fbpx

Uit die aard van die saak raak gebeure in die land ons ook, al is die impak minder direk omdat ons ‘n groot mate van beheer het. Doemprofete voorspel dat dinge in die land so erg sal gaan dat ook Orania “weggespoel” sal word. Die vraag wat ons sal doen as “busse vol EFF-ondersteuners op Orania toesak” word dikwels gevra.

Laat ek daarop die volgende antwoord gee: Daar is gebeurlikheidsplanne in plek en ons veiligheid is opgeskerp. Ons monitor ook die gebeure in die land en het ons inligtingsnetwerk. Daar is egter ook ander noodsituasies wat dalk meer waarskynlik is en waarvoor ‘n mens ook net kan beplan, soos ‘n vloede, brande en ander natuurrampe wat op enige plek op aarde kan gebeur. Jy kan en moet daarvoor gereed wees en oefen, maar as dit jou tref dan sal dinge in elk geval nooit presies gebeur soos verwag nie.

Om reaktief te wees is egter nie al antwoord nie. Elke huis en besigheid in Suid-Afrika is beveilig en nog steeds word ingebreek, gemoor en gesteel. Wat ons anders maak is dat ons ‘n ander werklikheid skep wat risikos soos grootskaalse aanvalle, besettings, geweldpleging ensovoorts onwaarskynlik maak.

Ten eerste opereer ons vanuit ‘n gemeenskapsbenadering en nie ‘n individuele benadering nie. Ons help mekaar en staan as gemeenskap saam en verlaat ons nie vir beskerming op vreemdelinge nie. Die belangrikheid van volkseie arbeid kan nie genoeg beklemtoon word nie. Dit is die hoeksteen van Orania en skep nie net werk vir ons mense wat elders sukkel om werk te kry weens hulle velkleur nie, dit skep ook ‘n omgewing waarbinne misdaad baie minder voorkom. Misdaad, so wil dit vir my voorkom, gedy in ‘n samelewing wat gestroop is van hegte gemeenskappe met reëls en norme, en waar daar ‘n gedurige wisselwerking tussen mense uit verskillende groepe, klasse en volke is, sonder dat hulle gemeenskaplike waardes en belange het.

Verder is die Afrikaners ook pioniers van afkoms en behoort meer moed aan die dag te lê. Pleks om altyd te vra: “maar wat as dit en dat gebeur?” en om oorsee te wil vlug moet ons Klein-Reusdie werklikheid in oënskou neem en dan volhard met die gekose pad. Orania se konsep was reg omdat dit deur jarelange beplanning voorafgegaan is. Dit het egter nie net by idees en planne gebly nie, maar dit is uitgevoer en by die beginsels gehou, met enkele praktiese aanpassings hier en daar. Niemand het destyds geweet waar dit gaan eindig nie, en ons weet dit nou ook nog nie. Wat ons wel weet is dat ons op die regte pad is en by ons bestemming sal uitkom, al weet ons nie wat om die volgende draai lê of hoe lank die pad is nie. Geen pionier het al ooit iets reggekry deur vrees en twyfel nie, en pioniers weet ook dat God hulle inspanning seën, maar dat die seën gewoonlik al heelwat later kom. As ‘n mens net vir hier en nou leef dan sal jy moedeloos raak en dink alles is verlore. ‘n Volk gaan egter deur tye van teëspoed en voorspoed en rig mekaar op en dink aan die volgende generasie.

Al vir 25 jaar gaan Orania vorentoe, partymaal baie stadig, dan weer vinnig. Van die begin af was daar bedreigings en uitdagings en dit sal ook in die toekoms so wees. Maar van die begin af was ons vertroue op God en ook op ons vermoëns wat ons gekry het. Daar is sowel gebid asook gedoen. Die Here het ons immers nie ‘n gees van vrees gegee nie, maar ‘n gees van oorwinning. Om die rede moet mense ook nie Orania toe kom omdat hulle vrees vir die EFF of wie ook al, want as jy vrees dan sal jy nie kan verdedig nie, dan hardloop jy met ‘n bedreiging net weer na die volgende plek toe.

‘n Inspirierende boek om te lees oor hierdie onderwerp van opstaan as volk is dr. Dirk Hermann se “Begrond”.