by Orania Beweging | Nov 11, 2016 | Nuus |
Die Amerikaanse presidensiële verkiesingsveldtog van die afgelope jaar was ’n duidelike veldtog tussen populisme en anti-populisme. Donald Trump het die populisme verteenwoordig en Hillary Clinton die anti-populisme.
Die probleem met Trump se populisme is egter dat dit ’n vorm van nasionalistiese populisme is, wat by baie mense die verkeerde beeld oor populisme geskets het. Trump se populisme is verteenwoordigend van ’n reaksionêre politiek wat op slegs die verwerping van beleid eerder as die omarming van die positiewe, geskoei is. Hierdie vorm van populisme lei gereeld tot vingerwysery en ’n onvermoë om werkbare oplossings vir knellende probleme daar te stel.
Een voorbeeld is die benarde situasie vir talle bloukraagwerkers in die ou industriële midweste van Amerika. Baie van hierdie mense is met reg kwaad vir die afgelope drie regerings onder Bill Clinton, George Bush en Barack Obama waartydens honderde groot fabrieke weens onbillike vryhandelsooreenkomste en die storting van lae gehalte produkte uit lande soos China, Indië en Meksiko gesluit het. Die vraag is egter of woede alleen die probleem gaan oplos?
Die oplossing vir hierdie mense se benarde situasie lê dalk juis eerder in ’n soort lokale, eerder as nasionale populisme. Wat behels ’n lokale populisme? Die Amerikaanse historikus Richard Hofstadter het in 1955 geskryf dat populisme die eenvoudige denke van ’n groepie ondeurdagte skurke of die melodramatiese optrede van landelike, eenvoudige mense is. Hofstadter se arrogante neersien op gewone mense en die redes waarom hulle hulself tot populisme dryf, was die afgelope tyd ook weer duidelik toe Hillary Clinton na hierdie mense as ‘betreurenswaardig’ verwys het.
Die woede onder dié Amerikaners wat hul die afgelope tyd tot die populisme gewend het, is heeltemal verstaanbaar. Die regerende klas sien graag neer op hierdie mense – die landelikes insluitende boere, inwoners van klein dorpe en kleinsake-eienaars, sowel as die sukkelaars wat baie keer bloukraagwerkers is wie deur die stelsel vergete agtergelaat is.
Die Amerikaanse skrywer Bill Kauffman, skryf dat hierdie mense juis eerder ’n soort lokale populisme moet begin aanhang. Die oplossings vir hul probleme lê juis nie in nasionale wetgewing en in die federale regering opgesluit nie, maar eerder op ’n plaaslike vlak. Volgens Kauffman is ’n plek-gebaseerde populisme dié wat gebaseer is op ’n liefde vir die eie en wat die gemeenskap wil beskerm teen kragtige negatiewe magte van buite. Hierdie soort populisme is nie net regs of links op die politieke spektrum nie, maar is eerder gebaseer op die eenvoudige vraag oor wat tans die beste vir die gemeenskap is en hoe die gemeenskap kan saamwerk om dit te verseker.
Mense wat hulle tot populisme wend is baie keer mense wat onder politieke, ekonomiese of ander druk verkeer. Die oplossing vir hul probleme lê nie in ’n nasionale regering wat dinge reg reguleer nie, maar eerder in hul vermoë om self te organiseer en uit hul eie inisiatief oplossings daar te stel.
by Orania Beweging | Nov 10, 2016 | Nuus |
Geen verkiesing in die wêreld trek soveel internasionale aandag en maak mense so passievol soos die Amerikaanse presidentsverkiesing nie. Meeste Afrikaners, en beslis meeste Oraniërs, het waarskynlik gehoop vir ʼn oorwinning vir Donald Trump en die Republikeine, wie se konserwatiewe en grondvlak
-gerigte beleid vir ons nader voel as die globalistiese “een-wêreld” en sosiaal-liberale beleid van Hillary Clinton en die Demokrate. Donald Trump het talle mense se verbeelding aangegryp omdat hy ʼn uitgesproke anti-establishment kandidaat was (ongeag die feit dat hyself uit die ryk establishment kom en sy leefwyse alles behalwe ʼn voorbeeld van die smal weg is).
Die vraag wat vir ons veral interessanter behoort te wees, is wat Trump se verkiesingsoorwinning vir ons beteken.
Amerika het nog altyd die internasionale toneel oorheers en die rigting voorgegee, veral vir die Weste. Ook die kultuur van die Weste word grootliks deur Amerika bepaal. Barak Obama se verkiesing in 2008 was die slotsteen en voorlopige hoogtepunt van die Weste se golf van selfverloëning, wat al in die 1960’s begin het. “Die eerste swart president” is veral deur witmense binne en buite Amerika so opgehemel omdat daarmee die ewige skuld van onderdrukking en diskriminasie, waarmee elke Westerling gevoed word, simbolies betaal is. Obama kon immers nie president word sonder die steun van groot getalle wit Amerikaners en van die media nie. Daardie gety van ʼn links-liberale elite in die media, die kunste en die akademie wat die politieke keuses voorskryf en wat die “gewone mense” met minagting behandel en wat alle tradisionele waardes op sy kop keer en diegene wat daarteen is in die sterkste taal veroordeel, is egter besig om uit te loop. ʼn Nuwe gety, of teengolf, is aan die opbou. Dit is al geruime tyd in Europa sigbaar, waar partye wat staan vir identiteit en die behoud van die eie ten spyte van die totale afkeur deur die meningsvormers al hoe beter doen en in sekere lande, soos Pole en Hongarye, uitgesproke Christelike nasionaliste regeer.
Vir die saak van die Afrikaner is dit van betekenis dat die media se groot mag besig is om te taan. Ons saak is nog altyd deur die media afgekraak en verdag gemaak. Een negatiewe artikel oor Orania in ʼn landswye, Afrikaanse nuusmedium, en voornemende besoekers kanselleer hulle besprekings of voornemende inwoners besluit anders, of so was dit in die verlede. Intussen steur al hoe minder mense hulle aan die amptelike, hoofstroom-media en gebruik die sosiale media. Dat iemand soos Trump, wat bykans geen amptelike ondersteuning van prominente nuusmediums gekry het nie, trouens wie se skandes wyd en syd verkondig is terwyl mev. Clinton sʼn onder die mat ingevee is, kon wen, wys hoe sterk die media se mag al uitgekalwe is. Dié toedrag van sake, wat in ʼn mindere mate ook in Suid-Afrika aanwesig is, baat ons saak geweldig.
Verder het Trump ook die houvas van politieke korrektheid gebreek. Die spektrum van dit wat aanvaarbaar is en wat gesê mag word, het al hoe kleiner geword en talle woorde en onderwerpe wat niemand in die onlangse verlede gepla het nie, is nou verbode terrein. Daar is al hoe minder verskille in opinie in openbare debatte, omdat allerhande dinge wat nie inpas by die links-liberale paradigma nie, nie meer gesê mag word nie. Dat rassistiese skelwoorde uit is, is seker vanselfsprekend, maar dat om bloot na verskillende volke, geslagte, waardes en mentaliteite te verwys al rassisme, seksisme ensovoorts en dus verbode is, maak enige debat onmoontlik en laat almal uit vrees vir viktimisasie dieselfde niksseggende en huigelende gebrabbel uiter. Trump is iemand wat sê wat hy glo, al is dit hoogs polities-onkorrek, en al die aanvalle van die wagters oor politieke korrektheid het hom nie geskeel nie, en nog belangriker, sy ondersteuners nie gepla nie. Sy ondersteuners is die gewone Amerikaanse hoofstroom, anders kon hy nie verkies word nie. Dit is allermins net “rassistiese, seksistiese ou gefrustreerde mans”, soos die media ons wil laat glo. Die kloof tussen die elite in hulle ivoortoring en die “gewone mense” was nog altyd groot, maar anders as in die verlede het die gewone mense ook nou danksy die sosiale media ʼn spreekbuis en kan opinies nie meer so maklik gefilter word nie.
Laastens is die Trump-oorwinning ʼn sterk boodskap dat die eie weer belangrik is. Trump het van die begin af as nasionalis opgetree. Die belange van die VSA en sy mense kom eerste, nie die van multinasionale maatskappye en van buitelandse magte soos Sjina nie. Ons saak van selfbeskikking en sorg vir ons mense en behoud van ons kultuur het tot baie onlangs ʼn uiters moeilike stand gehad, omdat dit so lynreg ingedruis het teen die logika van globalisme en die “Een Wêreld Beweging”. Om te sê dat jy in jou gemeenskap vir jou eie mense werk gee en jou eie produkte koop is as “xenofobies” en “rassisties” en veral as heeltemal uit tred met die tyd beskou. Vermenging en die grootste moontlike getal vreemdes in jou midde is as verryking en as wenslik gesien. As die internasionale klimaat nou verander en volke begin besef dat globalisme hulle meesal benadeel en net ʼn klein, identiteitslose elite bevoordeel, is ons saak van selfstandigheid en behoud van die eie baie makliker verkondigbaar.
by Orania Beweging | Nov 2, 2016 | Nuus |
In die meeste Westerse samelewings is daar ’n skerp toename in eensaamheid. Navorsing in die VSA, Europa en Australië het reeds bewys dat die aantal mense wat erken dat hulle gereeld eensaamheid beleef, voortdurend toeneem.
Ons leef in ’n tyd waar sosiale media soos Facebook, Twitter, WhatsApp, Instagram en alle ander virtuele middelle mense se enigste sosiale verwysingsraamwerk word. Jou perspesie oor sosiale aanvaarding word bepaal deur die aantal mense wat van ’n plasing van jou op Facebook hou. Die spoed waarteen iemand jou op WhatsApp antwoord bepaal sy lojaliteit aan jou.
Die mens is ’n sosiale wese. Ons vermoë om te sosialiseer is egter aan die verswak. Die redes hiervoor is uiteenlopend en veelerlei. Meer en meer mense skakel nie meer by gemeenskapsinstellings soos kerke, sportverenigings en gemeenskapsdiensorganisasies in waar hulle nuwe vriende kan maak nie.
’n Onlangse studie in Amerika het bewys dat meer en meer jongmense na skool by hul ouers aanbly, sukkel om ’n lewensmaat te vind en ook nie daarin slaag om uiteindelik te trou en deel van ’n groter familieband te word nie. Baie van hierdie mense se sosiale ruimte word tot enkele familielede en die wêreld van slimfone en die internet beperk.
Die toenemende individualisering van Westerse gemeenskappe het sonder twyfel meegebring dat baie mense nie eers meer weet wie hul bure is of wie die ouers van hul kinders se beste skoolmaats is nie. In die gejaagde moderne hoogsproduktiewe lewe van vandag is ons veel meer gefokus op prestasie, monetêre uitsette en ongelukkig oordrewe materiële middelle dat ons vergeet wat die waarde van goeie vriende en lekker goeie ou sosiale ervarings is.
Steve Price, ’n kenner van moderne stedelike ontwerp in die VSA skryf egter in ’n onlangse artikel dat swak stadsontwerp as oorsaak vir mense se verswakkende sosiale vaardighede nie onderskat moet word nie. In lande met goeie stedelike ontwerp waar openbare ruimtes deeglik by residensiële en sakebuurte ingewerk word, is daar laer vlakke van eensaamheid. Pierce skryf dat hoë vlakke van ontmoeting, interaksie en kommunikasie tussen mense wat redelik naby aan mekaar woon en werk tot goeie sosiale vaardighede aanleiding gee en uiteindelik eensaamheid teenwerk.
Twee van die oorsake vir swak stedelike beplanning is eerstens die persepsie dat ’n groot huis op ’n groot erf ’n beter leefstyl as ’n wooneenheid in ’n goed beplande digter woonbuurt met goeie openbare ruimtes kan verseker. Tweedens ervaar stede regoor die wêreld die uitdaging van die koste om volhoubare woonbuurte te ontwikkel. Dit is goedkoper, makliker en veral vir ontwikkelaars meer aantreklik om openbare ruimtes soos parke, gemeenskapsentrums, fietsbane en stadspleine uit die ontwikkeling van nuwe woonbuurte te laat.
In beide van hierdie gevalle is daar korttermynvoordele soos die persepsie van rykdom wanneer jy ’n groot erf besit en natuurlik die finansiële voordeel vir munisipaliteite en privaatontwikkelaars wanneer openbare ruimtes beperk word. Oor die langtermyn is die instandhouding van dienste oor lang afstande en die verlies aan sosiale interaksie egter ’n duur prys wat vir swak stadsbeplanning betaal moet word. Ook Afrikaners ervaar vandag vervreemding en eensaamheid binne woonbuurte waar sosiale interaksie baie keer uiters beperk is.
by Orania Beweging | Okt 31, 2016 | Nuus |
Dit is ʼn geykte stelling deur menslike hulpbronnebestuurders “dat mense hulle maatskappy of organisasie se grootste bate is”. Mense op sigself is egter n
og nie ʼn bate nie, trouens, ekonomies gesien kan mense ook ʼn las wees. Elke land met ʼn groot bevolking, soos Suid-Afrika, word geloof vir sy “groot potensiaal”, maar die potensiaal word nie ontsluit sonder opleiding en opvoeding nie. Die regering besweer met lippetaal die waarde van opleiding en kundigheid en vernietig in dieselfde asem eens uitstekende opleidings- en opvoedingsinstellings.
Terwyl tans al die aandag op die universiteite is en ons met hartseer en woede moet aanskou hoe instellings met ʼn goeie naam en ʼn lang tradisie van uitnemendheid voor ons oë deur opgesweepte studente en meelopers vernietig word, word vergeet dat die krisis van opvoeding en opleiding al ʼn baie lang pad kom. Ook die laaste Afrikaner besef nou dat daar geen langtermyn toekoms vir Afrikaanse gehalte-opleiding by ʼn staatsuniversiteit is nie, al kan hofsake die verval vir ʼn ruk stuit. Nou word geëis dat Orania die leemte wat by universiteite gelaat is, moet vul en vinnig ʼn private, Afrikaanse universiteit op die been moet bring. Terwyl Afrikaanse universiteite egter nou in die spervuur is, word vergeet dat die meerderheid van die bevolking, ook van die Afrikanervolk, nie ʼn behoefte het aan ʼn universiteit nie, maar eerder aan praktiese, beroepsgerigte opleiding. Trouens, minder as 10% van die bevolking kry ʼn universiteitsgraad (en nie elke graad beteken iets nie). Alhoewel tans feitlik almal daarna streef om universiteit toe te gaan, is ʼn universiteit bedoel as ʼn akademiese instelling vir enkeles, nie vir die meerderheid nie. Daar sal eendag wel ʼn universiteit in Orania wees, maar eers moet Orania ʼn stad wees en ook die behoefte aan akademies opgeleide mense hê. ʼn Dorp kan gewoonlik net vir ʼn handjievol akademici en intellektueles werk voorsien. Tans is daar ʼn veel groter behoefte aan goeie vakmanne. Orania betree nou ʼn fase waar die ongeskoolde arbeid van die begin, die harde pionierswerk wat nodig was en nog steeds is, minder belangrik raak en gekwalifiseerde, tegniese werk al hoe meer belangrik raak.
Suid-Afrika het ongelukkig nooit ʼn baie sterk tradisie van trotse ambagte gehad nie, en dit wat daar was, het nog meer verval. Meeste geskoolde ambagsmanne is al anderkant 40, omdat die beroepsopleiding platgeval het. Die regering het, seker goed bedoel, maar swak geïmplementeer, opleiding van die maatskappye weggevat en na sektorale opleidingsinstansies (Setas) oorgedra. Min Setas is in plek en funksioneer na behore. Min Afrikaners oorweeg ʼn tegniese loopbaan, en onder swart mense is dit nog minder. Universiteit is alles, of jy ou daarvoor aangelê is of nie.
Wat ons benodig is ʼn kultuur van trotse ambagsmanne, wat ʼn kwalifikasie agter hulle naam het en wat hulle werk met trots en kundigheid doen. Die verdienstemoontlikhede as gekwalifiseerde ambagsman is dikwels groter as in akademiese beroepe, veral vir Afrikaners wat nie meer welkom is in staatsinstellings nie. Ambagsmanne het in die laat Middeleeue gildes gevorm en was ʼn welvarende, invloedryke en gerekende groep. Die pragtige gildehuise in Europa getuig nog steeds daarvan. Intussen het daar egter ook in Europa ʼn nuwe klas ontstaan wat hulle neus optrek vir ambagswerk en word universiteite oorstroom met mense wat nie werklik daar hoort nie.
Daar is egter tans groter geleenthede in tegniese opleiding en die leemte het Orania, in samewerking met Sol-Tech, reeds gevul. Ons kan met blydskap en trots aankondig dat die Bo-Karoo opleidingsentrum op Vrydag, 28 Oktober geopen is. Orania CVO het daarby die inisiatief geneem en nog projekte vir naskoolse opleiding is in die pyplyn. Terwyl iets sterf in Suid-Afrika, is daar nuwe lewe en hoop in Orania.
by Orania Beweging | Okt 20, 2016 | Nuus |
Oor die afgelope 18 maande moes meer as 3 miljoene mense in Yemen in die Midde-Ooste uit hul huise vlug. Volgens die Verenigde Nasies het minstens die helfte van die land se bevolking van 28 miljoen mense nie genoeg kos nie en is hongersnood reeds deel van die lewe in Yemen. Sedert die uitbreek van die burgeroorlog in Yemen het duisende mense reeds hul lewens verloor.
Ten spyte van die duidelike katastrofe wat in Yemen afspeel, is dit asof die wêreld ignoreer wat daar gebeur. Die oorlog in Sirië en die situasie in Irak en tot ’n mindere mate Afganistan domineer die nuus. Waarom word die haglike omstandighede in Yemen geïgnoreer?
Die burgeroorlog in Yemen is ’n stryd tussen die Soenni-meerderheid en die Houthi-rebelle. Hoewel die burgeroorlog in Yemen in 2015 uitgebreek het, woed die stryd tussen die Soenni-beheerde regering en die Houthi’s reeds sedert 2004.
Die rede vir die uitbreek van ’n volskaalse burgeroorlog in Yemen is die toetrede van Saoedi-Arabië tot die konflik. Saoedi-Arabië speel toenemend die rol van Soenni-sterkman in die Midde-Ooste en probeer homself vestig as die magtigste land in die Midde-Ooste. Net soos die oorloë in Sirië en Irak is daar ’n dieper onderliggende konflik tussen die Soenniete en Sjiiete. Met Saoedi-Arabië as Soenni-land aan die een kant en Iran as Sjiiete-land aan die ander kant word ’n magstryd om beheer van die Midde-Ooste gevoer. Lande met gemengde bevolkings soos Sirië, Irak en Yemen word die slagveld van hierdie konflik.
Die Houthi-rebelle in Yemen is Sjiiete Moslems en daar is bewerings dat hulle met wapens en ammunisie deur Iran ondersteun word. Die werklike agressor in Yemen is egter Saoedi-Arabië wat sedert Maart 2015 ’n bloedige stryd met die Houthi-rebelle voer. Die weermag van Saoedi-Arabië het oor die afgelope 18 maande met grootskaalse geweld die Houthi’s probeer verslaan en sodoende ’n enorme humanitêre krisis in Yemen geskep. Verskeie aanvalle op burgerlikes en woonbuurte is geloods en met die blokkade van hawes en lughawens is die lewenslyn van miljoene mense in Yemen op wrede wyse afgesny.
Saoedi-Arabië staan eger nie alleen nie. Die land word deur ander Soenni-lande in die golfstreek, sowel as Westerse lande, in besonder die Verenigde State, ondersteun. Die Amerikaners beskou Saoedi-Arabië steeds as hul belangrikste bondgenoot in die Midde-Ooste en het dus oor die afgelope 18 maande die Saoedi’s se bitter stryd in Yemen volledig onderskryf. Saoedi-Arabië koop natuurlik heelwat van sy wapens by Amerika aan.
Terwyl die Amerikaanse minister van buitelandse sake, John Kerry, homself byna voltyds beywer vir die onderhandeling van ’n skikking in Sirië bly die Amerikaanse regering stil oor wat in Yemen gebeur. Die Amerikaners en voeg ook daarby Europa, is net te bang om hul bondgenoot, Saoedi-Arabië, kwaad te maak.
Die burgeroorlog in Yemen bewys weer eens dat groot moonthede se deelname aan, en reaksie op konflik in die wêreld meer oor hul eie belange as oor ’n werklike omgee vir die mense wat deur die konflik geraak word, gaan.
by Orania Beweging | Okt 17, 2016 | Nuus |
Reis en lees gaan vir my hand aan hand en tydens ons huidige Europese skakeltoer is dit nie anders nie. Twee redes daarvoor is dat mens, ten spyte van hoe ’n vol program, tog van sekere huislike sleur vrygestel is en boonop dikwels van openbare vervoer gebruik maak. As mens daarby die gewoonte het om nie jou tv-stel in die hotelkamers aan te skakel nie, kry ek selfs meer kans om te lees as in my gewone lewe tuis.
Tydens ons huidige reis het ’n kollega my toe aangemoedig om meer moeite te doen om wat ek lees te deel met mense wat ook in die onderwerpe mag belangstel, maar dalk nooit by dieselfde boeke sal uitkom nie. Dit is die wenk waarop ek hieronder reageer, streng met die kwalifikasie dat dit nie ’n formele resensie is nie, maar bloot ’n optekening van gedagtes wat met en na die lees by my opgekom het.
By voltooiing van Van Tongeren se Dankbaar het ek ook weer besef waarom ek nie voorheen al aan die voor-die-handliggende gedagte om na die lees van elke boek aantekeninge te maak, uitvoer gegee het nie. Dikwels is dit maar ’n kwessie van laksheid, want in die “stilte na die boek”, soos Etienne van Heerden dit noem, sou dit die natuurlikste ding wees om jou gedagtes vas te lê en later sou dit meestal baie nuttig wees om daarna terug te kan verwys.
Aan die ander kant kry ek nogal ’n gevoel van afhandeling wanneer ek ’n boek neersit en wag daar altyd alreeds ander boeke om gelees te word. Om die waarheid te sê, aan die einde van die meeste boeke het ek al haastig begin raak om aan te beweeg. In Dankbaar se geval het ’n ander faktor, wat dikwels ’n rol speel, egter ook ingetree. Dit is dat ek in die loop van die argument meer opgewonde daaroor was as by die gevolgtrekking waartoe dit gevoer word.
Nie dat die gevolgtrekking onverwags was nie, die subtitel is immers duidelik: dit gaan oor danbaarheid sonder om dit in godsdienstig terme te verstaan. Dié uitgangspunt het my nie daarvan weerhou om in die boek belang te stel nie, want buiten dat daar baie dinge in die wêreld is wat ons gewoonlik nie godsdienstig bejeën nie, is die “dood van God” ’n kultuur-historiese verskynsel waarmee ook gelowige mense rekening moet hou. Daarby verwys ek na die omvattende sekularisering wat kenmerkend geword het van die moderne Weste, ook en veral in die oorgrote deel van Nederland waar ons ons toer begin het.
Die boek is ’n uitbreiding van Van Tongeren se afskeidslesing aan die Radboud Universiteit in Nijmegen waar hy jare lank dosent in die filosofie was. Dit getuig dan ook van ryp denke en ’n ruim verwysingsraamwerk wat hom in staat stel om gemaklik met moeilike konsepte om te gaan en dit op elegante wyse vir minder ingeligte lesers toeganklik te maak. Hy knoop ook op ’n vanselfsprekende manier by alledaagse waarnemings en gebeure aan en laat mens voel dat iets soos dankbaarheid nie ten spyte van nie, maar danksy sy behandeling daarvan steeds tot ons daagslikse leefwêreld behoort en nie deur die filosofie gekaap word nie.
Hy begin deur die algemene en wyd bekritiseerde gedagte van transaksionele dankbaarheid aan die orde te stel. Dit het dus betrekking op die tipies interpersoonlike verhouding wat tot stand kom tussen gewer en ontvanger waar die gewer die ontvanger as’t ware in die skuld dompel, in ’n ekonomie van geskenke wat die plig van ’n teengeskenk, al is dit maar in die vorm van ’n woord, oproep. Hy verruim egter die verhouding deur dit by die moderne pligsetiek verby te voer en in die konteks van ’n tradisionele deugde-etiek tereg te laat kom, ’n konteks wat van die wederkerig aard van geskenk en dank nie ’n filosofiese probleem nie, maar ’n alledaagse en positiewe verskynsel – solank die verhouding nie instrumenteel uitgebuit word nie.
Die groter probleem is egter nie om op gepaste wyse vir ’n bos blomme dankie te sê nie, maar om dankbaarheid te betoon vir dinge wat mens nie van ’n ander presoon ontvang nie, dinge soos goeie gesondheid, ’n mooi dag of ’n kind. Dit is tipies die dinge waarvoor ’n gelowige mens God dank, maar wat die ongelowige Westerling vandag in die verleëntheid stel. Nou kan ’n mens vra waarom hy dan nie die opsie van geloof oorweeg nie, ’n vraag waarop daar twee antwoorde is. Die een is dat dit onvanpas sou wees om God in ’n gewone transaksionele verhouding van gawe en dank te betrek en die ander is dat hy erns maak met Friedrich Nietzche se ontleding van die menslike toestand aan die hand van die nihilisme.
Van Tongeren gee, en dit is deel van die verdienste van die boek, ’n eenvoudige oorsig van Nietzche se nihilistiese beeld van die wêreld, die geskiedenis en die mens, en plaas die dikwels misbruikte “dood van God” aan die hand daarvan in perspektief. Om dit verder te vereenvoudig kan kwalik nog enige reg aan hierdie denke gee en ek som dit met huiwering verder op. Nietzche begin met ’n waardering vir die voor-filosofiese era van die Griekse tragedies waarin chaos, doelloosheid en sinloosheid nie ontken word nie, maar esteties bevestig word. Dit is vir hom die eerste fase van nihilisme, ’n soort verwysingspunt.
In die tweede fase word deur filosofie en godsdiens gepoog om die absurditeit van ons bestaan weg te werk deur die voorhande ervaring daarvan deur idees en ideale te hervertolk en as’t ware van buite orde, doel en sin aan die werklikheid op te lê. Hoewel dit die teendeel in die oog het, is dit nogeens nihilisties omdat dit die ervaringswerklikheid misken en met ’n ideële werklikheid probeer vervang. Namate die mens hom mettertyd agter hierdie keermure van geloof, wetenskap en moraal veilig voel, word dit egter deur oormoedigheid ondermyn.
“God”, die metafoor vir die transendente orde, doel en sin, word ondermyn omdat mense nie meer besef dat hulle orde, doel en sin daarvan afhanklik is nie. Hulle glo nie meer aan God nie, maar weet ook nie wat dit beteken dat God nou dood is nie want hulle bly veronderstel dat daar orde, doel en sin is. Om die waarheid te sê, elke poging om die maskers van geloof en idee van die werklikheid af te ruk, berus weer op ’n volgende idee wat self die brute werklikheid maskeer. Dit is dan ook op hierdie onafgehandelde en onafhandelbare punt waar Van Tongeren ten aansien van die nihilisme vir Nietzche wil agterlaat om na die vraag van dankbaarheid terug te keer.
Hier is egter van ’n dubbelsinnigheid sprake, want hy laat Nietzche net in een sin agter, naamlik om na ’n volgende punt in sy argument te beweeg. Wat hy intussen wel gedoen het, is om Nietzche en die nihilistiese wêreldbeeld wat hy verteenwoordig tot norm en verwysingspunt vir ’n nuwe beeld van dankbaarheid te verhef. Met al die moontlikhede wat sy daaropvolgende behandeling van, vir my, nuwe gedagtes inhou, bring hy dit in der mate binne die kader van Nietzche en die nihilisme tuis, dat dit as’t ware ’n plafon daarop plaas.
Van Tongeren laat volg inderdaad ’n boeiende hervertolking van dankbaarheid sonder ’n geadresseerde, dus sonder God, vir al daardie dinge wat ons nie van iemand ontvang nie. Dankbaarheid word teen die agtergrond van tradisionele deugde-etiek eerder as moderne pligsetiek geprojekteer en aan die drie bevallighede (gratiën), naamlik luister of skoonheid, vreugde of vrolikheid en geluk of bloei verbind. Daarmee word ’n drieledige verhouding aan die orde gestel in plaas van die tweerigting gee-en-neem van gawe en dank. Die drie figure, in die mitologie die dogters van Zeus en Eurynome, word tradiosioneel uitgebeeld as verbonde aan mekaar, besig om byvoorbeeld ’n goue appel van die een na die ander aan te gee: dus nie ’n heen-en-weerbeweging nie, maar ’n sirkel wat in die oneindige kan voortgaan.
Volgens hierdie vertolking word gawe en dank dus deur ontvangs ontsluit, die middelterm wat dankbaarheid van haar transaksionele karakter kan verlos. Daarmee het Van Tongeren na sy eie beeld van sake daarin geslaag om dankbaarheid in ’n era ná die dood van God, moontlik te maak. Selfs dankbaarheid vir ongewenste dinge, vir lyding en ongeluk, word moontlik deur dit in ontvangs te neem en nie te probeer ontwyk of ignoreer nie.
Dat Nietzche in die proses eerder normatief ingetrek as agtergelaat word, is verder nie die enigste onderliggende dubbelsinnigheid waarmee ons in Dankbaar te make het nie. Die ander dubbelsinnigheid het met dank aan mense, wat tipies transaksioneel verstaan kan word, en dank aan God, wat na die dood van God eintlik glad nie verstaan kan word nie, te make. Van Tongeren se pragtige beroep op die drie bevallighede open na my mening juis die moontlikheid om dank nie as twee dinge nie, maar as een ding te verstaan en om die grondslag en model van dié een ding nie ten diepste in die intermenslike dimensie te vind nie, maar juis in die bo-menslike, in die transendente bewussyn wat ons wat ons alleen tot ons nadeel en verarming, as vrug van die Verligting, agter gelaat het.
Danie Goosen het my aandag onder andere daarop gevestig dat daar in die moderniteit ’n trajek te bespeur is vanaf ’n samehangende belewenis van dank as ’n in geloof gewortelde ervaring, na ’n tweedeling tussen die immanente en transendente vertolkings daarvan. Daarvolgens word die immanente dank transaksioneel beskou, met die gevolg dat dit eintlik geen dank meer is nie, terwyl die transendente dank as onmoontlik beskou word omdat daar geen onderliggende geloof meer is nie. Dit bring mee dat daar in werklikheid ’n nuwe, samehangende en enkele belewenis van dank – of eintik ondank – aan die orde kom. Juis dit is die ondank waarvan Van Tongeren ons wil red, maar deur die voorwaardes daarvoor te bevestig eerder as om dit uit te daag, kon ek nie tot die oortuiging kom dat sy projek slaag nie.
Tree die omgekeerde skema, dié van die tradisie nie onbedoeld en opnuut na vore nie? Is elke klein dankbetuiging, as dit werklik dank is, nie eerder in die geloof gewortel as dat die dank wat bo die veronderstelde en korrupterende transaksie uitstyg, sy voete in die afwesigheid van geloof kan vind nie? Dit verteenwoordig die teendeel van Van Tongeren se argument, maar dit is waarvan sy denkweg in dié verband my oortuig het.
Uiteindelik, is ek bevrees, het ek die boek met afnemende entoesiasme gelees. Hoewel ek verstaan dat die skrywer ’n waardevolle geestelike konsep in beskerming wil neem in ’n omgewing wat hy nie gemaak het nie, naamlik ’n ongelowige Europa, en hoewel mens vandag nie oor ons geestelike erfenis kan praat sonder om Nietzche se behandeling van die nihilistiese afgrond waarvoor ons bestaan huiwer in ag te neem nie, het hy na my mening nie daarin geslaag om “geen Nietzcheaan te worden” nie. Inteendeel, die siening dat Nietzche se nihilistiese veroordeling van twee en ’n half duisend jaar se metafisika ons van God bevry, stel mens voor die volgende vraag: Waarom Nietzche eerder as die Tradisie? Veral ten aansien van die dankbaarheid.
My eie voorkeur vir die behoud en herontdekking van die geloof en van ons Christelik Westerse erfenis (die heilige, algemene Christelike kerk) spreek sekerlik daarin mee dat, kort gestel, die poging om dankbaarheid ten alle koste in die immanente tuis te maak en elke teken van ’n transendente bewussyn te vermy, eenvoudig nie oortuig nie. Om die oorvloedige werklikheid uit Gods hand te ontvang en in die lig daarvan ’n grondhouding van dankbaarheid eerder as eiegeregtigheid te openbaar, is nie dieselfde as om die denkbeeld “God” in ’n transaksie te betrek of daarin betrek te word nie.
Selfs al is die Algemene Christelike Geloof in die Weste nie meer dominant nie, en selfs al sou Van Tongerens aanvoer dat hy oor dankbaarheid met ’n gegewe werklikheid handel, naamlik dat moderne Westerlinge met die dood van God moet handel, getuig sy argument uiteindelik nie van bevryding nie, maar van ’n selfopgelegte kluistering onder ’n lae Nietzcheaanse plafon. Dit sou vandag dapperder en meer belowend wees om ons Chritelike oorsprong en tradisie te herontdek, toe te eien en te koester. Niks sal die Europa van vandag méér toekomsgereed maak as juis dit nie.