Jare gelede vertel my skoonpa, ook ’n predikant, die volgende verhaal. By geleentheid word predikante gevra om in ander gemeentes sakramente te bedien, gewoonlik omdat die familie betrokke is of omdat dié gemeente vakant is. So word my skoonpa gevra om by ’n naburige gemeente die doop te gaan bedien. Om by ’n ander gemeente te preek is gewoonlik ’n nuwe, vreemde ervaring, daar is tog iets van ’n plaaslike kultuur en mens beleef dit sommer met die telefoniese reëlings al van die betrokke Sondag. As voorbeeld mens se skakeling met die orrelis oor die liturgiese liedere. Soms verwag sy dit twee weke voor die tyd alreeds om te oefen, soms is die orrelis so gemaklik dat sy sommer self op die houtbordjies kyk waar die ou koster die nommertjies aanbring. Met die aankomslag gaan die vreemdhede voort: Wie jou kom verwelkom, die tipe koffie wat jy aangebied word, die uitleg van die kerkgebou. Ook binne die konsistorie beleef mens dit, heelwat vreemde gesigte wat gesels oor dorpsdinge en mense waarvan jy nie veel weet nie. Dit is amper of mens jouself op die intreeslag op die volksvreemde sendingveld beleef. Anders.
Met meeste uitpreke wil jy as predikant so ’n vinnige draai op die kansel maak voor die tyd, om die papiere en boeke reg te sit, die klank te toets en net so ’n gevoel te kry van wat voorlê. Hierdie spesifieke Sondag word hierdie kardinale voorbereiding egter nagelaat en so ’n oordeelsfout skep gewoonlik die teelaarde vir ten minste ’n opwindende en interessante ervaring. Dit stel nie teleur nie.
Die betrokke Sondag verloop alles soos verwag met die verwelkoming in die konsistorie, die statige voorsitter wat die dominee verwelkom, die doopkaartjie met die name wat oorgegee word en die ouderling wat hartroerend bid vir die diens wat voorlê en vir die teken van redding wat bedien gaan word aan ’n kindjie.
Voor mens instap, deur die sydeur aan die ouderlinge toegeken, altyd van die gemeente se kant af die linker een, hoor mens gewoonlik die gemeente se “God is hier teenwoordig” of iets in der voege, dan gooi jy gou jou toga oor jou skouers, gryp jou pakkie boeke en stap statig deur die deur, kerkbinne. Die Predikant stop dan by die trappies, om te bid vir leiding, wysheid en meermale beskerming teen jou eie minder as volmaakte voorbereiding. Dan begin die diens.
Die betrokke Sondag, so vertel my skoonpa, gaan die prediking oor redding met die water van die doop as simbool van Christus se offer wat ons reinig van al ons sondes, gefundeerd in die verbond van God met die mens. Na die preek beweeg hy af na die liturgiese ruimte vir die sakrament, die ouers kom na vore en oupa bring die kriewelende bondeltjie verbondskind in. Dit is toe dat hy die potensiële probleem bemerk. Hierdie betrokke gemeente, het ’n indrukwekkende glas doopfont, ’n geskatte meter hoë glas kunswerk, amper soos ’n groot buis. Mooi. Dit op sig self is nie ’n probleem nie, die probleem is die feit dat hy bespeur dat die water in die font, omtrent elmboog diepte van die die bokant af lê. Nou moet ek moontlik by voorbaat noem dat met glas, water en die refraksie verskynsel van lig mens maklik oordeelsfoute kan maak en so ’n fout is deur hom begaan.
Toe die formulier afgehandel is, my skoonpa die verbondskindjie in sy arms neem, begin hy met die woorde…..sê nou maar sommer Jacobus Daniel van der Westhuyzen, ek doop jou in die naam… en met hierdie woorde en die oordeelsfout, druk my skoonpa sy regterand, elmboogdiepte in die font in, salig onbewus van die feit dat die water eintlik, perfek, 100%, tot by die rant van die font vol gegooi is en die lig hom geflous het. Elmboog diep nat, water wat die hele ruimte vol stort, doop hy die ouers, grootouers en sy eie skoene sommer ook. Johannes 2:7 sal nog getoonset moet word vir so ’n geleentheid: “Jesus sê vir hulle: Maak die kanne vol water. En hulle het hul tot bo toe volgemaak.”
Jacobus Daniel van der Westhuyzen, ek doop jou in die naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees…terwyl die water uit sy toga-arm stroom. Die reënboog dien as teken dat die aarde nooit weer met ’n vloed sal vergaan nie, die waardigheid van die sakrament, op daardie betrokke Sondag, het egter met ’n oordeelsfout en ’n vloed heengegaan
Die fout wat begaan is, is eintlik eenvoudig: Redding het vir hom te vêr gelyk. In ons eie lewens van kleingeloof maak ons ook die parallaksfout. Soms laat die glas en lig van hierdie lewe ook die redding veel verder lyk as wat dit eintlik is.