fbpx

G.P.D. Terblanche van Bloemfontein skryf heel tereg in Volksblad (27/09) dat Afrikaner-geesdrif kwyn en dat die oplossing in die ondersteuning van Afrikanerorganisasies lê.

Sedert die politieke verandering in 1994 het die behoud en beskerming van Afrikanerskap van ’n openbare na ’n private poging oorgeslaan.

Talle organisasies kon sonder regeringsteun hul aktiwiteite volhou nie. Ander kon nie tred hou met die veranderinge wat nie net Suid-Afrika nie, maar ook Afrikaners as groep, ondergaan het nie. Dit is dus nie verrassend nie dat dit hoofsaaklik ’n nuwe generasie Afrikaner-organisasies is wat vandag wel groei en vooruitgaan. Om in 2012 met die werkwyse en idees van selfs net 10 of 15 jaar gelede te probeer om ’n verskil aan die Afrikaner se lot te maak is bykans onmoontlik.

Dit is ook die rede waarom die Orania-beweging se ledetal die afgelope 10 jaar met byna 400% gestyg het.

Soos ander nuwegenerasie-organisasies probeer ons nie om iets uit die verlede in stand te hou nie, maar om die veranderinge wat Afrikaners op ekonomiese, politieke, demografiese en talle ander terreine beleef het te verreken.

In praktyk verskil die twee sieninge tussen ou- en nuwegenerasie-organisasies vir Afrikaners daarin dat die een die status quo wil behou, terwyl die ander die Afrikaner se kultuur, taal, geskiedenis, tradisies en reg op ’n veilige leefruimte op nuwe, internasionaal aanvaarbare maniere wil beskerm en uitbou.

Een organisasie sal veg vir die behoud van ’n Afrikanermonument in ’n gebied waar byna geen Afrikaners meer woon nie, terwyl ’n ander sal probeer om so ’n monument na ’n nuwe leefruimte soos Orania te verskuif waar dit bewaar en gewaardeer kan word.

Ons sal waarskynlik in die volgende paar jaar toenemend aanskou hoe Afrikaners hulle aan organisasies met nuwe, vars voorstelle sal verbind, terwyl die hartseerverval van die ou, gevestigde orde van Afrikanerorganisasies net sal versnel.

 

Jaco Kleynhans

Orania