Pharamaul is orals. Of is dit?

pharamaulPharamaul is ‘n fiktiewe Afrika-staat, eintlik ʼn eiland, voor die Weskus van Afrika, sowat 500 km wes van die kus van Namibië, wat in die boeiende boeke “The Tribe that lost its head” en sy opvolg “Richer than al his tribe” beskryf word. Alhoewel dit ʼn soort karikatuur van ʼn Afrikastaat is, is die dinge wat daar beskryf word (en die boeke is al in die laat 1960’s geskryf, toe die eerste euforie van onafhanklikheid verby was en al die negatiewe effekte van uhuru na vore gekom het) eintlik verbasend akkuraat en kon amper vandag se Afrika beskryf.

Pharamaul se meerderheidsvolk is die Maulas, ʼn stam met ʼn trotse tradisie van konings en die legendariese stamvader, Maula the Great, wat ʼn goeie leier was, maar ook wreed en genadeloos. Hulle woon in die suide en die sentrale dele van die eiland. Hulle tradisionele setel is die sentrale stad Gamate, maar die elite trek saam in die hoofstad Port Victoria, waar die grootste deel van die blanke minderheid woon, wat die ekonomie oorheers en ook na onafhanklikheid van Brittanje nog in sekere sleutelfunksies aanbly. Daar is diegene onder die blankes wat niks goeds oor die nuwe bewind te sê het nie en wat wil emigreer, en die wat aanbly en wil help met die opbou van ʼn nuwe, nie-rassige land. Die ander swart volk is die U-Maulas, wat in die noordelike woudgebiede met die hoofdorp Shebiya bly en sowel deur die blankes asook die Maulas as primitief en barbaars gesien word.

Die jong, belowende swart leier is Dinamaula, 4de geslag van die Maula-dinastie en tydens die koloniale bewind in ballingskap. Met die aanloop tot onafhanklikheid keer hy triomfantlik na sy geboorteland terug, predik versoening, beskeidenheid en opbou van die land tot almal se voordeel.

Nie lank na onafhanklikheid begin Dinamaula meer en meer sleutelposte met sy ondersteuners, bevoeg of nie, vul. Korrupsie neem toe en die opposisie, veral bestaande uit verteenwoordigers van die U-Maula stam wat dit aanhangig maak, word as onpatrioties en as verraaiers uitgekryt (en later in hegtenis geneem) en die blanke amptenare wat nie wil saamspeel nie, word afgeransel of summier uit die land gesit. Terwyl die hoofstad blink en vol prestigeprojekte is, verval die res van die land, die infrastruktuur, die fabrieke en die landbou. Fenomenale skuld word aangegaan om in die eerste liga van state saam te speel en om almal by die VN te beïndruk. Bande met Brittanje word losser gemaak, die met sosialistiese lande sterker. Op ʼn persoonlike vlak verwerp Dinamaula sy vrou uit sy eie stam wat vir hom met haar lomp maniere en voorkoms ‘n verleentheid raak, en voer vir hom beeldskone houvrou uit Engeland in. Die sondes van die koloniale heersers word egter nóg vergewe nóg vergeet, maar met rente terugbetaal.

Soos dinge vererger, onttrek die wit minderheid hulle meer en meer, of emigreer, maar onder die landelike, arm Maulas en U-Maulas bou woede op teen die elite in die hoofstad, wat die res van die land laat krepeer. Hulle kom in opstand en marsjeer na Port Victoria om hulle griewe te lug, maar hulle word eers met vleitaal om die bos gelei en dan koelbloedig afgemaai. Dinamaula verklaar hom tot ewige leier met ʼn reeks titels, maar wantrou alles en almal.

Die boek is lank voor Idi Amin, Robert Mugabe, Eduardo dos Santos, Bokassa, ensovoorts geskryf, maar is verbasend akkuraat oor hoe Afrika na onafhanklikheid ontwikkel het. Ook Suid-Afrika, alhoewel baie groter en meer ontwikkeld en meer ingewikkeld as die denkbeeldige Pharamaul, het ʼn hele paar parallelle.

Is daar hoop vir Afrika, of loop alles altyd volgens die slegste scenario af? Wat bo beskryf word, is die reël, maar gelukkig is daar uitsonderings op die reël, en hulle word dalk geleidelik meer.

ʼn Land wat as voorbeeld vir Pharamaul kon gedien het, is Gambië, ʼn mini-staat in Wes-Afrika met minder as twee miljoen inwoners, behalwe vir die verbouing van grondbone en ʼn bietjie toerisme geen ekonomiese aktiwiteit nie, alles is gekonsentreer in die hoofstad Banjul teen die kus. Die president, Yahya Jammeh, regeer al vir 22 jaar as diktator en toon toenemend tekens van grootheidswaan en irrasionaliteit. Talle politieke gevangenes is in die tronke en van menseregte is daar geen sprake nie. Verkiesings is gewoonlik ʼn hersenskim, met intimidasie en manipulasie wat selfs vir buurstate te veel geraak het. Gambië, ʼn voormalige Britse kolonie, het in 2013 die Gemenebes van State verlaat weens kritiek deur Brittanje aan Jammeh se onderdrukking van teenstanders, en hierdie jaar het Gambië ook van die internasionale strafhof onttrek. Intussen gaan die ekonomie ten gronde en meer en meer Gambiërs waag hulle lewe om na Europa te emigreer.

Met die verkiesing verlede naweek het egter die ondenkbare gebeur: die opposisie het agter een kandidaat verenig (al was talle van sy moontlike kandidate in die tronk) en die kandidaat, Adama Barrow, kon die verkiesing teen mnr. Jammeh wen. Nog meer ondenkbaar, mnr. Jammeh, wat eens aangekondig het dat hy ʼn miljard jare sal regeer as Allah dit toelaat, het die neerlaag aanvaar. Mnr. Barrow is nog ongetoets, maar die tekens is bemoedigend dat hy nie ook die voorbeeld van mnr. Jammeh sal volg nie. Hy het reeds aangekondig dat politieke gevangenes vrygelaat gaan word, en dat Gambië weer tot die Statebond en die Internasionale Strafhof sal toetree. Hier is nog ʼn verkiesing waar dinge heel anders as verwag gebeur het en waar die magtiges in hulle verwaandheid die gevoel op grondvlak geignoreer het tot hulle eie spyt.

Een swaeltjie maak nog nie ʼn somer nie, en Gambië is ʼn klein land met min invloed. Nogtans, in Afrika is ʼn mens dankbaar vir elke teken van hoop, en daar is ook ander lande waar dinge stadig maar seker verbeter. Ongelukkig is Suid-Afrika nie een van die lande nie, maar ook hier kan die gety draai, en geen president kan beweer dat Allah of God aan sy kant is en hy vir ewig sal regeer nie.

Energieopwekking – gevare en geleenthede.

Dit is verblydend dat die regering blykbaar insien dat kernkragsentrales tans nie vir Suid-Afrika haalbaar is nie en dat met die nuwe konsep-kragplan die kernkragsentrale-bouprogram eers op die lange baan geskuif is. Eers in 2037 sal nuwe kernenergie tot die huidige energiemengsel toegevoeg word, maar die plan is dan om tot 2050 30% van kragvoorsiening deur kernkrag te verskaf. Die gesegde is: “Jy moet eers kruip voor jy kan loop”. Kernkrag is ʼn hoogs doeltreffende, maar ook hoogs gevaarlike tegnologie en dit is nie toevallig nie dat dit ʼn tegnologie is wat veral in gevorderde, Eerste Wêreldsonkraglande gebruik word. Miskien is dit juis om die rede dat Suid-Afrika sy kernkragvermoë wil uitbou, om vir die wêreld iets te wys, maar gelukkig is dit tans veral finansieël nie haalbaar nie. Suid-Afrika het reeds, as enigste land in Afrika, ʼn kernkragsentrale (Koeberg), maar dit is geskep onder ʼn baie meer doeltreffende en gedissiplineerde bedeling as die huidige een. ʼn Mislukking op die terrein van kernkrag kan egter nog meer rampspoedige gevolge hê as die onlangse Eskom-debakel, wat enige tyd weer kan uitbreek. As ʼn steenkool-kragstasie ontplof is dit erg genoeg (die ergste skade is die verlies aan kragopwekkingsvermoë), maar die ontploffing van ʼn kernkragstasie veroorsaak enorme skade aan mens en natuur.

Die huidige sterk steun op lae gehalte steenkool vir kragopwekking (tans 81% van die land se energiemengsel) is nie die oplossing nie, maar tans is daar geen korttermyn-alternatief nie. Selfs in ʼn gedissiplineerde, ontwikkelde en vooruitstrewende land soos Duitsland het die oorskakeling van konvensionele krag na alternatiewe, herwinbare krag (son, wind, water en ander) talle probleme meegebring. Suid-Afrika kan egter baie meer doen om ʼn groter deel van sy energie deur alternatiewe krag op te wek, veral as in ag geneem word hoeveel son in die grootste deel van die land skyn. Die omstandighede is so veel gunstiger in Suid-Afrika as in ʼn reënerige en koue land soos Duitsland, waar al meer as 20% deur alternatiewe krag voorsien word, terwyl dit in Suid-Afrika tans net om en by 3% is. Selfs vir die toekoms speel alternatiewe krag ʼn ondergeskikte rol in Suid-Afrika, met slegs 24% kragopwekking uit wind- en sonkrag wat beplan word vir 2050.

Ook die regering se opgewondenheid oor die ontginning van skaliegas, wat met hidrokraking gepaard gaan, is misplaas. ʼn Onlangse verslag van die WNNR en nader navorsingsinstitute gooi koue water op die regering se bewering dat dit veilig is, baie werksgeleenthede skep en die land onafhanklik van olieinvoer kan maak. Die hidrokraking, waardeur skaliegas ontgin word, is nes kernkrag  ʼn gevaarlike tegnologie met groot risikos vir mens en natuur, en dit is ook nie ekonomies so winsgewend soos wat voorgehou word nie, veral met ʼn stabiele olieprys en die moontlikheid dat daar vorentoe tegnologie sal ontwikkel word wat olie en gas toenemend kan vervang. Onlangs het ek ʼn batteryaangedrewe klein vragmotor hier in Orania gesien, wat blykbaar nou kommersieel vervaardig gaan word (ongelukkig nie by ons nie). Een of ander tyd moet die brandstofaangedrewe enjin (die beginsel is al meer as 150 jaar oud) vervang word met ʼn heeltemal nuwe tegnologie. Die stoorvermoë van alternatiewe krag was nog altyd die achilleshiel van alternatiewe energie, maar op die terrein van batterye is daar groot vordering.

Orania kan in Suid-Afrika op die voorpunt wees van die nuwe ontwikkeling, ons het die son, ons mense is omgewingsbewus en ons moet ons selfstandigheid en onafhanklikheid verhoog. Die finansies is tans nie daarvoor beskikbaar nie, en daar is tans dringender infrastruktuurprojekte. Energieonafhanklikheid, selfs energieuitvoer moet egter op ons radar bly. Suid-Afrika is polities, ekonomies en tegnologies dikwels een van die wêreld se agterosse, maar Orania dink en doen vooruit en beplan vir die toekoms.

 

Obama-waarskuwing oor nasionalisme val op dowe ore

president-barack-obama-takes-a-tour-of-the-acropolisPresident Barack Obama van die VSA het verlede week in Athene, Griekeland ’n sterk pleidooi teen nasionalisme in Westerse lande gelewer. Hy is duidelik steeds ontsteld oor Donald Trump se oorwinning in die Amerikaanse presidentsverkiesing en in sy afsluitingsboodskap aan Europese leiers het hy hulle probeer oortuig om die opkoms van ’n nuwe soort nasionalisme in Europa te stuit.

Volgende jaar sal kiesers in Frankryk, Nederland, Duitsland, Noorweë en Slowenië in nasionale verkiesings gaan stem terwyl kiesers in die Verenigde Koninkryk aan plaaslike verkiesings deel sal neem. In talle Oos-Europese en Balkanlande sal kiesers ook na die stembus gaan.

Op 4 Desember vanjaar sal kiesers in Oostenryk hul nuwe president verkies en in Italië sal kiesers op dieselfde dag aan ’n referendum oor ’n grondwetlike wysiging deelneem. In beide gevalle ontaard hierdie verkiesings in ’n stryd tussen die gevestigde politieke belange en die opkomende populistiese regse partye. Die kanse dat Norbert Hofer van die Oostenrykse Vryheidsparty tot president verkies kan word en dat die Eerste Minister van Italië Matteo Renzi se voorgestelde grondwetwysiging verwerp kan word, net omdat kiesers kwaad is vir die bestaande partye en politieke leiers, is baie goed.

In volgende jaar se verkiesings in Europa sal populistiese regse partye in bykans elke land opgang maak en kan die Partij voor de Vrijheid in Nederland en Front National in Frankryk selfs die verkiesings wen.

Barack Obama se kommer is geldig gesien vanuit sy perspektief van ’n moderne internasionale liberalisme waarvolgens die behoud van nasies en volkere sleg is en waar regse politici ’n groot bedreiging vir die liberale denke inhou.

Die konserwatiewe Amerikaanse skrywer Pat Buchanan beskryf verlede week Obama se siening as ’n soort utopiese mite. Hierdie mite is gebou op die idee dat mense van verskillende kulture, tale, gelowe en nasionaliteite daarin kan slaag om dit wat hulle veskillend van mekaar maak te vergeet en slegs te fokus op die menslike ooreenkomste wat daar tussen hulle almal is.

Wat die wêreldpolitiek ons egter nog altyd gewys het, is dat die mens graag wil assosieer met mense wat soos hyself is. Die skep van Israel as Joodse staat, die val van die Berlynse Muur, die revolusie in die Oekraïne in 1991 en die talle oorloë in Balkanlande wat tot die skep van nasiestate gelei het, is maar enkele onlangse voorbeelde hiervan. Die idee dat mense dit wat hul uniek maak net kan vergeet ten einde in ’n nuwe kultuurlose wêreld op ooreenkomste wat soms in elk geval afwesig is, te fokus, is ’n lawwe idee.

In China, Japan, Rusland en lande in elke ander wêreldstreek gebruik politieke leiers nasionalisme om ekonomiese, territoriale en ingewikkelde politieke uitdagings te bowe te kom. Die nasionale samehang in lande regoor die wêreld was lanklaas so sterk soos vandag. Donald Trump se 60 miljoen “Amerika Eerste”-kiesers, het maar net gedoen wat kiesers in talle ander lande oor die wêreld heen reeds vir jare doen. Met die toenemende bevestiging en herbevestiging van grense sal hierdie golf sonder twyfel oor die Weste, soos oor talle ander wêreldstreke bly spoel.

Trump-presidentskap bied geleentheid vir konserwatiewes

donald_trump_6522122‘n Paar dae gelede het die meeste mense regoor die wêreld nog aanvaar dat Hillary Clinton tot president van Amerika verkies sou word, dat die Republikeinse Party op alle vlakke van regering pakslae sou kry en die liberale Obama-jare verleng sou word. Die konserwatiewe beweging in Amerika sou ‘n nuwe laagtepunt bereik.

Nou, enkele dae na die aardskuddende verkiesingsuitslag in die VSA sien ons egter dat die teenoorgestelde gebeur het. Donald Trump is tot president verkies, die Republikeinse Party is nasionaal die sterkste ooit. Die party beheer 33 van die 50 goewerneurskappe, hul sterkste posisie sedert 1922. Hulle beheer 68 van die 99 wetgewende liggame in die 50 state, die sterkste posisie wat die party nog ooit beklee het. Behalwe vir die Withuis beheer die party ook die Senaat en die Huis van Verteenwoordigers. Op elke vlak van regering het die Republikeine verlede week die Demokrate uitgestof.

Wat beteken dit polities in Amerika? Die liberale opmars sedert 2008 toe Obama tot president verkies is, is gestuit. Die konserwatiewe beweging kry vanaf Januarie, wanneer Trump ingehuldig sal word, ‘n baie goeie geleentheid om hul agenda uit te voer. Met dié dat die Demokrate geen beheer in Washington D.C. sal hê nie kan ‘n werklik konserwatiewe agenda nou uitgevoer word.

Trump gaan na alle waarskynlik ‘n sterk kabinet met heelwat sakelui en kundige persone wat nie ‘n politieke loopbaan gevolg het nie, aanstel. Daar kan verwag word dat hy die federale regering soos ‘n sake-onderneming sal benader met kort en mediumtermyndoelwitte, ‘n sterk fokus op begrotings en die sny van enige onnodige spandering, oormatige regulasie en oorbodige poste.

Trump het heelwat beloftes tydens sy verkiesingsveldtog gemaak en hy sal na alle waarskynlikheid probeer om so gou as moontlik die volgende vyf dinge te doen:

1. Obama se bekende mediese hervorming, Obamacare, sal gekanselleer word en deur ‘n nuwe mediese hervorming wat baie meer op vryemark beginsels en die vrye keuse van individue toegespits is, vervang word.
2. Tweedens sal daar streng teen onwettige immigrante opgetree word. Die proses om ‘n muur op die grens met Mexiko op te rig sal begin en intussen sal Trump waarskynlik veiligheid op die grens wesenlik opskerp.
3. Een van die eerste stappe wat Trump sal neem is om ‘n regter vir die Hooggeregshof te benoem. Hy het reeds belowe dat dit ‘n konserwatiewe regter sal wees. Die Senaat sal dan die regter se benoeming moet bevestig.
4. Vierdens sal Trump Amerika se rol in internasionale konflik en sy lidmaatskap van internasionale organisasies wil heroorweeg. Verhoudinge met bestaande Westerse leiers sal nuut bedink word, terwyl hy waarskynlik moeite sal doen om ‘n goeie verhouding met Putin van Rusland daar te stel.
5. Die hersiening van handelsooreenkomste sal hoog op Trump se prioriteitslys wees en hy sal stappe neem om plaaslike bedrywe teen storting van produkte uit ander lande te beskerm.

Behalwe vir hierdie punte sal Trump natuurlik heelwat wil doen om ekonomiese groei aan te moedig soos om belasting te verlaag en regulasies te verminder. Wie sou tien dae gelede kon dink dat Januarie 2017 die begin van ‘n nuwe dag vir konserwatisme in Amerika sou wees?

Rassisme, dubbele standaarde en die pad vorentoe

Daar is belangrike redes waarom rassisme onaanvaarbaar is. Dit is onversoenbaar met die Christelike waardes en etos wat respek vir God se ganse skepping vereis. Dit benewens die opdrag om alle lewe met waardigheid te behandel en om ander lief te hê soos onsself. Rassisme is dikwels ‘n aanduiding van swak oordeelsvermoë (veral in vandag sê wêreld) en ‘n valse sin van selfvertroue. Dit sê baie meer van die persoon wat dit inspan as van die persoon teen wie dit gerig word.

Afrikaners is ‘n hoogs uitkenbare en kwesbare groepie mense in Suid-Afrika. Ons is uitkenbaar weens ons velkleur en die wyse waarop ons praat. Ons is kwesbaar omdat ons yl verspreid en in isolasie in klein woonbuurte, sekuriteitskomplekse of plase woon. Ons is slegs ‘n groepie omdat ons getalle minder as 5 uit elke 100 Suid-Afrikaners verteenwoordig.

Hierdie werklikheid bring mee dat wanneer ons rassisties (of gewoon meerderwaardig) optree teenoor die ander volkere van Suid-Afrika, dit soos ‘n rooi vlag is wat vir ‘n bul gewaai word. Met die verskil dat dit nie een bul is nie, maar ‘n arena vol bulle met genoeg getalle en krag om ons binne oomblikke uitmekaar te ruk en tot stof te vertrap.

Dit is daarom nie alleen reg dat ons rassisme in ons geledere uitroei niel; dit is vir ons ‘n oorlewingstaak.

Waar ons rassiste in eie geledere teëkom, moet ons hulle dade verwerp en dit duidelik maak dat Afrikaners nie so optree nie.

Dit bring ons egter by die punt van geregtigheid. Gelykheid voor die reg vorm ‘n hoeksteen van vooruitstrewende samelewings. So ook die reg om die beskuldigings teen jou aan te hoor en om jouself daarteen te verdedig. Hierdie gebruike het ook uit Bybelse beginsels ontwikkel.

Dit raak ongelukkig al duideliker dat hierdie beginsels van geregtigheid nie tot Afrikaners se beskikking is wanneer ons van rassisme beskukldig word nie. Ons word byvoorbaat as rassiste beskou.

Nie alleen word ons politiek altyd as rassisme gebrandmerk terwyl ander se rassisme net politiek is nie (kyk maar na die min gevolge vir Julius Malema se rassistiese beleide), maar ons misdade is ook altyd rassisme terwyl ander se rassisme net misdaad is.

Wanneer swart bendes ons aanval, martel, verkrag en vermoor, is dit misdaad. Wanneer ‘n bende Afrikaners ‘n swart boemelaar vermoor is dit rassisme. Wanneer ‘n Afrikaner-boelie ‘n swart betreder in ‘n kis prop sonder om enige rassistiese stellings te maak, is hy nie net ‘n misdadige aanrander nie, maar ook ‘n rassis.

Hierdie dubbele standaard is ‘n eenvoudige werklikheid. Om daaroor te kla, help nie. Weet dit: as jy iets verkeerd doen teenoor iemand van ‘n ander velkleur gaan jy nie aleen vir jou misdryf gestraf word nie, maar jy gaan as rassis gebrandmerk word – met ernstige finansiële, sosiale en fisiese gevolge.

Wat staan ons dan te doen? Daar is drie belangrike dinge wat ons wel kan doen. Die eerste is om nie ‘n rassis te wees nie. Die tweede is om op te hou om die mite te voed dat ons almal rassiste is. Ons kan dit doen deur rassiste in eie geledere te veroordeel en onsself van hulle te distansieër. Ons moet ook ophou om te maak asof individuele swape se onverstandighede optrede ons kollektiewe skuld bewys. Ons moenie ons “skaam” of ‘n kollektiewe swaart-val uitvoer vir elke rassis wat uitgekrap word nie. Hulle verteenwoordig ons nie en ons het hulle ook nie aangemoedig of ondersteun nie. Ons moet ook die media en politieke partye voor stok kry wanneer hulle ons by enkeles se wandade wil betrek.

Derdens, en die belangrikste, is om onsself van hierdie konflik en wrywing te verwyder deur te werk vir ons selfbeskikking in die Noord-wes Kaap. Deur selfstandig en op onsself aangewese te wees, en daar vir mekaar te wees, kan ons die versoeking asook die gevolge van rassisme (wit en swart) vryspring.

Indrukke van ‘n Oraniër in Wuhan/Sjina

Die verskil in ervaring om vir twee jaar in Orania te bly en dan na Wuhan, die 5de grootste    stad in Sjina te trek is redelik drasties, van 1 300 mense na ‘n bevolking van 8 000 000 ! Die eerste ding wat vir my uitgestaan, of eerder oorweldig het van Wuhan, is die skaal van die    stad en die aanhoudende konstruksie. Orals waar jy gaan is daar geel hyskrane, die massiewe “boorpunte” wat die tonnels grawe vir moltreine en gepaardgaande blou afskorting borde, en die verskeidenheid konstruksie geluide wat daarmee gepaard gaan. Wuhan se moltreinstelsel gaan bv. een van die dae vergelykbaar wees met die van Seoul in Suid-Korea. Dieselfde kan eintlik gesê word van alle metropole in  Sjina.

Behalwe vir die moltreinstelsel in die stede, is daar ook hoëspoedtreine tussen die stede. Wuhan, is redelik sentraal geleë, en alle groot stede is plus minus bereikbaar binne 5 ure. As die stad bietjie verder is, dan ry die trein net ‘n bietjie   vinniger!

Daar word gesê dat die meeste van die huidige Sjina in der waarheid vanaf die 1950’s dateer. Wuhan het tradisioneel uit drie dorpe bestaan totdat dit saamgesmelt het in een  groot   stad, met dit Yangtserivier wat daardeur vloei. Mao Tse-Dong (die kommunistiese leier van Sjina van 1949-1976) het na bewering in onstabiele tye oor die Yangtse geswem as ‘n gebaar om sy teenstanders te herinner aan sy krag!

Ander uitgewekenes waarmee ek tot dusvêr gesels het, sê dat Wuhan drasties oor die laaste 7 tot 8 jaar uitgebrei het, met nuwe woongebiede wat verrys soos paddastoele. Die area waar ek woon, “Future City”, met die moltreinlyn wat ons bekruip, is ‘n goeie voorbeeld.

As daar een ding is waarmee ek ‘n bietjie teleurgesteld met Wuhan is, is dit juis die gebrek aan tradisionele geboue. Ek het gedink hier sal meer ou geboue,  torings, of bruggies wees wat  langs die nuwe geboue staan maar dit is nie so nie. Die ou Sjina is blykbaar nog hier, maar mens sal  ‘n trein moet vat om dit te  sien.

Ek het bv. gelees van ‘n “Yellow Crane” toring in Wuhan wat 4 000 jaar oud is. Die werklikheid  is egter dat die toring al talle kere herbou moes word as gevolg van brande en oorloë, met die huidige weergawe van die toring wat nie eers op dieselfde plek as die oorspronklike staan nie! Die   mees indrukwekkende “Yellow Crane” torings in Wuhan is dan amper al die geel konstruksie-hyskrane.

As iemand wat Orania se ontwikkeling vir die afgelope ses jaar entoesiasties dophou, en selfs as toergids gewerk het om die ontwikkeling uit te wys aan ander mense, en dan in 90% van   die kere beїndruk is met Orania se ontwikkeling, was ek ietwat aarde toe gebring deur die skaal van ontwikkeling in Sjina. Die slotsom waartoe ek gekom het, is dat daar tog iets is wat Orania en Sjina se ontwikkeling in gemeen het, en dit is ‘n   driehoek.

Die driehoek is die sterkste vorm in die natuur. As jy triangulasie verstaan, kan jy enigiets bou, van hyskrane, tot bruë en ‘n stad! Orania se skaal is natuurlik baie kleiner as die van Sjina,   maar dit wat bereik is met die uiters beperkte hulpbronne en mense, in ‘n uiters ongunstige politieke klimaat is niks minder as indrukwekkend nie. Die skaal verskil, maar die vorm is dieselfde!

wuhan_img1Nog iets waarop ek perspektief gekry het in Sjina, is hoe skoon Orania is. Van die strate, tot die restaurante en die swembad en natuurlik die magtige Oranje! Dit maak ‘n mens lus om jou   krag ten toon te stel en Vrystaat toe te  swem!

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel