by Orania Beweging | Jan 3, 2017 | Nuus |
Ek beleef meer en meer die moedeloosheid, die byna opgee-mentaliteit van ons mense. Binne die sielkunde praat hulle van die verskynsel van aangeleerde hulpeloosheid. Die voorbeeld wat soms gebruik word, is die van ’n persoon wat sy werk verloor het wat dan ’n eskalerende effek beleef; soos die persoon paar keer die verwerping van mislukte werksaansoeke beleef, hou hy op met die soek proses; of iemand wat sy rug beseer tydens ’n oefenprogram en die rug dan weer en weer beseer, hou op met oefen. Hulle noem dit dan aangeleerde hulpeloosheid wat mens laat ophou probeer, as’t ware opgee. Die Afrikaner ly vandag aan aangeleerde hulpeloosheid. Ons het keer op keer, persoonlik, gemeenskaplik, polities en selfs kerklik teleurstelling beleef, negatiwiteit beleef, teenkanting beleef, dermate ons ophou probeer. As ek na die 2016 Afrikaner kyk, dan sien ek ’n volk met aangeleerde hulpeloosheid. Dit is opmerkbaar dat hierdie hulpeloosheid geensins ’n weerspieëling van vermoëns of potensiaal is nie, maar bloot die selfpersepsie van die subjek. Hulpeloosheid, hopeloosheid is ’n aangeleerde toestand en dit kan en mag en moet verbreek word, afgeleer word omrede so ’n toestand mens lamlê en alle positiewe potensiaal neutraliseer. Interessant genoeg dat so ’n aangeleerde hulpeloosheid altyd ’n oorsaak vind; die dader van die misdaad teenoor my gepleeg is die maatskappy, die baas, die politiek, die regering, my vrou…ens. Dit plaas mens dan in die eerste plek in ’n situasie waar jy emosionele energie vermors omdat jy blaam plaas en selfs haat- en wraakgedagtes koesters teenoor iets of iemand aan wie jy nie werklik veel kan vermag nie, die tweede probleem is en hierdie is die groot een, is die feit dat jy nie verantwoordelikheid neem van jouself nie, jy plaas as’t ware jou lot in die hande van ander, maar meer as dit, in ander wat nie noodwendig die vermoëns of wil het om iets te verander nie. Jy is dus ten diepste, magteloos. Dit bring my by 2017 en die woordjie hoop.
Hoop, ons gebruik die woord maar effens buite sy betekenis: “Ek hoop ek sal dit maak,” “Ek hoop nie dit is te groot nie,” “Ek hoop jy het reggekom,” “Ek hoop dit sal reën,” en iets van die negatiwiteit van aangeleerde hulpeloosheid word weerspieël.
Binne die Afrikaanse gebruik van die woord, het dit meestal ’n tipe van ’n wens geword. “Ek wens ek sal dit maak…” ensovoorts. ’n Wens wat meermale ’n element van ernstige twyfel uitspreek: “ Ek hoop jy het mooi oor die saak gedink…” “Ek hoop jy besef hoe hoog dit is…” Die Hebreeuse vorm van die woord, yâchı̂yl, soos byvoorbeeld in Psalm 39: “En nou, wat verwag ek, o Here? My hoop is op U,” bevat nie so ’n element van vertwyfeling nie, maar een van geloof, van ’n vaste vertroue, verwagting.
Die Griekse woord elpis soos in Hd: 24 “…en ‘n hoop op God het, ‘n hoop wat hulle self ook verwag, dat daar ‘n opstanding sal wees van die dode, regverdiges sowel as onregverdiges,” bevat hierdie selfde element van die Hebreeus, verwagting, ’n vaste verwagting.
As ek dus 2017 hoopvol binnestorm, dan is dit nie met die Afrikaanse volksmond aanwending nie, maar met ’n diep teologiese-filosofiese belaaide bedoeling. Ek hoop 2017 sal ’n goeie jaar wees. Die woord hoop word gekoppel aan die dunamis of die krag van die een op wie daar gehoop word. Dit is sekerlik te verstane dat mens nie jou hoop moet plaas op iets of iemand wat nie wil, of kan help nie, dit is waansin. Om te hoop, om jou hoop sinvol te belê, moet mens na die innerlike krag van die objek van jou hoop en verwagtinge kyk. Mens moet egter ook na die wil kyk, wil so ’n persoon jou help, wil jy iets bereik, wil jy iets doen, raw-tsone, sê die Hebreeus, die intensie of die wil. Ek wil tweeledig my hoop vir 2017 aanbied:
Eerstens op ons Almagtige God en Vader wat deur sy Seun vir ons die ewige hoop kom bied. Maar hierdie hoop gaan nie bloot oor die eendag nie, maar ook oor die hier en nou, die ewigheid breek immers vandag alreeds aan, met sy onderskeie fasette. My hoop is dan op ’n God wat mense so lief gehad het dat Hy sy eie Seun in hul plek laat kom betaal het. God het dus die wil om te help en is dus alreeds hoopwaardig. Hy is ook ’n God wat die son ’n dag lank kon laat stilstaan, ’n see oop kon skeer, die berg laat bewe het, Lasarus uit die dood geroep het; Hy is die God wat alles geskape het, dus het Hy baie duidelik ook die krag, of dunamis om te help. Hy is inderdaad hoopwaardig.
Ek wil egter my hoop in 2017 op ons Afrikaner ook plaas, miskien omrede ek verby ons as volk se aangeleerde hulpeloosheid kyk en die dunamis raaksien. Die Afrikaner is ’n formidabele volk, wat ten spyte van, miskien as gevolg van, ontsaglike groot uitdagings en onderdrukking, gegroei het tot een van die sterkste volkere op aarde. Ons is begenadig om met ’n intellek, ’n logika, ’n werksetiek en diepe geloof om enige probleem te oorkom, maar meer as net oorkom, om ook daaruit ’n positiewe uitkoms te bewerk. Die Afrikaner is ’n volk met dunamis, met ’n inherente krag. Die een element wat kort vir ’n hoopvolle 2017 is dan ook die rawtsone of die wil. Wil ons werklikwaar? Of is ons oorgelewer aan ons aangeleerde hulpeloosheid. Wil die Afrikaner homself help? Dit is die vraag wat ons daagliks op Orania moet antwoord en hier sien ek die dunamis en die rawstone van ’n volk bymekaarkom om vir elke inwoner hoop te gee. Ek verwag dat 2017 ’n uitstekende jaar gaan wees, omdat ek na hierdie elemente van hoop kyk en ek sien hoe perfek die dinge in plek val en dit is hoop wat die potensiële energie van ’n mens, ’n instelling en ’n volk laat oorgaan in die dinamiese tasbaarheid van kinetiese energie. Hoop begin ’n beweging en ek sien in 2017 die Afrikaner beweeg.
Ek bid aan u elkeen ’n hoopvolle 2017 toe.
by Orania Beweging | Jan 3, 2017 | Nuus |
Gewaardeerde mede-Afrikaners,
meneer die voorsitter,
Ons Afrikaners het besondere stof tot dankbaarheid om vandag, op 16 Desember 2016, 178 na die Slag van Bloedrivier te vergader. Die blote feit dat ons hierdie sin kan uiter, naamlik dat ons dankbaar kan wees om op hierdie dag byeen te wees, is uiters veelseggend, want dit getuig daarvan dat ons nie slegs die bestaanskrisis van 1838 oorleef het nie. Dit getuig daarvan dat ons al die ander krisisse sedert daardie datum oorkom het en dat ons vandag steeds as kultuurgemeenskap leef. Dit getuig van ruim Goddelike genade wat deurlopend oor ons is en bevestig daarom, dat dit inderdaad paslik is dat hierdie dag soortgelyk aan ʼn Sabbat gedenk kan word.
Maar Afrikaners het nie slegs oorleef nie. Ons het gedy.
– Die klompie duisende wat ons toe was, het uitgebrei tot etlike miljoene;
– Ons het ons armoedigheid agtegelaat en ons is vandag grootliks ʼn welvarende gemeenskap;
– Ons het toe nouliks ʼn taal gehad. Nou het ons ʼn moderne taal wat alle funksies net onderskeiding kan vervul;
– Ons is nou ʼn gemeenskap wat bestaan uit mense met bekwaamhede en vaardighede wat die totale spektrum van menslike aktiwiteit dek. Ons is geleerd en vaardig;
– Ons kan vandag terugkyk op ʼn geskiedenis wat net soos die van enige ander gemeenskap gekenmerk word deur dwaasheid, maar net soos die van enige ander suksesvolle gemeenskap gekenmerk word deur wysheid, vindingrykheid, prestasie, energie en heldedom.
Wanneer ons oor ons huidige tydsgewrig rekenskap gee, moet ons tereg verklaar dat ons opnuut in ʼn krisis verkeer, maar wanneer ons, ons geskiedenis sedert 1838 oorweeg en kyk waar ons nou in teenstelling met toe staan, het ons nie net rede tot diepe dankbaarheid nie maar inderdaad oortuigende rede vir selfvertoue en hoop op die toekoms.
ʼn Volk bestaan danksy baie dinge. Een van die belangrikste daarvan is dat ʼn volk van homself bewus moet wees. Hy moet ʼn kollektiewe intelligensie hê. Die lede van ʼn volk moet die wete hê dat hulle tot ʼn volk behoort. Hulle moet weet dat hulle ʼn besondere geskiedenis het wat hulle van ander mense onderskei. Hulle moet weet dat hulle oor besondere eienskappe beskik.
Sonder sodanige intelligensie – ʼn selfbewussyn – is ʼn volk oplaas onbestaanbaar, want sonder daardie selfbewussyn kan hy nie sy situasie na waarde skat nie. Hy kan daarsonder nie weet of dit met hom goed of sleg gaan nie. Hy kan daarsonder nie aandag aan homself gee nie. Hy kan nie sy eie swakhede, prestasies en bedreigings insien nie. Hy kan homself nie beskut nie. Hy kan nie skaam kry oor sy foute en dit probeer regstel nie. Hy kan nie trots wees op homself vanweë sy prestasie nie. Hy kan nie verantwoordelikheid vir homself aanvaar, eie instellings skep om homself te bestendig nie en hy kan in die afwesigheid van ʼn eie intelligensie ook nie vyande en vriende erken en verhoudings met ander gemeenskappe aanknoop nie.
Dit is gevolglik ter sake om te vra hoe dit met Afrikaners se kollektiewe intelligensie – se selfbewussyn – gesteld was en nou is omdat daar soos aangedui daarsonder geen Afrikanervolk kan wees nie.
Afrikaner-selfbewussyn allermins ʼn vanselfsprekende gegewe. Dit was vir lang tye beswaarlik aanwesig met die gevolg dat iets soos ʼn Afrikanervolk nouliks bestaan het. Daar is verskeie sodanige tydperke. Veral twee, met die klem op die tweede een word hier vermeld.
Die eerste het betrekking op die tweede helfte van die negentiende eeu. Betreklik kort na die aflegging van die Gelofte van 1838 en die Slag van Bloedrivier het die bewussyn van ʼn eie volk en die behoort tot ʼn eie volk beduidend vervaag, in so mate dat dit ʼn ope vraag was of iets soos ʼn Afrikanervolk hoegenaamd bestaan het. Dit het, onder andere, daarin tot uitdrukking gekom dat die Gelofte grootliks vergete geraak het. Inwoners ten noorde van die Vaalrivier, wat as die Transvaalse Republiek en later die Zuid-Afrikaansche Republiek bekend gestaan het, was in die tydperk van die 1850’s tot laat in die 1870’s in ʼn mindere of meerdere mate in ʼn toestand van anargie. Bedreigings kon moeilik die hoof gebied word onder andere vanweë die feit dat vir sover daar hoegenaamd ʼn georganiseerde publieke gemeenskap van die aard van ʼn staat bestaan het, die staatskas basies leeg was en burgers dikwels erg traag was om kommandodiens te lewer. Van kulturele bedrywighede en formele onderwys wat die voorwaarde vir ʼn volk se selfbewussyn is, was daar in die destydse Transvaal eintlik bykans geen sprake nie. Die risiko van, en trouens die daadwerklike verskynsel van veragtering was deurlopend teenwoordig.
In die Vrystaat het dit ietwat beter gegaan. Ten minste was daar ʼn beter georganiseerde gemeenskap – in die vorm van ʼn meer daadwerklike republiek. Nogtans was daar nouliks ʼn Afrikanerbewussyn. Vanweë die Basotho-oorlog van die 1860’s was daar wel ʼn soort Vrystaatse nasionale bewussyn. Van ʼn Afrikanerbewussyn, soos ons dit later tot uitdrukking gekom het, was daar nouliks sprake. Per slot van sake was daar nog nie eers iets soos ʼn Afrikaanse skryftaal waarmee ʼn gemeenskap objektiewe uitdrukking aan homself kon gee nie. Bowendien was die Engelse taal- en kulturele invloed in die Vrystaat besonder sterk en was ʼn dorp soos Bloemfontein – die belangrikste kultuursentrum ten noorde van die Oranjerivier – meer ʼn Engelse dorp as wat dit ʼn Afrikanerdorp was. Die Vrystaat was ook polities sterk koloniaal- eerder as republikeinsgesind. Dienooreenkomstig was daar ’n sterk beweging om polities met die Britsbeheerde Kaapkolonie eerder met Transvaal te vereenselwig.
Die Kaapse Afrikaners het tot met die opkoms van die Genootskap van Regte Afrikaners en die Afrikanerbond in die laat 1870’s en vroeë 1880’s nouliks enige selfbewussyn as Afrikaners gehad. Verengelsing het hoogty gevier. Selfs in die Nederlandse skole van daardie tyd is die meeste van die vakke in Engels aangebied. In die Weskaap was dit hoogmode om te verengels. Selfs by sosiale geleenthede onder jongmense was die keuse om eerder Engels te praat. Onder die enkeles wat wel ʼn taalbewussyn gehad het, was die vooruitsig vir die voorbestaan van die destydse Nederlands (en proto-Afrikaans) om goeie rede baie swartgallig. Van ʼn strewe na politieke vryheid was daar geen sprake nie.
Natal verteenwoordig ʼn ironie. Natal was die speerpunt van die Groot Trek. Hier is die grootste opofferings wat betref lewensverlies en vermoënsskade, gemaak. Hier is die Gelofte afgelê en hier is die Slag van Bloedrivier gelewer. Dog, etlike jare hierna was die Republiek van Natalia daarmee heen en het die vooruitsig vir Afrikanervryheid in hierdie geweste permanent verdwyn. Hier kon daar nouliks van Afrikanerselfbewussyn sprake wees, aangesien die Afrikaners grootliks uit Natal onttrek het.
Vir baie lank gedurende die tweede helfte van die negentiende eeu was daar dus nêrens in Suid-Afrika enige noemenswaardige Afrikaner-selfbewussyn nie en het die Afrikanervolk wesenlik sy eie bestaan opgeskort. Dit was eers met die suksesvolle Transvaalse opstand in 1880-81 wat ons vandag as die Eerste Vryheidsoorlog ken, toe ʼn bykans nie bestaande Afrikanervolk as’t ware die opskorting van sy bestaan oorkom en sy lewe as ʼn volk voortgesit het. Die oorlog en veral die Slag van Majuba gepaard met die groei van die Genootskap van regte Afrikaners, het ʼn Afrikaner-selfbewussyn dwarsoor Suid-Afrika gaande gemaak en gevolglik die Afrikaner as’t ware in aanskyn geroep.
Dit is hierdie Afrikanervolk wat oor die lengte en breedte van wat later Suid-Afrika geword het, vanaf 1899 tot 1902 die stryd teen Brittanje aangeknoop het, toe Afrikaners van sowel die Republieke as die Britse kolonies in stryd met Brittanje getree het. Dit was juis danksy die feit dat Afrikaners waar hulle ook al was, ʼn kollektiewe intelligensie gehad het, dat hulle hierdie stryd – ʼn egte volkstryd kon aanknoop, wat tot vandag – en vandag trouens meer as enkele dekades gelede – die hoofbron van Afrikanerheldedom is.
Gedurende die verloop van die twintigste eeu het die Afrikanervolk na ʼn ongekende ekonomiese geswoeg en ʼn energieke kultuurpolitiek ongekende prestasies behaal. Afrikaans het naas enkele ander tale wat dit in hierdie eeu kon vermag ʼn taal van hoogkultuur en letterkunde geword, wat die segsvermoë ontwikkel het om op elke lewensterrein doeltreffend aangewend te word. Afrikaners het in Afrikaans, meer bepaald by wyse van skoolopleding, voortgesette tegniese opleiding en universitêre opvoeding in Afrikaans gemoderniseer, op elke lewensterrein gepresteer en welvarend geword. Die verskynsel van Afrikaner-minderwaardigheid teenoor die gewaande inherent meer verhewe Engelse kultuur het juis vanweë hierdie Afrikanerprestasies verdwyn. Daar was werklik geen gronde meer vir enige vorm van minderwaardigheid nie. Die Afrikanervolk hoef nie in die Britse-Engelse wêreld geassimileer te word ten einde deel van die universele mensdom te wees nie. Inteendeel, die Afrikanervolk, het soos met alle volke behoort te wees, sy deelagtigheid aan die universele mensdom aan die hand van sy eie eiesoortigheid – sy eie taal en kultuur – verwerf.
Afrikaners het ook polities, administratief en militêr presteer. In die huidige tydsgewrig word dit dikwels as onaanvaarbaar beskou om hierop te wys. Onaanvaarbaarheid kan egter nie die daadwerklike waarheid troef nie. Die feit is dat Afrikaners fenomenale staatsbouers was. Die Suid-Afrikaanse staat onder die Nasionale Party met die hoogtepunt onder Verwoerd was ʼn uiters doeltreffende glad geadministreerde staat, wat oral – plaaslik en in die buiteland – enorme vertroue ontlok het. Sy ekonomiese groeikoers gedurende die Verwoerd-tydperk, onder andere, deur buitelandse beleggings gestimuleer, was tekenend hiervan. Net so tekenend was die grootskaalse Europese immigrasie na Suid-Afrika gedurende hierdie tydperk. Die regspleging was uitstekend. Die staatsdiens doeltreffend. Die polisie betroubaar en die weermag toenemend gedug. Die huidige Zuma-staat steek inderdaad sleg af teen die destydse Verwoerd-staat.
Die suksesvolle Afrikanerstaat wat vanaf 1948 onder die Nasionale Party ontwikkel is en in die 1960’s en die 1970’s sy hoogtepunt bereik het, het egter ʼn ironies nadelige uitwerking op Afrikaners gehad. Wat dit gedoen het, was juis om Afrikanerselfbewussyn beduidend te laat vervaag. Trouens, die benadeling het verder as vervaging van selfbewussyn as Afrikaners gegaan aangesien baie Afrikaners stilweg ʼn identiteitsverwisseling ondergaan het. Hulle het hulle Afrikanerskap agtergelaat en in toenemende mate Suid-Afrikaners geword. Die Suid-Afrikaners in plaas van Afrikaners, wat baie Afrikaners geword het, het in twee variasies voorgekom.
Die eerste was dat Afrikaners hulle met hul suksesvolle staat vereenselwig het. Dienooreenkomstig het baie Afrikaners hulle primêre selfbelewenis as Afrikaners laat vaar om eerder burgers van Suid-Afrika te word. Hulle het primêr Suid-Afrikaners, dit wil sê deel van ʼn kultureel grootliks ongedefinieerde Suid-Afrikaanse nasie geword. Dit het in ʼn sekere mate onopgemerk gebeur, want Afrikanerinstellings was per slot van sake op hulle sterkste en Afrikaanstalige instellings soos enkelmediumskole, tegniese kolleges en universiteite op hulle hoogtepunt. Dog, al hierdie instellings het stilweg ʼn grondige verandering ondergaan, naamlik om in hul selfbelewenis al hoe meer Suid-Afrikaans te word in plaas van die as draers van ʼn kultuur-gedefinieerde Afrikanerskap. Van buite gesien was dit verstaanbaar dat dit gebeur het aangesien Afrikaners wat die hoofouteurs van die Suid-Afrikaanse staat was, ’n groot sukses van dié staatbouprojek gemaak het, en ten slotte baie trots daarop was. Presies as gevolg hiervan het Afrikaners hulself egter in toenemende mate begin ophef ten einde in ʼn meer omvattende groter Suid-Afrikaanse staatsgemeenskap geassimileer te word. Hoe suksesvoller die Suid-Afrikaanse staat onder Afrikanerbeheer, des te trotser het Afrikaners op hulle Suid-Afrikaanse staat geword en het hulle, hul identiteit laat vaar ten einde in die Suid-Afrikaanse nasie op te gaan.
Suid-Afrika het dus sy tol toenemend geëis deurdat Afrikaners onder die einste Nasionale Party, wat veronderstel was om Afrikaner-selfbewussyn te bevestig, juis toenemend al hoe meer Suid-Afrikaans geword. Onder die vaandel van Afrikanerskap het Afrikaners, primêr met Suid-Afrika vereenselwig en toenemend Suid-Afrikaans geword. Anders gestel: onder die vaandel ban Afrikaner-nasionalisme – die NAT-vaandel – het Afrikaners toenemend Suid-Afrikaans – SAP – geword. Aangedryf deur ons eie projek van Suid-Afrikanistiese nasiebou in ons eie suksesvolle Suid-Afrikaanse staat was ons besig om onsself ongedaan te maak. Hierdie denk- en handelswyse is veral met die Nasionale Party sedert die 1970’s vereenselwig.
Die tweede variasie van Suid-Afrikanerskap voor die aanvang van die grondwetlike oorgang waarin Afrikaners in die toenmalige Afrikaner-beheerde Suid-Afrikaanse staat opgegaan het, was in Blank Suid-Afrika. Toenemend vereenselwig met anderstalige blankes, meer bepaald Engelssprekende Suid-Afrikaners, het Afrikaners hulself algaande meer as deel van ʼn groter “Blankedom” beleef. Afrikaners het in die Blanke Volk van Suid-Afrika opgegaan. Net soos die eerste variasie, was dit ook ʼn Suid-Afrikanisme. Dit het ook voortgespruit in die primêre vereenselwiging met die staat eerder as met die volk. Anders as die eerste variasie het dié een, die Suid-Afrikaanse nasie meer uitdruklik in rasseterme – ʼn Blanke Volk – beskryf. Hier het ons dus ook met ʼn Suid-Afrikanisme te doen. Hierdie SAP-denkwyse anders as die eerste was egter wit. Sy wortels gaan ver terug. Gedurende die laaste twee dekades voor die grondwetlike oorgang van 1994, het hierdie denk- en handelswyse die sterkste in die eertydse regse partye tot uitdrukking gekom.
Die slotsom is dat Afrikaners in die laaste twee tot drie dekades voor 1994 toenemend ʼn verlies van selfbewussyn beleef het. Afrikaners was al hoe minder Afrikaners en al hoe meer Suid-Afrikaners, of dit nou South Africans in die algemeen of white South Africans was. Afrikanerskap was onder die invloed van ons destydse politieke beheer oor Suid-Afrika, toenemend die slagoffer van ons eie Suid-Afrikanistiese nasiebou-projek.
by Orania Beweging | Des 22, 2016 | Nuus |
Neerhalende, selfs hatige artikels oor Orania is so oud soos Orania self. In meeste gevalle sê dit meer van die skrywers se blindheid as van die toestand van Orania. Alhoewel Orania geweldig gevorder en verander het oor die afgelope jare, is die artikels oor Orania van destyds en van nou, veral in die buitelandse nuusbronne, feitlik identies. Omtrent almal se opskrif is ʼn variasie op die “wit dorp/laaste uithoek van apartheid/armsalige, armlastige woestyndorp” tema, wat ʼn anachronisme in die wonderlike reënboognasie is. Fotos wat gebruik word, word gewoonlik van die internet afgetrek en wys ʼn Orania van 10 of selfs 20 jaar gelede, die foto van die Verwoerdbeeld wat oor die dorp uitkyk (en al meer as 10 jaar nie meer daar staan nie) is altyd deel daarvan. Ons kan aanhou om te verduidelik dat selfbeskikking ʼn reg is, dat die Afrikaner ʼn kultuurgemeenskap is, dat ons na onsself moet omsien omdat daar teen ons gediskrimineer word ens., die effek op die joernaliste se vooropgestelde opinie is feitlik nul. Onlangs was daar weer ʼn artikel op CNN (Artikel) wat ʼn handboekvoorbeeld was van die soort beriggewing oor Orania spesifiek en die Afrikaner in die algemeen. Skeefgetrekte statistieke word aangehaal wat moet bewys dat ons nie rede het om te kla nie en dat dit met ons veel beter gaan as met die meerderheid swart mense in Suid-Afrika wat misdaad en werkloosheid betref.
Ten spyte van wat ek geskryf het, hoef ons nie moedeloos te raak oor die media nie. Die media is magtig en het hulle agenda, maar hulle mag is besig om te krimp. Die internet en sosiale media het die houvas wat die sogenaamde hoofstroommedia op mense se denke gehad het, verbreek. Selfs die CNN-artikel gee toe dat Orania deel is van ʼn nuwe en kragtige golf, al word dit deur die skrywer as ʼn negatiewe een beskou: ”The splintering of a portion of South Africa’s Afrikaner community is only a microcosm within a much larger trend. In the wake of Brexit, the rise in nationalist movements in Europe and arguably the United States, directly or indirectly through president-elect Donald Trump, isolation has become a hot topic.” Om hierdie sin in Afrikaans te dekodeer: Orania en dit waarvoor dit staan is nog steeds verfoeilik (vir CNN en ander linkse meningsvormers), maar is deel van ʼn nuwe tendens. Selfs ʼn negatiewe artikel in ʼn internasionale medium soos CNN maak ʼn hele paar potensiële ondersteuners van Orania, wat tussen die lyne kan lees, bewus van ons strewe. Ook ek het die eerste keer oor Orania gelees in ʼn negatiewe, neerhalende artikel maar kon nog steeds my eie afleidings maak. Daagliks vat ons tientalle besoekers op toere en werklik almal gaan met ʼn beter opinie oor Orania hier weg, of is selfs so beïndruk dat hulle by die Orania Beweging aansluit, ander mense aanmoedig om ons te besoek en besluit selfs om later hier te kom bly.
My dank aan almal wat op die een of ander manier gehelp het om Orania se boodskap oor te dra, synde deur ʼn brief in die koerant, deur met vriende te praat, deur ons DVD en pamflette te versprei, deur hier tyd te spandeer. Na harde werk begin die boom vrugte afwerp. Ons boom is nog klein, maar lewenskragtig en groeiend. Die magtige links-liberale media se groot en ou boom is hol. Die winde van verandering sal dit in die toekoms omwaai, die takke breek nou reeds af. CNN moes sy eie magteloosheid beleef toe hulle met die uitslag van die Amerikaanse presidentsverkiesing moes besef, soos die uitslae ingekom het, dat hulle voorspellings, beïnvloeding van die kiesers en wensdenkery oor mev. Clinton se oorwinning totaal verkeerd was. Daar is niks so sterk soos ʼn idee waarvoor die tyd ryp geword het nie (met erekenning aan prof. Carel Boshoff). Die tyd is besig om te kom. Of, om die woorde van Mohandas Gandhi te gebruik: “First they ignore you. Then they ridicule you. Then they fight you. Then you win.”
by Orania Beweging | Des 19, 2016 | Nuus |

Waardebepaling
Wat bepaal waarde? Ek wandel hierdie Kerstyd so deur die digitalemarkspleine en tussen die winskope en aanbiedinge en opspring-flikker-advertensies en winkeltrollies vol wenslyste blaai ek tussen die aanlynwinkels en kyk na goed. Goed is seker die beste beskrywing. Ek kyk na handgekerfde kitare, massa-vervaardigde juwele, sweetwinkel speelgoed en egte Italiaanse mode uit China. Ek kry so ’n boodskappie op my foon dat ek die kans staan om al my skuld gedelg te kry as ek my finansies so sal bestuur dat die aftrekorders einde Januarie sal deurgaan. Mooi, dink ek, spandeer net wat jy kan bekostig. Ek kyk na twee van hierdie goed in my trollie en daar is dan so ’n handige “vergelyk produkte” skakel. Met hierdie skisma van tegniese besonderhede oopgekloof voor my op die skerm, probeer ek hond haaraf maak. Hoe weet mens watter een is nou die beste. Ek besluit uiteindelik om die duurder een te kies, ek weet nou nog nie hoekom nie, die ander een was mooier, maar duurder is beter, goedkoop koop is duurkoop. Wat bepaal goed se waarde? Is dit die inherente eienskappe wat ’n objek waardevol maak, die bruikbaarheid?…is dit die prys etiket?…is dit die estetika? Moontlik is al die bogenoemde rolspelers, miskien ten diepste die waarde wat dit vir my inhou, hoe ek as die nuwe eienaar daaroor voel.
Ek sal so naïef wees deur tog te glo dat daar in die volmaakte kommersiële vryemark tog ook ’n element van vervaardigingskoste in die prysetiket weerspieël word en iets wat meer gekos het om te maak, moet mos sekerlik beter wees?
Wat bepaal waarde? Ek is verward hier waar ek op hierdie gedagtevlug gaan. Dit neem my verskeie Bybelse gedagtes, na ’n kruis by ’n koppie buite Jerusalem waar ‘n Seun met sy lewe betaal, boet; na ’n pottebakker wat ’n erdekruik stukkend gooi, na so ’n erdekruik waar ’n skat binne gebêre word.
Kerstyd voel veel mense juis hierdie worsteling met selfwaarde. Wat is ek werd, ek voel alleen, moeg hartseer, vernederd. Wat bepaal ’n mens se waarde? Is dit jou inherente bruikbaarheid? Vir sommige ander mense glo ek dit is die geval, jy is bruikbaar en waardevol in so verre ek jou kan benut. Is dit die jou estetika, hoe mooi jy is?
Ek staar na die inkopietrollie vol mense, ek kyk na al die vergelykende eienskappe, ek kyk na die estetika, ek kyk na die prysetiket, ek kyk na die vervaardiger se handelsmerk…ek begin ’n prentjie te vorm. Wat is mense werd?
“Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”
Ek kyk weer na al die mense in my lewestrollie en ek kyk na die prys wat vir hulle betaal is. Miskien is goedkoop koop, duur koop. Ek dink aan die prys wat vir my betaal is en hierdie prys gaan nie oor my estetika of bruikbaarheid of inherente vermoëns nie, nee hierdie prys is gans te duur as mens hierdie kenmerke as waardebepalend gaan ag. Hierdie is ’n emosionele koop, ’n liefdeskoop. God betaal die prys van sy eie Seun en dit bepaal jou waarde. Ek gaan hierdie Kersfees so ’n bietjie anders na mense kyk, want soos ek hier sit en dink besef ek: mense is verskriklik baie werd.
by Orania Beweging | Des 15, 2016 | Nuus |
Die term ritueel het ʼn negatiewe klank gekry: iets wat vervelig is, wat geen betekenis meer het nie, wat herhalend is, nie meer relevant is nie, ʼn tydmors ensovoorts. Iets word eers ʼn ritueel en dan word dit gelos. In vandag se tyd moet ʼn mens uit alles “iets uitkry”. Daarom dat die “ritueel” van die Sondagerediens verval en mense dit as verskoning gebruik om nie kerk toe te gaan nie, want dit is herhalend en gee hulle nie meer iets nie. Die moderne mens soek die hele tyd iets nuuts, ʼn nuwe “kick”, ook wat godsdiens betref. Daarom ook die opgang van die charismatiese “event” kerke, alhoewel ook die soort kerke hulle eie rituele en herhalings het. Die inkopies op Sondae het intussen die ritueel geword wat die erediens in talle gevalle vervang het, maar ek wil beweer dat jy minder daaruit kry as uit ʼn erediens wat ʼn gewoonte geword het.
Die oorspronklike betekenis van ritueel is ʼn opeenvolging van handelinge op ʼn spesifieke plek en gewoonlik met ʼn godsdienstige agtergrond. Net so belangrik, ʼn ritueel is ʼn produk van ʼn kultuur.
Om dus deel te neem aan ʼn ritueel bevestig jou kultuur- en volksverband. Daarsonder is jy ʼn ongebonde individu, uitruilbaar, vervangbaar, sonder ʼn merk wat jy maak.
Geloftedag is ʼn jaarlikse ritueel van die Afrikanervolk, oftewel die deel wat hulle nog gebonde voel as deel van ʼn volk wat ʼn gelofte aan God gemaak het en dit nou al vir 180 jaar in stand hou. Ook 22 jaar na die aanbreek van die “nuwe Suid-Afrika” woon nog steeds groot getalle Afrikaners Geloftefeeste by. Dit is net ʼn breukdeel van die Afrikanervolk, maar daar is aanduidings dat die bywoning toeneem. Dit wys ook dat die volk nog nie dood is nie, ten spyte van alle individualisering.
Die Geloftefees is ʼn jaarlikse instelling in Orania, wat elke jaar volgens dieselfde patroon afloop, en wat die jaarlikse feesdag is wat deur die meeste Oraniërs en talle besoekers bygewoon word. Daar is sowel ʼn erediens, omdat die Voortrekkers belowe het om Geloftedag jaarliks soos ʼn Sondag te herdenk, asook ʼn toespraak wat die geskiedkundige gebeure vertel en in perspektief plaas. Party mense trek tradisionele drag aan vir die geleentheid, wat altyd ʼn mooi gesig is. Na die tyd word gesellig verkeer in familieverband of as vriendekringe, met Afrikaner-lekkernye soos gemmerbier en koek, en natuurlik braaivleisvure, en die res van die dag is ʼn rusdag, die winkels is gesluit.
Natuurlik kan Geloftedag nie die enigste ritueel wees wat die volk uitmaak nie. Op ʼn meer informele manier is Saterdag se braai, saamkuier en rugby kyk ʼn naweekritueel, en in talle gevalle ook nog die Sondag-erediens. Godsdiens moet meer as net ʼn ritueel wees, maar uit die ritueel en die gewoonte wat in kulturele verband beoefen word, groei ‘n dieper bewuswording. Rituele is nie al wat ʼn volk uitmaak nie, daar moet ook ʼn gemeenskaplike taal, geskiedenis, godsdiens ensovoorts wees.
Rituele is egter deel van ʼn kultuur, en ʼn kultuur maak ʼn volk uit. ʼn Volk met sy eie kultuur kan aanspraak maak op selfbeskikking. Rasse, klasse of mense met gedeelde oortuigings kan nie.
Koester dus jou rituele wat jou as Afrikaner uniek maak. Ek hoop groot getalle Afrikaners woon more Geloftedagvieringe oor die hele land by, sodat ons vir die land en die wêreld kan wys: Ons is ʼn volk, ons is nog hier, en ons is hier om te bly.
by Orania Beweging | Des 9, 2016 | Nuus |
Die nihilisme, as heersende leegheid binne die grys van die liberalisme en polities-korrekte era, laat die individu vandag verdwaald en verward. Ons is nie onaangeraak hierdeur nie, ons as Afrikaner. ’n Goeie vriend van my pendel elke dag; Pretoria- Midrand-Sandton-Midrand-Pretoria. Vyfuur die oggend in die motor om agtuur op kantoor te arriveer, om agt ure op kantoor te spandeer, om agtuur die aand weer by die huis te kom. Die huis is ommuur, omhein en die ganse tuin met alarmstrale bewapen. Sluit, slaap, sluit, ry, werk, ry, sluit, slaap. Dit is nie hoe ek sy lewe beskryf nie, hy is gelukkig getroud en het pragtige troeteldiere en ’n mooi huis. Dit is hoe hy self sy lewe beskryf. Hy sê aan my dat alles maar alles wat hy doen, nutteloos en tevergeefs; ’n gejaag na wind voel. Hoekom doen hy dit elke dag aan homself? Vra hy. Wat is die sin? Hy vertel hy staan nou die dag voor die spieël en vra homself af: “Wie is jy?” Hy antwoord: “’n prokureur.”
Wie is jy? Ek plaas hierdie vraag en soeke vierkantig voor die deur van die liberalisme. Julle maak dat mense onseker is oor wie hulle is, want wie hulle is maak hulle anders as die volgende een en dit is ongeregtigheid, dit mag nie. Jy mag nie anders wees nie! Die liberales roep in die strate, vryheid, vryheid en fluister dan konformeer, konformeer tot daar niks oorbly om in die vryheid te vier nie. Kom ons vier die leegheid deur in die spieël na onsself te staar.
Die gryse leegheid van die nihilisme: want niemand mag meer iemand wees nie, geen volk mag meer bestaan nie, geen taal wat anders is, mag gepraat word nie, niemand mag meer presteer nie, niemand mag meer druip nie, ons almal huppel-huppel saam die afgrond van die leegheid in; tot by die spieël waar jy jouself nie meer herken nie.
Ek blaai saam met my vriend deur ’n Familiebybel, sy Familiebybel, ’n majestieus-gebinde boek in Hoognederlands. Geslagte en geslagte van naamgenote het geteken, sy naam staan amper onder op die derde bladsy.
Wie is jy? Vra ek hom soos ons blaai. Hy antwoord met ’n knop in sy keel: Jacobus Johannes Kruger!