyfel bewys is, uiters korrup. Zuma het ook die ANC laat skeur, eers met Cope, toe die EFF, en onder sy bewind het die party vir die eerste keer steun verloor.
by Orania Beweging | Aug 25, 2016 | Nuus |
Afrika
Ethiopië: protes by Olimpiese Spele teen onderdrukking van Omoros. By die Olimpiese Spele het die Ethiopiese atleet Feyisa Lelisa sy arms gekruis terwyl hy oor die wenstreep gehardloop het met die marathon-wedloop. Hy het die gebaar ook weer gedoen tydens die toekenning van die silwermedalje. Lelisa protesteer daarmee teen die regering van Ethiopië wat sy volk, die Omoros, onderdruk. Onlangs is by proteste van Omoros wat oor die onteiening van grond gaan talle mense doodgeskiet (‘n menseregteorganisasie praat van 400 mense wat doodgeskiet is, maar dit word deur die regering bevraagteken en blyk oordrewe te wees).
Politieke stellings en protes, selfs in die vorm van gebare, is taboe tydens die Olimpiese Spele en daar kan teen Lelisa opgetree word en hy kan selfs sy medalje kwyt wees. ’n Bekende geval van ‘n politieke stelling deur middel van ‘n handgebaar was die van die twee swart Amerikaners wat in 1968 die s
wartmag-groet (gebalde vuis) gemaak het terwyl hulle op die trappie vir die medaljetoekenning was. Hulle medaljes is as ’n straf van hulle ontneem, maar hulle gebaar het hulle meer bekend gemaak as meeste ander atlete. Lelisa het gesê dat hy nou nie meer kan terugkeer Ethiopië toe nie, want hy is nou as vyand van die bewind bekend en kan tronkstraf of selfs doodstraf in die gesig staar. Intussen het ‘n fondsinsameling op sosiale media reeds 40 000 pond ingesamel sodat hy aansoek kan doen vir asiel.
Ethiopië het al vir omtrent 25 jaar ‘n stabile maar quasi diktatoriale bewind, eers vir meer as 20 jaar onder Meles Zenawi en sedert 2012 onder sy opvolger Hailemariam Desalegn. Ekonomies ontwikkel dinge goed en die land is ‘n bondgenoot van die Weste en een van die min polities stabile lande in ’n streek van uiterste onstabiliteit. Daar vind wel verkiesings plaas, maar daar bestaan geen opposisie in die parlement nie en Ethiopië is ‘n quasi eenpartystaat onder die Ethiopian Peoples Revolutionary and Democratic Front (EPRDF). Die Omoro Federalist Congress, die Omoros se belangeparty, se leiers is in die tronk en daar is geen vreedsame kanale om griewe te lug nie. Onlangs het egter op verskeie plekke proteste uitgebreek wat ‘n etniese agtergrond het, maar nie verwant is nie. In die streek waar die Omoros woon het proteste uitgebreek oor grond wat die regering wil hertoedeel. Reeds verlede jaar was daar proteste teen die verskuiwing van die grense van die stad Addis Abeba, wat die Omoro-provinsie kleiner sou maak. Die plan is toe laat vaar, maar meer onlangs het weer proteste oor grondhertoedelings uitgebreek wat hardhandig onderdruk is. In die Amhara-streek het onafhanklik daarvan mense geprotesteer teen die verandering van provinsiale grense wat ‘n deel van die Amhara onder die beheer van die Tigray sou plaas. Die proteste in beide streke gaan egter ook oor algemene frustrasie met onopgeloste vraagstukke soos korrupsie en ekonomiese marginalisering.
Die Omoro is die grootste volk in Ethiopië met sowat 33 miljoen mense, ‘n derde van Ethiopië se bevolking van bykans 100 miljoen, en hulle woon in die sentrale en suidelike dele en rondom die hoofstad Addis Abeba, maar polities is hulle nog altyd gemarginaliseer. Die tradisionele staatsvolk, waaruit die koningshuis en die elite voortgekom het, asook sy kommunistiese opvolger Mengistu, is die Amhara, sowat 27% van die bevolking en hulle woon in die dele noord van Addis Abeba, maar die klein Tigrayvolk (6%) in die noorde is die volk wat op die voorpunt was van die rebellie teen Mengistu en is in ‘n sekere sin die nuwe elite. In totaal is daar 80 volke, maar slegs die Omoros, Amhara en met ‘n groot afstand die Tigray en Somali het noemenswaardige getalle.
Ethiopië het na die omverwerping van die Mengistu-diktatorskap ‘n hoopvolle pad bewandel deur sterk federale strukture te vestig en die etniese verskeidenheid te erken. Die probleem is egter dat die EPRDF ‘n monopolie op die mag het en ook talle van die deelstate regeer deur middel van alliansievennote. Die huidige vlaag proteste kan die federale eenheid in gevaar stel. Alhoewel volgens die grondwet die deelstate ‘n reg tot afskeiding het wat in die sterk federale gees van die 1991 oorwinning ingeskryf is, is dit onwaarskynlik dat die huidige regering, wat gewoond is aan absolute mag, enige afskeiding sal toelaat.
Afrika algemeen: het die golf van demokratisering tot ‘n stilstand gekom?
Daar is ‘n hele paar aanduidings dat Afrika se transformasie na demokrasie besig is om tot ‘’n stilstand te kom. Die vasteland was na die hoopvolle kort tydperk onmiddellik na dekolonisasie ’n treurige voorbeeld van onderdrukking, diktatorskappe en korrupsie. Feitlik alle state was eenpartystate met skynverkiesings of sommer direkte een man diktatorskappe. In die 1990’s het dinge belowend gelyk en heelwat demokratisering het plaasgevind, maar volgens ‘’n opname van Freedom House het die aantal vrye state weer begin afneem. Slegs 8 state in Afrika (o.a. Suid-Afrika, Namibië en Botswana) word as vry geklassifiseer en uit eie ondervinding weet ons dat die beskrywing ook gekwalifiseer moet word. ‘n Hele paar lande het weer teruggeval in die ou gewoonte van outokrasie, of was nooit ernstig om te demokratiseer, veral in Sentraal- en Oos-Afrika. Maar ook lande wat eens bakens van hoop was, soos Zambië, Tanzanië en Mosambiek, beweeg weer terug na minder demokrasie.
Om billik te wees kan Afrika met sy multiëtniese, kunsmatige state nie volgens Westerse standaarde gemeet word nie. In die konteks van die derde wêreld vaar Afrika beter as die Arabiese wêreld, waar nog feitlik geen demokratiese regeringsverandering plaasgevind het nie en vergelyk min of meer met Asië, met sy mengsel van kwasi-demokrasieë en outokrasieë, maar Afrika vaar swakker as Latyns-Amerika wat grootliks demokraties en polities vry is. Die dinge lyk
Die rede dat die golf van demokratisering tot ’n stilstand gekom het en selfs omgekeer is, het ook met die internasionale toneel te doen. Afrika was nog altyd ‘n speelbal van groot moondhede, eers van Europese koloniale moondhede en later van die twee supermoondhede van die Koue Oorlog, wat Afrika-maghebbers teen mekaar kon afspeel om aan bewind te bly. Na 1990 het die steun van die Sowjet-Unie egter weggeval en die Weste was nie meer bang om Afrikaleiers te antagoniseer nie en sanksies teen ondemokratiese regerings is toegepas en verkiesings afgedwing. In talle lande het verkiesings en selfs demokratiese regeringsveranderings plaasgevind, by name in Zambië, Benin, Nigerië, Kenia, Malawi, Ghana en Mali. Die hernude terugkeer van outokrasie of skyndemokrasie het ook te doen met ’n Weste wat weer, soos tydens die Koue Oorlog, bondgenote soek in die stryd teen Islam-terrorisme, waarvan Afrika een van die slagvelde is. Realpolitiek maak sy terugkeer ten nadeel van idealisme. Verder het Sjina in die afgelope dekade tot Afrika toegetree en het geen pyne met menseregte nie en sal enige leier ondersteun solank dit hulle baat. Die Sjinese is die super-Machiavelliste en ewe gewetenloos as die Sowjet-Unie.
Analiste reken dat daar nogtans tendense is wat demokrasie uiteindelik laat seëvier in Afrika, naamlik verstedeliking, die opkoms van ‘n polities bewuste en ingeligte middelklas en die toenemende gebruik van elektroniese kommunikasie, wat manipulasie en intimidasie al hoe moeiliker maak.
by Orania Beweging | Aug 24, 2016 | Nuus |
Volgens mediaberigte het president Jacob Zuma `n week gelede opdrag gegee aan dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys en opleiding, en Pravin Gordhan, minister van finansies, dat daar ’n manier gevind moet word om ’n 0%-verhoging in klasgeld te bied. `n Jaar gelede het Zuma ook voor betogende student geswig en `n 0%-verhoging aangekondig. Die Universiteit van Kaapstad sê egter dat `n 0%-verhoging nie haalbaar is nie. Adam Habib, visekanselier van die Universiteit van die Witwatersrand, sê hy is in ooreenstemming met die besluit, solank die regering dan die 8%-inkomsteverhoging dek wat elke universiteit nodig het om kop bo water te hou. Habib het verder gesê day hy aanneem dat daar geld om universiteite te ondersteun as die president dan so ’n besluit geneem het. Hy reken ook dat sou die regering die universiteite help met gratis water en krag, dit universiteite verder sal help om lewenskragtig te bly.
President Zuma en die ANC moet in gedagte hou dat deur `n 0%-verhoging in klasgelde aan te kondig hulle reuse druk op universiteite plaas wat vir daardie inkomste begroot het. Volgens bronne wat deur mediainstansies aangehaal word sal universiteite personeel moet afdank, projekte moet staak en selfs departemente moet sluit. Die regering het in die verlede 85% van bedryfskostes gedek, maar steeds moes universiteite ’n tekort van 15% self finansier. Dit sal nie prakties wees om dit twee jaar na mekaar self te dra nie.
Suid-Afrikaanse universiteite is die een na die ander besig om na laer plekke op internasionale ranglyste te skuif. Alhoewel die primêre redes sekerlik die afskaling of selfs afskaffing van moedertaalonderrig en onrus en betogings op kampusse is sal `n gebrek aan befondsing vorentoe die gehalte van universiteitsonderrig `n ernstige knou kan toedien.
Wat verder teleurstelling is, is die feit dat nog nie een student wat aan verlede jaar se landswye kampusgeweld deelgeneem het strafregtelik vervolg is nie. By die Universiteit van Johannesburg word ’n afgebrande ouditorium teen R100 miljoen herbou, geboue ter waarde van R151-miljoen is by die Noordwes-Universiteit se Mahikeng-kampus afgebrand en by die Universiteit van KwaZulu-Natal is R82 miljoen se skade aangerig toe die administrasiegebou en ’n woonstelblok aan die brand gesteek is. Dit is enkele voorbeelde. Indien studente sien dat gewelddadige betogings en die beskadiging van eiendom lewer resultate is daar geen rede waarom hulle daarmee sal ophou nie. Veral aangesien daar geen gevolge blyk te wees nie.
Ongelukkig moet die meeste universiteite hulle aan regeringsbesluite onderwerp wat die rol van privaat têrsiere onderriginstellings soveel belangriker maak. Akademia, wat uit die Solidariteitstal gebore is, beskik reeds oor diploma- en graadkursusse en sal vorentoe verder uitgebou word. Die ontwikkeling van `n eie kampus met Afrikaans as onderrigmedium moet in die vooruitsig gestel word. Orania is die perfekte gasheer vir so `n kampus waar studente in Afrikaans, met `n Christelike begronding en sonder onrus en betogings onderrig kan word.
by Orania Beweging | Aug 18, 2016 | Nuus |
Met die munisipale verkiesings nou agter die rug, neem koalisies onder leiding van die DA in sekere metropole gestalte aan. Dit is wel goeie nuus dat die absolute houvas van die ANC op die mag geleidelik verbreek word. Dit is verblydend dat belangrike stede soos Pretoria en Port Elizabeth, en dalk ook Johannesburg en die Oos-R
and Munisipaliteit, nie meer onder die beheer van die ANC is nie. Kaapstad is al geruime tyd onder DA- beheer en word beter bestuur as die ander metropole. Op plaaslike vlak sal dit die nodige verwydering van onbekwame en deels korrupte amptenare en ʼn vars bries na verlamde strukture bring.
Nou moet ʼn mens egter waak teen ongegronde opgewondenheid, al smag Suid-Afrikaners, en Afrikaners spesifiek, na iets soos ʼn silwer randjie wat dalk ʼn voorbode van die naderende einde van die Babiloniese gevangenskap onder die ANC is. Nog steeds beheer die ANC om en by 170 van 200 munisipaliteite en is hulle greep op die platteland nog baie stewig. ʼn Swaeltjie (in die vorm van 2 of selfs 3 metros) maak nog nie ʼn somer nie. Wat verder kommerwekkend is, is dat feitlik orals die DA-geleide koalisies, wat uit ʼn bonte verskeidenheid uiteenlopende vennote bestaan, van VF+ tot UDM en Cope, afhanklik is van die steun van die EFF. Die EFF is radikaal en irrasionaal en dit is net sowel moontlik dat hulle vorentoe weer toenadering tot die ANC soek en die DA-koalisies in die rug steek. Die vete tussen die EFF en die ANC is veral oor persoonlikhede, nie so seer oor ideologie nie. ʼn ANC sonder Zuma, wat op druk van die EFF nog verder links skuif en verdere grondwetlike beginsels soos eiendomsreg ondermyn, sal vir die EFF ʼn meer natuurlike vennoot wees as die DA. Die ANC se magshonger en Machiavellisme is bekend, en hulle sal maklik hulle oorblywende beginsels oorboord gooi om weer in beheer van die belangrike stede te kom.
Meer nog, met wankelrige koalisies wat afhanklik is van die guns van die EFF sal daar op munisipale vlak die verwydering van alles wat vir Afrikaners kosbaar is waarskynlik net vinniger vorder as in die ANC munisipaliteite. Die DA moet hulle bewys as swart party en moet iets doen om die EFF gelukkig te hou en sal maklik oorblywende Afrikaanse straat- en plekname of monumente opoffer. Dalk kan die VF+ wat deel van sekere koalisies is dit keer, dalk nie.
Selfs al werk die koalisies, is daar min vir Afrikaners om oor opgewonde te raak. Dienslewering gaan waarskynlik verbeter en korrupsie gaan moontlik aangespreek word, en dit is inderdaad al wesenlik. ʼn Munisipaliteit onder DA beheer sal egter ook dié party se uitgangspunte weerspieël: alles sal Engels wees, min sal gedoen word vir Afrikaner-erfenis en nog minder erkenning sal gegee word aan Christelike waardes en beginsels en die morele verval sal voortgaan. Vir diegene vir wie Kaapstad die modelstad is, is dit seker goeie nuus.
In die ideale stad volgens my is Afrikaans die amptelike taal, is straatname en advertensies in Afrikaans, word Afrikaner-erfenis bewaar en met trots vertoon, is daar talle kerke wat op Sondae vol is, (en nie moskeë en Hindu-tempels nie), mense gee om vir mekaar en misdaad is feitlik afwesig, almal het werk en volg dieselfde Christelike etos en waardes en streef na ʼn gemeenskaplike doel. Dienslewering is uit die aard van die saak ook op hoë standaard. Laasgenoemde kan egter nie die belangrikste doelwit wees nie, dit moet eerder vanselfsprekend wees.
Geen koalisieregering van watter aard ook al kan vir ons so ʼn stad gee nie, want Afrikaners is orals ʼn minderheid. As jy in Pretoria of Johannesburg of waar ook al woon, stem vir ʼn beter munisipale regering, maar beywer jou volstoom vir die langtermyndoelwit van ʼn Afrikanerstad in Orania.