fbpx

A Syrian refugee holding a picture of German Chancellor Angela Merkel as he and hundreds of other migrants and refugees arrived in Munich from Hungary, September 2015

Oor net meer as ’n jaar van nou af vind die vierjaarlikse federale verkiesing in Duitsland plaas. Terwyl Angela Merkel omstrede is weens haar immigrasiebeleid is die vraag of daar volgende jaar enige werklike opposisie teen haar gaan wees.

Hoewel Merkel nog nie-amptelik haar kandidaatskap aangekondig het nie, raak dit duidelik dat sy haarself vir ’n vierde termyn beskikbaar gaan stel. Merkel, wie hierdie week na haar jaarlikse somervakansie na Berlyn terugkeer om haar regering se agenda vir die volgende twaalf maande tot en met die verkiesing te bepaal, is blykbaar reeds besig om haar verkiesingsveldtog vir volgende jaar te beplan.

Toe Merkel in 2005 tot bondskanselier verkies is, het min mense gedink dat sy een van die bekendste, soms gewildste en soms mees omstrede leiers van Europa sou word. Merkel het gedurende die 1990’s haar opgang in Duitse politiek gemaak. Onder leiding van haar mentor Helmut Kohl het sy deur die range van die Christen-Demokratiese Party gevorder. In 1999 het Merkel ’n leiersrol in Kohl se ondergang gespeel toe sy in ’n artikel in een van die bekende Duitse koerante druk op Kohl geplaas het om te bedank.

Weens ’n korrupsie-skandaal binne haar party het die een groot leier na die ander geval en in 2003 was Merkel gereed om as leier van die party oor te neem. Sy was die een kandidaat sonder bagasie en hoewel nie noodwendig die beste nie, wel die veiligste. Sedert Merkel se verkiesing in 2005 as bondskanselier het haar pragmatiese, versigtige en byna wetenskaplike benadering tot politieke besluite tot Duitsers gespreek.

Wat baie kommentators egter sedert Merkel se toetrede tot Duitse politiek misgekyk het, is die wyse waarop sy van politieke opponente ontslae geraak het. ’n Bekende Britse politikus, Jonathan Powell het ’n tyd gelede Merkel se politiek as Machiavelliaans bestempel, verwysende na die onverskrokke wyse waarop sy mag nastreef en politieke opponente uit die weg ruim.

Vandag het Merkel geen politieke opponente of potensiële opvolgers binne haar eie party nie. Merkel se kabinet bestaan uit politici sonder veel ambisie, persone sonder die vermoë om haar uit te daag en natuurlik individue wat volledig lojaal aan Merkel is.

Merkel het selfs daarin geslaag om haar grootste politieke opponent, die Sosiaal-Demokratiese Party, te verswak deurdat sy talle van dié party se beleidsrigtings haar eie gemaak het. Leiers binne die Sosiaal-Demokrate oorweeg om nie eers volgende jaar ‘n kandidaat teen Merkel te stel nie.

Die Angela Merkel wat haar land weg van omstredenheid, oorloë en ekonomiese slaggate gehou het, het egter vroeg in die somer van 2015 besluit om die grootste stap van haar loopbaan te neem. Sy het Duitsland se grense vir meestal Moslem-immigrante uit die Midde-Ooste en Noord-Afrika oopgegooi. Sedertdien het haar en haar party se steun gedaal en is sy lankal nie meer die veilige keuse vir Duitsers nie. Met byna geen wesenlike sterk alternatief tot Merkel nie, sal sy waarskynlik volgende jaar herkies word en sal die onindrukwekkende karakter, maar geharde politikus Duitsland se toekoms vir altyd in ‘n rigting stuur waaraan sy waarskynlik reeds vir jare beplan.