Pharamaul is ‘n fiktiewe Afrika-staat, eintlik ʼn eiland, voor die Weskus van Afrika, sowat 500 km wes van die kus van Namibië, wat in die boeiende boeke “The Tribe that lost its head” en sy opvolg “Richer than al his tribe” beskryf word. Alhoewel dit ʼn soort karikatuur van ʼn Afrikastaat is, is die dinge wat daar beskryf word (en die boeke is al in die laat 1960’s geskryf, toe die eerste euforie van onafhanklikheid verby was en al die negatiewe effekte van uhuru na vore gekom het) eintlik verbasend akkuraat en kon amper vandag se Afrika beskryf.
Pharamaul se meerderheidsvolk is die Maulas, ʼn stam met ʼn trotse tradisie van konings en die legendariese stamvader, Maula the Great, wat ʼn goeie leier was, maar ook wreed en genadeloos. Hulle woon in die suide en die sentrale dele van die eiland. Hulle tradisionele setel is die sentrale stad Gamate, maar die elite trek saam in die hoofstad Port Victoria, waar die grootste deel van die blanke minderheid woon, wat die ekonomie oorheers en ook na onafhanklikheid van Brittanje nog in sekere sleutelfunksies aanbly. Daar is diegene onder die blankes wat niks goeds oor die nuwe bewind te sê het nie en wat wil emigreer, en die wat aanbly en wil help met die opbou van ʼn nuwe, nie-rassige land. Die ander swart volk is die U-Maulas, wat in die noordelike woudgebiede met die hoofdorp Shebiya bly en sowel deur die blankes asook die Maulas as primitief en barbaars gesien word.
Die jong, belowende swart leier is Dinamaula, 4de geslag van die Maula-dinastie en tydens die koloniale bewind in ballingskap. Met die aanloop tot onafhanklikheid keer hy triomfantlik na sy geboorteland terug, predik versoening, beskeidenheid en opbou van die land tot almal se voordeel.
Nie lank na onafhanklikheid begin Dinamaula meer en meer sleutelposte met sy ondersteuners, bevoeg of nie, vul. Korrupsie neem toe en die opposisie, veral bestaande uit verteenwoordigers van die U-Maula stam wat dit aanhangig maak, word as onpatrioties en as verraaiers uitgekryt (en later in hegtenis geneem) en die blanke amptenare wat nie wil saamspeel nie, word afgeransel of summier uit die land gesit. Terwyl die hoofstad blink en vol prestigeprojekte is, verval die res van die land, die infrastruktuur, die fabrieke en die landbou. Fenomenale skuld word aangegaan om in die eerste liga van state saam te speel en om almal by die VN te beïndruk. Bande met Brittanje word losser gemaak, die met sosialistiese lande sterker. Op ʼn persoonlike vlak verwerp Dinamaula sy vrou uit sy eie stam wat vir hom met haar lomp maniere en voorkoms ‘n verleentheid raak, en voer vir hom beeldskone houvrou uit Engeland in. Die sondes van die koloniale heersers word egter nóg vergewe nóg vergeet, maar met rente terugbetaal.
Soos dinge vererger, onttrek die wit minderheid hulle meer en meer, of emigreer, maar onder die landelike, arm Maulas en U-Maulas bou woede op teen die elite in die hoofstad, wat die res van die land laat krepeer. Hulle kom in opstand en marsjeer na Port Victoria om hulle griewe te lug, maar hulle word eers met vleitaal om die bos gelei en dan koelbloedig afgemaai. Dinamaula verklaar hom tot ewige leier met ʼn reeks titels, maar wantrou alles en almal.
Die boek is lank voor Idi Amin, Robert Mugabe, Eduardo dos Santos, Bokassa, ensovoorts geskryf, maar is verbasend akkuraat oor hoe Afrika na onafhanklikheid ontwikkel het. Ook Suid-Afrika, alhoewel baie groter en meer ontwikkeld en meer ingewikkeld as die denkbeeldige Pharamaul, het ʼn hele paar parallelle.
Is daar hoop vir Afrika, of loop alles altyd volgens die slegste scenario af? Wat bo beskryf word, is die reël, maar gelukkig is daar uitsonderings op die reël, en hulle word dalk geleidelik meer.
ʼn Land wat as voorbeeld vir Pharamaul kon gedien het, is Gambië, ʼn mini-staat in Wes-Afrika met minder as twee miljoen inwoners, behalwe vir die verbouing van grondbone en ʼn bietjie toerisme geen ekonomiese aktiwiteit nie, alles is gekonsentreer in die hoofstad Banjul teen die kus. Die president, Yahya Jammeh, regeer al vir 22 jaar as diktator en toon toenemend tekens van grootheidswaan en irrasionaliteit. Talle politieke gevangenes is in die tronke en van menseregte is daar geen sprake nie. Verkiesings is gewoonlik ʼn hersenskim, met intimidasie en manipulasie wat selfs vir buurstate te veel geraak het. Gambië, ʼn voormalige Britse kolonie, het in 2013 die Gemenebes van State verlaat weens kritiek deur Brittanje aan Jammeh se onderdrukking van teenstanders, en hierdie jaar het Gambië ook van die internasionale strafhof onttrek. Intussen gaan die ekonomie ten gronde en meer en meer Gambiërs waag hulle lewe om na Europa te emigreer.
Met die verkiesing verlede naweek het egter die ondenkbare gebeur: die opposisie het agter een kandidaat verenig (al was talle van sy moontlike kandidate in die tronk) en die kandidaat, Adama Barrow, kon die verkiesing teen mnr. Jammeh wen. Nog meer ondenkbaar, mnr. Jammeh, wat eens aangekondig het dat hy ʼn miljard jare sal regeer as Allah dit toelaat, het die neerlaag aanvaar. Mnr. Barrow is nog ongetoets, maar die tekens is bemoedigend dat hy nie ook die voorbeeld van mnr. Jammeh sal volg nie. Hy het reeds aangekondig dat politieke gevangenes vrygelaat gaan word, en dat Gambië weer tot die Statebond en die Internasionale Strafhof sal toetree. Hier is nog ʼn verkiesing waar dinge heel anders as verwag gebeur het en waar die magtiges in hulle verwaandheid die gevoel op grondvlak geignoreer het tot hulle eie spyt.
Een swaeltjie maak nog nie ʼn somer nie, en Gambië is ʼn klein land met min invloed. Nogtans, in Afrika is ʼn mens dankbaar vir elke teken van hoop, en daar is ook ander lande waar dinge stadig maar seker verbeter. Ongelukkig is Suid-Afrika nie een van die lande nie, maar ook hier kan die gety draai, en geen president kan beweer dat Allah of God aan sy kant is en hy vir ewig sal regeer nie.