fbpx

Die verskil in ervaring om vir twee jaar in Orania te bly en dan na Wuhan, die 5de grootste    stad in Sjina te trek is redelik drasties, van 1 300 mense na ‘n bevolking van 8 000 000 ! Die eerste ding wat vir my uitgestaan, of eerder oorweldig het van Wuhan, is die skaal van die    stad en die aanhoudende konstruksie. Orals waar jy gaan is daar geel hyskrane, die massiewe “boorpunte” wat die tonnels grawe vir moltreine en gepaardgaande blou afskorting borde, en die verskeidenheid konstruksie geluide wat daarmee gepaard gaan. Wuhan se moltreinstelsel gaan bv. een van die dae vergelykbaar wees met die van Seoul in Suid-Korea. Dieselfde kan eintlik gesê word van alle metropole in  Sjina.

Behalwe vir die moltreinstelsel in die stede, is daar ook hoëspoedtreine tussen die stede. Wuhan, is redelik sentraal geleë, en alle groot stede is plus minus bereikbaar binne 5 ure. As die stad bietjie verder is, dan ry die trein net ‘n bietjie   vinniger!

Daar word gesê dat die meeste van die huidige Sjina in der waarheid vanaf die 1950’s dateer. Wuhan het tradisioneel uit drie dorpe bestaan totdat dit saamgesmelt het in een  groot   stad, met dit Yangtserivier wat daardeur vloei. Mao Tse-Dong (die kommunistiese leier van Sjina van 1949-1976) het na bewering in onstabiele tye oor die Yangtse geswem as ‘n gebaar om sy teenstanders te herinner aan sy krag!

Ander uitgewekenes waarmee ek tot dusvêr gesels het, sê dat Wuhan drasties oor die laaste 7 tot 8 jaar uitgebrei het, met nuwe woongebiede wat verrys soos paddastoele. Die area waar ek woon, “Future City”, met die moltreinlyn wat ons bekruip, is ‘n goeie voorbeeld.

As daar een ding is waarmee ek ‘n bietjie teleurgesteld met Wuhan is, is dit juis die gebrek aan tradisionele geboue. Ek het gedink hier sal meer ou geboue,  torings, of bruggies wees wat  langs die nuwe geboue staan maar dit is nie so nie. Die ou Sjina is blykbaar nog hier, maar mens sal  ‘n trein moet vat om dit te  sien.

Ek het bv. gelees van ‘n “Yellow Crane” toring in Wuhan wat 4 000 jaar oud is. Die werklikheid  is egter dat die toring al talle kere herbou moes word as gevolg van brande en oorloë, met die huidige weergawe van die toring wat nie eers op dieselfde plek as die oorspronklike staan nie! Die   mees indrukwekkende “Yellow Crane” torings in Wuhan is dan amper al die geel konstruksie-hyskrane.

As iemand wat Orania se ontwikkeling vir die afgelope ses jaar entoesiasties dophou, en selfs as toergids gewerk het om die ontwikkeling uit te wys aan ander mense, en dan in 90% van   die kere beїndruk is met Orania se ontwikkeling, was ek ietwat aarde toe gebring deur die skaal van ontwikkeling in Sjina. Die slotsom waartoe ek gekom het, is dat daar tog iets is wat Orania en Sjina se ontwikkeling in gemeen het, en dit is ‘n   driehoek.

Die driehoek is die sterkste vorm in die natuur. As jy triangulasie verstaan, kan jy enigiets bou, van hyskrane, tot bruë en ‘n stad! Orania se skaal is natuurlik baie kleiner as die van Sjina,   maar dit wat bereik is met die uiters beperkte hulpbronne en mense, in ‘n uiters ongunstige politieke klimaat is niks minder as indrukwekkend nie. Die skaal verskil, maar die vorm is dieselfde!

wuhan_img1Nog iets waarop ek perspektief gekry het in Sjina, is hoe skoon Orania is. Van die strate, tot die restaurante en die swembad en natuurlik die magtige Oranje! Dit maak ‘n mens lus om jou   krag ten toon te stel en Vrystaat toe te  swem!

9 Comments

  1. Willem Fourie

    Geagte mnr van As,
    Baie dankie vir die ongelooflike vergelyking.

    Kan ek vra hoe u nou oor Orania voel (na so ‘n blootstelling), en wat is daar wat ons kan gebruik (of naboots) asb?

    Sterkte daar in die vreemde

    Reply
    • Willem van As

      Goeiedag mnr Fourie, dankie vir die mooi woorde. Alhoewel ek nie altyd met hom saamstem nie, dink ek dat Naill Fergasun ‘n punt of twee beet het met sy ontleding van hoekom die Weste die dominante beskawing op aarde geword het.

      Hy verwys daarna as die “killer apps”, die instellings wat die Weste ontwikkel het wat daartoe gely het. Volgens hom is die rede vir Sjina se ongelooflike groei omdat hulle hierdie instellings nageboots het. So my antwoord op wat Orania by Sjina kan leer, is dat Orania leer by en min of meer in voeling bly met ons Westerse herkoms en instellings, dis wat Sjina gedoen het!

      Die antwoord op die eerste vraag is dat ek hoop Orania ontwikkel tot uitsonderlike Afrikanerstad. Prof. Koos Malan beskryf Orania, as ‘n anker vir Afrikaners, waar hulle ook al is. Dit is hoe ek daaroor voel.

      Groete uit Sjina

      https://en.wikipedia.org/wiki/Civilization:_Is_the_West_History%3F

      Reply
      • Sebastiaan

        Al mag Sjina se ekonomiese ontwikkeling indrukwekkend wees, bou hulle myns insiens met die uitgangspunt van die Weste in die 1950’s: alles moet groot en funksioneel en op die massa en op kommersialisme gerig wees, natuur en volhoubaarheid speel geen rol nie. Die gevolg is besoedeling, verkeersknope, siektes ens. Ons moet eerder ‘n landelike stad bou, met veel openbare ruimtes, parke, lae-digtheid behuising, kulturele plekke soos museums, biblioteke, teaters ens.

        Reply
        • Willem van As

          Ek dink jy is reg, en ek sal ook eerder in die tweede een wil bly.

          Reply
          • Babs Brouwer

            Ek stem verseker saam met Sebastiaan en Willem.
            Al die dinge wat hy opgenoem het, is so belangrik vir die mens se
            behoeftes, anders as die gejaag na groot vertoon en geld.

  2. Willem Fourie

    Dag Willem,
    Dankie vir die insiggewende antwoord
    Mooi loop daar in die vreemde

    Reply
  3. Wynand

    Dankie Willem, wat ‘n lekker artikel om te lees; leersaam en interessant geskryf. Hoop om meer daarvan te kry!

    Reply
  4. Deon Meiring

    Het julle geweet dat daar meer “Sjineeste” in Sjina bly as hier in SA?

    Reply
  5. Theuns

    Stem saam met die LANDELIKE STAD opsie. Dringend om behuising te voltooi om groei te verseker.

    Reply

Submit a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

fourteen − one =