fbpx

president-barack-obama-takes-a-tour-of-the-acropolisPresident Barack Obama van die VSA het verlede week in Athene, Griekeland ’n sterk pleidooi teen nasionalisme in Westerse lande gelewer. Hy is duidelik steeds ontsteld oor Donald Trump se oorwinning in die Amerikaanse presidentsverkiesing en in sy afsluitingsboodskap aan Europese leiers het hy hulle probeer oortuig om die opkoms van ’n nuwe soort nasionalisme in Europa te stuit.

Volgende jaar sal kiesers in Frankryk, Nederland, Duitsland, Noorweë en Slowenië in nasionale verkiesings gaan stem terwyl kiesers in die Verenigde Koninkryk aan plaaslike verkiesings deel sal neem. In talle Oos-Europese en Balkanlande sal kiesers ook na die stembus gaan.

Op 4 Desember vanjaar sal kiesers in Oostenryk hul nuwe president verkies en in Italië sal kiesers op dieselfde dag aan ’n referendum oor ’n grondwetlike wysiging deelneem. In beide gevalle ontaard hierdie verkiesings in ’n stryd tussen die gevestigde politieke belange en die opkomende populistiese regse partye. Die kanse dat Norbert Hofer van die Oostenrykse Vryheidsparty tot president verkies kan word en dat die Eerste Minister van Italië Matteo Renzi se voorgestelde grondwetwysiging verwerp kan word, net omdat kiesers kwaad is vir die bestaande partye en politieke leiers, is baie goed.

In volgende jaar se verkiesings in Europa sal populistiese regse partye in bykans elke land opgang maak en kan die Partij voor de Vrijheid in Nederland en Front National in Frankryk selfs die verkiesings wen.

Barack Obama se kommer is geldig gesien vanuit sy perspektief van ’n moderne internasionale liberalisme waarvolgens die behoud van nasies en volkere sleg is en waar regse politici ’n groot bedreiging vir die liberale denke inhou.

Die konserwatiewe Amerikaanse skrywer Pat Buchanan beskryf verlede week Obama se siening as ’n soort utopiese mite. Hierdie mite is gebou op die idee dat mense van verskillende kulture, tale, gelowe en nasionaliteite daarin kan slaag om dit wat hulle veskillend van mekaar maak te vergeet en slegs te fokus op die menslike ooreenkomste wat daar tussen hulle almal is.

Wat die wêreldpolitiek ons egter nog altyd gewys het, is dat die mens graag wil assosieer met mense wat soos hyself is. Die skep van Israel as Joodse staat, die val van die Berlynse Muur, die revolusie in die Oekraïne in 1991 en die talle oorloë in Balkanlande wat tot die skep van nasiestate gelei het, is maar enkele onlangse voorbeelde hiervan. Die idee dat mense dit wat hul uniek maak net kan vergeet ten einde in ’n nuwe kultuurlose wêreld op ooreenkomste wat soms in elk geval afwesig is, te fokus, is ’n lawwe idee.

In China, Japan, Rusland en lande in elke ander wêreldstreek gebruik politieke leiers nasionalisme om ekonomiese, territoriale en ingewikkelde politieke uitdagings te bowe te kom. Die nasionale samehang in lande regoor die wêreld was lanklaas so sterk soos vandag. Donald Trump se 60 miljoen “Amerika Eerste”-kiesers, het maar net gedoen wat kiesers in talle ander lande oor die wêreld heen reeds vir jare doen. Met die toenemende bevestiging en herbevestiging van grense sal hierdie golf sonder twyfel oor die Weste, soos oor talle ander wêreldstreke bly spoel.