by Orania Beweging | Jul 28, 2011 | Nuus |
Veronderstel die geskiedenis was ietwat anders geskryf. Wat sou gebeur as genl. Cronje die Kakies agterna gesit het nadat hulle by Magersfontein die hasepad gevat het?
Die Vrystaatse kommando’s onder leiding van genl. De Wet sluit aan by Cronje en stoot die Kakies terug tot in Kaapstad. Die Kapenaars kom in grootskaalse opstand en jaag storm kommando’s die Moederstad in. Die laaste paar Kakies in die Kaap hys ’n witvlag by die Kasteel.
Voor die nuus Westminster haal steek die Boeremagte al die Natalse grense oor en sluit aan by die Transvaalse kommando’s. ’n Paar dae later val Durban in die Boere se hande.
Die nuus van die Boere-oorwinning versprei deur die wêreld soos ’n veldbrand. In Indië is daar nuwe veggees en volskaalse rebellie breek uit teen die Engelse. Hong Kong word deur die Sjinese teruggeneem terwyl die Kakies uit hul ander Oosterse kolonies uitgejaag word. Ook in Kanada neem Quebec die geveg na die Engelse toe en verower Ottawa en Toronto binne ’n week en ook Victoria ’n paar maande later. Duitsland en Frankryk sien hul kans en vorm ’n alliansie teen die Britse Ryk. ’n Paar maande later deel verskeie Europese lande die wêreld se handelsroetes.
Die Boere Republieke, tesame met die nuutgevonde Kaapse Republiek neem die besluit om Westminster se versoek om vrede te verwerp. Die besluit kom nadat ene kmdt. De la Rey ’n pleidooi in die volksraad gelewer het dat Engeland ingeval en verower moet word. Goud is daar baie van en skepe word aangekoop by die Portugese, Franse en Duitsers om die kommando’s na Frankryk toe te stuur.
Vanuit Calais loods die geallieerdes, bestaande uit Franse-, Nederlandse-, Duitse en Boeremagte ’n reuse inval op Engeland se ooskus. Londen word tot die grond afgebrand maar die Engelse skarrel vir al wat hul werd is en bied sterk weerstand in die Cotswolds. Ongelukkig vir die Engelse word hul stede in die noorde deur Skotse magte beleer en nes hulle begin om die oorhand in weste te kry stroom derduisende Iere oor hul grense. Hulle is vasgepen op hul eie eiland en gee toe in.
Skotland, Wallis en Ierland verklaar hul onafhanklikheid en Engeland word in vier kolonies ingedeel. Elkeen van die geallieerdes kry sy deel. Oor dorpe in die suide van Engeland wapper die vlae van die Boere Republieke.
In 1914, na lang onderhandelings, word Engeland ’n mate van selfbeskikking gegun. Nietemin, Engeland se nuwe landsvlag bestaan nou uit hul eie st. George-vlag met ’n Vierkleur reg in die middel. Vrede heers oor die wêreld nadat die sentraal Europese magsblok die kommuniste se poging tot ’n burgeroorlog in Rusland in sy spore stuit.
Hier in Afrika kom kolonialisme tot ’n einde en nuwe grense word getrek. ’n Beleid van afsonderlike ontwikkeling word gevolg nadat elke stam vryheid in sy eie grondgebied ontvang. Die Afrikaner word tot vandag toe steeds geag as die bevryders van Afrika.
Gebeure in die verlede het immers nie so plaasgevind nie. Hoe buitensporig dit ook al mag sy dat daar ooit ’n Vierkleur in Engeland se vlag sou wees, so ondenkbaar behoort dit ook vir ’n Afrikaner te wees om eer aan ’n vlag te toon waarin die Union Jack voorkom. Dink bietjie daaroor wanneer jy weer die ou landsvlag sien. Beide ou en nuwe vlae van Suid-Afrika verteenwoordig geen heil vir die Afrikaner nie.
Maak jouself los van Suid-Afrika en bou saam met ons aan ’n nuwe toekoms vir die Afrikaner in ons eie republiek.

by Orania Beweging | Jul 28, 2011 | Nuus |
Van al die treinritte wat ons op hierdie reis aangedurf het, was die een van Rangoen na Mandalay die opwindendste en mees outentieke en ook die primitiefste. Terwyl ons vir die trein gewag het saam met die skare mense, almal Burmese en talle van hulle monnike met hulle rooi gewade, het die opgewondenheid gestyg. Ek is mal oor ‘n trein, veral een soos die een waarop ons nou geklim het, wat nog soos ‘n trein voel en nie soos ‘n vliegtuig nie. Die geklikklak van die spore is die musiek van ‘n treinrit, soos die golwe van die see die musiek van ‘n skeepsreis is. Die wa het by tye so gehop dat dit amper gevoel het asof die trein wil ontspoor. Die kompartement, kamstig eerste klas was maar beskeie genoeg, met muise wat af en toe op die vloer verbygeglip het en natuurlik ook maar lanklaas skoongemaak. Dit het gelukkig nog ‘n venster gehad wat jy kon oopmaak en die omgewing met sy geure en die alomteenwoordige hitte onmiddellik kon beleef. Ek het ook weer my longyi aangehad wat die inheemse gevoel versterk het.
Met die uitry uit Rangoen was daar orals ellendige plakkershutte teenaan die spoorlyn, en ‘n mens kon nie help om daardie ongemaklike gevoel van ‘n afloerder te kry as jy so naby met die trein verby ry, maar in jou eie wêreld is en dit net bekyk sonder dat jy enigsins daarby betrokke is. Maar sodra ons uit die stad uit was, het die bekorende platteland sy verskyning gemaak, met tonele soos uit ‘n ander era, of soos uit ‘n verbeeldingsvlug: groen ryslande wat geploeg word met ‘n houtploeg wat deur wit brahman-osse getrek word, palmbome tussen hutte uit gevlegte palmblaarmatte, mense met tradisionele klere en selfs nog die kenmerkende spits hoede wat met groot houtwaens met 2 enorme wiele wat deur osse getrek word ry, en goue pagodes tussen die lande. Ek kon amper nie glo dat ek so bevoorreg is om so iets nog te kon sien, iets wat in die ander lande reeds geskiedenis is, waar trekkertjies en motors die osploë en waens vervang het en Westerse kortbroeke en pette die tradisionele klere. By die stasies was dit ‘n gewoel van handelaars, vroue of jong seuns, met mandjies vol eetgoed wat hulle aan die passasiers verkoop het, mango’s, piesangs, hoendersosaties, gekookte mielies, nogal vergelykbaar met ‘n treinrit in Oos-Afrika.
Ek het in die geheim Ne Win en sy opvolgers bedank vir hulle isolasiebeleid wat hierdie gevriesde toestand moontlik gemaak het. Maar dit is een ding om as reisiger hierdie eksotiese tonele te bewonder, ‘n ander ding om so te moet lewe. Die meeste Burmese sou waarskynlik enige tyd wil ruil met hulle Maleisiese of Thaise bure en hulle meer voorspoedige en vryer lewens. Op hierdie reis het ek baie gedink, gewroeg en met my pa gedebatteer of voorspoed, ontwikkeling en ‘n beter lewe altyd verwestering, kommersialisering en die verlies van outentiekheid en identiteit moet beteken. Op die oog af is hierdie plattelandse Burmane wat hulle kultuur en gemeenskap het, genoeg om te eet en ‘n geordende lewe het, beter af as die uitgespoeldes in die plakkerskampe, wat deur die aanloklikhede van die groot stede ingesuig word en as geleentheidswerkers, bedelaars of diewe probeer oorleef en met dwelms, geweld en gebroke verhoudings worstel.
In die aand toe ons gereed gemaak het om te slaap, het ‘n ouerige monnik ons vergesel in ons kompartement. Vir ons was ‘n lang slaap nie beskore nie want reeds om 3 uur die oggend het ons in Mandalay gearriveer. Op die platform het mense orals gelê en slaap en die andersheid en derdewêreldse gevoel van Mandalay was selfs vir my vreemd toe ons, as enigste Westerlinge wyd en syd met die skares by die stasie uitloop en dan doodmoeg agter op ‘n flenter driewiel deur die donker strate gehop het. By die redelik netjiese “Silwer Swan” Hotel kon ons gelukkig ‘n kamer kry en het met verligting gestort en dan in die skoon en sagte beddens geval en ‘n paar ure geslaap.
Na ‘n Burmese styl ontbyt, gewoonlik brandende sop, gebraaide noedels en vrugte, het ons vir ons ‘n fietsriksja gekry, weer ‘n ander soort as in Georgetown, in hierdie geval sit die passasiers rug aan rug op twee sitplekke langs die fiets. Die ryding is so gehawend dat jy met albei hande moet vashou om nie af te val nie. As dit in sy gemoedelike trant die paaie kruis terwyl motors en motorfiets op jou afpeil sak jou hart in jou skoene want daar is niks wat jou beskerm nie. Gelukkig is die voertuie gewoond aan die riksjas en weet hoe om hulle verby te gaan.
Ons eerste taak was om die verdere reis na Bagan met die rivierboot te reël. Dit het ons die hele oggend gevat om na verskeie plekke te ry waar ‘n mens dalk ‘n kaartjie kon kry, niemand het presies geweet hoe werk die rivierboot nie en ons moes maar eers lank die regte plek soek en by die rivieroewer op en af en weer terug stad toe ry. Dit was die lae seisoen en die vinniger toeristeboot wat my pa sou verkies het ry nie nou nie, so moes ons noodgedwonge die inheemse rivierboot vat wat al die volgende dag sou vertrek (wat my goed gepas het, baie meer avontuurlik en outentiek!). Dit het beteken dat ons net ‘n dag in Mandalay gehad het. Reeds met die riksja-soektog na die skip kon ons veel van die stad sien.
Mandalay het ‘n mooiklinkende naam en is in karakter nog meer Burmees as Rangoen en is die sentrum van Boeddhisme. Pagodes, tempels en monnike is selfs nog meer volop as in Rangoen. Die stad self lyk nog armer en meer terug in tyd as Rangoen. Motors is skaars en ligte motorfietse, almal dieselfde goedkoop swart Sjinese maak, oorheers die strate. Ook fietse, riksjas en mense met stootwaens is dikwels te sien.
Die middestad self is niks besonders nie, ‘n argitektoniese mengelmoes van ‘n paar koloniale huise, tempels en kerke, niksseggende betonblokke uit die 60erjare, ellendige palmblaarhutte, kragdrade wat slap oor die pad hang en orals straatstalletjies met kos. Daar is geen werklike sentrale punt nie en die strate is almal in die skaakbord-patroon georden, ‘n nalatenskap van die Britte. Dit het eintlik maar soos ‘n tipiese derdewêreldse stad gelyk. Maar Mandalay is wel ‘n plek wat die lang reis die moeite werd maak en waar die eksotiese naam nie teleur stel nie. Die stad is redelik in die middel van Burma geleë en was die laaste koningstad gewees. Burma het, soos destyds al die lande van die streek (en vandag slegs nog Thailand), ‘n koning gehad en die koningshuis het gedurig van hoofstad verander. Mandalay is eers in 1858 gebou en die rede vir die soveelste verskuiwing van die hoofstad was nie strategies van aard nie, maar astrologies. Die Buddhiste glo sterk aan tekens wat sterre en datums vir hulle gee en die sterrewiggelaars het toe die koning oortuig dat die plek en tyd reg is vir ‘n nuwe hoofstad waar Mandalay vandag staan. Rangoen was die koloniale hoofstad en is reeds in die middel 19de eeu deur die Britte verower, terwyl die noordelike deel met Mandalay as hoofstad sy onafhanklikheid kon behou. Vir die Britte was Indië hulle kosbaarste koloniale besitting en die onafhanklike Burma wat gereeld aanvalle op Indië se Oosgrens uitgevoer het was ‘n gedurige bedreiging en irritasie. Dus het die Britte eers die Suide en later, in die 1880’s, die oorblywende deel van Burma onderwerp, Mandalay verower en die koning ontsetel. Die pragtige koningspaleis, van hout gebou, is tydens die verowering van Mandalay deur soldate in puin gelê.
Die paleis is wel gerekonstrueer en staan in die middel van die ou vierkantige koningstad wat met ‘n muur van 2.2 kilometers aan elke kant en met 4 ingange en ‘n watervoor omgewe is, blykbaar nogal soortgelyk aan Beijing se verbode stad (wat ek nog nie gesien het nie). Slegs met een ingang en een pad mag besoekers na die paleis in die middel van die ou stad gaan, die res van die ou stad is weermaggebied en ‘n mens mag glad nie van die pad afwyk nie of foto’s neem behalwe van die paleis self nie. Die paleis self bestaan uit 8 groot sale met toringdakke waar die koning se amptelike verrigtinge plaasgevind het, asook sowat 50 huise vir sy talle vroue en kinders. Die allesoorheersende kleur is wynrooi, met goud aangevul. Min besoekers was daar, en hulle was almal stil en waardige Oosterlinge, daaronder ‘n hele paar monnike met hulle wynrooi gewade wat uitstekend in die omgewing gepas het. Dit het die atmosfeer van die plek verhoog, en dit het nie veel verbeelding gekos om jou 150 jaar terug te dink nie.
Benewens die ou koningspaleis is Mandalay Hill met sy talle uitstaande pagodes bo op en rondom die ander groot besienswaardigheid. Met ‘n pelgrimspad van bykans 1000 trappe wat by twee gevleuelde leeus as wagters begin en wat jy kaalvoet moet aandurf (want dit is alles heilige grond vir Buddhiste) klim ons toe die heuwel uit. Die hoeveelheid trappe is deur numerologie bepaal: elke trap was vir ‘n jaar sedert die dood van Buddha.
‘n Paar monnike, of gewone gelowiges loop gemoedelik op en af en stop by die talle goue Buddhabeelde en kleiner pagodes om te aanbid. Feitlik elke honderd trappe is daar ‘n beeld of pagode. Maer rondloperhonde en verflenterde katte lê op die klipbanke langs die pad, wat die hele tyd onder ‘n geroeste sinkdakgang loop. Langs die pad word aandenkings of kos verkoop of houtjuwele gemaak, maar die verkopers is nie baie gretig vir besigheid nie, eintlik heel aangenaam as ‘n mens dit met plekke in Arabië vergelyk. Ook hier was ons feitlik die enigste Westerlinge. Na die soveelste goue Buddhabeeld en plekke van aanbidding was ons uiteindelik bo by die hoofpagode. Daar was weer die kenmerkende goue koepel in die middel en een met stukkies van spieëls en blinkende groen teëls ryk versierde wandelgang rondom en ‘n platform met ‘n fantastiese uitsig oor die stad.
Talle foto’s van die diktator Than Shwe, wat wys hoe hy en sy vertrouelinge as gelowige Buddhiste ‘n besoek aan die pagode bring, was in die wandelgang uitgestal. Dit was egter die enigste keer dat ek Than Shwe se beeld in die openbaar gesien het, verder handhaaf die geheimsinnige leier ‘n lae profiel en is feitlik onbekend buite Burma. Sedert April van hierdie jaar is Than Shwe nie meer amptelik die leier van Burma nie, maar het na ‘n omstrede en sterk gemanipuleerde verkiesing die presidentskap aan sy vertroueling Thein Sein oorhandig. Die weermag speel egter nog steeds ‘n groot rol en dit is nog geen demokrasie nie, hoogstens ‘n eerste en versigtige stap in die rigting van demokrasie. In die land self word nie oor hom of oor politiek gepraat nie want mense is bang vir spioene en veral ‘n buitelander wat met hulle praat trek altyd aandag. Alhoewel ek self altyd in ‘n land se politiek geïnteresseerd is het ek my weerhou van enige vrae of opmerkings daaroor teenoor Burmese, om hulle en my nie in die moeilikheid te bring nie.
Nadat ons die naastenby duisend trappe weer afgestap het (daar is ook ‘n hyser, maar ons verkies die harde manier), het ons nog 3 pagodes besigtig wat aan die voet van Mandalay Hill geleë is, die Kyauwtawgyi, Sanda Muni Paya en Khutoda pagodes, almal ‘n klipgooi van mekaar af. Alhoewel elkeen natuurlik op sigself ‘n asemrowende gesig is, is dit ongelukkig soos met kerke in Rome: die blote hoeveelheid maak dat ‘n mens hulle later nie meer kan waardeer soos wat dit moet nie. Nogtans is geen pagode soos die ander een nie. Die Khutodaw pagode huisves “die grootste boek in die wêreld”, maar dit is natuurlik nie ‘n boek in die gewone sin nie. Rondom die eintlike pagode met die goue Buddhabeeld is honderde kleiner wit pagodas, omtrent 6 meter hoog, wat elkeen ‘n kliptafel bevat wat volgeskryf is met die kenmerkende Burmese kringskrif.
Verskeie vroue het om ons aandag meegeding. Vier jong vroue wat, soos meeste jong Burmese vroue onder 30, soos tieners gelyk het, het ons so lang sjarmant-knaend gesmeek om vir hulle “lucky money” te gee tot ons nou maar klokke en halssnoere gekoop het. ‘n Ou en verrimpelde vrou met blou oë wat maar net ‘n bietjie geselskap gesoek het, het vertel van haar oupa wat ‘n Duitser was, wat haar blou oë verklaar. Mense van gemengde afkoms is deesdae egter ‘n rariteit in Burma, anders as in Singapoer, Thailand of Maleisië, want sedert die onafhanklikheid het feitlik alle Britte en ander Westerlinge die land verlaat en die golf ouerige Westerse mans op soek na ‘n jong eksotiese bruid het Burma nog nie bereik nie. Die regerende junta is openlik nasionalisties en teen buitelandse invloed gekant en die feit dat die demokrasie-ikoon Aung San Suu Kyi met ‘n Brit getroud was (wat sy tydens haar studies in Engeland leer ken het en wat intussen aan kanker oorlede is), is altyd teen haar gebruik om haar as ‘n agent van die Weste verdag te maak.
Met ‘n driewiel-taxi het ons ons laat terugvat na die hotel toe, dit was nou al spitstyd en die strate was vol motorfietse. Die aand het ons by ‘n tipiese restaurant geëet, soos dit hoort is ons met ‘n fiets-riksja tot daar gebring. Anders as dikwels in Europese restaurante, waar ‘n mens die kelner moet voorkeer voor hy aan jou aandag gee, het hier omtrent 5 jong seuns rondom ons gestaan en by die kleinste beweging in hulle rigting vir ons nog kos en bier aangedra.
Graag sou ons nog langer in Mandalay wou bly en ook meer van die omgewing sien, maar die rivierboot sou vroeg die volgende oggend vertrek.
by Orania Beweging | Jul 28, 2011 | Nuus |
‘n Paar weke gelede het ek op Johannesburg lughawe saam met ‘n swart man wat ek by die wag in die tou ontmoet het, ‘n koffie gaan drink. Ons het ‘n heel ontspanne en vriendelike gesprek gehad oor ons herkoms, omstandighede, die land se dinge en wat ‘n mens nog so gesels met iemand wat jy nie goed ken nie. Hy was ‘n heel aangename kêrel en ons toevallige ontmoeting het die wagtyd vir ons albei korter gemaak. Daarna het elkeen weer in sy rigting gegaan en ek het nie foto’s van hom en my saam op Facebook geplaas om vir al my vriende te wys watter oopkop en verligte nuwe Suid-Afrikaner ek nou eintlik is nie. Ons kortstondige ontmoeting is eintlik niks noemenswaardig nie, elke mens wat iewers ver van die huis is en tyd wil ombring kom met ander mense in die gesprek en hulle geniet vir ‘n kort oomblik mekaar se geselskap en menslikheid. Miskien moet ek noem dat die swart man van Gaboen was en dus kon ons ‘n ontspanne kuiertjie hê, sonder enige verwagting van sy kant af dat ek verskoning vir my wit wees en my “voorregte” en apartheid moes maak, en sonder enige behoefte aan my kant om ‘n “statement” te maak dat ek ‘n verligte en kleurblinde liberale Suid-Afrikaner is. Juis daarom kon ons onbevange en ontspanne met mekaar gesels, soos wat ek met enige ander buitelander wat my ‘n bietjie meer van sy land kan vertel en wat self meer van Suid-Afrika wil weet, kan doen.
Daardie doodgewone menslike en vooroordeelsvrye omgang met mense van ander volke en rasse, wat vir verligtes die absoluut hoogste ideaal is, is juis in Suid-Afrika besonder moeilik. Nie, soos liberaliste sou beweer, weens ons skuld, die verlede of weens ons rassisme nie, maar juis weens liberaliste se eie verkramptheid. Dit is juis die kamstige kleurblindes en verligtes wat mense nie net as mense kan beoordeel en benader nie, maar wat die hele tyd vir ander wil voorskryf met wie om te assosieer om punte na die hemel van apartheid-sondeverlossing te wen. Naspers se rubrieke is vol van dié tema, waar “verligte” skrywers kla dat by ‘n vakansieoord wittes met wittes kuier en nie ‘n punt maak om ‘n swart familie na hulle braaivleisvure te nooi nie. Dit is juis geen kleurblindheid en vooroordeelsvrye benadering nie as ek teenoor swart mense uitreik net om myself beter te laat voel. Moenie dink dat swart mense nie daardie liberale huigelary agterkom nie!
Die Gaboenees met wie ek gekuier het was net ‘n vriendelike, hoflike en intelligente man met afgeronde maniere met wie ek op gelyke vlak kon gesels. Daar is egter vir my geen sin daarin om ‘n luidrugtige groep swart jeugdiges wat iewers in ‘n park piekniek hou met harde doef-doef musiek na my toe te nooi net om ‘n virtuele skouerklop van die liberale rubriekskrywers te kry nie.
Omdat die verhoudinge tussen die rasse in Suid-Afrika nooit ontspanne en vry van vooroordele was nie, natuurlik ook as gevolg van apartheid, maar deesdae veel meer as gevolg van ooglopend verskillende gedragspatrone en ook juis weens openbare druk om te meng met mense tot wie jy nie aangetrokke voel nie, is dit so moeilik om egte vriendskappe te kry. Hoeveel sogenaamde vriendskappe tussen rasse, wat in die media so opgehemel word, is werklik vriendskappe omdat jy hou van die ander persoon? Is die meeste nie maar gebou op wedersydse voordeel nie, omdat dit my as wit mens in die kringe van die magtiges meer aanvaarbaar maak as ek swart “vriende” het, en omdat ek miskien ‘n SEB-vennoot soek om beter besigheid te kan doen? En hoeveel swart mense is werklik vriende met wit mense omdat hulle hou van die persoon? Gaan dit nie maar net weer oor die bekoring om nou die destydse verhewe base te kan manipuleer en hulle skuldig laat voel? Of die sensasie om iets te doen waarvoor jou ouers gestraf sou geword het?
Daar is puik swart mense in hierdie land met wie ek enige tyd vriende sou kon wees, maar die huidige omstandighede van haat op wittes wat deur die regering aangeblaas word, en van wit selfhaat wat deur die sogenaamde “hoofstroom meningsvormers” geskep word maak dit moeilik. Ek hoef nie ‘n aflaat vir my kamstige sonde te koop deur valse vriendskap met swart mense te soek nie, of om soos liberaliste op hulle partytjies hulle swart “vriende” soos eksotiese diere vir hulle liberale maatjies te vertoon. Soos die grappie dit treffend stel:
Says the white liberal:“Yes, I have many black friends. I just can’t remember their names right now.”
by Orania Beweging | Jul 22, 2011 | Nuus |
Ek lees vandag weer ‘n interessante artikel oor die geweldige toename in die Amish-bevolking van Noord-Amerika en ongelooflike wyse waarop hulle daarin slaag om ten spyte van ‘n vinnig veranderende wêreld hul kultuur en tradisies behou te laat bly. Hoewel Afrikaners ‘n moderne volk is wat nie soos die Amish vernuwing vermy nie, is daar tog talle lesse wat ons by hulle kan leer. Ek dink vinnig aan die volgende:
- Die Amish slaag uitstekend daarin om in 28 Amerikaanse state en in meer as 400 gemeenskappe goed met ander Amerikaners saam te leef hoewel hulle integrasie binne daardie gemeenskappe teenstaan. Die Amish is in elke dorp en gemeenskap waar hulle aangetref word duidelik identifiseerbaar, maar tog ook geliefd. Amerikaanse owerhede vanaf plaaslike tot op federale vlak doen moeite om die Amish se unieke waardes te eerbiedig en hulle word selfs van die Amerikaanse “Social Security” verpligte aftreevoorsiening vrygesteld. Die redes hiervoor is waarskynlik dat die Amish oor en oor bewys het dat waar ookal hulle, hulself bevind hul waarde tot gemeenskappe toevoeg veral deur die dienste en produkte wat hul lewer. Hulle is ook vredeliewende mense wat geen bedryging inhou nie. Die Amish is sekerlik dié groep in die VSA wat vir die minste geweld, korrupsie en watter ander misdaad ookal verantwoordelik is. Hoewel hulle sterk teen integrasie gekant is, isoleer hulle nie hulself nie en is hulle en die gemeenskappe om hulle interafhanklik van mekaar.
- Die Amish het ‘n paar baie eenvoudige, duidelik gedefinieerde waardes wat hul as gemeenskap/groep/volk saambind. Hul geloof, sterk kerkleierskap, baie spesifieke uitkyk op hul rol op aarde en ‘n belangrike fokus op die gesin bind hul as gemeenskap saam. Minstens 85% van Amish bly hul hele lewe deel van die groep, iets waarvoor ons net in Orania kan wens! Een van die konstante uitdagings wat ons het is die vraag oor ons mededingende voordeel. Waarom ‘n Afrikaner in Orania wees eerder as net ‘n Suid-Afrikaner in Johannesburg of Kaapstad of net nog ‘n wêreldburger in Sydney, Londen of New York? Die mededingende voordeel in Orania kan nie goeie werksgeleenthede en veiligheid wees nie. Natuurlik moet ons alles in ons vermoë doen om ons veilige lewensomstandighede te behou en die vooruitsig vir beter werksgeleenthede in ons dorp te realiseer, maar dit alleen kan nie ons samebindende faktor wees nie. Slegs ons kultuur, tradisies, taal en gedeelde geskiedenis kan dit doen. Ons sal dit egter beter moet verpak om ‘n lewe van volheid Afrikanerwees in Orania te verseker.
- ‘n Volk wie se bevolkingsaanwas klein is, se voortbestaan sal altyd bedreig wees. Die Amish se bevolking het gedurende die afgelope 20 jaar verdubbel en groei tans jaarliks met 5%. Dit word slegs meegebring deur die feit dat die Amish groot gesinne het en glad nie deur ‘inkommers’ wat in elk geval baie min voorkom nie. Die Afrikaner sal op die glybaan na uitwissing bly solank as wat ons nie daarin slaag om ons eie mense te behou (emigrasie te verlaag) en die grootte van ons gesinne uit te brei nie. Ten spyte daarvan dat Orania ‘n konstante toename in inwonergetalle het is daar verlede jaar slegs 7 babas in die dorp gebore en mag dit vanjaar selfs minder wees. Daar trek elke week mense Orania toe, maar elke tweede week verlaat daar weer mense ons dorp. Ons bevolkingsaanwas is dus heeltemal te klein en ons slaag glad nie daarin om ons mense te behou nie.
- Die laaste ding wat my oor die Amish opgeval het, is dat hul baie goed regkom sonder sterk oorhoofse leiers. Die Amish is ook nie betrokke in die land, staat of selfs dorpe waar hul woon se regerings nie, maar het suiwer weens hul sterk posisie in gemeenskappe (bevolkingsgetalle, produkte en dienste wat hul bied, ens) tog heelwat mag. Geen groot leier hou die Amish bymekaar nie, maar eerder wel ‘n sterk stel gedeelde waardes. Soos wat die Amish uitbrei gebeur dit gereeld dat ‘n Amish-gesin in ‘n omgewing gaan vestig waar hulle die eerste Amish inwoners is. Dit verhoed hulle egter nie om steeds met presies dieselfde lewensstyl voort te gaan as waar hulle vandaan gekom het nie. Soos wat nog gesinne na die nuwe omgewing verhuis ontstaan ‘n nuwe Amish-gemeenskap wat in ‘n groot mate net soos die baie ander Amish-gemeenskappe lyk. Dit alles is moontlik sonder groot strategiese planne en lang onderhandelings. Alles gebeur omdat elke lid van die Amish weet wat sy doel op aarde is.
Daar kan ‘n seker toekoms vir Afrikaners wees. Daar kan ook ‘n seker toekoms vir Orania wees. Ons sal egter die volgende moet regkry:
- Ons mededingende voordeel in ‘n wêreld met groot materiële trekpleisters duideliker definieer.
- Ons gedeelde waardes en dit waarvoor ons bestaan beter verduidelik.
- Emigrasie drasties verlaag en selfs Afrikaners in die buiteland kry om terug te kom.
- Ons bevolkingsaanwas heelwat verhoog.
Die suksesresep van die Amish mag dalk net die bloudruk vir ‘n seker toekoms vir Afrikaners wees!
by Orania Beweging | Jul 19, 2011 | Nuus |
Deur Sebastiaan Biehl
Dit is altyd ‘n besonderse gebeurtenis wanneer daar ‘n Afrikaanse film verskyn in ‘n omgewing waar Engels die omgangstaal, trouens die enigste taal is wat in die openbaar gepraat (mag) word. ‘n Film is iets wat ‘n groot gehoor bereik en wat ‘n uitdrukking van ‘n volk en ‘n taal se vermoë is om skeppend te wees op vele terreine.
Die afgelope paar jaar het daar darem ‘n paar Afrikaanse films die lig gesien, maar die meeste van hulle was meer onskuldig-skadelose of prettige voel-goed films , soos “Liefling”, “Jakhalsdans” en “Die avonture van Hannah Hoekom”.
“Roepman” kry besonder goeie beoordelings en is inderdaad ‘n film in ‘n ander klas, een wat jou uitdaag, skok, kwaad maak of skaam maak, na gelang van jou politieke standpunt. Dit is verseker nie ‘n film wat jy vergeet nadat jy die bioskoop verlaat het nie, maar een wat ‘n lang en sterk nasmaak het en nog lank in jou gedagtes spook.
“Roepman” bevat ‘n hele paar interessante temas en kon, as die skokelemente aan die einde uitgelaat of versag sou gewees het, ‘n waardevolle film geword het. Daar is tonele wat emosioneel skokkend is, sonder dat te veel grafies gewys word, wat dit ongeskik maak vir sensitiewe kykers.
Die era van Verwoerd, vir die meeste Afrikaners wat daarin geleef het as goue era van Suid-Afrika in herinnering, is die tydperk waarin “Roepman” afspeel en word natuurlik negatief uitgebeeld. Die plek is die mikro-kosmos van ‘n Spoorwegdorpie iewers naby Durban. Timus Rademan, ‘n seun van 11 of 12 jaar, met 2 ouer susters op die drumpel van volwassenheid, ‘n streng en onsimpatieke pa, Abraham, ‘n sagmoedige ma en ‘n ouma wat die positiewe teenpool vir die pa is, is die hoofkarakter. Die ontdekking van die grootmenswêreld en veral die seksuele is een deurlopende tema. Timus is nog onskuldig en verstaan nog nie dit wat hy in sy nuuskierigheid sien, afloer en afluister nie, maar dit dra by tot die vinnige verlies van sy onskuld. Sy vrae oor seksuele dinge word deur die bende jeugdiges met neerbuigende gelag afgemaak en die bendeleier, Hein, laat hom weet dat hy eers “skuim moet piepie” (as teken van rypheid) voor hy vrae oor die grootmenswêreld van die seksuele moet vra.
Deur ‘n truuk met waspoeier wat in die gras weggesteek is, kry Timus dit reg om Hein te oortuig dat hy “skuim kan piepie” en word erelid van die bende en mag saam met hulle na pornografiese tydskrifte kyk.
Ook andersins is tienerseksualiteit en verhoudings ‘n deurlopende tema, asook die onderdrukking daarvan deur die gesagspersone, soos die pa Abraham en indirek die kerk. Abraham hou sy dogters aan kort leisels: Rykie mag nie op haar halfgebakte kêrel se motorfiets saamry nie en op haar 21ste verjaardag dans nie. Erika, die meer volwasse en terughoudende een, word verbied om met haar andersins ongeskonde en verantwoordelike ou, Salmon, te trou omdat hy ‘n Ou Apostel is. Dit lei na die ander tema, wat telkens by “white guilt” skrywers en kunstenaars in Suid-Afrika voorop staan: die onderdrukkende apartheid-tyd, waar die Broederbond, die NG Kerk en die NP nie net die swartmense nie, maar ook die wit vroue en kinders onderdruk het.
Die “Roepman”, Joon, na wie die film vernoem is, is vir Timus en ander hulpbehoewendes ‘n soort Engel wat op die regte tyd opdaag en klein wonders verrig, mense troos of beskerm, terwyl die jeugbende en ook Abraham hom spot omdat hy skeel is en die laagste moontlike werk van Roepman (wat die ander werkers moet wakker klop) doen.
Abraham se buurman, Harry Gouws, is ‘n swak karakter wat aan drank verslaaf is en toelaat dat sy dogter Melinda met kort rokkies vir almal in die straat ogies maak en later swanger raak van Zane, die rampokker van Durban wat met sy windmakerige rooi oopdakmotor af en toe sy verskyning maak om sy aanspraak op Melinda te bevestig en om die ander jeugdiges te beïndruk. Mev Gouws is ‘n senuweewrak en probeer op ‘n stadium selfmoord pleeg na huismoles met haar man, wat Abraham en die predikant onbeholpe probeer keer, tot die “Roepman” sy verskyning maak en haar sonder veel woorde oortuig om die rewolwer aan hom te oorhandig. In die liberale logika is Harry egter ‘n beter mens as Abraham, want hy is “menslik” en koop darem af en toe vir sy vrou blomme, terwyl Abraham met die Bybel onder die arm loop en sy kinders van hom vervreem deur oormatige strengheid.
Die landspolitiek is nie die oorhoofse tema nie maar word aangeraak en staan in die agtergrond. Dr Verwoerd se foto staan prominent in Abraham se sitkamer en die Zulu-bediende hou spottende tweespraak met die foto terwyl sy dit skoonmaak. Timus se gesin hanteer die bediende ordentlik en ma en dogters speel met haar baba en is vriendelik teenoor haar en haar man wat af en toe kom kuier, maar Abraham is gepla oor die implikasies van ‘n swart gesin in sy agterplaas. Toe Hein van “kaffers en koelies” praat openbaar hy hom as “Nat”, want “Sappe” soos Timus se ma praat van “Bantoes en Indiërs”.
So vêr sou die film ‘n goeie milieustudie gewees het wat die opset van ‘n Spoorwegdorpie met sy armblanke inwoners in die sestigerjare en die gewone klein dramas in gesinne en tussen bure uitbeeld. Dinge word egter later moeilik om te verteer en die kyker word blootgestel aan ‘n reeks afskuwelike dade. Erika probeer haar tydens die erediens aan die kerkklok se tou ophang omdat haar pa Salmon afgekeur het. Timus word tydens ‘n pornografiekyk-sessie deur Hein gemolesteer en hardloop huilend in sy ma se arms, op die oomblik toe die nuus van die moord op dr Verwoerd bekend word en almal dink sy trane is as gevolg daarvan. Net die Roepman Joon, wat in daardie nare oomblik vêr was nie tot Timus se redding gekom het nie, het ‘n gewillige oor om die skoknuus van die molestering aan te hoor. Hy lei tydelik die aandag van die somber toedrag van sake in die hele gemeenskap af deur met sy voet ‘n ondergrondse pyp stukkend te kap en ‘n spuitfontein te laat uitborrel, wat meeste inwoners van die straat in ‘n kort vreugdefees rondom die spuitende water laat verenig, terwyl die twee kwajongens Zane en Hein neerhalend toekyk.
Joon self kom tot ‘n verskriklike einde toe Hein en Zane hom, omdat hy met Melinda deurmekaar was en Zane wil weet of hy die pa van haar kind is, tussen twee treintrokke vashou tot hy doodgedruk word. Timus aanskou alles vanaf ‘n boomskuiling maar kom te laat tot die Roepman se hulp. Toe hy uitasem aan sy pa vertel wat gebeur het, kry hy ‘n pakslae omdat Abraham dit vir ‘n versinsel aansien.
In die ou einde bly net gebroke mense oor, selfs die ouma, altyd grappig en vol begrip, is verlam. En die boodskap: dit is apartheid se skuld, want die stelsel het mense soos Abraham, Hein en Zane gemaak wat wreed, brutaal en harteloos is. Dit is een van die linkses se kernoortuigings: mense is nie sleg nie, hulle word net deur slegte omstandighede en stelsels tot monsters gemaak en vernietig die goeies.
In tye waar die Afrikaner in ‘n oorlewingstryd is, behoort versagtende omstandighede te geld en ook kunstenaars behoort hulle Afrikaner-selfhaat eers opsy te laat staan. Die krag en die goeie regiewerk van ‘n film soos Roepman kon gebruik gewees het vir ‘n ander boodskap. Ons het nie nou dermuitrygfilms en -boeke oor die apartheidverlede nodig nie, eerder films en boeke wat ons huidige benarde situasie en die wandade wat tans teen ons gepleeg word, behandel.
by Orania Beweging | Jul 19, 2011 | Nuus |
Deur Sebastiaan Biehl
Waaroor gaan Orania? Mag swartmense ook daar bly? Hoekom wil julle julleself isoleer? Wie is ‘n Afrikaner? Hoekom kan jy jou Afrikanerskap nie ook in ‘n gemengde Suid-Afrika uitleef nie? Skop julle nie teen die prikkels nie? Is dit die opoffering werd? Gaan dit nie maar daaroor om net tussen wittes en veilig te wees nie? Hoekom kan julle nie met swartmense saamleef en ‘n beter land vir almal help opbou nie?
Al die soort vrae word gedurig van mede-Afrikaners, buitelanders, joernaliste en wie ook al aan Oraniërs gevra en dan dobber ons heen en weer om net eers vooroordele uit die weg te ruim en dan praat ons oor die verskil tussen die rasse, hoe erg dit buite gaan, oor misdaad, hoe Suid-Afrika na die afgrond toe beweeg, wat in Zimbabwe gebeur en ons voorland is, ens.
Ander weer sal lang filosofiese relase skryf wat natuurlik nodig is, maar wat net ‘n intellektuele minderheid verstaan en wat vriend en vyand verwar ( wat wel ‘n goeie taktiek is as dit by die vyand kom).
‘n Strewe, ‘n idee, moet in ‘n paar eenvoudige woorde gegiet kan word wat dit alles opsom en wat dan filosofies en ideologies uitgebou, verduidelik en beredeneer kan word.
Ons sê gereeld waaroor Orania nie gaan nie: nie oor rassisme nie, nie oor isolasie nie, nie oor gekose agterlikheid en vyandigheid teenoor ander kulture nie.
Ook nie net oor veiligheid, werk, ‘n skoon natuur en ‘n rustige lewe nie, dit is bysake wat ‘n mens elders ook kan kry.
Volgens my kan die strewe van Orania in drie kernbeginsels opgesom word: Vryheid, volkseie arbeid en Christenskap.
Vryheid beteken dat ons as volk ons self wil regeer, tot op die hoogste vlak soos wat dit toepaslik raak. Tans is ons ‘n dorp en is tevrede met plaaslike selfbestuur, want ons het nie die kapasiteit vir meer nie, maar ons wil ook nie minder aanvaar nie, want ons plaaslike bestuur werk en gee ons gerustheid dat ons vir onsself kan sorg. Dit mag egter nie die einddoel wees nie. Soos ons groei moet ons streef na streeksoutonomie en uiteindelik onafhanklikheid.
Vryheid gaan oor elke aspek van jou lewe: die reg om jou eie taal in die openbaar te praat, om deur mense bedien te word wat jou mense is, om veilig en rustig tussen jou mense te bly, om regters en leiers oor jou te hê wie jy kan vertrou om jou sake te hanteer en om billik teenoor jou as Afrikaner op te tree. Vryheid is tasbaar, maar dit is ook simbolies: die Vryheid tot die uitlewing van jou kultuur en die vertoon en eer van jou simbole, nie net in die binnekamer nie, maar juis in die openbaar, en sonder dat dit aan mense aanstoot gee, want die mense saam met wie jy die Vryheid deel, voel ewe sterk daaroor. Vryheidsimbole is jou eie vlag, jou eie geldeenheid, jou eie volkslied, jou eie museums, volksfeeste en vakansiedae.
Volkseie arbeid dek die aspek van die ekonomie. Dit is ten nouste verbind met Vryheid. Vele Afrikanerorganisasies in Suid-Afrika praat oor Vryheid, maar min pas volkseie arbeid konsekwent toe. Die waarde daarvan kan nie hoog genoeg geag word nie. Sonder volkseie arbeid gaan geen meerderheidsbesetting plaasvind nie en gaan ons vir ewig ‘n koloniale volk bly: ‘n volk wat eintlik nie ‘n volk is nie, maar ‘n klas wat altyd in die minderheid is en wat met sy geld ander mense opbou en self nie in staat is om selfs eenvoudige werk te doen nie. Geen Eerste Wêreldse samelewing kan ontstaan as ‘n volk nie in staat is om alles self te doen nie. As ‘n land ontwikkel is, kan ‘n mens sekere take uitkontrakteer aan die wat beter of goedkoper is, maar eers as jy reeds gevestig is. Selfs dan is dit nie ‘n wenslike pad nie.
Danksy die vereiste vir volkseie arbeid het ons weer begin om ambagsvaardighede in Orania te ontwikkel. Geen samelewing wat iets wil beteken kan sonder sy middellaag van tegnici en ambagsman bestaan nie. Veral in die opboufase is mense soos bouers, elektrisiëns, loodgieters en werktuigkundiges belangrik. Die Duitse ekonomie, een van die sterkste in die wêreld, is nie gebou op lae lone nie, en nog minder op die uitvoer van grondstowwe nie, maar op goeie produkte deur goeie vakmanskap. Die volkseie arbeid beginsel moet konsekwent toegepas word as ons Vryheid meer as net teorie en drome moet wees. Die spesifieke werker op grondvlak mag dalk nie besef dat hy ‘n bydrae tot Vryheid lewer nie, maar die waarde daarvan moet die samelewing besef en daarom so iemand op die hande dra.
Volkseie arbeid kan natuurlik verder gevat word en volkseie denke insluit, want kenniswerk is ook werk. As ‘n volk afhanklik raak van vreemde ideologieë, soos ons tans afhanklik raak van die ideologie van liberale individualistiese verbruikersgewoontes, sal sy vryheidsgees daarmee saam verdwyn.
Laastens, maar nie die minste nie, is Christenskap ons derde kernbeginsel waarop Orania en die volkstaatstrewe gebou is. Die Afrikanervolk verloor sy fondasie as dit van die Christelike lewens- en wêreldbeskouing afstand doen. Trouens, sonder ons Christelike ingesteldheid verloor Afrikanerskap sy betekenis, sy inhoud en sy glans. Waarvoor sal ons al die opofferings doen, as ons nie ‘n Christelike samelewing (met al sy menslike beperkinge) tot stand wil bring nie, maar net die duiwel in Afrikaans wil dien? ‘n Gesonde gesinslewe, eerlike besigheid, wedersydse vertroue, die versorging van hulpbehoewendes en die vreedsame saamleef met jou naaste is bykans ondenkbaar sonder ons Christelike tradisie.
Christenskap gaan verder as slegs ‘n morele leefwyse, maar die morele onderbou van so ‘n samelewing is die fondasie waarop die kerk sy reddingstaak kan doen en waarbinne mense tot bekering geroep kan word. Dit is wel nie die rol van die gemeenskap as geheel om die kerk se werk te doen nie, hulle moet net die onderbou verskaf en instand hou, en die individuele Christene, predikante sowel as leke, het die taak om die Bybelse boodskap uit te dra.
Al die dinge wat ons tans so oor kerm en wat verkeerd is in die ANC-Suid-Afrika het te doen met die uithaal van God uit die grondwet en die wegbeweeg van Christelik gebaseerde wette en gebruike na sekulêre en selfs heidense wette en gebruike. Natuurlik moet ons waak teen fanatisme, ons wil ‘n Christelike samelewing bou, maar nie een wat deur een denominasie of erger nog, een sekte met hulle eng en eensydige vertolking van die Bybel beheer word nie. Die oorgrote meerderheid Afrikaners is Christene, en ‘n aansienlike deel daarvan selfs Christene wat hulle godsdiens leef. As ons erkenning aan God gee en dit konsekwent uitleef, van burgemeester tot handwerker, sal Orania en sy strewe geseën word.
Vryheid! Volkseie Arbeid! Christenskap!
Nuutste Opmerkings