Vir besoekers en voornemende intrekkers, met wie ek daagliks kommunikeer, is Orania amper ‘n soort utopia, ‘n plek wat in die res van die land ondenkbaar lyk en die vraag: “maar hoe kry julle dit reg?” word dikwels gevra.
Vir ons as inwoners is dit wat ons het ‘n gegewe en ons werk ons dikwels op oor dit wat nie ideaal is nie, soos mense wat nie aan die ideaalbeeld van ‘n Christen-Afrikaner voldoen nie, die gewone geskinder en bekgevegte wat enige gemeenskap kenmerk, sekere dinge wat die dorpsraad dalk nie reg doen nie ensovoorts.
Uit die aard van die saak is ons nie die utopia of die Afrikanerhemel waar alles net reg loop nie. Mense is geneig om dit wat hulle net gedeeltelik ken te idealiseer, en dit wat hulle té goed ken, vlak te kyk. Dikwels idealiseer ons ander samelewings op grond van ander se eensydige beriggewing, of ons idealiseer die verlede omdat ons in films en boeke net van die mooi dele hoor en lees. Maar dan is dit ook nie reg om jou as Oraniër die hele tyd vas te kyk teen dit wat nie ideaal is nie. Die mense buite sien net die woud en vergeet dat ‘n indrukwekkende woud ook dooie bome het. Ons in Orania sien te dikwels net die enkele bome raak en vergeet die groter geheel wat van die somtotaal van die bome ‘n pragtige ekosisteem en lewensruimte maak.
Kom ons staan ‘n oomblik terug en, sonder om onkrities of vol selfprysing te wees, verwonder ons in dit wat die gemeenskap van Orania, met die hulp van bo, reggekry het. Dit is heelwat, selfs al was ons aanvanklike mikpunt onrealisties hoog.
Ons kan in tye waar Afrikaans onder druk is en uit die openbare sfeer verwyder word in ‘n gemeenskap lewe waar Afrikaans die amptelike taal is en alles in Afrikaans gedoen word, van kuier en gesels oor onderwys en opleiding tot kuns en kultuur.
Waar elders die christelike godsdiens uit die openbaar verdwyn, die samelewing heeltemal sekulêr raak en daar geen verskil tussen Sondag en die weeksdae is nie, leef ons in ‘n plek waar meeste mense kerk toe gaan, waar feitlik almal ten minste nominaal Christene is en waar Sondag (met enkele uitsonderings) eerbiedig word.
Waar Afrikaners buite sukkel om werk te kry en waar daar vir werklose Afrikaners dikwels geen ander heenkome is as bedel nie en waar diegene wat nog posisies het op ander Afrikaners trap om dit te behou (soos die rektore van die Afrikaanse universiteite of talle joernaliste), het ons ‘n maatskaplike netwerk wat mense opvang en hulle weer oprig deur middel van werk, maatskaplike berading en gesubsidieerde mediese dienste en behuising.
Terwyl Afrikaner-erfenis verniel en gevloek word, kan ons dit hier bewaar en aan inwoners en besoekers ten toon stel om sodoende die band met die verlede en die trots op die eie lewendig te hou.
Terwyl feitlik elke Afrikaner in ‘n mindere of meerdere mate in vrees lewe en dikwels al ‘n slagoffer van misdaad was, kan ons ons eie veiligheid hanteer en staan ons as gemeenskap saam om aanslae van buite (en binne indien nodig) af te weer.
Waar elders basiese dienste nie meer voorsien word nie en die drinkwater besoedel is (as dit hoegenaamd beskikbaar is) en rioolwerke tot stilstand kom, het ons ‘n dorp wat werk en waar alles in stand gehou word.
Dit is alle nog baie min in vergelyking met wat die Afrikaner gehad het, maar gemeet aan die totale magsverlies, agteruitgang en krisis waarin ons volk verkeer as ‘n mens eerlik is, is dit baie om op trots te wees en om op voort te bou, maar veral ook om voor dankbaar te wees.
Ek kan nie wag om my vorms, CV ens vir goedkeuring voor te le ten tye van my onderhoud nie ! September maand beplan ek hierdie groot gebeurtenis in my lewe. Ek is al geestelik laaaaankal in Orania, dit is nog net die fisiese gedeelte wat volbring moet word en dan die groot trek. Ek weet dat ek baie het om aan te bied, baie waarmee ek kan help, baie waar ek lewenslange ervaring en ondervinding kan gebruik ten goede van die gemeenskap en die dorp. Die wereld sal nog gons oor hierdie fenomeen genaamd Orania. Hou so aan, hou so vol.