Ek lees vandag weer ‘n interessante artikel oor die geweldige toename in die Amish-bevolking van Noord-Amerika en ongelooflike wyse waarop hulle daarin slaag om ten spyte van ‘n vinnig veranderende wêreld hul kultuur en tradisies behou te laat bly. Hoewel Afrikaners ‘n moderne volk is wat nie soos die Amish vernuwing vermy nie, is daar tog talle lesse wat ons by hulle kan leer. Ek dink vinnig aan die volgende:

 

  • Die Amish slaag uitstekend daarin om in 28 Amerikaanse state en in meer as 400 gemeenskappe goed met ander Amerikaners saam te leef hoewel hulle integrasie binne daardie gemeenskappe teenstaan. Die Amish is in elke dorp en gemeenskap waar hulle aangetref word duidelik identifiseerbaar, maar tog ook geliefd. Amerikaanse owerhede vanaf plaaslike tot op federale vlak doen moeite om die Amish se unieke waardes te eerbiedig en hulle word selfs van die Amerikaanse “Social Security” verpligte aftreevoorsiening vrygesteld. Die redes hiervoor is waarskynlik dat die Amish oor en oor bewys het dat waar ookal hulle, hulself bevind hul waarde tot gemeenskappe toevoeg veral deur die dienste en produkte wat hul lewer. Hulle is ook vredeliewende mense wat geen bedryging inhou nie. Die Amish is sekerlik dié groep in die VSA wat vir die minste geweld, korrupsie en watter ander misdaad ookal verantwoordelik is. Hoewel hulle sterk teen integrasie gekant is, isoleer hulle nie hulself nie en is hulle en die gemeenskappe om hulle interafhanklik van mekaar.
  • Die Amish het ‘n paar baie eenvoudige, duidelik gedefinieerde waardes wat hul as gemeenskap/groep/volk saambind. Hul geloof, sterk kerkleierskap, baie spesifieke uitkyk op hul rol op aarde en ‘n belangrike fokus op die gesin bind hul as gemeenskap saam. Minstens 85% van Amish bly hul hele lewe deel van die groep, iets waarvoor ons net in Orania kan wens! Een van die konstante uitdagings wat ons het is die vraag oor ons mededingende voordeel. Waarom ‘n Afrikaner in Orania wees eerder as net ‘n Suid-Afrikaner in Johannesburg of Kaapstad of net nog ‘n wêreldburger in Sydney, Londen of New York? Die mededingende voordeel in Orania kan nie goeie werksgeleenthede en veiligheid wees nie. Natuurlik moet ons alles in ons vermoë doen om ons veilige lewensomstandighede te behou en die vooruitsig vir beter werksgeleenthede in ons dorp te realiseer, maar dit alleen kan nie ons samebindende faktor wees nie. Slegs ons kultuur, tradisies, taal en gedeelde geskiedenis kan dit doen. Ons sal dit egter beter moet verpak om ‘n lewe van volheid Afrikanerwees in Orania te verseker.
  • ‘n Volk wie se bevolkingsaanwas klein is, se voortbestaan sal altyd bedreig wees. Die Amish se bevolking het gedurende die afgelope 20 jaar verdubbel en groei tans jaarliks met 5%. Dit word slegs meegebring deur die feit dat die Amish groot gesinne het en glad nie deur ‘inkommers’ wat in elk geval baie min voorkom nie. Die Afrikaner sal op die glybaan na uitwissing bly solank as wat ons nie daarin slaag om ons eie mense te behou (emigrasie te verlaag) en die grootte van ons gesinne uit te brei nie.  Ten spyte daarvan dat Orania ‘n konstante toename in inwonergetalle het is daar verlede jaar slegs 7 babas in die dorp gebore en mag dit vanjaar selfs minder wees. Daar trek elke week mense Orania toe, maar elke tweede week verlaat daar weer mense ons dorp. Ons bevolkingsaanwas is dus heeltemal te klein en ons slaag glad nie daarin om ons mense te behou nie.
  • Die laaste ding wat my oor die Amish opgeval het, is dat hul baie goed regkom sonder sterk oorhoofse leiers. Die Amish is ook nie betrokke in die land, staat of selfs dorpe waar hul woon se regerings nie, maar het suiwer weens hul sterk posisie in gemeenskappe (bevolkingsgetalle, produkte en dienste wat hul bied, ens) tog heelwat mag. Geen groot leier hou die Amish bymekaar nie, maar eerder wel ‘n sterk stel gedeelde waardes. Soos wat die Amish uitbrei gebeur dit gereeld dat ‘n Amish-gesin in ‘n omgewing gaan vestig waar hulle die eerste Amish inwoners is. Dit verhoed hulle egter nie om steeds met presies dieselfde lewensstyl voort te gaan as waar hulle vandaan gekom het nie. Soos wat nog gesinne na die nuwe omgewing verhuis ontstaan ‘n nuwe Amish-gemeenskap wat in ‘n groot mate net soos die baie ander Amish-gemeenskappe lyk. Dit alles is moontlik sonder groot strategiese planne en lang onderhandelings. Alles gebeur omdat elke lid van die Amish weet wat sy doel op aarde is.

Daar kan ‘n seker toekoms vir Afrikaners wees. Daar kan ook ‘n seker toekoms vir Orania wees. Ons sal egter die volgende moet regkry:

  • Ons mededingende voordeel in ‘n wêreld met groot materiële trekpleisters duideliker definieer.
  • Ons gedeelde waardes en dit waarvoor ons bestaan beter verduidelik.
  • Emigrasie drasties verlaag en selfs Afrikaners in die buiteland kry om terug te kom.
  • Ons bevolkingsaanwas heelwat verhoog.

Die suksesresep van die Amish mag dalk net die bloudruk vir ‘n seker toekoms vir Afrikaners wees!

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel