fbpx

Sedert sy hoogtepunt in 2004 verloor die ANC geleidelik steun, en dit is ook met die munisipale verkiesing voortgesit. Dit is ook die eerste keer sedert 1994 dat die ANC minder as 60% van die landswye steun kry. Die ANC het steun verloor, die DA het steun gewen en kon Port Elizabeth by die ANC afneem en het ook beduidend toeneem in die belangrike metropole Johannesburg en Pretoria. In al twee sal waarskynlik koalisies regeer, of onder DA- of onder ANC-leiding. Die vreemde kombinasie van DA en EFF lyk na ‘n moontlikheid as die metropole uit die hande van die ANC geneem moet word. Maar die groot wegholoorwinning vir die DA en die ernstige terugslag vir die ANC, wat die media voorspel het, het nie gebeur nie. Suid-Afrika se politiek is eintlik baie staties en baie vervelig. In ‘n Europese land sou ‘n regerende party wat so droogmaak soos die ANC by ‘n verkiesing geslag word. Die steun wat die ANC verloor het, het ook nie soseer na die DA toe gegaan nie, maar eerder na die EFF en dit is beslis nie goeie nuus vir ons nie.  Die DA se groei is veral deur kleiner partye soos Cope se steun op te raap, en weens die lae stempersentasie in die swart gebiede. Maar ‘n verskuiwing van swartmense uit die middelklas van die ANC na die DA, weliswaar nog nie beduidend  nie, vind wel plaas.

Al die partye het meer links geskuif want dit is waar verkiesings in Suid-Afrika gewen word. ‘n Ideologiese indeling word toenemend moeiliker en partye is meer en meer netwerke om poste te kry en persoonlike loopbane te verseker, ten spyte van die retoriek om die mense te wil dien. Die ANC gebruik gereeld die uitgediende maar onder hulle kiesers hoogs doeltreffende retoriek van wit skuld om van sy eie onvermoë af te lei. Die DA het vir alle praktiese doeleindes ‘n ANC light geword en nog steeds kon hulle nie werklik deurbreek in swart gebiede nie, terwyl wit kiesers (en in die Weskaap bruin kiesers) bankvas agter hulle staan.

Die EFF as nuwe party het goed gevaar, maar het agter hulle eie mikpunte gebly en kon geen enkele munisipaliteit wen nie. Hulle verteenwoordig die populiste, wat geraas maak en nie hoef aanspreeklikheid te aanvaar nie, omdat hulle net in opposisie is. Met talle munisipaliteite waar nóg die ANC nóg die DA die meerderheid het, kan die EFF die beslissende koalisievennoot word en sal dan ook moet uithaal en wys.

Die verkiesing het die ANC se gebruiklike selfvertroue, om nie te sê verwaandheid effens geknou. Die party het nog altyd die fout elders gesoek en blameer alles en almal behalwe hulleself vir enigiets wat verkeerd loop. As die party nou tot selfkritiek bereid sou wees is dit ‘n groot skuif in die Suid-Afrikaanse politiek, maar ek sou nie my geld daarop wed nie.

Die IVP, wat op ‘n afwaartse pad was, het danksy die nie-toelating van die NVP ‘n tweede asem gekry en hulle tradisionele hartland in die noorde van Kwazulu-Natal van die ANC terug gewen. Die Vryheidsfront Plus het aansienlik beter gedoen, moontlik danksy die DA se swart leier en fokus op die swart stemme, maar is as minderheidsparty met baie verspreide steun landswyd geen werklike faktor nie. Om egter onder sulke omstandighede nie net te oorleef nie, maar selfs te groei is op sigself ‘n prestasie.

Die ysterwette van die SA politiek geld, die uitslag ten spyt, nog steeds:

  • Swartmense stem vir die ANC, ongeag wat hulle doen of nie doen nie, oor die swart bevrydingsmitologie. Die ANC sal nog vir lank die dominerende party wees.
  • Witmense bly vir die DA stem, ongeag wat hulle sê, oor die “sterk opposisie” mitologie en oor goeie bestuur van brood en botter sake. Oortuigings speel in die Suid-Afrikaanse politiek al hoe minder ‘n rol en ‘n tradisioneel konserwatiewe en godsdienstige volk soos die Afrikaner is al lankal gemaklik binne ‘n sekulêre en liberale party.
  • Nuwe partye maak opgang kort na hulle stigting en kwyn dan van verkiesing tot verkiesing weg. Ons het dit gesien met die UDM, met Cope, met Agang (wat al met die eerste verkiesing gefaal het en net ‘n mediaverskynsel was). Nou sal ons sien of die EFF hier is om te bly.
  • Die Weskaap is vas in die hande van die DA, die res bly in die hande van die ANC, veral die meer plattelandse provinsies.

Armes en plattelandse mense sal ANC bly stem, ongeag hoe sleg dit gaan. In teendeel, dit wil voorkom asof hulle juis ANC stem as dit sleg gaan omdat hulle dan maklik vatbaar is vir beloftes en vir omkopery met kospakkies en T-hemde. Die ANC kan eintlik nie bekostig om arm mense op te hef nie, want sodra arm mense in die middelklas inbeweeg, word hulle makliker DA-stemmers en verloor die ANC sy steunbasis. Dieselfde geld vir die EFF. Hulle bestaansrede is arm en ontevrede swartmense wat onregverdig behandel voel.

Partye bly etnies gedomineer, ten spyte van hulle retoriek om vir “almal” te wees en hulle uitreik na ander groepe. So het die ANC geen noemenswaardige wit steun nie en krimp die steun van ander minderhede soos bruinmense en Indiërs. Die DA breek nie werklik deur na swartmense toe nie en bly ten spyte van hulle beleid as links-liberale party wat geen etnisiteit ken nie en die smeltkroes-idee meer voorstaan as enige ander party ‘n keuse vir witmense en Wes-Kaapse bruinmense. Veral bly dit ‘n party vir die middelklas, ongeag die tallose veldtogte in arm, swart gebiede. Die IVP, wat hulle nêrens as Zulu-party bemark nie, maar as ‘n soort beter en meer gematigde ANC, se basis bly die meer tradisionele en plattelandse Zululand, soos dit van die begin af was. Selfs die VF+, wat probeer het om ‘n breër minderheidsparty te word en wat blykbaar ‘n hele paar bruin kandidate in die Wes- en Noordkaap opgestel het, kon baie min steun uit die oorde kry en bly afhanklik van Afrikanersteun.

In die Noordkaap is dinge eintlik soos dit altyd is, met alle munisipaliteite wat onder ANC beheer bly en geen beduidende verskuiwings nie. Orania bly uit die Suid-Afrikaanse munisipale verkiesings en die onwaardige gevryery na stemme deur middel van allerhande beloftes uit en kies oudergewoonte sy eie Orania Verteenwoordigende Raad (OVR) met 11 lede, net op ‘n individuele grondslag en sonder partyverbintenis. Die OVR het tot stand gekom op grond van die 2000 hofsaak wat Orania se status as eie plaaslike owerheid bevestig het. Die OVR verteenwoordig nie net aandeelhouers nie, maar alle inwoners van die groter Orania, ook na buite. Dit is ‘n stuk direkte, plaaslike demokrasie, en juis dit is vir die media elke keer vreemd en moeilik om te begryp. Die OVR gaan ook nie oor dienslewering nie (dit word reeds goed hanteer deur Orania Dorpsraad) maar oor die handhawing en uitbou van Orania as selfstandige Afrikanergemeenskap.