fbpx

Dit is verblydend dat die regering blykbaar insien dat kernkragsentrales tans nie vir Suid-Afrika haalbaar is nie en dat met die nuwe konsep-kragplan die kernkragsentrale-bouprogram eers op die lange baan geskuif is. Eers in 2037 sal nuwe kernenergie tot die huidige energiemengsel toegevoeg word, maar die plan is dan om tot 2050 30% van kragvoorsiening deur kernkrag te verskaf. Die gesegde is: “Jy moet eers kruip voor jy kan loop”. Kernkrag is ʼn hoogs doeltreffende, maar ook hoogs gevaarlike tegnologie en dit is nie toevallig nie dat dit ʼn tegnologie is wat veral in gevorderde, Eerste Wêreldsonkraglande gebruik word. Miskien is dit juis om die rede dat Suid-Afrika sy kernkragvermoë wil uitbou, om vir die wêreld iets te wys, maar gelukkig is dit tans veral finansieël nie haalbaar nie. Suid-Afrika het reeds, as enigste land in Afrika, ʼn kernkragsentrale (Koeberg), maar dit is geskep onder ʼn baie meer doeltreffende en gedissiplineerde bedeling as die huidige een. ʼn Mislukking op die terrein van kernkrag kan egter nog meer rampspoedige gevolge hê as die onlangse Eskom-debakel, wat enige tyd weer kan uitbreek. As ʼn steenkool-kragstasie ontplof is dit erg genoeg (die ergste skade is die verlies aan kragopwekkingsvermoë), maar die ontploffing van ʼn kernkragstasie veroorsaak enorme skade aan mens en natuur.

Die huidige sterk steun op lae gehalte steenkool vir kragopwekking (tans 81% van die land se energiemengsel) is nie die oplossing nie, maar tans is daar geen korttermyn-alternatief nie. Selfs in ʼn gedissiplineerde, ontwikkelde en vooruitstrewende land soos Duitsland het die oorskakeling van konvensionele krag na alternatiewe, herwinbare krag (son, wind, water en ander) talle probleme meegebring. Suid-Afrika kan egter baie meer doen om ʼn groter deel van sy energie deur alternatiewe krag op te wek, veral as in ag geneem word hoeveel son in die grootste deel van die land skyn. Die omstandighede is so veel gunstiger in Suid-Afrika as in ʼn reënerige en koue land soos Duitsland, waar al meer as 20% deur alternatiewe krag voorsien word, terwyl dit in Suid-Afrika tans net om en by 3% is. Selfs vir die toekoms speel alternatiewe krag ʼn ondergeskikte rol in Suid-Afrika, met slegs 24% kragopwekking uit wind- en sonkrag wat beplan word vir 2050.

Ook die regering se opgewondenheid oor die ontginning van skaliegas, wat met hidrokraking gepaard gaan, is misplaas. ʼn Onlangse verslag van die WNNR en nader navorsingsinstitute gooi koue water op die regering se bewering dat dit veilig is, baie werksgeleenthede skep en die land onafhanklik van olieinvoer kan maak. Die hidrokraking, waardeur skaliegas ontgin word, is nes kernkrag  ʼn gevaarlike tegnologie met groot risikos vir mens en natuur, en dit is ook nie ekonomies so winsgewend soos wat voorgehou word nie, veral met ʼn stabiele olieprys en die moontlikheid dat daar vorentoe tegnologie sal ontwikkel word wat olie en gas toenemend kan vervang. Onlangs het ek ʼn batteryaangedrewe klein vragmotor hier in Orania gesien, wat blykbaar nou kommersieel vervaardig gaan word (ongelukkig nie by ons nie). Een of ander tyd moet die brandstofaangedrewe enjin (die beginsel is al meer as 150 jaar oud) vervang word met ʼn heeltemal nuwe tegnologie. Die stoorvermoë van alternatiewe krag was nog altyd die achilleshiel van alternatiewe energie, maar op die terrein van batterye is daar groot vordering.

Orania kan in Suid-Afrika op die voorpunt wees van die nuwe ontwikkeling, ons het die son, ons mense is omgewingsbewus en ons moet ons selfstandigheid en onafhanklikheid verhoog. Die finansies is tans nie daarvoor beskikbaar nie, en daar is tans dringender infrastruktuurprojekte. Energieonafhanklikheid, selfs energieuitvoer moet egter op ons radar bly. Suid-Afrika is polities, ekonomies en tegnologies dikwels een van die wêreld se agterosse, maar Orania dink en doen vooruit en beplan vir die toekoms.