‘n Paar weke gelede het ek op Johannesburg lughawe saam met ‘n swart man wat ek by die wag in die tou ontmoet het, ‘n koffie gaan drink. Ons het ‘n heel ontspanne en vriendelike gesprek gehad oor ons herkoms, omstandighede, die land se dinge en wat ‘n mens nog so gesels met iemand wat jy nie goed ken nie. Hy was ‘n heel aangename kêrel en ons toevallige ontmoeting het die wagtyd vir ons albei korter gemaak. Daarna het elkeen weer in sy rigting gegaan en ek het nie foto’s van hom en my saam op Facebook geplaas om vir al my vriende te wys watter oopkop en verligte nuwe Suid-Afrikaner ek nou eintlik is nie. Ons kortstondige ontmoeting is eintlik niks noemenswaardig nie, elke mens wat iewers ver van die huis is en tyd wil ombring kom met ander mense in die gesprek en hulle geniet vir ‘n kort oomblik mekaar se geselskap en menslikheid. Miskien moet ek noem dat die swart man van Gaboen was en dus kon ons ‘n ontspanne kuiertjie hê, sonder enige verwagting van sy kant af dat ek verskoning vir my wit wees en my “voorregte” en apartheid moes maak, en sonder enige behoefte aan my kant om ‘n “statement”  te maak dat  ek ‘n verligte en kleurblinde liberale Suid-Afrikaner is. Juis daarom kon ons onbevange en ontspanne met mekaar gesels, soos wat ek met enige ander buitelander wat my ‘n bietjie meer van sy land kan vertel en wat self meer van Suid-Afrika wil weet, kan doen.
Daardie doodgewone menslike en vooroordeelsvrye omgang met mense van ander volke en rasse, wat vir verligtes die absoluut hoogste ideaal is, is juis in Suid-Afrika besonder moeilik. Nie, soos liberaliste sou beweer, weens ons skuld, die verlede of weens ons rassisme nie, maar juis weens liberaliste se eie verkramptheid. Dit is juis die kamstige kleurblindes en verligtes wat mense nie net as mense kan beoordeel en benader nie, maar wat die hele tyd vir ander wil voorskryf met wie om te assosieer om punte na die hemel van apartheid-sondeverlossing te wen. Naspers se rubrieke is vol van dié tema, waar “verligte” skrywers kla dat by ‘n vakansieoord wittes met wittes kuier en nie ‘n punt maak om ‘n swart familie na hulle braaivleisvure te nooi nie. Dit is juis geen kleurblindheid en vooroordeelsvrye benadering nie as ek teenoor swart mense uitreik net om myself beter te laat voel. Moenie dink dat swart mense nie daardie liberale huigelary agterkom nie!
Die Gaboenees met wie ek gekuier het was net ‘n vriendelike, hoflike en intelligente man met afgeronde maniere met wie ek op gelyke vlak kon gesels. Daar is egter vir my geen sin daarin om ‘n luidrugtige groep swart jeugdiges wat iewers in ‘n park piekniek hou met harde doef-doef musiek na my toe te nooi net om ‘n virtuele skouerklop van die liberale rubriekskrywers te kry nie.
Omdat die verhoudinge tussen die rasse in Suid-Afrika nooit ontspanne en vry van vooroordele was nie, natuurlik ook as gevolg van apartheid, maar deesdae veel meer as gevolg van ooglopend verskillende gedragspatrone en ook juis weens openbare druk om te meng met mense tot wie jy nie aangetrokke voel nie, is dit so moeilik om egte vriendskappe te kry. Hoeveel sogenaamde vriendskappe tussen rasse, wat in die media so opgehemel word, is werklik vriendskappe omdat jy hou van die ander persoon? Is die meeste nie maar gebou op wedersydse voordeel nie, omdat dit my as wit mens in die kringe van die magtiges meer aanvaarbaar maak as ek swart “vriende” het, en omdat ek miskien ‘n SEB-vennoot soek om beter besigheid te kan doen? En hoeveel swart mense is werklik vriende met wit mense omdat hulle hou van die persoon? Gaan dit nie maar net weer oor die bekoring om nou die destydse verhewe base te kan manipuleer en hulle skuldig laat voel? Of die sensasie om iets te doen waarvoor jou ouers gestraf sou geword het?
Daar is puik swart mense in hierdie land met wie ek enige tyd vriende sou kon wees, maar die huidige omstandighede van haat op wittes wat deur die regering aangeblaas word, en van wit selfhaat wat deur die sogenaamde “hoofstroom meningsvormers” geskep word maak dit moeilik. Ek hoef nie ‘n aflaat vir my kamstige sonde te koop deur valse vriendskap met swart mense te soek nie, of om soos liberaliste op hulle partytjies hulle swart “vriende” soos eksotiese diere vir hulle liberale maatjies te vertoon. Soos die grappie dit treffend stel:
Says the white liberal:“Yes, I have many black friends. I just can’t remember their names right now.”