donald_trump_6522122‘n Paar dae gelede het die meeste mense regoor die wêreld nog aanvaar dat Hillary Clinton tot president van Amerika verkies sou word, dat die Republikeinse Party op alle vlakke van regering pakslae sou kry en die liberale Obama-jare verleng sou word. Die konserwatiewe beweging in Amerika sou ‘n nuwe laagtepunt bereik.

Nou, enkele dae na die aardskuddende verkiesingsuitslag in die VSA sien ons egter dat die teenoorgestelde gebeur het. Donald Trump is tot president verkies, die Republikeinse Party is nasionaal die sterkste ooit. Die party beheer 33 van die 50 goewerneurskappe, hul sterkste posisie sedert 1922. Hulle beheer 68 van die 99 wetgewende liggame in die 50 state, die sterkste posisie wat die party nog ooit beklee het. Behalwe vir die Withuis beheer die party ook die Senaat en die Huis van Verteenwoordigers. Op elke vlak van regering het die Republikeine verlede week die Demokrate uitgestof.

Wat beteken dit polities in Amerika? Die liberale opmars sedert 2008 toe Obama tot president verkies is, is gestuit. Die konserwatiewe beweging kry vanaf Januarie, wanneer Trump ingehuldig sal word, ‘n baie goeie geleentheid om hul agenda uit te voer. Met dié dat die Demokrate geen beheer in Washington D.C. sal hê nie kan ‘n werklik konserwatiewe agenda nou uitgevoer word.

Trump gaan na alle waarskynlik ‘n sterk kabinet met heelwat sakelui en kundige persone wat nie ‘n politieke loopbaan gevolg het nie, aanstel. Daar kan verwag word dat hy die federale regering soos ‘n sake-onderneming sal benader met kort en mediumtermyndoelwitte, ‘n sterk fokus op begrotings en die sny van enige onnodige spandering, oormatige regulasie en oorbodige poste.

Trump het heelwat beloftes tydens sy verkiesingsveldtog gemaak en hy sal na alle waarskynlikheid probeer om so gou as moontlik die volgende vyf dinge te doen:

1. Obama se bekende mediese hervorming, Obamacare, sal gekanselleer word en deur ‘n nuwe mediese hervorming wat baie meer op vryemark beginsels en die vrye keuse van individue toegespits is, vervang word.
2. Tweedens sal daar streng teen onwettige immigrante opgetree word. Die proses om ‘n muur op die grens met Mexiko op te rig sal begin en intussen sal Trump waarskynlik veiligheid op die grens wesenlik opskerp.
3. Een van die eerste stappe wat Trump sal neem is om ‘n regter vir die Hooggeregshof te benoem. Hy het reeds belowe dat dit ‘n konserwatiewe regter sal wees. Die Senaat sal dan die regter se benoeming moet bevestig.
4. Vierdens sal Trump Amerika se rol in internasionale konflik en sy lidmaatskap van internasionale organisasies wil heroorweeg. Verhoudinge met bestaande Westerse leiers sal nuut bedink word, terwyl hy waarskynlik moeite sal doen om ‘n goeie verhouding met Putin van Rusland daar te stel.
5. Die hersiening van handelsooreenkomste sal hoog op Trump se prioriteitslys wees en hy sal stappe neem om plaaslike bedrywe teen storting van produkte uit ander lande te beskerm.

Behalwe vir hierdie punte sal Trump natuurlik heelwat wil doen om ekonomiese groei aan te moedig soos om belasting te verlaag en regulasies te verminder. Wie sou tien dae gelede kon dink dat Januarie 2017 die begin van ‘n nuwe dag vir konserwatisme in Amerika sou wees?

Blog Single

Trump-presidentskap bied geleentheid vir konserwatiewes

by | Nov 21, 2016 | Nuus | 2 comments

2 Comments

  1. Ben de Klerk

    n Groot oorwinning vir nasionalisme in VSA soos ook Brexit vir England. Wat my veral vreugde gee is die totale konsternasie van die liberale pers wat heeltyd probeer het om die publiek te breinspoel met liberale retoriek. Grootste gevaar is n sluipmoord aanval op Trump —Want hy gooi die groot geldbelange op Capital Hill omver! Hoop Europa volg met verval van EU.Nasionalisme bestaan wel nog in die moderne wereld!!Orania is op die regte pad!! Groete uit Kanada

    Reply
    • John McDermott

      Capitol Hill is beslis n slagyster vir hom.Tyd sal leer watter strategie hy gaan volg natuur.Sien hy maak al keelskoon in sommige van sy verkiesings beloftes.

      Reply

Submit a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

2 × 4 =