Al ooit van Bhutan gehoor?

Die Amerikaanse ekonoom Richard Easterlin het vasgestel dat ‘n groeiende inkomste slegs tot op ‘n sekere punt vir ‘n individu geluk kan bring. Iemand wat onder die broodlyn leef en weens ‘n skielike styging in inkomste nie meer hoef te twyfel oor waar môre se bord kos vandaan gaan kom nie, kry sekerlik ‘n ‘geluksinspuiting’, maar ‘n persoon in die boonste deel van die middelklas het heelwat meer as net ‘n groeiende inkomste nodig om gelukkig te wees.

Die Westerse wêreld sien volgens verskeie opnames ‘n toename in ongelukkigheid onder mense wat eintlik finansieel heeltemal goed vaar. Ekonomiese onsekerheid skep byvoorbeeld in lande soos die VSA, Spanje en Italië grootskaalse ongelukkigheid.

Dit bring my by Bhutan. Dié klein landjie in Asië het ‘n bevolking van slegs 738 000 mense. Bhutan het egter ekonome regoor die wêreld anders na ekonomiese vraagstukke laat kyk met hul besluit om ‘n Bruto Nasionale Gelukkigheidsindeks (BNG) in te stel. Dié monargie gebruik BNG reeds sedert 2008 as ‘n belangriker maatskaf as die tradisionele Bruto Binnelandse Produk (BNP), om regeringsvordering te bepaal.

Waarom hierdie alternatiewe fokus in Bhutan? Die huidige eerste minister van Bhutan noem in ‘n onderhoud met die tydskrif Time dat hulle probeer om ‘n alternatief vir die geweldige druk wat met die Westerse fokus op materialisme saamkom, te skep. Sy opvatting is dat mense se strewe na ‘n groter inkomste in Westerse lande tot ongelukkigheid en selfs depressie aanleiding gee. Die fokus in Bhutan is op vier pilare, naamlik volhoubare ekonomiese ontwikkeling, omgewingsbewaring, die bewaring en handhawing van kultuur en goeie regering. Hierdie model van Bhutan word reeds deur ekonome beskou as ‘n interessante alternatief tot die Westerse kapitalisme wat tot dusver in baie lande ‘n negatiewe effek op die gesinslewe, die omgewing en ‘n gemeenskap gebou op gelykheid en samewerking, gehad het.

Die Bhutan-model stel voor dat geluk iets is wat van onder af moet ontwikkel, eerder as iets wat deur ‘n regering aan sy mense gegee kan word. Die regering in Bhutan onwikkel dus alle regeringsplanne en beleid met ‘n fokus daarop om die individu, die gesin en die gemeenskap te bemagtig om hul omgewing te beskerm, volhoubare ekonomiese praktyke daar te stel, hul kultuur te beskerm en met trots te kan beoefen en ‘n kultuur van goeie regering op elke vlak te ontwikkel en te koester.

In 2010 het Bhutan vir die eerste keer hul gelukkigheidsindeks getoets deur onderhoude met 8000 landsburgers te voer. Vrae wat gevra is, sluit in: Op hoeveel mense kan jy vir steun staatmaak sou jy vandag siek word? Wanneer laas het jy saam met jou bure gekuier? Hoe gereeld praat jy oor geestelike sake met jou kinders?

Die vraag wat ons in ‘n groeiende Orania onsself moet afvra, is wat vir ons belangrik is. Weeg ons ons geluk slegs aan ‘n groeiende inkomste? My oortuiging is dat daar groot ooreenkomste tussen Orania en Bhutan is en kan wees. Indien ons die vier pilare waarop die Bhutan-model gebou is, navolg, kan ons oplossings vind vir die toenemende probleme van ongelukkigheid en ‘n onbevredigende lewe wat vandag deur soveel Afrikaners gelei word. Orania kan deur die Bhutan-model ‘n alternatief bied vir die baie Afrikaners wat ten spyte van ‘n goeie inkomste moet saamleef met onvolhoubare ekonomiese praktyke (regstellende aksie, swart ekonomiese bemagtiging, grondhervorming, die welsynstaat, ens.), praktyke wat die omgewing groot skade berokken, ‘n toenemende vertrapping van ons kultuur en ‘n falende, korrupte regering waarvan die regeringspraktyke reeds tot op verskillende vlakke van ons samelewing deurgedring het.

Ons kan beter doen en ‘n goeie begin kan wees deur die ontwikkeling van ‘n unieke ekonomiese model vir Orania, gebaseer op die modelle van Bhutan, maar ook talle ander lande waar geluk nie net oor geld gaan nie.

Die tweede rewolusie en Orania

“Marikana” en “De Doorns” is name wat die afgelope tyd deur Suid-Afrika en die wêreld ge-eggo het. Sommige het dit as ’n tweede rewolusie beskryf, ander as die voltooiing van die eerste. Nogal ’n interessante vraag watter een van die twee dit is, want hoewel dit in die verlengde van die ANC se oorname en transformasie van Suid-Afrika staan, lyk dit asof daar in die ANC-regering groot ongemak daar is. Die wetteloosheid en geweld waarmee dit gepaardgaan, kan geen regering rustig laat slaap nie. Dit spreek immers van ’n onvermoë om, met al die magsmiddele tot sy beskikking, sosiale misstande en ekonomiese verwagtings doeltreffend by te lê.

Al die rewolusionêre energie waarmee die ANC aan bewind gekom het, word kennelik nie deur sy pogings om ’n nuwe orde in Suid-Afrika te vestig, benut nie en die indruk ontstaan dat die swart elite in die regering en die ekonomie ’n gemaksone betree het wat hulle ook op ’n gevaarlike afstand van die breë bevolking se verwagtings plaas – verwagtings wat hulle self help skep het. Daar is kommentators wat tong in die kies na hierdie klas swartmense as die “new Whites” verwys omdat hulle in ’n soortgelyke posisie van mag, bevoorregting en bedreiging as witmense onder apartheid verkeer.

Dit plaas die ANC se retoriek rakende ’n nasionale demokratiese rewolusie, die “NDR” natuurlik in ’n nuwe lig. Aan die een kant word dit voorgehou as die ANC se ware, rewolusionêre agenda, aan die ander kant is dit dalk juis die ANC se poging om ’n rewolusionêrklinkende uitlaatklep vir die werklike rewolusionêre kragte in die huidige Suid-Afrika te skep – ’n poging wat nie besig is om te slaag nie. Maar hoe ookal, leiers om aan die voorpunt van sulke ontevrede skares te staan, sal daar altyd wees en hulle sal weldra die regering se politieke agenda help bepaal, van binne óf van buite.

Kyk ‘n mens na die drie strategiese terreine waarop aksies die afgelope tyd gefokus is, is dit ten nouste met Afrikaners se belange verweef. Mynbou verseker die ekonomiese welvaart waaraan Afrikaners hulle middelklasbestaan die afgelope dekades te danke het, al is die nie ’n sektor wat tipies deur Afrikaners oorheers word nie. Landbou, daarenteen, word deur Afrikaners oorheers, maar verteenwoordig ook ’n groot oorblyfsel van Afrikaners se beheer oor die Suid-Afrikaanse grondgebied en skep onder baie van ons mense nog ’n valse gevoel van bestaansveiligheid vir ons volk.

Die Wes-Kaap is weer die enigste provinsie wat nie onder ANC-beheer is nie en gevolglik as ongetransformeer beskou word, ongeag hoe hard die DA juis die transformasie-agenda haar eie maak. Wie ookal dit uiteindelik is wat die Wes-Kaap transformeer, dit verydel daardie oerdroom onder Afrikaners van ’n rustige aftrede by die see of in die Boland. Vir hoeveel was dit nie die “volkstaat” om van te droom nie? Idilliese natuurskoon, relatiewe welvaart, goeie dienslewering en werkers wat Afrikaanse grappies maak en liedjies sing! Ongeag of die geweld dus van buite aangeblaas word, bly dit ’n ewe ontnugterende ervaring en dit is geen wonder dat ’n nuwe vlaag van emigrasie, veral onder jongmense, weer posvat nie.

Die punt is dat Orania se boodskap nog nooit toepasliker was as nou nie. Uit Afrikaners se oogpunt maak dit eintlik geen verskil of die volgende vlaag van rewolusionêre optrede uit die ANC of sy kompetisie se geledere kom nie, dit is in die struktuur van die Suid-Afrikaanse samelewing opgesluit, in die gapende afgrond tussen ryk en arm en die voortgesette gevoel van onmag wat swartmense teister. Die spanning is dus nie by te lê sonder die soort transformasie wat Afrikaners nie net op die kantlyn plaas nie, maar regstreeks gaan benadeel, selfs tot sondebokke van ekonomiese en sosiale misstande maak.

Wie hierdie bedreiging nie gesamentlik en vanuit ’n gebied onder hulle eie beheer tegemoet wil gaan nie, hou nie rekening met die erns daarvan nie. En vir ons wat ons reeds daarmee besig hou, gaan dit eise stel waaraan ons net met die grootste toewyding, selfs opoffering en verbeeldingskrag sal kan voldoen. Ook ons moet ons daaroor deeglik verantwoord.

Carel Boshoff
President: Orania Beweging

Word jy gekoester of bloot verdra?

Golda Meir, voormalige Eersteminister van Israel, skryf in haar outobiografie (“My Life”) dat die beweging vir ‘n Joodse staat gedryf is deur die besef dat hulle verdra word in die state waar hulle hulself as minderhede bevind het, maar nie gekoester is nie.

So is daar, terwyl sy as kind in Tsaristiese Rusland grootgeword het, nie staatsgeborgde geweld teen die Joodse minderheid gepleeg nie, maar het hulle selde hulp van die regering gekry wanneer hulle deur misdadigers van hul eiendom verjaag, aangerand of selfs vermoor is nie.

Met die onttrekking van Brittanje as mandaatowerheid in Palestina in 1948, het hierdie gedagte die Jode in Palestina genoop om hul onafhanklikheid van Jordanië eensydig te verklaar en hul eie staat in die lewe te roep.

Later skryf Golda dat dit die regte besluit was, want toe Joodse burgerlikes op plase en dorpe deur Arabiese terroriste vanuit Egipte aangeval is, het die Israelse weermag valskermsoldate oor die grens gestuur om die terroriste te onderskep en tot verantwoording te bring.

Dít sê sy is die verskil tussen om deur ‘n ander regering verdra te word en om deur jou regering gekoester te word, want onder die regering van Jordanië, soos in Rusland, Duitsland, Nederland, Frankryk, Roemenië, Turkye, Brittanje as mandaatregering en Yemen, sou daar eerder anderpad gekyk word as om ‘n minderheid teen die vergrype van die meerderheid te beskerm.

Sou ‘n Afrikanerregering nie reeds lankal die plaasmoorde tot prioriteitsmisdaad verklaar het nie? Daar kan geargumenteer word dat die Suid-Afrikaanse meerderheidsregering ten minste nalatig teenoor Afrikaners gestaan het toe hulle opgehou het om landsgrense te patrolleer, enige kans op billike vergoeding vir swartes beëindig het deur publieke onderwys in duie te laat stort, onrealistiese verwagtinge geskep het, kommando’s ontbind het en die polisiediens tot oneffektiwiteit getransformeer het.

Word ons in Suid-Afrika verdra of gekoester? Die reaksie van die Minister van Polisie, Nathi Mthethwa op die briewe van plaasmoordslagoffers wat Afriforum aan hom oorhandig het (hy het die briewe as ‘n publisiteitsfoefie van Afriforum afgemaak) spreek boekdele.

Hoe lank sal ons daarmee verlief neem om slegs verdra te word, voordat ons in groot getalle self verantwoordelikheid vir ons toekoms begin opneem deur vir onsself ‘n eie ruimte te skep?

Dit is ‘n skande dat so baie Afrikaners op Orania neerkyk en weier om hulle te ondersteun, terwyl daardie pioniers hulleself afsloof, gewildheid, gemak en rykdom ontsê in ‘n poging om vir ons ‘n plek te skep waar ons gekoester word.

Die morele reg om te regeer

Vir lank was Golda Meir se outobiografie “My Lewe” op my lys van boeke om te lees. Hierdie vakansie was ek gelukkig genoeg om ‘n kopie by familie raak te loop en vind ek die boek besonderse boeiende leesstof.

Vir die oningeligtes, Golda Meir was die eerste vroulike Eerste minister van Israel. Sy is in 1898 gebore in die Oekraïne en is vroeg reeds meegevoer deur die ideaal van ‘n eie Joodse staat (Zionisme). As tiener het haar familie na die VSA ge-immigreer, waar sy net verder meegesleur is deur die opkoms van Zionisme en uiteindelik het sy haar in die 1920’s in Palestina gevestig waar sy aanvanklik op ‘n Kibbutz gewerk het en later deur die vakbondwese as verteenwoordiger aangestel is om Zionisme te bevorder.

Uit die aard van ‘n biografie word daar meer gefokus op gebeure as op oortuigings, maar die beginsel van die “morele reg” om te regeer wat deur ‘n vryheidsoekende volk verdien moet word, word wel aan die orde gestel.

Sy skryf, in die Engels van die boek: “Years later when it became fashionable for young people to deride my generation for its rigidity, conventionality and loyalty to the ‘Establishment’, it was of the intellectual rebels of my time that I used to think. No modern hippie, in my opinion, has ever revolted as effectively against the ‘Establishment’ of the day as those pioneers did at the beginning of the century. Many of them came from the homes of merchants and scholars, many even from prosperous assimilated families. If Palestine alone had fired them, they could have come to Palestine, bought orange groves there and hired Arabs to do all the work for them. It would have been easier. But they were radicals at heart and deeply believed that only self-labour could truly liberate the Jews from the ghetto and its mentality and make it possible for them to reclaim the land and earn a moral right to it.

Baie word vandag gesê en geskryf oor die reg op selfbeskikking van volke.

Ons Afrikaners se soeke na regverdige regering is ook goed gedokumenteer, vanaf Adam Tas se verset teen Willem Adriaan van der Stel, Piet Retief se Manifes, die Grondwette van Natalia, die ZAR en die OVS. So ook die meer onlangse Akkoord oor Selfbeskking tussen die Vryheidsfront, NP en ANC, Artikel 235 van die huidige Suid-Afrikaanse Grondwet en Afrikaner verteenwoordiging by UNPO, oftewel die internasionale Onverteenwoordigde nasies en volkere organisie.

Die regsvereistes wat gestel word deur die internasionale reg vir die erkenning van aansprake op selfbeskikking deur volke word ook veral deur Afrikanergroepe ontleed wat glo dat voldoening aan hierdie vereistes in prinsipe ‘n Afrikanerstaat as te ware vanuit die hemel sal laat neerdaal.

Tog word daar min gesê of geskryf oor die morele reg om te regeer.

Indien die besetting van die morele hoëgrond deur ‘n volk nie ‘n uitdruklike geskrewe voorwaarde van die internasionale reg vir selfregering is nie, moet ons vra hoekom dit dan tog belangrik is?

Die antwoord is daarin opgesluit dat selfregering iets is wat deur die erkenning van regerings toegestaan word. Daardie erkenning word nie geredelik gegee nie, veral omdat elke bestaande land oor etniese minderhede beskik wat ook selfregering mag begin opeis, maar ook omdat regerings daardie erkenning as ruilmiddel en hefboom in die internasionale politieke arena gebruik om hul bedingingsmag en belange te bevorder. Daarbenewens kan geen ligggaam (hetsy die VN of die Internasionale Geregshof in Den Haag) een regering dwing om ‘n ander te erken nie.

Wat geen vryheidsoekende volk kan bekostig nie, is om aan regerings rede te verskaf om nie hul strewe vir selfregering te erken nie, en ‘n gebrek aan morele reg is juis dit. Ons het self gevoel hoe ander lande hul rûe op ons en ons selfregering onder die NP gekeer het toe ons die morele argumente begin verloor het, veral omdat ons nie soos die Jode van Israel ons werk deur volksgenote gedoen het nie.

Golda Meir borduur voort op die belangrikheid van volkseie arbeid waar sy skryf: “We have always maintained that the success of the Zionist work depends mainly on two inner Jewish factors – workers to do the work, and money to make this work possible. We consider the money for the Jewish National Fund as well as the manpower to be a manifestation of the will and determination of the nation at large. Does this mean that we are opposed to private capital and private initiative? Indeed not. Labour-Zionists are primarily interested in mass immigration into Palestine. If we cannot achieve this end through national capital, we welcome private capital. It is true that we say that private capital also serves the ends of Zionism. Private capital that does not employ Jewish labour does not help our cause. To our sorrow, it is only too often that we have witnessed private enterprise in Palestine used exclusively for private benefit, forgetting that Jewish immigration in Palestine depends primarily on possibilities of work created in the country. And we wish to state here again very emphatically: private capital that does not employ Jewish labour is not welcome in Palestine because private capital of such a character will not make possible the immigration which we require.”

Dit is dus duidelik dat selfwerksaamheid en belegging in eie arbeid nie alleen help om die morele reg tot selfregering daar te stel nie, maar ook die voorvereiste is vir ‘n volk wat ‘n streek demokraties wil regeer. Ondemokratiese regerings is immers van alle morele reg gestroop.

Ek stem volhartig saam met Golda se stelling dat dit slegs volke se innerlike faktore is wat sal bepaal of hulle sukses sal behaal in hul soeke na vryheid.

Orania en die Orania Beweging het reeds dekades gelede die vereiste vir volkseie arbeid verstaan en dit prakties begin uitleef. Ons vryheid sal aansienlik nader wees wanneer meer vryheidsoekende Afrikaners dit besef en by ons beweging inskakel.

Anderkant gelykheid: die ooreenkoms tussen Orania en Mnyameni

Die pasgetekende ooreenkoms tussen Orania en Mnyameni was kennelik vir baie mense ’n verrassing. Baie Suid-Afrikaners vind dit steeds vreemd dat twee tradisievaste en konserwatiewe gemeenskappe by mekaar aansluiting vind, vreemd net omdat die een swart en die ander wit is. Ironies genoeg is dit meestal moderne liberale wat normaalweg gereed is om die agterosse van versoening in die kraal te kry, wat die gebeure met agterdog bejeën. Seker omdat dit nie aan hulle eie individualistiese vooroordele voldoen nie.

Die punt is dat ‘n verhouding tussen hierdie landelike, tradisionele Oos-Kaapse Isixhosa gemeenskap en die gemoderniseerde, dog konserwatiewe Afrikaners van Orania nie by die gelykheid van alle mense geëindig het nie, maar daarby begin het. Toe ons die eerste keer op Mnyameni besoek afgelê het en hoofman Siphiwo Mdledle ons oor die grasgroen heuwels met huisies en beeste en klein landerye laat uitkyk het, het hy my eenkant toe geneem en gevra: “Glo julle mense dat ons almal gelyk is of glo julle dat sommige mense bo ander geskape is?” En ek kon met al die vrymoedigheid van ’n sendelingseun antwoord: “Ons glo dat God ons gelykwaardig gemaak het en dat ons mekaar se erkenning en respek verdien. Ons sien onsself nie bo of onder enigiemand anders nie.” Enigiets minder sou die besoek dalk op ’n gawe geleentheid laat doodloop het waarop geen verdere verhouding sou volg nie.

Feit is dat die teendeel gebeur het. In die loop van die volgende maande is heelwat telefoonoproepe en e-posse uitgeruil, het mnr Mdledle ’n afvaardiging Orania toe gebring, het ons aan die memorandum van verstandhouding begin werk en is ons onderskeie gemeenskappe deeglik daaroor geraadpleeg. Uiteindelik was die raakpunte van twee geordende gemeenskappe met ’n uitdruklike voorkeur vir selfstandigheid en ’n afkeer van staatsafhanklikheid vrugbare grond vir ’n vaste ooreenkoms. Met die ondertekening daarvan is werklikhede wat oor die afgelope maande geskep is, maar net bevestig en wêreldkundig gemaak. Die ontginning daarvan lê nog voor.

Dit was seker te wagte dat die volgende vraag van waarnemers en joernaliste sou wees na spesifieke projekte en na die voordele wat elke gemeenskap kan verwag om daaruit te trek. Vriendskap word egter nie in die eerste plek aan geldwaarde gemeet nie en ons verwagtings is uit die staanspoor nie deur die vloei van fondse of voordele bepaal nie, maar deur onderlinge ondersteuning, solidariteit en advies. Orania het die pad van ontwikkeling sonder staatshulp al geloop en kan sy ervaring daarvan deel; Mnyameni se interne kohesie en sy afstand van die verbruikersekonomie is ’n voorbeeld vir enigeen wat in ekologiese volhoubaarheid belangstel. Dit is dinge waarmee ons mekaar onderling kan verryk namate ons dit beter leer ken.

Dit sluit natuurlik nie projekte rakende toerisme en ontwikkelingsbefondsing of landbou en inligtingstegnologie uit nie, sulke beplanning is reeds aan die gang. Dit beteken gewoon dat ons mekaar op sleutelpunte sal bystaan soos vriende dit doen – nie sonder voordeel nie, maar ook nie vír die voordeel nie. Dit beteken dus nie dat ons voorgee om geen voordeel in die oog te hê nie en ons onderskeie belange behoort uitgespel eerder as verswyg te word, dit is immers duidelik in die getekende ooreenkoms gedoen.

Mnyameni se belang lê by ekonomiese ontwikkeling en selfstandigheid en Orania kan dit help bevorder. Hulle ervaar hulleself as verwyderd van die groot ekonomiese kragte wat verstedeliking bevorder en die landelike bestaan in die skadu stel. Hulle wil toegang tot dié ekonomiese kragte hê, maar nie teen die prys wat normaalweg daaraan gekoppel word, naamlik selfprysgawe nie. Orania se belang lê by politieke ontwikkeling en selfstandigheid en Mnyameni kan dit help bevorder. Ons ervaar onsself as gestereotipeer en dikwels uitgesluit van die politieke diskoers waaraan ons wil help rigting gee, maar ons sal onsself ook nie prysgee ter wille van deelname daaraan nie.

Daarom dat die grondslag van identiteit, wedersydse erkenning en plaaslike bemagtiging, ’n federalistiese eerder as ’n sentralistiese uitkyk op Suid-Afrika se verskeidenheid, vir ons so aantreklik lyk. Om die waarheid te sê, beide Orania en Mnyameni is van mening dat wat ons besig is om te doen nie net vir onsself van groot belang is nie, maar ook vir die Suid-Afrikaanse samelewing waarvan ons in die breedste sin deel is. Soos die ooreenkoms dit stel: die vraag van ontwikkeling is nie net ekonomies van aard en individueel van omvang nie, maar kultureel, polities, sosiaal, ekonomies en eties van aard en kommunaal, regionaal en individueel in omvang.

Dit is goed en wel dat Suid-Afrika, na ’n geskiedenis van ongelykheid en rassisme, die vraag van onderlinge gelykheid vir eens en vir altyd wou bylê. Dit is nou gedoen en Afrikaners, ook Oraniërs, is bly daaroor. Maar nou is die vraag: wat volgende? Wat lê anderkant dié gelykheid? Ons antwoord is: gemeenskapsgebaseerde ontwikkeling op grond van erkenning; dit is die volhoubare alternatief vir die individuele selfverryking wat die nuwe elite tans kenmerk.

Die soeke na gemeenskap

One of the losses that modern society feels most keenly is the loss of a sense of community. We tend to imagine that there once existed a degree of neighborliness that has been replaced by ruthless anonymity, by the pursuit of contact with one another primarily for individualistic ends: for financial gain, social advancement, or romantic love. – Alain de Botton

Die vraag word gereeld aan ons gestel: Wat maak Orania anders as soveel ander dorpe en gemeenskappe waar Afrikaners hulself bevind? Daar is sekerlik baie verskille waarop ons kan fokus, maar die een verskil wat ek glo meer bespreking verdien, is ons sin vir gemeenskap.

Oral ontmoet ek mense op soek na hul plekkie in vandag se geglobaliseerde wêreld – so asof hulle nerens meer tuis voel nie. Die konsep van vervreemding word toenemend regoor die wêreld as ‘n produk van die individualisme geïdentifiseer. Vervreemding bring mee dat ‘n mens, ten spyte van sukses as individu, steeds bly soek na iets groter wat geluk en vervulling kan meebring.

Reeds in 1961 skryf die Amerikaanse akademikus Robert Nisbet oor vervreemding: “By alienation I mean the state of mind that can find a social order remote, incomprehensible, or fraudulent; beyond real hope or desire; inviting apathy, boredom, or even hostility. The individual not only does not feel a part of the social order; he has lost interest in being a part of it. For a constantly enlarging number of persons, including, significantly, young persons of high school and college age, this state of alienation has become profoundly influential in both behavior and thought.” Volgens Nisbet was daar reeds in die 1960’s tekens in Amerika dat mense toenemend ingetrokke raak en apaties teenoor instellings soos die kerk, regering, politieke partye en ander gemeenskapsinstellings begin staan. Die afname in lidmaatskap en deelname in die aktiwiteite van kultuur- en ander burgerlike organisasies waarmee ons vandag almal vertroud is, het toe reeds begin.

Nisbet koppel die verbrokkeling van die konkrete gemeenskap direk aan die vervreemdingswerklikheid. “I believe, then, that community is the essential context within which modern alienation has to be considered. Here I have reference not so much to a state of mind – although that is inevitably involved – as I do to the more concrete matters of the individual’s relation to social function and social authority. These, I would emphasize, are the two supports upon which alone community, in any reasonably precise sense, can exist and influence its members. There are countless persons today for whom the massive changes of the past century have meant a dislocation of the contexts of the function: the extended family, neighbourhood, apprenticeship, social class, and parish.”

Nisbet maak ‘n sterk saak uit vir die rol van hierdie instellings in die funksionering van die individu binne sy gemeenskap. Hy voer aan dat die meeste mense binne gesag (authority) en strukture wil funksioneer en dat die meer ideale scenario een is waar hierdie gesag en struktuur deur vrywillige assosiasie met gemeenskapsinstellings soos kerke, skole, kultuurorganisasies en ‘n gebonde woonbuurt of dorp verkry word. In sy boek A Quest for Community wat reeds in 1953 verskyn het maar vandag meer as ooit vantevore op die Afrikaner van toepassing gemaak kan word, beskou hy die gevolg van hierdie individualisering as die opkoms van ‘n sterk staat wat toenemend mag binne homself sentreer en bykans in vyandigheid teenoor die georganiseerde gemeenskap en sy instellings staan. Die individu wat hom los maak van sy gemeenskap, verantwoord hom toenemend direk aan die staat en is afhanklik van die staat vir dienste, struktuur, gesag en selfs ‘n waarderaamwerk.

‘n Praktiese voorbeeld is die kwessie van ‘n paartjie wat saambly sonder om getroud te wees. Ons ontvang gereeld vrae oor hoe Orania dit hanteer. Sedert die opkoms van individualisme in Amerika in die 1960’s het buite-egtelike swangerskappe geweldig toegeneem. In 1965 was 24% van alle swart geboortes en 3,1% van alle wit geboortes sulke gevalle. Teen 1990 het dit tot 64% en 18% onderskeidelik gestyg en sedertdien selfs nog meer so. 40% van alle babas wat tans in Amerika gebore word is buite-egtelik. Dit plaas geweldige druk op die staat om te sorg vir mediese dienste, gratis onderrig en maatskaplike dienste. Kinders wat in ‘n huis sonder ‘n vader groot word staan ‘n baie groter kans om ekonomies nie suksesvol te wees nie en verdere druk op die staat plaas. Talle studies regoor die wêreld het al bewys dat die kanse vir ‘n kind wat uit ‘n huis met ‘n pa en ‘n ma kom, soveel beter is om goeie onderrig te ontvang, gesonder te wees en uiteindelik ‘n suksesvolle posisie in sy/haar gemeenskap in te neem. Daar is dus vanuit ons Christelike perspektief, maar ook vanuit ‘n baie praktiese perspektief, ‘n sterk saak uit te maak vir die tradisionele gesin.

Sou ons toelaat dat Orania ook net ‘n gemeenskap van individue raak, sal ons noodgedwonge ‘n sterk regering met baie mag moet skep wat waardes en gesag afdwing. Dit behels die bepaling van drakoniese wette en die polisiëring van waardes. Soek ons ‘n maghonger regering in Orania of ‘n selfregulerende gemeenskap? Die antwoord behoort eenvoudig te wees. Ons moet die konsepte van buurmanskap, deelname aan aktiwiteite van ‘n woonbeurt, deelname aan skool-, kerk-, kultuurorganisasie en ander burgerlike organisasie-aktiwiteite en die bou van ‘n aktiewe gemeenskap wat sy eie waardes, gesag, regulasies en stelsels bepaal, vooropstel.

Dit begin by die eenvoudige konsep om minder van ‘n regering te verwag. As jy rommel langs die pad sien lê, tel dit op! Nooi jou buurman wat kerklos geraak het uit om saam met jou kerk toe te gaan. Onderhou self die gras op jou sypaadjie. Onderhou die reëls as verantwoordelike persoon en nie uit dwang nie.

Prof Koos Malan skryf in wat sekerlik een van die belangrikste boeke wat in jare in Afrikaans verskyn het, Politokrasie, die volgende: “Sedert die staat daarin geslaag het om godsdiens as die enigste politieke kategorie opsy te skuif, waak dit jaloers oor sy monopolie oor die openbare domein. Individue moet dus voorkeur aan hulle verbintenis met die staat gee en moet bowenal in die eerste plek staatsburgers wees. Dienooreenkomstig koester die staat ‘n diep afkeur van enige groepsvorming in die staat wat in die openbare domein ‘n beslag mag kry en dus aan die staat ‘n bepaalde identiteit eie aan ‘n groep (godsdienstig, taal, kultureel, etnies of dergelik) mag besorg, of wat ‘n verdelende effek mag hê.”

Keer op keer voel mense bevry wanneer hulle die “juk” van kerk, kultuurorganisasie of watter gemeenskapsbetrokkenheid ook al afskud, net om onder die harde gesag van ‘n regering in te val. Tog kan min mense sonder gesag en struktuur funksioneer. Gesag en struktuur wat van onder (uit die gemeenskap self) eerder as van bo (‘n regering) kom, is juis nie daar om te onderdruk nie, maar eerder om te bevry. Vryheid beteken egter nie om jouself te bevry van wie jy is nie, maar eeder om vry te wees om te wees wie jy is.

Orania kan en moet ‘n voorbeeld stel van hoe ons deur ‘n sterk gemeenskapslewe oplossings skep. Waardes moet nie afgedwing en gepolisieer word nie, maar moet deur individuele skakeling binne familieverband en tussen bure, kollegas en vriende oorgedra en gereguleer word. Onderwys, maatskaplike dienste en die geestelike versorging van jou medemens moet jóú werk wees en nie ‘n paar predikante s’n nie. Die estetiese voorkoms van jou straat is jou verantwoordelikheid, net soos wat dit jou verantwoordelikheid is om jou vriend wat padreëls verontagsaam daaroor aan te spreek. Elke huidige inwoner, maar ook elke voornemende inwoner en selfs net besoeker aan Orania, kan ‘n verskil maak deur die krag van die georganiseerder gemeenskap te besef en dit in praktyk hier toe te pas.

The family, religious association, and local community––these, the  conservatives insisted, cannot be regarded as the external products of man’s thought and behavior; they are essentially prior to the individual and are the indispensable supports of belief and conduct. Release man from the contexts of community and you get not freedom and rights but intolerable aloneness and subjection to demoniac fears and passions. Society, Burke wrote in a celebrated line, is a partnership of the dead, the living, and the unborn. Mutilate the roots of society and tradition, and the result must inevitably be the isolation of a generation from its heritage, the isolation of individuals from their fellow men, and the creation of the sprawling, faceless masses.  (The Quest for Community)

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel