by Orania Beweging | Okt 26, 2012 | Nuus |
Selfbeskikking – die reg om inspraak te hê in die besluite wat jou raak – spruit voort uit die beginsels van die klassieke liberalisme.
Dit is egter nie die enigste reg wat daaruit gebore is nie. ‘n Ander, meer kontroversiële reg – wat beskryf word as die reg van ‘n vrou om oor haar eie liggaam te besluit – is weereens ‘n belangrike debatteringspunt in die huidige presidensiële verkiesingsveldtog in die VSA. Dit is die reg op aborsie. In die afgelope paar dae het ‘n Amerikaanse senaatskandidaat groot kritiek ontlok deur sy stelling dat ‘n swangerskap na ‘n verkragting, die wil van God moet wees (seker in ag genome dat baie voornemende ouers sukkel om swanger te raak).
Ook in Suid-Afrika is aborsie wettig. Daar is egter ‘n interessante teoretiese vraag te vra of Afrikaners wat die vermoë het om wette soos hierdie te skryf of te wysig, ook hierdie “vryheid” sal toelaat?
Tydens die korstondige Afrikanerbewind van die vorige eeu was aborsies onwettig, buiten in baie rare gevalle soos waar die moeder se lewe in gevaar gestel is deur komplikasies. So was dobbel ook onwettig.
Tog het tye verander en word die dobbelbedryf in Suid-Afrika in baie gevalle deur Afrikaners ondersteun. So is daar waarskynlik ook baie Afrikaners wat al aborsies gehad het.
In baie gevalle word diegene wat teen aborsie kapsie maak as “ekstremiste” en “fundamentaliste” voorgehou, waar hulle soos in die VSA vergelyk word met voorstaanders van Sharia wetgewing soos deur die Koran voorgeskryf.
Die Christelike posisie ís duidelik en daarom so vatbaar vir die etikette van “ekstremis” of “fundamentalis”. In hierdie bydrae wil ek nie terugval op my Christelike oortuigings en geloof nie, maar eerder my argument vanuit die sekulêre hoek voer. Daarmee voer ek egter nie aan dat die sekulêre wêreldbeskouing altyd die toonaangewende een moet wees nie.
Ek is ‘n voorstaander van vryheid. So is ek ook ‘n voorstaander van verantwoordelikheid en regverdigheid. Ek beskou hierdie as deugde en wil my argumente daarop bou.
As voorstaander van vryheid, glo ek dat elkeen wat ‘n belang by ‘n saak het, die geleentheid moet hê om inspraak te lewer in ‘n besluit wat hom of haar ten nouste raak. Daarom glo ek in selfbeskikking vir minderhede, ook die Afrikaner.
Vroue het die reg om oor hul liggame te besluit. Hulle kan besluit met wie en wanneer hulle intiem wil verkeer en niemand mag ooit daardie reg van hulle vervreem nie.
Die besluit oor ‘n aborsie is egter ‘n eensydige besluit waarby die grootste enkele belanghebbene –die ongebore kind – geen inspraak het nie. ‘n Besluit vir ‘n aborsie raak dus nie net die liggaam van die vrou nie, maar veral ook die liggaam van die ongebore kind.
Daar is sekere gevalle, soos verkragting, wat ‘n grys area bied. Die vraag is egter of dit regverdig is om te verwag dat die ongebore kind die grootste prys vir die afgryslike sonde van sy of haar vader moet betaal?
Ek is vir selfbeskikking – die reg om self te besluit – maar by aborsie het die ongebore kind nie ‘n keuse nie. Daarom kan ek nie ten gunste daarvan wees nie.
Volksmoord word deur die plegers daarvan geregverdig deur die ontmensliking van hul slagoffers. Volgens die VSA se grondwet het alle mense die reg tot lewe. Tog word aborsie geregverdig omdat die ongebore baba nie aan die definisie van ‘n mens voldoen nie. Die vraag is hoe dit nie op ontmensliking neerkom nie? Hoe kan lewe met menslike gene, wat uit mense voortgebring word, dan anders as mens wees? Is hierdie ‘n saak van gerief of ‘n saak van beginsel?
Wat behoort dan te gebeur? In gevalle van ongewenste kinders – en ons kan nie so naïef wees om te dink dat daar nie baie sulke gevalle is nie – moet ‘n gemeenskap wat omgee, vir die swakkes en weerloses intree. Aannemingsprogramme bring baie vreugde vir beide nuwe ouers en kinders.
Dit bring my by my volgende vraag, of die verantwoordelikheid vir – en gevolge van – ‘n aborsie slegs op die skouers van die swanger vrou geplaas kan word? Kan ons nou, soos Farriseërs, ‘n veroordelende vinger wys na diegene wat hulleself deur hierdie proses, wat dikwels traumaties is, sit?
Is ons gemeenskappe – en daarby word elkeen van ons ingesluit – nie medepligtig daarin dat ons ongewenste moeders aanmoedig om die maklike uitweg te kies nie? Moet ons nie daarvoor verantwoordelik gehou word dat die klad van ‘n aborsie makliker weggesteek word (en dus meer aanvaarbaar is) as die klad van ‘n ongewenste kind nie? Is dit ‘n teken van omgee, dat ongewenste kinders ‘n klad is?
Doen ons as Afrikaners genoeg om ons swanger tieners en ongehude moeders te ondersteun sonder verwyt, sodat hulle ook geborge en veilig voel? Is ons gemeenskappe bereid om finansieël op te offer vir sulke kinders? Die karakter van ‘n volk word gemeet aan hoe hy sy swakkes, weerloses en die sonder status behandel.
Die bou van die Nerina woonstelle, wat ook huisvesting vir enkelmoeders bied, is ‘n stap in dieregte rigting deur Orania en die ondersteuners van die Helpsaamfonds.
Hierdie debat is beslis nie ‘n eenvoudige een nie, maar vir die behoud van ons kinders hoop ek dat dit nie ‘n afgehandelde een is nie.
by Orania Beweging | Okt 5, 2012 | Nuus |
In te veel gevalle word lokalisme gepredik omdat dit goed klink, maar globalisme geleef omdat dit op die korttermyn geriefliker en makliker is en ook aan mense se behoefte van “eerste wêreld standaarde” voldoen. Die belofte van globalisering is dat jy enige produk ter eniger tyd op enige plek kan kry en dit is opvallend in watter mate daardie verslawing aan die belofte maak dat mense nie kans sien om in Orania, of enige plattelandse gemeenskap, te woon nie.
Vir die boere, veral die kleiner boere en die privaat winkeleienaars beteken globalisering in praktyk groot nadele. Groot maatskappye koop massas produkte soos voedsel aan en kan die prys bepaal, wat dit vir klein produsente, met hulle ietwat duurder produksiekoste per eenheid, amper nie meer die moeite werd maak om kos te produseer nie. Die groot maatskappye met hulle verspreidingsnetwerk kan die hele proses beheer. ‘n Soort perverse logika volg wat ook aansienlike omgewingsbesoedeling meebring.
In praktyk beteken dit dat ‘n boer sy produkte weens die feitlike monopolie van groot aankopers soos landswye supermarkgroepe besonder goedkoop moet verkoop en min wins maak. Die groter boere koop die kleiner boere uit en produseer in monokulture wat aangewese is op volksvreemde arbeid en energie-intensiewe masjiene. Die produkte wat deur die maatskappye plaaslik aangekoop word, word na die groot stede se sentrale markte vervoer en dan weer deur die landswye kettingwinkels verpak en na hulle filiale landswyd versprei. Die boer koop dan sy eie produkte by ‘n kettingwinkel duurder terug, nadat dit eers honderde kilometers afgelê het van sy plaas na die stedelike mark en dan weer terug na die naaste dorp se supermark. Geen waarde is toegevoeg behalwe verpakking en die kenteken van ‘n groot supermark nie. In die proses is wel groot hoeveelhede uitlaatgasse geproduseer om die produk heen en weer te ry. Kopers laat hulle flous deur die kamstige kwaliteit van die produk in sy mooi verpakking (addisionele besoedeling), terwyl hulle dit eerder direk by die boer moes gekoop het.
Die huidige staking in die vervoerbedryf wys ons egter hoe broos daardie blink kant van globalisering is. Dorpe en stede staar ‘n tekort aan voedsel in die gesig omdat die verspreidingsnetwerk lamgelê is. Veral stede is al so afhanklik van supermarkte dat ‘n langdurige staking selfs hongersnood in dele tot gevolg kan hê.
In Orania, waar ons eintlik alles tot ons beskikking het om in talle opsigte outark te wees, is ons ongelukkig nog afhanklik van dieselfde logika. Hier is oorgenoeg landbougrond en water, maar by verre die meeste kos wat geproduseer word, word uitgevoer en noodsaaklike voedsel soos groente word net op baie beperkte skaal geproduseer (alhoewel groenteverbouing tans in beplanning is) en die supermarkte koop hulle voedsel veral by stedelike markte, pleks om dit plaaslik te soek en sodoende geleenthede vir groenteverbouing te skep. In ‘n klein mate word dit wel deur die weeklikse aandmark ondervang. Vorentoe moet daar wel ‘n behoorlike boeremark wees, waar slegs plaaslik vervaardigde produkte verkoop word.
Met tyd, en met die regte leiding, sal dinge wel in plek kom. Kursusse om mense op te lei hoe om groente te plant moet aangebied word. Grond wat onbenut lê moet verhuur word vir groenteverbouing. Winkels moet voorkeur gee aan plaaslike produkte en inwoners moet Orania-produkte eerder as produkte van elders wil koop. Daar is nog heelwat werk wat gedoen moet word, sodat ons in tye van nood selfstandig kan funksioneer.
by Orania Beweging | Okt 2, 2012 | Nuus |
G.P.D. Terblanche van Bloemfontein skryf heel tereg in Volksblad (27/09) dat Afrikaner-geesdrif kwyn en dat die oplossing in die ondersteuning van Afrikanerorganisasies lê.
Sedert die politieke verandering in 1994 het die behoud en beskerming van Afrikanerskap van ’n openbare na ’n private poging oorgeslaan.
Talle organisasies kon sonder regeringsteun hul aktiwiteite volhou nie. Ander kon nie tred hou met die veranderinge wat nie net Suid-Afrika nie, maar ook Afrikaners as groep, ondergaan het nie. Dit is dus nie verrassend nie dat dit hoofsaaklik ’n nuwe generasie Afrikaner-organisasies is wat vandag wel groei en vooruitgaan. Om in 2012 met die werkwyse en idees van selfs net 10 of 15 jaar gelede te probeer om ’n verskil aan die Afrikaner se lot te maak is bykans onmoontlik.
Dit is ook die rede waarom die Orania-beweging se ledetal die afgelope 10 jaar met byna 400% gestyg het.
Soos ander nuwegenerasie-organisasies probeer ons nie om iets uit die verlede in stand te hou nie, maar om die veranderinge wat Afrikaners op ekonomiese, politieke, demografiese en talle ander terreine beleef het te verreken.
In praktyk verskil die twee sieninge tussen ou- en nuwegenerasie-organisasies vir Afrikaners daarin dat die een die status quo wil behou, terwyl die ander die Afrikaner se kultuur, taal, geskiedenis, tradisies en reg op ’n veilige leefruimte op nuwe, internasionaal aanvaarbare maniere wil beskerm en uitbou.
Een organisasie sal veg vir die behoud van ’n Afrikanermonument in ’n gebied waar byna geen Afrikaners meer woon nie, terwyl ’n ander sal probeer om so ’n monument na ’n nuwe leefruimte soos Orania te verskuif waar dit bewaar en gewaardeer kan word.
Ons sal waarskynlik in die volgende paar jaar toenemend aanskou hoe Afrikaners hulle aan organisasies met nuwe, vars voorstelle sal verbind, terwyl die hartseerverval van die ou, gevestigde orde van Afrikanerorganisasies net sal versnel.
Jaco Kleynhans
Orania
by Orania Beweging | Okt 1, 2012 | Nuus |
Die volgende artikel verskyn in die nuutste uitgawe van Voorgrond:
1. Vryheidstrewe sonder konflik
Vir die Orania Beweging is vryheid vir die Afrikaner in ‘n eie grondgebied die uiteindelike doel. Vir ons is vryheid primêr om oor onsself te regeer, onsself ekonomies te handhaaf en om ‘n gebied volgens ons oortuigings, geloof, taal en politieke denke in te rig en te bestuur. Vryheid is vir ons nie uitsluitlik nie. Dit mag dus nie ten koste van ander mense en volke se vryheid wees nie.
Ons glo daaraan dat Suid-Afrika groot genoeg is om aan alle groepe en volke wat die behoefte en strewe na vryheid het, dit te gun. Om dié rede kies ons ‘n pad na vryheid wat konflik met ander volke en mededinging om skaars hulpbronne vermy en kies ons ‘n gebied wat ons met persoonlike opoffering kan opbou en ontwikkel tot ons eie voordeel.
2. ‘n Gebied wat pas by die behoefte
Vryheid kan nooit losstaande van ‘n geografiese gebied met eie instellings gesien word nie. Daarom is alle pogings van Afrikanerselfbeskikking binne die bestaande staat Suid-Afrika beperk.
Die gebied wat geidentifiseer is, is die Noordwes-Kaapkorridor.
Die aanvanklike argument vir die gebied geld nog steeds: die moontlikheid om sonder demografiese druk ‘n relatief groot gebied te kan beset en te kan ontwikkel.
Ander selfbeskikkingsplanne in die Afrikaner se eertydse hartland van Pretoria, die Hoëveld en Bosveld, is lankal deur die werklikhede onwerkbaar bewys. Die ANC-regering se houvas op Pretoria en omgewing is ook besonder sterk: demografies, simbolies en feitelik. ‘n Regering gee nooit sy ekonomiese hartland en nog minder sy hoofstad op nie.
Ons moet egter nie naïef wees oor die gebied nie. Dit gaan harde werk en baie geld kos om dit te ontwikkel en ons het duisende Afrikaners nodig om dit te doen. Die besetting sal in fases moet geskied en met Orania as die fokuspunt en enjinkamer vir die afsienbare toekoms. Die uiteindelike doel is egter ‘n groter gebied wat ‘n meerderheid Afrikaners kan huisves.
3. Eie arbeid is ononderhandelbaar
Die hoeksteen van ons selfbeskikkingstrewe is die gebruik van Afrikanerarbeid. Die vloek van die Afrikaners in Suid-Afrika is dat hulle orals ‘n minderheid is, selfs waar hulle in aansienlike getalle gekonsenteeerd is. En dit weens die afhanklikheid van vreemde arbeid. Die prys vir ons vryheid is om self te werk of ten minste jou volksgenote teen lewensvatbare salarisse vir jou te laat werk. Dit is volgens die kapitalistiese logika, waar dit net oor geld gaan, ‘n remskoen vir ekonomiese groei. Die ekonomie kan egter nooit losgemaak word van die samelewing nie en werkers is nie verhandelbare bates sonder ‘n gesins- en kultuurlewe nie. Daardie soort korttermyndenke oor “goedkoop arbeid” het juis misdaad, plakkerskampe, konflik en vervreemding meegebring.
In Orania is ons op die voorpunt van nuwe denke wat die ou kwasiekoloniale arbeidsparktyke vir goed agterlaat. Ons moet leer om ‘n beter werksetiek te ontwikkel, meer effektief te werk, te meganiseer en om mense op te lei vir meer verantwoordelike en beter betaalde werk. ‘n Arm, gefrustreerde wit laerklas kan net so gevaarlik raak soos ‘n arm swart laerklas en het in die geskiedenis al menige bloedige konflikte en rewolusies veroorsaak. Die doel moet wees om hier, soos in suksesvolle lande, betroubare, tevrede en goed opgeleide mense te vestig en daar deur goeie opleiding en werksgeleenthede te hou.
4. Vryheid word geleidelik verkry
Ons pad na vryheid bied reeds vir ons geleenthede en ons vryheid neem toe soos wat ons vorder. Vryheid is ook iets waarvoor gewerk word en wat geskep word, eerder as iets wat van buite gegee word. Politieke erkenning as onafhanklike entiteit lyk tans vêr, maar vryheid in praktyk is reeds vêr gevorderd in Orania waar ons onsself bevry het van die afhanklikheid van vreemde arbeid, van die vrees vir oorheersing en om ‘n slagoffer te wees en ook van die vreemde waardes en kultuur wat elders op Afrikaners afgedwing word.
5. ‘n Afrikanerstaat, nie ‘n wit staat nie
Afrikaners se posisie as unieke Afrikavolk met ‘n eie taal en kultuur sou in ‘n “wit staat” wat uit ‘n mengelmoes van Europese emigrante bestaan, met Engels as die kleinste gemene deler, ook in die gedrang wees. Dit was nooit die oplossing vir Afrikaners om hulle heil in ‘n soort multikulturele, maar tog hoofsaaklik Westerse staat soos Australië, Kanada of VSA, te soek nie en dit help dus ook nie dat ons werk vir ‘n multikulturele “wit staat” in Afrika nie.
Waarna ons strewe is ‘n gebied met ‘n onbeskaamde Afrikaanse en Christelike karakter wat ons voortbestaan en vooruitgang op alle terreine, materieel sowel as geestelik en kultureel, verseker.
Die strewe na selfbeskikking is ‘n wêreldwye verskynsel en is ook in Suidelike Afrika niks vreemds nie. Dink byvoorbeeld aan Lesotho, Botswana en Swaziland. So ook is Orania ‘n etnies homogene dorp net soos die talle homogene dorpe van die swart volke in die landelike gebiede van Suid-Afrika.
6. Wat van die nie-Afrikaners?
‘n Vryheidstrewe wat gebou is op die miskenning en onderdrukking van ander volke is nie regverdig nie en het ook geen bestand nie. Geen gemeenskappe wat in die aangewese gebied woon en daar wil bly, sal teen hulle wil verskuif word nie.
Ons moet verseker dat ‘n meerderheid Afrikaners ‘n gebied bewoon en bewerk as ons selfbeskikking wil bereik. Politieke beheer kan uiteindelik slegs deur middel van ‘n referendum verkry word, waar die algemeen aanvaarde beginsel van een stem vir elke volwasse inwoner van die gebied geld. Diskriminasie teen nie-Afrikaners kan nie toegelaat word nie en selfs as die Afrikaner ‘n meerderheidsbesetting en eie regering bewerkstellig, sal minderhede dieselfde erkenning geniet waarop ons tans ook aandring.
Die vraag of bruinmense ook Afrikaners is en hulle met ons selfbeskikkingstrewe kan vereenselwig, is tot op hede ‘n teoretiese een. Die praktyk is dat bruin mense ‘n duidelik onderskeibare groep vorm wat geen behoefte het om deel van die Afrikaner te word nie en wat hulleself ook nie so noem nie, ten spyte van pogings van sekere meningsvormers om ‘n kunsmatige groep “Afrikaanses” te skep. Aansluiting op individuele vlak van mense wat hulle eerder met ‘n ander volk as hulle eie een vereenselwig is moontlik, maar sal die uitsondering bly, soos die praktyk leer.
7. Met min hulpbronne is optimale benutting en wedersydse ondersteuning belangrik
Orania het klein getalle en sy ekonomiese krag is tans nog beperk en word gedurig deur die globale ekonomie van die groot stede bedreig. Mense wat in Orania woon en werk moet eenvoudig hulle bydrae tot die ekonomie lewer as ons ‘n lewendige gemeenskap wil wees en bly. Heelwat besighede het die afgelope tyd ontstaan, maar hulle kan net volhoubaar wees deur plaaslike ondersteuning. Die beste manier is om plaaslik te koop, wat dan weer plaaslike produksie en opvolgbesighede aanmoedig.
Die plaaslike geldeenheid, Ora, speel daarby ‘n kardinale rol. Omdat ons ekonomie nog so klein is, is dit noodsaaklik om elke Rand of Ora so veel as moontlik in Orania se ekonomie te laat sirkuleer.
8. Ekologiese volhoubaarheid is meer as ‘n groen mode
Orania roem op sy ekologiese ingesteldheid wat pas by ons strewe na lokalisme en volhoubaarheid. Om jou kultuur en waardes te bewaar beteken noodwendig ook om die omgewing waarbinne dit plaasvind, te bewaar. Ons grondgebied is nog klein en duur gekoop en om dié rede gebruik ons dit wat ons het spaarsaam en probeer besoedeling en vermorsing voorkom, ook met die oog op toekomstige geslagte.
Ekologiese volhoubaarheid is nie net ‘n gonswoord nie, maar iets wat ons lééf omdat dit inskakel by ons lewensingesteldheid van selfstandigheid, eerbied vir ons Skepper (en daarmee saam respek en dankbaarheid vir die skepping) en die besef dat ons in ‘n gebied met beperkte hulpbronne woon, wat ons só moet gebruik dat dit die maksimum Afrikaners teen die minimum ekologiese impak kan vestig.
9. Internasionale bande met die regte groepe
Ons strewe is reeds besig om geleidelik verinternasionaliseer te raak, wat noodsaaklik en onvermydelik is as ons wil vorder bo die vlak van net ‘n dorp. Die kennisname van die Afrikaner en sy vryheidstrewe beteken egter nog nie simpatie en steun nie. Ons moet die internasionale opset, die meningsvormers, potensiële vriende en vyande verstaan as ons ons saak suksesvol internasionaal wil bekend stel. Daarvoor is bande met die regte groepe en organisasies belangrik. ‘n Baie sinvolle stap was die aansluiting van die Afrikaner (deur die Vryheidsfront Plus) by UNPO, die Organisasie vir Onverteenwoordigde Nasies en Volke.
Dit sal ons saak skade aandoen as ons met ekstremistiese randgroepe bande vorm. Uit die aard van die saak is daar heelwat gedeelde waardes met Europese groepe en minderhede en om die rede is reeds bande gevestig met die Duitse minderheid van Suid-Tirool (Italië) en met die Vlaminge in België. Ons behoort met enige kleinvolk wat in ‘n minderheidsposisie verkeer, simpatie te hê, bande te bou en ondervindings uit te ruil.
Bande moet ook met nie-Europese volke gebou word, veral in Afrika, die vasteland waaraan ons ons naam ontleen het en waarbinne ons moet voortbestaan en floreer. Binne Suider-Afrika is daar ‘n magdom etniese groepe en volke wat ook vir kulturele handhawing en erkenning veg. Bande met ‘n tradisionele Xhosa-gemeenskap in die Oos-Kaap is reeds gevorm. Die voorvereiste vir bande met ander gemeenskappe is die wedersydse erkenning en die klem op selfstandigheid en ondersteuning teen ‘n gelykmakende en onsimpatieke regering.
As Orania se strewe internasionaal vertolk word as een van rasse-meerderwaardigheid en vyandigheid teenoor Afrika en sy mense, staan ons geen kans nie. As ons die boodskap van selfbeskikking en handhawing van ‘n klein volk met ‘n kosbare kultuur en geskiedenis kan oordra, sal ons groot steun kry.
10. Selfbeskikking is vandag nog steeds so brandend soos altyd
Die wêreldpolitieke toneel en veral Suid-Afrika het geweldig verander sedert die Afrikaner se selfbeskikkingstrewe in ‘n eie grondgebied in die vroeë 1980’s met die Oranjewerkers ‘n praktiese werklikheid geword het. Die behoefte aan ‘n eie gebied vir Afrikaners het sedertdien egter nie vervaag nie, maar is vandag meer noodsaaklik as ooit van te vore.
Orania en sy organisasies kon dit grootliks regkry om ons boodskap, ten spyte van ‘n magdom vooroordele in die media en ‘n vyandige makro-politieke omgewing, lewend te hou en om gesindhede geleidelik verander.
Dit is juis in die internasionale konteks wat die ANC se vertolking van die geskiedenis en politiek as ‘n swart anti-koloniale stryd toenemend verouderd en irrelevant lyk.
Orania se strewe is vryheid, nie ten koste van ander nie, en ook nie deur middel van geweld en revolusie nie, maar vryheid wat geleidelik geskep word deur selfstandigheid en die vestiging van ‘n Afrikaanse werklikheid.
*Sebastiaan Biehl is ‘n inwoner van Orania, politieke navorser en skrywer.
by Orania Beweging | Sep 5, 2012 | Nuus |
Dit is soms moeilik om voorspraak te maak vir Afrikanerselfbeskikking in ’n eie grondgebied.
Veral wanneer die koester van die eie afgemaak word as ’n teruggryp na die verlede – hoewel hierdie kritiek blykbaar net op Afrikaners van toepassing is. Ons sien dit baie duidelik in prof. Jonathan Jansen se oortuiging dat “Nederduits Gereformeerde” Afrikaners slegs tot agterlikheid in staat is. Sy eie rassisme in hierdie opsig ontglip hom seker.
Die herrie in die sosiale netwerke oor Woolworths se rassistiese aanstellingsbeleid het my egter weer laat dink aan al die deure wat vir Afrikaners toegemaak word – of waar ons soveel meer moet doen (en selfs na die hof moet gaan) om ons waardigheid vir ’n pos te bewys.
Een voordeel van selfbeskikking is die vermoë wat dit bied om die politieke diskoers – en daarmee aanstellingsbeleid – in jou guns te draai; selfs al is dit net om die geleentheid gegun te word om op meriete vir ’n pos oorweeg te word. Want deur die politiek word ook die voorkeure van werkgewers beïnvloed, veral wanneer hulle van regeringskontrakte of invoerpermitte afhanklik is.
Vir my het dit vroeg reeds ’n werklikheid geword dat daar in Suid-Afrika teen my gediskrimineer word op grond van my velkleur, my taal, my geloof en my geslag (omdat ek manlik is). In die buiteland word daar eweneens teen my gediskrimineer op grond van my herkoms, my taal, my geloof en finansiële vermoë.
Dit is daarom duidelik in my en jou guns om Orania te ondersteun indien ons of ons kinders die geleentheid gegun wil word om slegs op meriete mee te ding vir die volgende geleenthede (voeg gerus by hierdie lys in die kommentaarspasie hieronder):
Staatspresident
Leier van die opposisie in die parlement
Burgemeester
Universiteitsrektor
Polisiekommissaris
Kadet van ‘n nasionale lugredery
Direkteur-Generaal
Weermaghoof
Stasiebevelvoerder
Beurshouer
Minister van Gesondheid
Premier
Springbokvleuel
Lugwaardin
Tronkbestuurder
Bankteller
Myner
Messelaar
Straatveer
Technikonstudent
Koshuisinwoner
Petroljoggie
Sokker-kaptein
Vegvlieënier
Advertensie-model
Verpleër
Generaal
Bestuurshoof van die Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters
Vlootkaptein
Trekkerbestuurder
Skoolhoof
Ouditeur-Generaal
Hoofregter
Stadsklerk
Nasionale parkbestuurder
Begunstigde van ‘n behuisingskema
Kommissaris van die inkomstediens
Mediese student
Taxibestuurder
Vryheidsvegter
Departementshoof
Gerespekteerde burger
Vergoedingskommissaris
Myneienaar
Hoof van die Rugby-Unie
Olimpiese vaandeldraer
Posmeester
Treindrywer
Sakevennoot
Grondeienaar
Rugby lynregter
Hoof-staatsaanklaer
Amnestieontvanger
Verkeershoof
Winkelkassier
by Orania Beweging | Jul 23, 2012 | Nuus |
Orania benodig ‘n verdere 2,500 wooneenhede wat van nuuts af gebou moet word om Hopetown (sy buurdorp) te kan ewenaar wat getal inwoners betref.
Dit is die vereiste om die dominante politieke rolspeler op plaaslike vlak in sy streek te word. Indien hierdie ontwikkeling slegs deur eksterne belegging gefinansier moet word, kan dit ‘n baie lang en moeisame ontwikkelingspad wees.
Die vraag is of daar beproefde metodes is waarop eiendomsontwikkeling en vestiging op Orania versnel kan word? Ek wil graag enkele gedagtes hieroor toelig.
Uitgebreide eiendomsbesit as katalisator vir gemeenskapsontwikkeling
Prof. Niall Ferguson, ekonomiese geskiedkundige van die Universiteit van Edinburg in Skotland, ag uitgebreide eiendomsbesit as ‘n hoeksteen van welvaart in die Weste.
The Ascent of Money – Niall Ferguson
In sy boek, The Ascent of Money: A financial history of the World, dui prof. Ferguson aan dat daar in geskiedkundige terme nie veel te kies tussen die verloop van gebeure in welvarende Noord-Amerika (VSA en Kanada) en in vergelyking met die Noorde, sukkelende Suid-Amerika is nie.
Suid-Amerika is vroeër as Noord-Amerika onderwerp en gekolonialiseer deur Spaanse Conquistadores. Suid-Amerika het oor belangrike natuurlike hulpbronne beskik, veral goud en silwer en selfs ook sjokoladebone. Op beide kontinente is inheemse bevolkings onderwerp deur gewelddadige metodes en is daar ook slawerny bedryf. Die gevestigde beskawings in Suid-Amerika (soos die Inca en Maja) was meer kompleks as hul eweknieë in die Noorde, maar van ekonomiese ontwikkeling in die Westerse sin was daar op beide kontinente min sprake.
Die vernaamste instelling wat egter (na eeue van Westerse vestiging) vir die Noorde ‘n onregverdige voordeel bo die Suide sou bied, is uitgebreide private eiendomsbesit.
In Noord-Amerika is elke nuwe kolonis, na sy aanvanklike dienstydperk van 8 jaar ‘n stukkie grond gegee as vergoeding. Baie soortgelyk aan die wyse waarop Vryburgers aan die Kaap aanvanklik grond bekom het.
Grondbesit het nie slegs vir die kolonis groter sekuriteit in die vorm van ‘n onbetwiste tuiste gebied nie, maar het ook toegang tot stemreg in die eerste state gebied. Hierdie grondbesitters-demokrasie het ‘n stabiele burgery geskep – grondbesitters neig meer konserwatief deur hul behoefte om hul eiendom te beskerm of te verbeter, eerder as om bloedige rewolusie aan te hang. Dit het ook ondernemerskap ondersteun, want deur hul grondbesit het Noord-Amerikaners oor sekuriteit beskik wat hulle toegang tot lenings vir ontwikkeling en besigheid besorg het. Eiendomsbesit het ook lojaliteit teenoor die gemeenskap en ‘n bereidwilligheid om daarvoor die nodige op te offer gekweek.
In Suid-Amerika daarteenoor, is die grond opgedeel en toegeken aan die Conquistadores, wat eiendombesit ingeperk het tot ‘n nuwe adelstand. Vir die burgery was eiendomsbesit so ontoeganklik soos die Pous en is ekonomiese ontwikkeling beperk tot die inisiatief van hierdie handjievol families wat reeds oor ongekende rykdom beskik het. Behalwe vir hul klein getalle het hulle dus ook min aanmoediging gehad om die finansiële risiko’s te neem wat volhoubare ontwikkeling en welvaartskepping vereis.
In sy opvolgwerk, Civilisation: The West and the Rest, brei prof. Ferguson op bogenoemde uit deur aan te dui hoe die instelling van uitgebreide private eiendomsbesit deel van 5 ander instellings is wat die Weste sy voorsprong bo die res gegee het, en dat hierdie instellings besig is om met sukses deur ander kulture oorgeneem te word, waarmee hulle soortgelyke sukses begin ervaar.
In Suid-Afrika is die gebrek aan ekonomiese ontwikkeling in tradisionele gebiede waar die konsep van private eiendomsreg vreemd is, vir elkeen waarneembaar. So ook in die inheemse trust-gebiede van Australië, Nieu-Seeland en die VSA.
Uit bogenoemde oorsig is dit duidelik dat uitgebreide private eiendomsbesit ‘n belangrike komponent van lewe in Orania en selfs ‘n voorvereiste vir die uiteindelike Afrikanergebied sal wees; waarsonder ontwikkeling en ‘n stabiele burgery moeilik bemiddel sal kan word.
Verskeie modelle kan ondersoek word waarmee groter toegang tot eiendomsbesit en gepaardgaande ordelike ontwikkeling bemiddel kan word. Onontwikkelde grond in ruil vir ‘n tydperk van arbeid sonder betaling (waartydens die arbeider gratis van basiese behuising, voedsel en skoolfondse voorsien word), is ‘n model wat goed gewerk het vir die Noord-Amerikaanse koloniste. Die vraag is of daar meer relevante, hedendaagse modelle is wat tred hou met die eise van ‘n moderne wêreld? As voorbeeld wil ek graag die konsep van groepselfbou bekendstel.
Groepselfbou – publieke behuising deur selfhelp
Publieke behuisingskemas verteenwoordig in sekere gevalle alles wat verkeerd is met die moderne samelewing.
Die verantwoordelikheid vir maatskaplike versorging deur verskaffing van huisvesting word deur gemeenskappe ontduik wanneer dit aan die staat oorgedra geword. Hierdie ontduiking het al te dikwels tot die uitbroei van sosiale euwels in massa behuisingskemas gelei. Sosiale probleme word gekonsentreer terwyl daar selfs in die gevalle waar lesse geleer is en publieke behuising versprei is (soos in Australië), daar min agting vir die eiendom van die staat is waar vandalisme en onbetaalde diensterekeninge hoogty vier.
Bestaan daar ‘n beter alternatief?
Kevin McCloud, bekroonde argitek en aanbieder van die Britse TV-program Grand Designs het die konsep van groepselfbou in ‘n aflewering van sy program bekendgestel.

Groepselfbouprojek aan die Britse kus by Brighton wat 10 jaar gelede voltooi is
In 1989 is die konsep van gemeenskapselfbou en groepselfbou in die Verenigde Koninkryk van stapel gestuur en is daar vandag reeds meer as 200 projekte aangepak (ongeveer tien huise word met elke projek gebou). Hierdie konsep is aanvanklik deur nie-regeringsorganisasies ontwikkel, maar die sukses daarvan was so groot dat dit in sekere lande deel van regeringsbeleid geword het.
Volgens hierdie konsep word ‘n groep mense die geleentheid gegee om bekostigbare behuising te bekom deur hulle eie arbeid aan te wend om daardie behuising op te rig (wat dit bekostigbaar maak). In gevalle waar die groep mense werkloses insluit, dien die projek ook as vaardigheidsontwikkeling.
Die konsep werk as volg:
- ‘n Behuisingsprojek word aan ‘n groep mense (gesinne of enkellopendes) wat nie huise besit nie, toegeken.
- Die mense word aandeelhouers/lede van ‘n regspersoon (vereniging, maatskappy of koöperasie) wat die behuisingsprojek besit
- Die regspersoon ontvang ‘n lening (vanaf die departement van behuising of welsynsorganisasie op gunstige terme) vir die oprig van die aantal wooneenhede wat die groep mense benodig. Hierdie lening kan slegs aangewend word vir die koste van die grond wat aangekoop word (gewoonlik vanaf die munisipaliteit), die koste van die materiaal en die koste van spesialis-subkontrakteurs wat benodig word vir die werk wat die groep mense nie self kan verrig nie (argitekte, elektrisiëns, loodgieters, ens.) Die grond met bouperseel dien dan as sekuriteit vir die lening.
- Gedurende die oprigtingsfase moet elke aandeelhouer/lid ‘n minimum aantal ure per week afstaan aan die bou van die wooneenhede. Dit wissel gewoonlik tussen 20 en 30 ure per week, afhangende daarvan of die lede werkloos is of nie (daar is egter slegs een minimum vir ‘n spesifieke projek). Indien die lede nie die minimum ure werk nie, kan hulle hul aandeel in die regspersoon verbeur (volgens die wyse soos bepaal deur die reëls van die projek). Alle lede bou saam aan die hele projek. Lede bou dus nie slegs die wooneenhede wat hulle self gaan bewoon nie. Dit verhoog die lewensvatbaarheid van die projek deur samewerking, motivering, die deel van vaardighede en die wyse waarop dit ‘n gemeenskapsgevoel bevorder.
- Normale bouregulasies en inspeksies geld vir die projek. Die munisipaliteit verskaf gewoonlik advies of basiese opleiding soos benodig.
- Na voltooiing van die bouery, besit die regspersoon ‘n aantal eiendomme wat meer werd is as wat hulle gekos het, omdat die grootste deel van die arbeid gratis verskaf is. Die gratis arbeid deur die lede/aandeelhouers is dus omgeskakel in eienaarsbelang of ekwiteit binne die regspersoon. Hierdie sekuriteit stel die regspersoon in staat om ‘n kommersiële lening aan te gaan om die oorspronklike lening terug te betaal (wat die oorspronklike fonds in staat stel om binne ‘n relatiewe kort tyd weer ‘n volgende projek te finansier)
- Die lede kan dan die wooneenhede by die regspersoon huur teen die terugbetalingspaaiement van die nuwe lening. Nadat hierdie lening vereffen is, word eiendomsreg van die huise oorgedra aan die lede en word die regspersoon ontbind.
Nie alleen word hierdie metode vandag in die Verenigde Koninkryk aangewend nie, maar ook in Australië. In een van sewe deelstate in Australië (Victoria) is reeds meer as 830 huise deur goepselfbou-projekte gebou.
Hierdie metode maak uitgebreide eiendomsbesit moontlik deur minderbevoorregtes toegang tot bekostigbare wooneenhede te gee, terwyl hulle ook van meet af as eienaars verantwoordelik is vir die kwaliteit van die bouwerk en die instandhouding van die geboue. Verder dra dit by tot belegging, gemeenskapsontwikkeling, vaardigheidsontwikkeling en nuwe vestiging – arbeiders word deel van die stabiele burgery . Die belangrikste is egter dat hierdie mense self hul behuising bekostigbaar maak en nie afhanklik is van subsidies en donasies nie, wat die volhoubaarheid daarvan verhoog en dit moontlik maak om projekte soos hierdie op skaal uit te brei.
Die inwoners van Elim en Nerina (toekomstige inwoners) wat reeds werkservaring in Orania opgedoen het (in baie gevalle in die boubedryf) verteenwoordig ideale kandidate vir groepselfbou-projekte. So ‘n projek kan met vrug deur die Orania Beweging Helpsaamfonds oorweeg word na die afhandeling van Nerina.
My en jou finansiële steun aan die Helpsaamfonds kan al wees wat benodig word om die wa deur die drif te trek.
Nuutste Opmerkings