Erdogan: Die laaste Ottomaanse sultan?

sultan-erdoganGedurende die vroeë dertiende eeu het ’n klein groepie afstammelinge van Osman, die stigter van die Ottomaanse vorstehuis, uit Sentraal-Asië met vierhonderd tente aan die buitewyke van die Romeinse provinsie Bithynië, gevestig.

Die Ottomane was op daardie tydstip nie die grootste of vernaamste Turkse groep wat uit Sentraal Asië weswaarts migreer het nie. Die Seldjoeke was heelwat sterker en van groter aansien as die Ottomane. Die Seldjoeke het teen die dertiende eeu reeds heelwat grondgebied van die Bisantynse Ryk afgeneem.

Die Ottomane het egter munt geslaan uit die politieke onstabiliteit in Anatolië. Teen die Dertiende Eeu het die Bisantynse Ryk, net soos die Wes Romeinse Ryk vroeër, toenemend sy vermoë om oor ‘n enorme grondgebied te regeer, begin verloor.

Met die val van Konstantinopel in 1453 het die Christendom sy oostelike sentrum verloor en was Oos-Europa weerloos vir die toe reeds magtige weermag van die Ottomane.

Teen 1529 het die Ottomaanse Ryk die grootste deel van Oos-Europa, Noord-Afrika en Wes-Asië beheer. Met Konstantinopel het die Ottomane hul voet in die Europese deur gekry en tot en met 1529 het hul met veldslag na veldslag hul opmars na Wes-Europa voortgesit. Die Ottomane is egter in 1529 verhoed om die groot Westerse prys, Wenen, oor te neem en moes 154 jaar wag voordat hulle in 1683 weer met ‘n groot aanslag sou probeer om Wenen oor te neem. Ook die poging in 1683 het misluk en daarmee het die 300-jaarlange stryd tussen die Wes-Romeine en die Ottomane grotendeels tot ‘n einde gekom en is groot dele van Hongarye weer deur die Oostenrykse Huis van Habsburg oorgeneem.

Wat daarop sou volg is meer as twee eeue van voortdurende agteruitgang in die Ottomaanse Ryk. Met die val van die sultanaat in 1922 en die opkoms van die jong republikeine, het Turke hul rug op hul Ottomaanse verlede gedraai. Die Islamitiese Ottomaanse Ryk is deur ‘n sekulêr-nasionalistiese Turkye vervang en die Ottomaanse geskiedenis is in geskiedenisboeke afgewater. Jong Turke moes na die toekoms kyk, eerder as na die donker Ottomaanse verlede.

Na die vestiging van ‘n veelpartystelsel in Turkye in die 1940’s het verskeie individue en groepe weer toenemend na die glorieryke vyftiende en sestiende eeu begin verwys as teenvoeter vir die links-sekulêre rigting waarin die land beweeg het. In 1999 is die 700-jarige herdenking van die stigting van die Ottomaanse vorstehuis regoor Turkye herdenk.

Toe Reccep Erdogan in Januarie 2009 in Turkye tuiskom na ‘n warm debat by die Wêreld Ekonomiese Forum met Shimon Peres van Israel oor die Gaza-strook, is hy deur duisende Turke met die slagspreek: “Die laaste Ottomaanse sultan” verwelkom. Tagtig jaar gelede sou dit ‘n belediging genoem kon word, maar die Turke was reg om die Ottomaanse glorie van die vyftiende en sestiende eeue weer hul eie te maak.

Die afgelope weke se gebeure in Turkye is die voltrekking hiervan. In ‘n era van nostalgie en die laaste stuiptrekkings van twintigeeuse wêreldmagte, wil meer en meer Turke nie meer Europeërs wees nie, maar eerder Islamitiese Ottomane. Die Ottomane se kort flirtasie met demokrasie gedurende die twintigste eeu is vir eers verby.

Westerse beskawingskrisis hul eie maaksel

ISIS in LibyaDie Weste beleef vandag sy grootste krisis sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog. In Europa vrees burgers vir die volgende terroriste-aantal terwyl die VSA deur toenemende rassespanning geteister word. Die nuwe Britse Eerste Minister Theresa May voer aan dat die bedreiging van ’n moontlike kernaanval teen die Weste hoog is.

President Francois Hollande van Frankryk se reaksie Vrydagoggend na die soveelste terroriste-aanval in sy land is dat Frankryk nou harder teen groepe soos die Islamitiese Staat sal veg en dat dié land sy aanvalle in Sirië en Irak sal opskerp. Frankryk en talle ander Westerse lande het hul hande vol in die Midde-Ooste en Noord-Afrika waar die gevolge van hul militêre inmenging steeds chaos veroorsaak.

Die grootste krisis wat die Weste vandag in die gesig staar is nie dié van persoonlike veiligheid nie. Die meeste strate in Europa en Amerika is baie veiliger as strate in Afrika, die Midde-Ooste en die res van die Derde Wêreld. Die totale aantal Westerlinge wat die afgelope paar jaar in terroriste-aanvalle gesterf het, lyk soos ’n niksseggende klein getal wanneer dit met die sterftes weens burgeroorloë en terrorisme in Derde Wêreldlande vergelyk word.

Die krisis wat die Weste vandag in die gesig staar is ’n groter bestaanskrisis. Die voortbestaan van die Westerse beskawing, volkere en nasies word bedreig omdat Westerse lande hul grense oopgegooi, globalisme omhels en naïef gedink het dat die res van die wêreld se mense graag soos hulle sou wou word.

Die Frans-Kanadese skrywer Mathieu Bock-Côté skryf in die Franse dagblad Le Figaro dat die Westerse elite, gedryf deur ’n selfmoordende hardkoppigheid weier om die werklike vyand in hul midde by die naam te noem. Bock-Côté skryf dat toe hierdie sogenaamde elite met terroriste-aanvalle in Brussel en Parys gekonfronteer word hulle aanhou verkies het om op die filosofiese stryd tussen demokrasie en terrorisme, tussen ’n oop samelewing en fanatisme en tussen beskawing en barbaarsheid te fokus.

Die werklike vyand waarna Bock-Côté verwys is die groeiende deel van Westerse lande se Moslembevolking wat nie bereid is om te assimileer nie en wat selfs in die tweede en derde generasie verkies om die land van hul afkoms, as hul tuisland te bestempel. Hierdie mense woon in Westerse lande omdat hierdie lande hulle grense vir immigrante oopgegooi het. Hulle woon in Westerse lande weens die welsynstaat wat gratis behuising, onderwys, mediese dienste en toelaes uitdeel. Hulle woon nie in Westerse lande omdat hulle Westerlinge wil wees nie.

Die oorsprong van die probleem lê in Westerse lande se verlies aan identiteit en die oikofobie wat tot ’n bykanse drang na multikulturalisme aanleiding gegee het. Voeg dáárby Westerse lande se interventionistiese praktyke in veral Noord-Afrika en die Midde-Ooste en jy sit met miljoene mense in Westerse lande wat nie van Westerse lande is nie en wat sien hoe Westerse lande die plekke waarmee hul steeds assosieer probeer demokratiseer. Radikalisering en interne konflik is dan logiese gevolge. Terwyl identiteitsverlies vêrder oor die Weste spoel en die politieke elite demokrasie met geweld na die Derde Wêreld wil neem, sal die situasie bly versleg en waarskynlik binne enkele dekades tot die vernietiging van die Weste beskawing aanleiding gee.

Is die VSA weer terug in 1968?

GettyImages-460019528Op 4 April 1968 is die swart burgerregte aktivis Martin Luther King op die balkon van ’n hotel in die Amerikaanse stad Memphis doodgeskiet. In die dae, weke en maande wat daarop gevolg het, het rassespanning regoor Amerika toegeneem en is veertig onskuldige mense in gewelddadige aanvalle dood en is eiendom in meer as 100 Amerikaanse stede tydens gewelddadige betogings beskadig.

Die Verenigde State van Amerika het ’n lang geskiedenis van rassespanning wat van tyd tot tyd op geweld en selfs lewensverlies uitgeloop het. Gedurende 2015 is net meer as 100 swart mans deur polisielede in die VSA doodgeskiet. Talle soortgelyke voorvalle het reeds vanjaar voorgekom en twee insidente verlede week in Louisiana en Minnesota het tot betogings regoor Amerika aanleiding gegee. Die sogenaamde “Black Lives Matters”-aktivistegroep het vurige uitsprake teen wit polisielede gemaak en opruiende byeenkomste wat aan die optogte van 1968 herinner, vind tans daagliks in groot Amerikaanse stede plaas.

Verlede Donderdagaand se aanval deur ’n swart man in die strate van Dallas op wit polisielede waarin vyf polisielede dood en talle beseer is, moet binne die konteks van hierdie opruiende retoriek gesien word. Hoewel Micah Johnson volgens alle aanduidings nie as deel van ’n georganiseerde groep die aanval beplan het nie, is hy wel deur die retoriek van die leiers van “Black Lives Matters” beïnvloed en was sy aanvalle volledig rasgedrewe.

Vrydag het ’n swart man op motoriste in Tennessee begin losbrand. ’n Vrou is dood en talle mense onder wie ’n polisieman is ernstig beseer. Die skieter het erken dat hy deur die rassevoorvalle gedryf is en dat hy wit mense wou doodskiet. Soortgelyke voorvalle het ook oor die naweek in Georgia en Missouri plaasgevind.

Navorsing toon dat ’n swart man in Amerika ’n nege keer groter kans as ’n wit man staan om deur ’n polisieman geskiet te word. Hierdie statistiek wek die indruk dat die polisie rassisties is en dat swart mans in die algemeen geteiken word. Wat egter ook waar is, is dat 52% van alle moorde in die VSA deur swart persone gepleeg word terwyl swart mense slegs 13% van die land se bevolking uitmaak. Sowat 93% van swart mense wat vermoor word, word deur ’n ander swart persoon vermoor. Geweldsmisdaad is ’n enorme probleem in swart gemeenskappe regoor die VSA en gevolglik maak die hoë voorkoms van konfliksituasies tussen swart mans en die polisie sin. Sowat 12% van alle polisielede in die VSA is swart en die hoof van die polisiedepartement in Dallas is self ’n ervare swart man wat vir baie jare reeds in die polisie diens doen. Argumente oor ’n sistematiese fokus deur wit polisiedepartemente op arm swart gemeenskappe dra dus nie water nie.

Die VSA staan vandag voor enorme uitdagings net soos in 1968. Enkele gevalle waar wit polisielede onregmatig geweld teen swart mans gebruik het, lei nou tot grootskaalse mobilisering in die swart gemeenskap wat tot gewelddadige aanvalle aanleiding gee. Rassistiese uitsprake van wit teen swart en swart teen wit neem toe. Toenemende diversiteit bied voortdurende uitdagings vir die VSA. Sterk leierskap sal nodig wees om gemeenskappe elk tot hul reg te laat kom en die vlam van rassehaat te laat verdor.

Huldeblyk Dirk Viljoen, mede-grondlegger van die volkstaatidee

Dirk Viljoen, mede-grondlegger van die volkstaatbeweging is in Mei vanjaar kort voor sy vier en tagtigste verjaarsdag in Pretoria oorlede. Dirk is op 31 Mei 1932 naby Middelburg (Kaap) gebore en het in verskeie Kaapse dorpe gewoon waar sy ouers as koshuisouers waargeneem het. Na sy skoolloopbaan het hy by die Universiteit van Pretoria as landmeter gekwalifiseer.

Dirk het as landmeter op verskeie plekke gewerk. Op Winburg het hy sy vrou, Magda, ontmoet en kort na hulle troue het hulle na die destydse Rhodesië verhuis. Dit was destyds nog ‘n pioniersland waar hy plase uitgemeet het. Sy twee oudste kinders is in 1957 en 1959 daar gebore terwyl hulle dikwels rondgetrek en in die veld gewoon het.

In 1964 het hulle na Suid-Afrika teruggekeer en die eenvoudige omstandighede vir vestiging in Pretoria verruil. Nog ‘n seun en ‘n dogter is daar gebore. Daar het hy vir die Departement van Beplanning gewerk en deeltyds ‘n Meestersgraad in Stads- en streeksbeplanning aan die Universiteit van Pretoria behaal. Hy het ‘n gesaghebbende beplanner geword en het, saam met vennote, die firma Plan Medewerkers gevestig en bestuur.

Dirk was sedert die middel 1960’s by SABRA (die Suid-Afrikaanse Buro vir Rasse-Aangeleenthede) betrokke. Hy het afsonderlike ontwikkeling ondersteun en was ‘n voorstander van planmatige en billike skeiding tussen die volkere van Suid-Afrika. Daar het hy in aanraking gekom met prof Carel Boshoff, voorsitter en dr Chris Jooste, direkteur van SABRA en het later saam met hulle ‘n beslissende rol in die volkstaatbeweging gespeel. Hy was ’n stigterslid van die Vereniging van Oranjewerkers, van die Afrikanervolkswag en van die Afrikanervryheidstigting.

Saam met prof Boshoff as charimatiese politieke en geestelike vertolker van die volkstaatgedagte en dr Jooste as sosiale demograaf en diepte navorser, was Dirk die geografiese beplanner. Hulle was ’n formidabele en oortuigende driemanskap wat die deurslaggewende rol in die aanwysing van die Noordwes-Kaap as gebied waarbinne ‘n Afrikanervolkstaat kan ontwikkel, gespeel het. Hy was in 1989 ook mede-outeur van die gesaghebbende boek “die Volkstaat as Afrikanerbestemming”, waarop talle ander boeke en navorsingstukke gevolg het wat die idee van ‘n volkstaat verkondig het.

Met sy betrokkenheid en kundigheid was Dirk ook ‘n vanselfsprekende kandidaat vir die Volksstaatraad waarop hy van 1994 tot 1997 as voltydse lid gedien het. Daar het hy tot talle verslae oor die moontlikhede wat die Noordwes-Kaap vir volkstaatontwikkeling inhou, die lig laat sien. Hy was ook lid van die Vryheidstigting se Burgerraad en het in Orania belê, hoewel hy sy planne om daar te vestig weens persoonlike omstandighede nie kon uitvoer nie. Hy het in Jongensfontein afgetree en is later terug na Pretoria waar hy die laaste jare van sy lewe versorg is.

Dirk Viljoen is deur almal wat hom ken as ’n ware heer beskou en is as aangenaam, hoflik, nugter en fyn besnaard beskryf. Hy is deur diensvaardigheid gemotiveer en het nie persoonlike voordeel of eer nagejaag nie. Magda het hom reeds einde verlede jaar ontval, maar hy word deur 4 kinders, 6 kleinkinders en 9 agterkleinkinders oorleef.

Dirk Viljoen

Brexit verteenwoordig hernude fokus op desentralisasie

brexit1Brexit, oftewel die Britte se besluit om uit die Europese Unie te tree, is die afgelope twee weke deur kommentators, politici en selfs bekende akteurs en sangers gebruik en ook misbruik om argumente wat bitter min met Brexit en die gevolge daarvan te make het, op die voorgrond te skuif. Brexit is verbind aan anti-Europese gevoelens, rassisme en selfs ou haat onder Britte jeens Duitsland.

Soos wat die stof gaan lê en ons egter deur al die geraas en propaganda kyk en werklik ondersoek instel na die redes waarom 52% van Britte ten gunste van Brexit gestem het, is dit duidelik dat hierdie mense nie fasciste of rassiste is nie, maar eerder grotendeels ’n meerderheid van Britte verteenwoordig wat die opmars van sentralisasie en politieke en ekonomiese globalisme wou stuit.

Die Britte wat teen die Europese Unie gestem het, het nie teen Europa gestem nie. Om die waarheid te sê daar is genoeg ondersoeke en peilings wat wys dat die meerderheid van hierdie mense met Europa assosieer en Brittanje as deel van Europa beskou. Europa as ’n kontinent van verskillende volkere en die Europese Unie as ’n burokratiese, ondemokratiese mag wat politieke en ekonomiese mag in Brussel sentraliseer, is twee verskillende dinge.

Sedert die verkiesingsuitslag is daar ook sprake van ’n sogenaamde Nexit in Nederland en ook in andere lande in Europa kan soortgelyke referendums volg.

Aan die ander kant van die Atlantiese Oseaan bou die frustrasie met sentralisme ook op. In die VSA staan Texit vir die deelstaat Texas se moontlike poging om die federasie te verlaat en in die relatief libertariese staat, New Hampshire is ’n sterk beweging teen sentralisme die afgelope tyd van stapel gestuur. Hoewel dit moontlik is vir ’n Amerikaanse deelstaat om van die federasie af te skei, is dit besonder moeilik en eintlik hoogs onwaarskynlik omdat dit deur die kongres goedgekeur sal moet word.

Die opmars van sentralisme word oor die korttermyn gesien as ’n soort oplossing vir Europa en Amerika se interne konflikte. Die persepsie word dus geskep dat indien mag gesentraliseer word en gedeelde politieke en ekonomiese belange ontstaan, verskillende volkere en lande minder rede sal hê om in konflik met mekaar te tree.

Sentralisasie is egter reeds vir die afgelope 600 jaar in Europa in opmars. Dit het begin by Koning Henry die Sewende van Brittanje en Koning Ferdinand van Spanje en is oor die eeue voortgesit deur mense soos Napoleon, Koning Louis van Frankryk en uiteindelik Hitler in Duitsland.

Ook in die VSA het dit reeds na die einde van die Burgeroorlog in 1865 sterker geraak. Hoewel die Burgeroorlog tot ‘’n mate oor slawerny gegaan het, kan Lincoln se hardkoppige onwilligheid om die Unie te sien skeur, ook nie ontken word nie.

Die geskiedenis het bewys dat volkere en lande wat in ’n gesonde magsverhouding met mekaar saamleef nie in konflik met mekaar hoef te tree nie. Sentralisasie is nie die oplossing nie en ’n breë, internasionale grondvlakbeweging ten gunste van desentralisasie kan oor die volgende paar jaar ’n realiteit word.

Die mens het die stamverband nodig

TribeSebastian Junger, ‘n bekende Amerikaanse outeur, oorlogverslaggewer en vervaardiger van dokumentêre films se onlangse boek (in Mei vanjaar verskyn) “Tribe. Of homecoming and belonging.” werp ‘n interessante lig op die belangrikheid van die groep (in die sin van stam of volk) vir die geestesgesondheid van die mens. Hy kies doelbewus die woord tribe (stam) en nie community (gemeenskap) nie omdat die term gemeenskap volgens hom te vaag, vloeibaar en te sag is. Elke groepering en belangegroep word deesdae ‘n gemeenskap genoem, maar ‘n stam is iets wat ‘n sterk, amper mitiese en blywende verbintenis tussen mense aandui. As ek in die teks van gemeenskap praat, dan is dit egter in die nouer sin van ‘n gegroeide, etniese gemeenskap met gedeelde afkoms, plek en waardes.

Volgens Junger het die mens het van sy vroegste bestaan af die groep gehad en daarbinne sy bestemming en sy vrede gevind. Eers in die laaste paar dekades word die mens losgemaak van die stam- of gemeenskapsverband en kan dit sielkundig nie verwerk nie. Terwyl die Westerse samelewing as amper perfek voorgehou word en volgens sekere aanduidings al hoe meer perfek word in die sin dat alles voorspelbaar en veilig word en vir almal gesorg word, neem selfmoord en depressie met groeiende welvaart en modernisering toe. Samelewings wat materieël feitlik alles het en wat voorspelbaar, veilig en gereguleerd is, het nogtans dikwels die mees ongelukkige mense, terwyl mense in “primitiewe”, pre-moderne samelewings dikwels gelukkig is, ongeag die materiële gebreke.

Die mens het blykbaar uitdagings in groepsverband nodig (en jeugbendes van ontstamde Westerlinge, ‘n soort karikatuur van die stam, bevestig juis dit). Junger het vasgestel dat mense selfs troumatiese gebeure soos oorlog of natuurrrampe sielkundig positief beleef wanneer die gemeenskap saamstaan en mekaar help in sulke tye van nood. Soldate beleef dit besonder intens. In die oorlog is hulle in gevare op mekaar aangewese en daar bestaan ‘n sterk groepsgevoel en lotsverbondenheid. As hulle dan terugkeer na die hoogs geindividualisieerde en versplinterde samelewing, is daar geen gemeenskap wat vir hulle omgee nie en hulle voel uit plek uit en ly aan depressie. Die gemeenskap kon nog altyd oorlogstrouma genees deur soldate weer deel van die groep te maak, maar sielkundiges kry dit selde reg. Meer nog, terwyl soldate vroeër as helde terug verwelkom is, word hulle vandag in die Weste skeef aamgekyk en uitgekryt as “moordenaars” en “onderdrukkers”, juis in hulle eie lande.

Ouer mense in Wes-Europa en die VSA kyk met nostalgie terug na die tyd onmiddelik na die verwoesting en onbering van die Tweede Wêreldoorlog, waar die mense vir die laaste keer in die Weste ‘n werklike gemeenskap was omdat hulle saam die skade van die oorlog herstel en mekaar gehelp het. Met toenemende voorspoed wat daarna gevolg het vanaf die middel 1950’s, het ook individualisering, materialisme en nihilisme ingetree. Ook die films van die era beeld dit uit. Verglyk byvoorbeeld die sterk gesins- en gemeenskapsbande van “The Green Promise” van 1949 met die konflik en ontbindingstendense van “Rebell without a cause” van 1955, wat ‘n nuwe era ingelui het, skaars 5 jaar later.

Die mens se verlange na die noue bande van ‘n stam of gemeenskap sit volgens Junger ook agter die Amerikaanse setlaars se drang na die ongerepte lande van die Weste. Hier was hulle deel van ‘n hegte gemeenskap, wat saamgestaan het teen Indiane, wilde diere en ‘n ‘n vyandige natuur. Ander weer het juis by die Indiane aangesluit op soek na ‘n stamverband. Ook vandag is daar derduisende Westerlinge wat die doellose en individualistiese Weste wil ontsnap en poog om by meer oorspronklike en tradisionele volke in Asië of Afrika aan te sluit (dikwels tot hulle ontnugtering en sonder om werklik aanvaar te word).

Alhoewel talle van Junger se bevindinge en afleidings aanvegbaar is en die primitiewe stamme alles behalwe ideale en vreedsame samelewings was, is die behoefte om te “behoort” onlosmaaklik deel van die mens en belangrik vir sy ontwikkeling en sy menswees. Die individualisering van die mens verteenwoordig nie die toppunt van evolusie nie, maar eerder ‘n doodloopstraat. Danie Goosen het in sy gesaghebbende boek “Oor Gemeenskap en Plek” die kwessie in diepte bespreek en die belangrikheid van gemeenskap vir die mens en vir die kultuur uitgelig.

Te dikwels word die strewe van Orania en ander Afrikaner-organsisasies wat vir die etniese gemeenskap staan afgemaak as verouderd en ondermynend. Talle meningsvormers probeer Afirkaners oortuig dat die fokus op groepe nasionale eenheid ondermyn en ook Afrikaners terughou en verstik en dat die aankoms in ‘n multi-etniese land hulle as t’ ware bevry het. Min woorde is so deurspek van huigelaary as die “oop, multi-kulturele samelewing” wat Suid-Afrika nou sou wees, of besig is om te word namate die verlede agtergelaat word. Selfs diegene wat die dogma verkondig, leef nie daarvolgens nie. Kyk maar waar woon die sogenaamde meningsvormers: gewoonlik in veiligheidsbuurte vir die hoër middelklas, dalk met ‘n paar swart middelklasgesinne tussenin, maar alles behalwe verteenwoordigend van Suid-Afrika se bevolking.

Dit is tyd dat die skynheiligheid agtergelaat word en erken word dat mense basiese behoeftes het: behalwe om te eet en om voort plant ook om hulle plek en doel in die wêreld te vind en om deel van ‘n gemeenskap (stam, volk, groep) te wees. Diegene wat verkies om as vryswewende, ongebonde en swerwende individue in ‘n gewaande “global village” te leef is welkom om dit te doen, maar hulle moet nie hulle wil op die groot res afdwing nie.

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel