fbpx

Orania benodig ‘n verdere 2,500 wooneenhede wat van nuuts af gebou moet word om Hopetown (sy buurdorp) te kan ewenaar wat getal inwoners betref.

Dit is die vereiste om die dominante politieke rolspeler op plaaslike vlak in sy streek te word. Indien hierdie ontwikkeling slegs deur eksterne belegging gefinansier moet word, kan dit ‘n baie lang en moeisame ontwikkelingspad wees.

Die vraag is of daar beproefde metodes is waarop eiendomsontwikkeling en vestiging op Orania versnel kan word? Ek wil graag enkele gedagtes hieroor toelig.

Uitgebreide eiendomsbesit as katalisator vir gemeenskapsontwikkeling

Prof. Niall Ferguson, ekonomiese geskiedkundige van die Universiteit van Edinburg in Skotland, ag uitgebreide eiendomsbesit as ‘n hoeksteen van welvaart in die Weste.

The Ascent of Money – Niall Ferguson

In sy boek, The Ascent of Money: A financial history of the World, dui prof. Ferguson aan dat daar in geskiedkundige terme nie veel te kies tussen die verloop van gebeure in welvarende Noord-Amerika (VSA en Kanada) en in vergelyking met die Noorde, sukkelende Suid-Amerika is nie.

Suid-Amerika is vroeër as Noord-Amerika onderwerp en gekolonialiseer deur Spaanse Conquistadores. Suid-Amerika het oor belangrike natuurlike hulpbronne beskik, veral goud en silwer en selfs ook sjokoladebone. Op beide kontinente is inheemse bevolkings onderwerp deur gewelddadige metodes en is daar ook slawerny bedryf. Die gevestigde beskawings in Suid-Amerika (soos die Inca en Maja) was meer kompleks as hul eweknieë in die Noorde, maar van ekonomiese ontwikkeling in die Westerse sin was daar op beide kontinente min sprake.

Die vernaamste instelling wat egter (na eeue van Westerse vestiging) vir die Noorde ‘n onregverdige voordeel bo die Suide sou bied, is uitgebreide private eiendomsbesit.

In Noord-Amerika is elke nuwe kolonis, na sy aanvanklike dienstydperk van 8 jaar ‘n stukkie grond gegee as vergoeding. Baie soortgelyk aan die wyse waarop Vryburgers aan die Kaap aanvanklik grond bekom het.

Grondbesit het nie slegs vir die kolonis groter sekuriteit in die vorm van ‘n onbetwiste tuiste gebied nie, maar het ook toegang tot stemreg in die eerste state gebied. Hierdie grondbesitters-demokrasie het ‘n stabiele burgery geskep – grondbesitters neig meer konserwatief deur hul behoefte om hul eiendom te beskerm of te verbeter, eerder as om bloedige rewolusie aan te hang. Dit het ook ondernemerskap ondersteun, want deur hul grondbesit het Noord-Amerikaners oor sekuriteit beskik wat hulle toegang tot lenings vir ontwikkeling en besigheid besorg het. Eiendomsbesit het ook lojaliteit teenoor die gemeenskap en ‘n bereidwilligheid om daarvoor die nodige op te offer gekweek.

In Suid-Amerika daarteenoor, is die grond opgedeel en toegeken aan die Conquistadores, wat eiendombesit ingeperk het tot ‘n nuwe adelstand. Vir die burgery was eiendomsbesit so ontoeganklik soos die Pous en is ekonomiese ontwikkeling beperk tot die inisiatief van hierdie handjievol families wat reeds oor ongekende rykdom beskik het. Behalwe vir hul klein getalle het hulle dus ook min aanmoediging gehad om die finansiële risiko’s te neem wat volhoubare ontwikkeling en welvaartskepping vereis.

In sy opvolgwerk, Civilisation: The West and the Rest, brei prof. Ferguson op bogenoemde uit deur aan te dui hoe die instelling van uitgebreide private eiendomsbesit deel van 5 ander instellings is wat die Weste sy voorsprong bo die res gegee het, en dat hierdie instellings besig is om met sukses deur ander kulture oorgeneem te word, waarmee hulle soortgelyke sukses begin ervaar.

In Suid-Afrika is die gebrek aan ekonomiese ontwikkeling in tradisionele gebiede waar die konsep van private eiendomsreg vreemd is, vir elkeen waarneembaar. So ook in die inheemse trust-gebiede van Australië, Nieu-Seeland en die VSA.

Uit bogenoemde oorsig is dit duidelik dat uitgebreide private eiendomsbesit ‘n belangrike komponent van lewe in Orania en selfs ‘n voorvereiste vir die uiteindelike Afrikanergebied sal wees; waarsonder ontwikkeling en ‘n stabiele burgery moeilik bemiddel sal kan word.

Verskeie modelle kan ondersoek word waarmee groter toegang tot eiendomsbesit en gepaardgaande ordelike ontwikkeling bemiddel kan word. Onontwikkelde grond in ruil vir ‘n tydperk van arbeid sonder betaling (waartydens die arbeider gratis van basiese behuising, voedsel en skoolfondse voorsien word), is ‘n model wat goed gewerk het vir die Noord-Amerikaanse koloniste. Die vraag is of daar meer relevante, hedendaagse modelle is wat tred hou met die eise van ‘n moderne wêreld? As voorbeeld wil ek graag die konsep van groepselfbou bekendstel.

Groepselfbou – publieke behuising deur selfhelp

Publieke behuisingskemas verteenwoordig in sekere gevalle alles wat verkeerd is met die moderne samelewing.

Die verantwoordelikheid vir maatskaplike versorging deur verskaffing van huisvesting word deur gemeenskappe ontduik wanneer dit aan die staat oorgedra geword. Hierdie ontduiking het al te dikwels tot die uitbroei van sosiale euwels in massa behuisingskemas gelei. Sosiale probleme word gekonsentreer terwyl daar selfs in die gevalle waar lesse geleer is en publieke behuising versprei is (soos in Australië), daar min agting vir die eiendom van die staat is waar vandalisme en onbetaalde diensterekeninge hoogty vier.

Bestaan daar ‘n beter alternatief?

Kevin McCloud, bekroonde argitek en aanbieder van die Britse TV-program Grand Designs het die konsep van groepselfbou in ‘n aflewering van sy program bekendgestel.

Groepselfbouprojek aan die Britse kus by Brighton wat 10 jaar gelede voltooi is

In 1989 is die konsep van gemeenskapselfbou en groepselfbou in die Verenigde Koninkryk van stapel gestuur en is daar vandag reeds meer as 200 projekte aangepak (ongeveer tien huise word met elke projek gebou). Hierdie konsep is aanvanklik deur nie-regeringsorganisasies ontwikkel, maar die sukses daarvan was so groot dat dit in sekere lande deel van regeringsbeleid geword het.

Volgens hierdie konsep word ‘n groep mense die geleentheid gegee om bekostigbare behuising te bekom deur hulle eie arbeid aan te wend om daardie behuising op te rig (wat dit bekostigbaar maak). In gevalle waar die groep mense werkloses insluit, dien die projek ook as vaardigheidsontwikkeling.

Die konsep werk as volg:

  1. ‘n Behuisingsprojek word aan ‘n groep mense (gesinne of enkellopendes) wat nie huise besit nie, toegeken.
  2. Die mense word aandeelhouers/lede van ‘n regspersoon (vereniging, maatskappy of koöperasie) wat die behuisingsprojek besit
  3. Die regspersoon ontvang ‘n lening (vanaf die departement van behuising of welsynsorganisasie op gunstige terme) vir die oprig van die aantal wooneenhede wat die groep mense benodig. Hierdie lening kan slegs aangewend word vir die koste van die grond wat aangekoop word (gewoonlik vanaf die munisipaliteit), die koste van die materiaal en die koste van spesialis-subkontrakteurs wat benodig word vir die werk wat die groep mense nie self kan verrig nie (argitekte, elektrisiëns, loodgieters, ens.) Die grond met bouperseel dien dan as sekuriteit vir die lening.
  4. Gedurende die oprigtingsfase moet elke aandeelhouer/lid ‘n minimum aantal ure per week afstaan aan die bou van die wooneenhede. Dit wissel gewoonlik tussen 20 en 30 ure per week, afhangende daarvan of die lede werkloos is of nie (daar is egter slegs een minimum vir ‘n spesifieke projek). Indien die lede nie die minimum ure werk nie, kan hulle hul aandeel in die regspersoon verbeur (volgens die wyse soos bepaal deur die reëls van die projek). Alle lede bou saam aan die hele projek. Lede bou dus nie slegs die wooneenhede wat hulle self gaan bewoon nie. Dit verhoog die lewensvatbaarheid van die projek deur samewerking, motivering, die deel van vaardighede en die wyse waarop dit ‘n gemeenskapsgevoel bevorder.
  5. Normale bouregulasies en inspeksies geld vir die projek. Die munisipaliteit verskaf gewoonlik advies of basiese opleiding soos benodig.
  6. Na voltooiing van die bouery, besit die regspersoon ‘n aantal eiendomme wat meer werd is as wat hulle gekos het, omdat die grootste deel van die arbeid gratis verskaf is. Die gratis arbeid deur die lede/aandeelhouers is dus omgeskakel in eienaarsbelang of ekwiteit binne die regspersoon. Hierdie sekuriteit stel die regspersoon in staat om ‘n kommersiële lening aan te gaan om die oorspronklike lening terug te betaal (wat die oorspronklike fonds in staat stel om binne ‘n relatiewe kort tyd weer ‘n volgende projek te finansier)
  7. Die lede kan dan die wooneenhede by die regspersoon huur teen die terugbetalingspaaiement van die nuwe lening. Nadat hierdie lening vereffen is, word eiendomsreg van die huise oorgedra aan die lede en word die regspersoon ontbind.

Nie alleen word hierdie metode vandag in die Verenigde Koninkryk aangewend nie, maar ook in Australië. In een van sewe deelstate in Australië (Victoria) is reeds meer as 830 huise deur goepselfbou-projekte gebou.

Hierdie metode maak uitgebreide eiendomsbesit moontlik deur minderbevoorregtes toegang tot bekostigbare wooneenhede te gee, terwyl hulle ook van meet af as eienaars verantwoordelik is vir die kwaliteit van die bouwerk en die instandhouding van die geboue. Verder dra dit by tot belegging, gemeenskapsontwikkeling, vaardigheidsontwikkeling en nuwe vestiging – arbeiders word deel van die stabiele burgery . Die belangrikste is egter dat hierdie mense self hul behuising bekostigbaar maak en nie afhanklik is van subsidies en donasies nie, wat die volhoubaarheid daarvan verhoog en dit moontlik maak om projekte soos hierdie op skaal uit te brei.

Die inwoners van Elim en Nerina (toekomstige inwoners) wat reeds werkservaring in Orania opgedoen het (in baie gevalle in die boubedryf) verteenwoordig ideale kandidate vir groepselfbou-projekte. So ‘n projek kan met vrug deur die Orania Beweging Helpsaamfonds oorweeg word na die afhandeling van Nerina.

My en jou finansiële steun aan die Helpsaamfonds kan al wees wat benodig word om die wa deur die drif te trek.