by Orania Beweging | Jul 9, 2012 | Nuus |
“Wat’s in ‘n naam?” is taalkundig gesproke ‘n kostelik dubbelsinnige frase. Enersyds is dit ‘n ooglopende anglisisme, te meer omdat dit William Shakespeare se insig oproep dat ‘n roos ewe lekker sal ruik, wat jy dit ookal noem. Andersyds is dit ‘n onteenseglike aanduiding dat Engels ‘n Germaanse taal is – náby familie van Afrikaans.
Dit is egter nie my bedoeling om lesers met taalkundige kwessies besig te hou nie, maar eerder met die inhoud van die frase en wel met betrekking tot die drieledigheid van ons eie vereniging se naam en die geskiedenis daarvan. Ons grondwet bepaal dat ons vereniging die Afrikanervryheidstigting heet, dat dit na Vryheidstigting verkort kan word en dat dit kan handel as die Orania Beweging. Maar waarom is dit so en wat beteken dit? Die vrae regverdig ‘n hele boek, maar kom ons begin deur ‘n paar kort gedagtes daaroor te deel.
Eerstens is die Afrikanervryheidstigting die naam waaronder ons vereniging in 1987 gestig is en wat nou nog onveranderd bly staan. Dit is as navorsingsinstelling opgerig en het ondersoeke na die verkieslikste volkstaatgebied vir Afrikaners geloods. Sy ondersoeke het die westelike deel van Suid-Afrika en aanvanklik selfs die suidelike deel van Namibië as demografies haalbaar uitgewys en hom op die pad daarheen geplaas.
Hoewel die meeste Afrikaners dit aanvanklik as ‘n té geringe aanspraak beskou het, het die politieke omwenteling wat daarna plaasgevind het en die gevolge daarvan, hierdie insig nog net bevestig. Om die teoretiese plan prakties in werking te stel is die aanvanklike stigting gedurende die vroeë negentigerjare in ‘n ledevereniging omskep – die een waaraan ons almal nou behoort.
Die afkorting wat destyds gebruik is, was natuurlik AVSTIG, ‘n akroniem wat by die gedagte van sesessie/afstigting van Suid-Afrika aangesluit het en aan ‘n redelik militante houding onder groot getalle behoudende Afrikaners jeens die moontlikheid van ‘n swart meerderheidsregering uitdrukking gegee het. Dit is eintlik nie verbasend dat die naam dikwels met ‘n -f- in plaas van ‘n -v- gespel is nie.
Ten spyte daarvan dat talle Afrikaners gemeen het dat ons op te min aanspraak maak, het dit gou geblyk dat die eise wat werklike afstigting sou stel, vir hulle heeltemal te hoog was en dat hulle liewer onder die nuwe meerderheidsregering in ‘n onverdeelde Suid-Afrika sou inval. Daarmee is AVSTIG as afkorting en handelsnaam in werklikheid agterhaal.
Dit is die rede waarom ons in 2001 besluit het om ons grondwet so te wysig dat ons die naam enersyds net tot Vryheidstigting afkort en anderyds ‘n handelsnaam kies wat nie na ‘n afgeleide en ietwat abstrakte aspek soos een moontlike prosedure van staatstigting verwys nie, maar na die konkrete werklikheid van ‘n funksionerende gemeenskap wat met die oog op selfbeskikking in ‘n volkstaat gevestig is.
Ons het op Orania Beweging besluit omdat dit nie net na Orania as onbetwisbare werklikheid verwys nie, maar ook na die beweging wat daardeur en daarrondom besig is om tot stand te kom. Beide die konkrete werklikheid as die idealistiese strewe is dus daarin vervat.
Maar wat het dit met Shakespeare se roos te doen? Dalk kan mens dit só stel: dat dieselfde soet geur wat vir sommige van die woord “vryheid” uitgaan, vir ander van die naam “Orania” uitgaan. Party mense put hulle inspirasie uit die abstrakte begrip wat hulle in vervulling wil sien gaan, uit die beroep op en strewe na vryheid. Vir hulle is “vryheid” nie ‘n blote konsep nie, dit is ‘n lewende simbool terwyl “Orania” dalk min of meer net ‘n blote plek is. Ander put hulle inspirasie uit die werklikheid van mense wat, sover dit tans moontlik is, reeds hulle vryheid beoefen en dit langs dié weg wil vestig en uitbrei. Vir hulle is “Orania” ‘n lewende simbool en wegwyser, ‘n woord swanger aan betekenis, terwyl “vryheid” dalk ‘n oorgebruikte woord uit ‘n vorige era is.
Ek loop beide hierdie vertolkings raak in die soms subtiele, soms bombastiese voorkeure van ons lede en ondersteuners. Onder ander omstandighede het “vryheid” en “republiek” reg langs mekaar in ons mense se emosionele register kom lê. In ons tyd sal dit toenemend van “vryheid” en “Orania” ook waar wees. Ek glo nie ons moet tussen die twee simbole probeer kies nie; ons kan met gemak en sukses die Vryheidstigting wees wat ook as die Orania Beweging optree.
by Orania Beweging | Jul 9, 2012 | Nuus |
In ‘n onlangse artikel in The American Conservative skryf Rod Dreher van ‘n vriend van hom wat ‘n uitstekende werksaanbod in ‘n ander land van die hand gewys het. “He said that the things he learned from being here, and part of this community, were experiences only open to those who cultivated stable lives in community, which implies renouncing the idea that life is better elsewhere…” Dreher argumenteer dat die konsep van ‘n gelukkige, tevrede gemeenskap ondermyn word deur die ideologie van individualisme en verbruikerskapitalisme.
Die Afrikaner se voortbestaan word vandag nie eksklusief deur eksterne faktore bedreig nie, maar soveel te meer deur ons eie onvermoë om rondom ‘n sinvolle politieke en ekonomiese denke te verenig.
In ons strewe na selfbeskikking sal ons heelwat energie moet wy aan die ontwikkeling van ‘n gepaste politieke en ekonomiese denkrigting. Die populistiese konsepte van sosialisme en laissez-faire-kapitalisme bied geen antwoord op die Afrikaner se unieke uitdagings nie. Daarmee saam ondermyn individualisme, die polities korrekte afdwinging van egalitarisme en die toenemende verval van Afrikanerkultuur enige poging tot selfbeskikking omdat ons mense dink hulle selfverwesenliking deur sosiale aanvaarding en die genot van materiële middelle kan bereik.
Wat is die uitdagings? Soos genoem beskou ek die grootste uitdagings vir die Afrikaner se voortbestaan as interne eerder as eksterne faktore. Dit sluit in ‘n toenemende individualisme en aanhang van die verbruikerskapitalisme waarna Dreher verwys. Verder is Afrikaners stelselmatig besig om ankers soos hulle geloof, die gesin, moraliteit en natuurlik hul interafhanklikheid van ‘n saamgebinde gemeenskap en sy instellings soos skole, verenigings en politieke instrumente, te verloor.
Vir hierdie redes word dit makliker vir Afrikaners om te emigreer, te integreer, of selfs net verder te individualiseer. Hoe kan dit gebeur dat mense met ‘n geskiedenis van meer as 350 jaar net kan oppak en emigreer? Hoe kan dit gebeur dat Afrikaners net kan besluit dat hulle hul kinders Engels wil grootmaak? Hoe kan Afrikaners die bande van hulle geloofs- en kerklewe, die inspirasie van gemeenskap en die fondament van geskiedenis, kultuur en taal net opsê om ook maar net Suid-Afrikaners te wees?
Die probleem lê myns insiens daarin dat Afrikaners nie ‘n sentrale politieke denke het wat hulle bymekaar hou nie. Afrikaners aanvaar toenemend dat om suksesvol te wees en bo uit te kom juis van hulle verwag om wie hulle is op te sê en ‘n meer aanvaarbare, liberale beeld van hulself te projekteer. Dit is te verstane inaggenome die invloed wat Suid-Afrika se politieke en ekonomiese veranderings die afgelope twintig jaar op Afrikaners gehad het. As Afrikaners nie weet wie hulle is en wat en hoe hulle mag wees nie, sal hulle probeer om soos ander te wees, net om te oorleef.
Na die Tweede Wêreldoorlog het Amerika ook voor die vraag van ‘wie sal ons nou vorentoe wees’ gestaan. Amerika se toenemend dominante rol in wêreldpolitiek en toenemende sosialisme in die Amerikaanse regering, het ‘n groep denkers onder leiding van Russell Kirk ‘n informele denkskool tot stand laat kom wat eers as die ‘New Conservatives’ en later as die ‘Traditionalists’ bekend gestaan het. Die denke van hierdie groep het later in die konsep van paleo-konserwatisme as denkraamwerk ontwikkel. Onder leiding van Kirk het hierdie groep die konsepte van die verligting, egalitarisme (gelykmaking), nuttigheidsleer en rasionalisme verwerp. Vryheid, ‘n fokus op insette, tradisie, geloof en die rol van die gemeenskap is weer na vore gebring. Die Paleo-konserwatiewes verwerp die meerderwaardigheid van die moderne demokrasie waar burgers hul stem slegs by die stembus kan laat hoor. Vandag sien ons in die VSA ‘n nuwe opbloei van paleo-konserwatiewe denke in die Teeparty en hernude pogings om tradisie en die rol van die Christelike geloof, waardes en die gemeenskap in die VSA te herstel.
Die paleo-konserwatisme verwerp ook sosialisme en ekstreme laissez-faire-kapitalisme. Die sosialisme ondermyn die krag van die gemeenskap om homself deur toenemende lokalisme te versterk, terwyl die markfanatici se hartelose denke, waar die mark meestal bo die belang van die medemens geplaas word, ernstige morele vrae laat.
Gedurende die 1940’s het Robert Taft, ‘n Amerikaanse senator, reeds die grondslag vir ‘n paleo-konserwatiewe denkrigting gelê. “… a system in which the able would realize their practical talents and receive their just rewards, and in which the needy and unfortunate – from out that society’s prosperity – would be provided with a tolerable livelihood, regardless of their inability to provide for themselves.”
Party moderne paleo-konserwatiewe denkers predik ook die belangrikheid van lokalisme. In ‘n onderhoud met Jeff Fortenberry, ‘n lid van die Amerikaanse kongres van die deelstaat Nebraska, wat onlangs in The American Conservative gepubliseer is, neem hy sterk standpunt in teen die absolute ekonomiese beginsels wat deur ‘n meerderheid van politici in die twee hoof politieke partye in die VSA gepredik word. Fortenberry gaan voort deur ‘n pleidooi vir die lokalisme te lewer: “We can have systems that are small and local and efficient, or big and unaccountable… I believe in the benefits of localism as a more traditional economic model.”
Wat beteken dit alles vir die Afrikaner? Na my mening moet Afrikaners binne ‘n paleo-konserwatiewe denkskool verenig word. Een waar die fondamente dié van ons geloof, waardes, kultuur, taal, tradisies en geskiedenis is en een waar ons metodes ‘n herontdekking van die krag van gemeenskap en lokalisme vooropstel. Afrikaners wat oor ‘n goeie fondament beskik en oor die vermoë beskik om selfverwesenliking uit hul rol in die gemeenskap eerder as oordrewe individualisme en materialisme te kan put, sal ‘n voortbestaan hê. Orania en Oraniërs moet meer doen om hierdie soort denke aan mede-Afrikaners bekend te stel en as alternatief tot individualisme, integrasie en emigrasie aan te bied. Slegs dan sal ons die soort groei in die strewe na selfbeskikking wat ons graag onder ons mense wil sien, begin ervaar.
by Orania Beweging | Jun 25, 2012 | Nuus |
Verlede Saterdag (16 Junie 2012) het EPOG, die Eenheid vir Ekonomie, Politiek, Omgewing en Geskiedenis, ‘n konferensie op Orania gehou oor toepaslike denkrigtings in die ekonomie en die relevansie vir Orania en ander plaaslike gemeenskappe.
Vier denkrigtings is bekend gestel, wat almal in ‘n mindere of meerdere mate alternatiewe sienings tot die klassieke teenstelling van liberalisme teenoor sosialisme is.
Mnr Piet le Roux, senior navorser in Ekonomie by Solidariteit, het Ludwig von Mises en die Oostenrykse Ekonomiese Skool bekend gestel. Daarvolgens moet die bestudering van die ekonomie nie op die versameling van data fokus nie, maar op menslike handeling (Praxeologie). Die uitruil van dienste en goedere is ‘n menslike aksie wat bepaal word deur mense se begeertes en deur die waarde wat hulle aan iets heg. Daar is nie iets soos ‘n absolute waarde nie en die waarde van ‘n produk of diens kan wyd verskil afhangende van die nuttigheidswaarde wat mense aan iets heg. Von Mises se waardebepaling verskil dus duidelik van diegene soos Karl Marx, wat die waarde van ‘n produk aan die tyd koppel wat dit neem om dit te maak. Marx sien uitbuiting as iets wat lank gevat het om te neem, geruil word vir iets wat vinnig of goedkoop geproduseer is. Volgens Von Mises is dit egter irrelevant, want die ruiler gee iets wat vir hom min waarde het vir iets wat hy begeer. Tyd is ook ‘n relatiewe kommoditeit.
Von Mises se denke val breedweg in die liberale sfeer. Die individu handel in sy eie belang en handeling kan dus van individu tot individu verskil. Groepe is in dié geval net ‘n versameling van individue. In Suid-Afrika en Orania herinner Von Mises se teorie ons daaraan dat die ekonomie ‘n menslike handeling is en nie iets is wat abstrak en verwyderd van die mens staan nie. Von Mises het reeds in die vroeë 20ste eeu gesien dat sosialisme, wat die RSA-regering nou weer as die oplossing voorhou, sal misluk omdat dit nie menslike handeling en keuses in ag neem nie.
Carel Boshoff, president van die Orania Beweging, het die Hongaarse filosoof Karl Polanyi en sy denke bekend gestel. Polanyi kritiseer veral die klassieke ekonomiese denke van liberaliste en sosialiste wat die ekonomie as ‘n aparte sfeer sien, en dat die ekonomie verkeerdelik beperk word tot die uitruil van goedere en dienste in die markopset van vraag en aanbod. Volgens Polanyi is die ekonomie ingebed in die menslike samelewing en verweef met die kultuur. Polanyi verwerp ook die klassieke produksie-elemente soos arbeid, grond of grondstowwe en kapitaal, wat algemeen as verhandelbare kommoditeite gesien word. Arbeid en grond is egter nie gemaak om verkoop te word nie.
As die ekonomie uit die samelewing gehaal word, ontrafel laasgenoemde. Juis dít gebeur as arbeid en grond as verhandelbare kommoditeite gesien word. Die mark moet nie verabsoluteer word nie, maar is slegs ‘n meganisme om menslike verhoudings in ewewig te bring. Die ekonomie moet, nes die politiek, een van deelname wees en tot diens van die gemeenskap, nie tot diens van die elite nie.
Orania sien homself juis as plaaslike gemeenskap wat sy eie gemeenskapsekonomie vestig en Polanyi se kritiek op die bestaande ekonomiese orde is dus ook ‘n bevestiging dat ons die regte ding doen deur die ekonomie as plaaslike gemeenskapsaksie te sien, nie as ‘n abstrakte entiteit nie.
Jaco Kleynhans, Uitvoerende Hoof van die Orania Beweging, het die paleo-konserwatisme en Pat Buchanan as sy voorste verteenwoordiger, verduidelik. Dit is geen filosofie of teorie nie, maar eerder ‘n stel norme en waardes wat op die ervaring van die geskiedenis gebou is. Die paleo-konserwatiewes is nie mark-fundamentaliste soos die Neo-konserwatiewes nie, maar glo dat die staat wel ‘n rol het, byvoorbeld in die toedeling van fondse, wat dan wel deur die mense op grondvlak versprei moet word. Hulle kernbeginsels is vryheid, die familie, tradisie, geloof en gemeenskap. Hulle fokus nie op die individu nie en ook nie op die kollektiewe nie, maar op die gemeenskap, iets wat organies gegroei het en deur gedeelde waardes en kultuur bymekaar gehou word. Die staat moet die gemeenskappe beskerm om voorspoed en stabiliteit vir die land as geheel te verseker. Om dié rede glo die paleo-konserwatiewes nie aan onbeperkte vrye handel nie, maar aan sekere proteksionistiese maatreëls om die plaaslike bedrywe te beskerm. Die paleo-konserwatiewe denke val breedweg in die ekonomiese teorie van merkantilisme of ekonomiese nasionalisme.
Vir Orania en ander plaaslike gemeenskappe is dit nogal van besondere waarde. As volgens die logika van die suiwer mark geredeneer word, dan is Orania en ander plaaslike gemeenskappe in geen opsig kompeterend nie. Die welsyn van die gemeenskap is egter wat saak maak en nie net die winsmotief nie. Daarom word in Orania die Ora as plaaslike geldeenheid gebruik en mense aangemoedig om plaaslik te produseer, werk te skep en te koop.
Danie Goosen, dosent in Godsdienswetenskappe aan Unisa, het Wendell Berry bekendgestel. Berry neem by uitstek die plaaslike in beskerming en gee ‘n goeie rasionaal vir Orania en ander plaaslike gemeenskappe. In die huidige globale ekonomiese orde word vooruitgang en ontwikkeling as stedelike fenomeen gesien en vooruitgang word gemeet aan die bevrediging van begeertes wat gewek word deur bemarking en kommunikasie en wat gedurig vermeerder. Omdat die groot hoeveelheid begeertes nie bevredig kan word nie, skep dit by mense ‘n onvergenoegdheid en die persepsie van skaarste. Daardie persepsie van skaarste lê ook aan die wortel van talle konflikte, ook in Suid-Afrika. Mense het meer as in die verlede, maar weens al hoe groter begeertes en vergelykings met ander wat meer het, onstaan konflikte oor materiële goed. Die ANC-regering hou juis sy bewind in stand deur die begeertes van die massas te instrumentaliseer en ‘n bevrediging daarvan voor te hou. Aangesien die hoë verwagtings nie vervul kan word nie, sien ons woedeuitbarstings soos die gereelde diensleweringsproteste.
In Orania vind ons juis dat ander begeertes as die materiële bevredig word en dit beperk in ‘n sekere sin ook ons groei, omdat vir meeste mense buite materiële begeertes voorop staan. Ons kan egter nie met stede kompeteer nie en Orania moet die begeerte van menslikheid en geborgendheid binne ‘n gemeenskap propageer, eerder as slegs materiële voorspoed.
by Orania Beweging | Jun 25, 2012 | Nuus |
Orania is wel nie ‘n staat nie, maar ook meer as maar net nog ‘n dorp. Dit is ‘n groeipunt vir ‘n toekomstige Afrikanervolkstaat en die sentrum van die Afrikaner se praktiese vryheidstrewe.
Ons strewe geskied uit die aard van die saak nie in isolasie nie. In tye waar elke vierkantemeter aan die gesag van een of ander staat onderworpe is, is staatskepping van niks af en van nuuts af beslis nie maklik nie en kan ook nie in isolasie geskied nie.
Om ons strewe te verwesenlik moet ons die kragte om ons, nasionaal en selfs internasionaal, in ag neem.
Ons kan van verskillende konsentriese kringe praat wie se goedgesindheid of ten minste neutraliteit ons nodig het as ons wil suksesvol voortgaan met ons strewe. Daar is eerstens die Afrikaners, vir wie die staat bedoel is wat ons skep, en wat die mense is wat ons bo al die ander nodig het om ons te steun. Selfs binne die redelik oorsigtelike Afrikanerkonteks werk ons met ‘n wye spektrum. Aan die een uiterste is diegene vir wie ons strewe neerkom op die opgee van die herstel van die ou Suid-Afrika, of ten minste die ou Boererepublieke. Aan die ander uiterste is die Afrikaners wat die idee om nie die nuwe Suid-Afrika met blydskap te aanvaar en daarbinne op te gaan nie, as mal en verkramp beskou. Die groot meerderheid Afrikaners staan selfbeskikking voor, al sou hulle dit nie so noem nie, maar hulle wense getuig daarvan. Hulle soek ‘n veilige, mooi omgewing tussen hulle eie mense, met Afrikaanse skole en kerke en ‘n Christelike lewensbeskouing. Hulle weet egter nie van Orania nie, of het enkele persepsies, partymaal positief, maar meestal negatief.
Die hoofaandag van ons bemarking fokus dus op Afrikaners en Orania skakel met Afrikaanse organisasies oor die hele spektrum, soos AfriForum, Solidariteit, Vryheidsfront Plus, FAK, Voortrekkermonument, wat ons almal in ‘n mindere of meerdere mate goedgesind is. Dis hier waar ons steun lê en waar ons nuwe inwoners, besoekers, donateurs en lede kan werf.
Volgende staan ons onmiddellike bure, die Afrikaanse boere wat min of meer inskakel by Orania alhoewel min van hulle nog die volkseie arbeidsbeginsel toepas en dan die bruingemeenskappe van die buurdorpe soos Hopetown en Petrusville. Ons verskil kultureel en wat ons toekomsverwagtings betref, maar ons deel een geografiese gebied en ons moet goeie buurmanskap handhaaf en bevorder. Die onlangse besoek van die nuwe burgemeester van Hopetown, mnr Jonas, was van waarde en die vreedsame naasbestaan en die uitruil van kennis en ondervinding is bevestig. Ons staan by ons beginsels en strewe, maar ons soek nie konflik nie en wil ons fondse en energie liewers vir verdere opbou gebruik, nie vir uitmergelende hofsake en vergaderings oor Orania se status nie.
Nog ‘n groep waarmee ons moet skakel is ander Suid-Afrikaanse etniese groepe wat ook glo aan kulturele behoud en lokalisme. Die besoek van die bruin gemeenskap van Eersterust was reeds ‘n sinvolle uitruiling en onlangs is bande aangeknoop met die tradisionele Xhosa-gemeenskap van Mnyameni in die Oos-Kaap. Orania glo aan selfbeskikking en selfbeskikking is nie beperk tot die Afrikaner nie, maar geld vir elke groep wat die begeerte het om sy eie kultuur uit te leef en in beskerming te neem.
Vir Orania, wat dikwels voorgehou word as ‘n plek van eksentrieke mense wat teen die globale logika stry soos Don Quixote teen die windmeulens, is dit van groot waarde om sustergemeenskappe te kan kry wat ons strewe deel. Dit moet ander Afrikanergemeenskappe met ‘n vergelykbare strewe wees, soos Kleinfontein, waarmee daar reeds goeie bande bestaan, maar ook gemeenskappe van ander minderhede of groepe wat na kulturele behoud strewe en plaaslike ontwikkeling wil bevorder, soos Mnyameni en Eersterust. Vorentoe kan selfs susterdorpe in Suid-Afrika en selfs in ander lande verkry word. Na die Tweede Wêreldoorlog het stede en dorpe in Europa nogal ‘n belangrike bydrae tot versoening van vyandige volke gedoen deur op plaaslike vlak in verskeie lande susterdorpe of stede te kry om gereeld kulturele uitruiling en wedersydse besoeke te besig, wat in elke opsig verreikend was en vooroordele afgebreek het.
Die volgende kring is die regering en ampsdraers wat kultureel en ideologies ver van ons verwyderd is, maar wat belangrike rolspelers is wat nie geïgnoreer kan word nie. As Orania ‘n teiken van die regering word, lê swaar tye vir ons voor. Met die regering en die media se hipersensitiwiteit oor rassisme is dit van uiterste belang om te wys dat Orania oor kulturele selfbeskikking gaan en nie oor rassisme nie. Besoeke van ANC-ampsdraers soos presidente Mandela en Zuma, Aardsbiskop Desmond Tutu en ANC-Jeugleier Julius Malema was groot diplomatieke suksesse om mense wat ons vyande kon wees, te neutraliseer. In die proses het ons geen van ons beginsels prysgegee nie, want dit is Orania se standpunt dat ons ‘n Afrikanergemeenskap is wat sy leefwyse, werkswyse en uitgangspunte graag en met trots aan belangstellendes van enige kultuur bekendstel en wat dalk ook lesse het vir ander plaaslike gemeenskappe.
Die media val ook in dié groep. Ongeag of dit Afrikaanse of Engelse media is, hulle is verbind tot die een-nasie idee en Suid-Afrikanisme en staan dus skepties of selfs vyandig teenoor Orania en sy strewe van selfbeskikking. Goeie skakeling met die media, wat die boodskapdraers na die meeste Suid-Afrikaners is, het egter ook al vir ons punte gewen en die media se gesindheid het verbeter en aanvalle op ons raak minder. Af en toe kry ons selfs positiewe artikels en uitsendings wat vir ons beeld buite baie beteken.
Laastens, maar nie die minste nie, raak ons internasionale skakeling ook toenemend belangrik. Min selfbeskikkings- of bevrydingsbewegings kon iets regkry sonder internasionale ondersteuning. ‘n Bekende voorbeeld is die ANC, wat intern nie juis ‘n faktor was nie, maar deur internasionale steun opgeblaas is tot die enigste legitieme verteenwoordiger van die meerderheid van Suid-Afrik se bevolking. Ons internasionale skakeling is nog in sy kinderskoene, maar verskeie skakelbesoeke aan verskeie Europese lande soos Nederland, Brittanje, Vlaandere, Suid-Tirool en Duitsland is al onderneem en formele bande is gevorm met spesifiek die Suid-Tirolers en Vlaminge. Dit het begin met besoeke van mense wat nuuskierig was oor Orania ‘n paar jaar gelede en is intussen al ‘n groeiende en vrugbare vriendskap met formele strukture en groot donasies vir die uitbou van Elim is reeds ontvang van die Suid-Tirolers, Vlaminge en Nederlanders. ‘n Formele sustersdorpooreenkoms met ‘n Suid-Tiroolse en Vlaamse dorp sal die kroon daaroor span.
Die steun wat ons op die sosiale media kry uit verskeie oorde, die gereelde e-pos steunboodskappe en navrae en die lewende debat wat heers moet ook nie onderskat word nie.
Die doel van goeie diplomasie is om met diegene wat jou vriende kan wees, soos ander Afrikaners, ander plaaslike gemeenskappe en Europese broedervolke, maksimale bande te vorm en mekaar te ondersteun en om diegene wat jou vyande is of kan wees, soos die regering en die media, so ver te kry dat hulle jou en jou strewe aanvaar en vreedsame naasbestaan handhaaf.
by Orania Beweging | Jun 19, 2012 | Nuus |
Ons as klein volk van Europese afkoms het gewoond geraak om na Europa op te kyk as vasteland waar alles werk en permanente voorspoed heers. Vir baie jare was dit die geval, omdat Europa ‘n paar faktore gehad het wat voorspoed moontlik gemaak het: demokratiese, polities stabiele regerings, min of meer goeie werksetiek en hoë produktiwiteit, meesal etnies min of meer homogeen, oftewel met ‘n staatsvolk wat aan sy land lojaal was en daar tuis gevoel het. Die lande onder mekaar het in vreedsame naasbestaan verkeer en wedersydse handel het almal bevoordeel. Dit was so in die 1970’s en 1980’s en die Europese Ekonomiese Gemenebes was die versinnebeelding van ‘n ekonomiese verbond van nasiestate wat ekonomies saamwerk, maar waar elke volk soewereiniteit oor sy eie sake gehad het.
Selfs na die omwenteling in Oos-Europa, wat nuwe, bevryde, demokratiese en eweneens grootliks etnies gedefinieerde state vry gemaak het van kommunistiese oorheersing, of slegs nuut tot stand gebring het, het die toestand vir ‘n wyle voortgegaan soos wat Oos-Europese lande ook deel van die Europese Gemenebes geword het. Maar toe kom die Maastricht-verdrag, wat alles die sentralisasie van mag in die setel van die Europese Kommissie in Brussels verstewig het en die soewereiniteit van die lidlande verswak het. Toe word dit ook sommer die Europese Unie met nog verskeie verdrae en in 1999 kom die Euro as een gemeenskaplike geldeenheid vir die meerderheid lidlande. Die doel van al die verdrae is om die lidlande al hoe nouer aan mekaar te bind, al hoe meer mag van die nasionale regerings oor te skuif na die nie-verkose “Europese Regering” in Brussels en om uiteindelik een Europese superstaat as teenwig teen die VSA te skep. Gelyktydig is enige land wat geografies deel van Europa is, as toekomstige lidland beskou, ongeag sy ekonomiese toestand. Op die pad na ‘n uiteindelike Europese bondstaat was daar geen omdraaipad ingebou nie en selfs toe lidlande in referendums teen die verdrae van Maastricht en Lissabon gestem het, is dit slegs as vertragings, maar nie as padversperring gesien nie en die Europese trein het aanbeweeg, toenemend teen die wil van sy burgers in.
In die Europese Ekonomiese Gemeenskap wat voor die Maastricht-verdrag bestaan het, was daar beduidende verskille tussen die lidlande, maar die wedersydse uitruil van goedere het nog steeds almal bevoordeel, miskien nie in dieselfde mate nie, maar bevoordeel nietemin, en lande wat nie deel van die Europese Gemenebes was nie, soos Turkye, het alles in hulle vermoë gedoen om lid te kon word. Die aanvanklike beginsel dat die Gemenebes moet bestaan uit redelik suksesvolle lande wat mekaar wedersyds bevoordeel, is stilswyend verander na een van ‘n solidariteitsgemeenskap waar die rykes die armes moet ophef. Dit is ‘n konsep wat selfs binne ‘n land en binne ‘n volk omstrede is, omdat dit te veel kere, al is dit goedbedoeld, die verkeerde uitwerking het, naamlik om verkeerde gedrag en luiheid te beloon.
Tans sien ons die klasieke geval in die Europese Unie, en spesifiek die Euro-sone: Lande wat hulle ekonomie suksesvol hervorm het (deur vakbonde se invloed in te kort, die aftree-ouderdom te verhoog, werkloosheidstoelaes te verminder en skuldvlakke te verlaag) soos Duitsland, Nederland en Groot-Brittanje (asook die tradisioneel voorspoedige Skandinawiese lande), moet lande subsidieer wat voortleef asof die geld nooit opraak nie, soos Griekeland, Ierland, Spanje, Italië en Portugal, en waarskynlik binnekort Frankryk, waar so pas ekonomiese hervormings terug gedraai is. Om verstaanbare redes sien die bewoners van die voorspoedige lande nie kans om ander lande se onbuigbaarheid en gemaklikheid met hulle belastinggeld te steun nie. Omdat alle noemenswaardige partye egter ‘n konsensus het dat die Euro-sone ten alle koste moet voortbestaan en dat Europa vorentoe in een staat moet ontwikkel, is daar geen kans om die huidige verkeerde beleid te stop nie.
Die leiers van die EU, wat behalwe die staatsleiers ook die nie-verkose Eurokrate in Brussels insluit, gaan selfs nog verder in die verkeerde rigting: pleks om te erken dat die Euro en die saamsmelt van ekonomies en kultureel uiteenlopende state nie werk nie, wil hulle nou met spoed ‘n “fiskale, finansiële en politieke unie” skep, wat neerkom op een Europese superstaat met ‘n nie-verkose regering van ‘n self-aangestelde elite wat die ekonomiese en politieke besluitneming van die nasionale parlemente wegneem en oordra aan ‘n klein selfaangestelde elite-groep wat aan niemand meer rekenskap gee nie.
Daar is dus twee scenarios: Eerstens, die ekonomiese realiteite maak dat Duitsland en ander lande se voorspoed opdroog omdat hulle hulleself ooreis deur te veel ander lande gelyktydig te wil ophef. Die huidige relatief gesonde ekonomiese beleid van kanselier Angela Merkel, wat op spaar eerder as op spandeer en skuld maak fokus, is reeds onder druk omdat feitlik al die ander lande eerder wil spandeer, wetende dat Duitsland en ander uiteindelik sal betaal omdat hulle onder geen omstandighede die Euro wil opgee nie. Die hele Euro-sone kan dus in ‘n ekonomiese afgrond van skuld en krimpende vertroue ingesuig word en as’t ware inplof. Die deelstate sal dan gedwing word om terug te keer tot hulle eie geldeenhede, wat hulle werklike ekonomiese prestasie in die wisselkoers weerspieël. Weens die Euro wat die gemeenskaplike geldeenheid is, word Griekeland met dieselfde sterk geldeenheid as Duitsland gefinansier, ten spyte van duidelike verskille in produktiwiteit. Die eerste land wat weens ‘n staatsbankrotskap waarskynlik die Euro moet opgee en tot sy eie nasionale geldeenheid moet terugkeer, is Griekeland. Dit kan ‘n domino-effek tot gevolg hê. Beleggers sal hulle vertroue in die Euro verloor en hulle gelde omruil in meer stabiele geldeenhede soos die Dollar.
Die terugkeer tot nasionale geldeenhede sal op korttermyn pynvol wees, maar die markkragte sal dan die ekonomie weer in balans bring en ‘n wisselkoers wat ‘n land se ekonomiese vlak weerspieël sal geld. Die politieke dwaasheid van die Euro sal eenvoudig afgeskaf word en die politici sal deur die kiesers gestraf word vir hulle ideologie van ‘n verenigde Europa wat die geskiedenis, die kultuur en die ekonomie as kragte buite rekening gelaat het.
Die ander scenario is dat, amper soos in sekere interpretasies van openbaring, die klein groep leiers wat nie meer aan hulle burgery verantwoordelik voel, onder mekaar ‘n Europese regeringskliek vorm wat die state degradeer tot provinsies en volledig die sentrale gesag in die Europese hoofstad Brussels vestig. Dit kan die Euro vir eers red en die Euro-sone bymekaar hou, teen die prys van politieke ontmagtiging en veral op koste van Duitsland se belastingbetalers, wat reeds die grootste deel van die “reddingsaambreel” se miljarde bydra en nou nog meer sal opdok. Die Duitse sielkunde is egter so dat nasiestate as minderwaardig beskou word teenoor ‘n super-nasionale staat waar etnisiteit en kultuur verdwyn. ‘n Mens kan amper sê dat Duitsland van fanatieke nasionaliste in fanatieke anti-nasionaliste verander het sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog. Duitsland is ook die enigste land waar die meerderheid van die bevolking nog ten gunste van die uitbou van die Europese Unie is.
Die woelinge van ‘n ekonomiese insinking in Europa, wat ook die res van die wêreld negatief sal beïnvloed, sal ons indirek ook in Orania voel, maar dit hoef nie noodwendig net negatief te wees nie. Dit kan byvoorbeeld tot ‘n aansienlik laer olieprys lei.
Die politieke uitwerkings kan ook van betekenis vir Orania wees. Alhoewel die Europese Unie nie juis kennis neem van die Afrikaner nie, is ‘n Euroepese super-staat wat vyandig staan teenoor die idee van etnisiteit en afskeiding, en wat al hoe groter en al hoe meer gesentraliseerde politieke eenhede as die einddoel beskou, nie ons vriend nie. ‘n Terugkeer na die nasiestate, ‘n terugbesinning op volkskap sal in beginsel in ons guns wees. Reeds is ons grootste steun in Europa by die kleiner volke of minderhede wat self veg vir erkenning, soos die Vlaminge en die Suid-Tiroolse Duitsers, en in beginsel ook volke soos die Skotte, Baske en Katalane, alhoewel met hulle nog geen formele betrekkinge bestaan nie.
Ook in ander opsigte openbaar die huidige Europese krisis een kenmerk in die verhouding tussen volke en state, iets wat die Europese elite in hulle ivoortoring graag buite rekening laat: daar is grense van solidariteit. Die idealiste wat glo dat enige mens ewe veel simpatie en solidariteit met enige mens op aarde voel omdat dit sy medemens is, leef in ‘n droomwêreld. Die Europeërs, wat almal wit is en wat almal tot die Weste behoort, het nogtans nie genoeg samehorigheidsgevoel dat ‘n Duitser of Sweed met blydskap vir die skuld van Grieke en Spanjaarde instaan nie. Die huidige herverdeling van rykdom van die hardwerkendes en spaarsames na die wat meer korrup en minder ywerig is, geskied net onder dwang. Die Euro-krate dreig dat ‘n groter krisis ontstaan en ‘n terugval in die nasionalistiese Europa voor die Tweede Wêreldoorlog op hande is, as welvarende lande nie bereid is om hulle armer broers in die suide by te staan nie. Dit is natuurlik bangmaakstories, maar effektief.
Dieselfde dwang en manipulasie word ook in Suid-Afrika probeer: blankes (die Noord-Europeërs in ons konteks) word deur ‘n klein elite geboelie om hulle relatiewe rykdom ter wille van nasionale eenheid aan hulle armer landsburgers te gee, met wie hulle nog minder in gemeen het as Swede met Grieke. Die oeroue realistiese beginsel geld, naamlik dat solidariteit afneem namate groepe groter en meer divers raak. Terwyl jy enige tyd vir jou buurman wat gebrek lei sal help, en in die meeste gevalle ook nog vir ‘n volksgenoot, neem die bereidwilligheid en simpatie af as dit iemand is wat vir jou heeltemal vreemd is. Dit is nie rassisme of blanke harteloosheid nie, dit is eenvoudig menslike naasteliefde, naamlik vir die een wat die naaste aan jou is. Uit die aard van die saak geld dit ook vir swart mense of enige ander volk. Die Ubuntu-beginsel van deel onder mekaar het vanselfsprekend nie blankes as ontvangers van gawes ingesluit nie.
by Orania Beweging | Jun 5, 2012 | Nuus |
Op 31 Mei vanjaar was dit die 110-jaar herdenking van die ondertekening van die Vrede van Vereeniging. In lande regoor die wêreld word die oorlog en die herhinneringe aan diegene wat tydens die oorlog gesneuwel het, tans gedenk.
Daar is min dinge wat my so mistroostig stem as om te dink oor die lewens wat so dikwels op afgryslike wyse verloor is.
Daar word soms op selfvoldane wyse deur Afrikaners op die bors geslaan wanneer ons ons gevegsvernuf van die verlede aanprys. Gevegte by of verbind met Vegkop, Bloedrivier, Majuba, Spioenkop, Magersfontein, Delvillebos, El Alamein, Cuito Guanavale ensovoorts word opgeroep en bykans soos wafferse Springbokwedstryde van weleer rondom braaivleisvure ontleed en aangebied om ons krygsvernuf te poets. Om nie van die bykans mitiese status van die vorige bedeling se Recces, 1 Valskermbataljon en 32 Bataljon te praat nie.
Daar is selfs diegene wat aanvoer dat generaal so-en-so van Amerika (of Engeland of Duitsland) dit-en-dat gesê het oor hoe wonderlik/vreesloos/slinks/hard/dapper ons soldate was/is.
Waarom dan voel en lyk dit asof ons elke geveg waarin ons betrokke was en wat saakgemaak het, sedert Bloedrivier verloor het?
Die boom word aan sy vrugte geken en bolletjies kan nie vir vye verkwansel word as dit soos perdemis lyk en ruik nie.
Ons volk is vandag in die kake van ‘n terminale siekte. Ons word minder, kry minder kinders en voel minder aangetrokke tot ons mede volkgsgenote en ons geskiedenis as ooit in die verlede. ‘n Ongekende persentasie jong Afrikaners breek tans hul bande met familie en tradisie. Die gewildheid van Afrikanerskap onder Afrikaners sou baie laag op enige meningspeiling rangeer.
Wie het hierdie week nog aan die vrouens en kinders van die konsentrasiekampe gedink, en gedink aan wat ons vandag moet doen om te keer dat sulke kampe weer ons lot word? Is ons vandag (“verspreid soos babapoeier vanaf Tafelberg tot Soutpansberg”) enigsins veiliger as in 1902 to meer as 400,000 Britse soldate Suid-Afrika beset het?
Daarmee saam is ons vandag uitgelewer aan geweld, misdaad en lae morele waardes soos nog nooit in enige tydperk van die verlede nie.
Wie glo nog werklik dat ons as wenners (of ten minste gelykop) uit die Grensoorlog of die struggle getree het?
Kan ons ons hande in onskuld was oor ons sterftes en gevolge van die Engelse-oorlog, die Grensoorlog en die struggle op ons as volk?
Wys ons geskiedenis nie dalk dat ons te dikwels probeer het om meer af te byt as wat ons kon kou nie?
Dalk het dit tyd geword vir ons om weg te tree van konflik af, om nie meer die Xhosas, Zoeloes, Matabele, Basotho, Engelse, mekaar, Duitsers, Kubane, Russe, Ovamboes of ANC-regering met ons vuiste (of blikkiesverf en plakkers) te probeer pak nie.
Ons is waarskynlik nie so goed met veg (of met rugby) as wat ons soms mag dink nie. Ons is ook nie heeltemal onskuldig aan die gevolge van die konflikte waarby ons willens en wetens betrokke geraak het nie. Daar is en was immers genoeg kennis van konflik beskikbaar.
Maar ons kan darem bou.
Ons kon Suid-Afrika help opbou tot die juweel in die kroon van Afrika. Ons het al voorheen infrastruktuur en welvaart geskep waar daar eens niks was nie. Dit kan ons weer doen.
Nog beter, ons kan dit doen waar daar niemand anders is wat daarop aanspraak kan maak nie. Waar niemand anders se arbeid ons toekoms kan wegneem nie.
Dit is die kruiwa, die graaf, die pik en die troffel wat vir ons ‘n toekoms gaan verseker.
In die sweet van ons eie aangesig is ons beveel om ons brood te verdien. Nie oor die loop van ‘n geweer nie. En veral nie oor die rue van ander nie.
Diegene wat in Delmas vlae verbrand kan eerder hul energie vir Orania brand.
Dit is tyd dat ons met ‘n ander verhaal begin.
Format
Op 31 Mei vanjaar was dit die 110-jaar herdenking van die ondertekening van die Vrede van Vereeniging. In lande regoor die wêreld word die oorlog en die herhinneringe aan diegene wat tydens die oorlog gesneuwel het, tans gedenk.
Daar is min dinge wat my so mistroostig stem as om te dink oor die lewens wat so dikwels op afgryslike wyse verloor is.
Daar word soms op selfvoldane wyse deur Afrikaners op die bors geslaan wanneer ons ons gevegsvernuf van die verlede aanprys. Gevegte by of verbind met Vegkop, Bloedrivier, Majuba, Spioenkop, Magersfontein, Delvillebos, El Alamein, Cuito Guanavale ensovoorts word opgeroep en bykans soos wafferse Springbokwedstryde van weleer rondom braaivleisvure ontleed en aangebied om ons krygsvernuf te poets. Om nie van die bykans mitiese status van die vorige bedeling se Recces, 1 Valskermbataljon en 32 Bataljon te praat nie.
Daar is selfs diegene wat aanvoer dat generaal so-en-so van Amerika (of Engeland of Duitsland) dit-en-dat gesê het oor hoe wonderlik/vreesloos/slinks/hard/dapper ons soldate was/is.
Waarom dan voel en lyk dit asof ons elke geveg waarin ons betrokke was en wat saakgemaak het, sedert Bloedrivier verloor het?
Die boom word aan sy vrugte geken en bolletjies kan nie vir vye verkwansel word as dit soos perdemis lyk en ruik nie.
Ons volk is vandag in die kake van ‘n terminale siekte. Ons word minder, kry minder kinders en voel minder aangetrokke tot ons mede volkgsgenote en ons geskiedenis as ooit in die verlede. ‘n Ongekende persentasie jong Afrikaners breek tans hul bande met familie en tradisie. Die gewildheid van Afrikanerskap onder Afrikaners sou baie laag op enige meningspeiling rangeer.
Wie het hierdie week nog aan die vrouens en kinders van die konsentrasiekampe gedink, en gedink aan wat ons vandag moet doen om te keer dat sulke kampe weer ons lot word? Is ons vandag (“verspreid soos babapoeier vanaf Tafelberg tot Soutpansberg”) enigsins veiliger as in 1902 to meer as 400,000 Britse soldate Suid-Afrika beset het?
Daarmee saam is ons vandag uitgelewer aan geweld, misdaad en lae morele waardes soos nog nooit in enige tydperk van die verlede nie.
Wie glo nog werklik dat ons as wenners (of ten minste gelykop) uit die Grensoorlog of die struggle getree het?
Kan ons ons hande in onskuld was oor ons sterftes en gevolge van die Engelse-oorlog, die Grensoorlog en die struggle op ons as volk?
Wys ons geskiedenis nie dalk dat ons te dikwels probeer het om meer af te byt as wat ons kon kou nie?
Dalk het dit tyd geword vir ons om weg te tree van konflik af, om nie meer die Xhosas, Zoeloes, Matabele, Basotho, Engelse, mekaar, Duitsers, Kubane, Russe, Ovamboes of ANC-regering met ons vuiste (of blikkiesverf en plakkers) te probeer pak nie.
Ons is waarskynlik nie so goed met veg (of met rugby) as wat ons soms mag dink nie. Ons is ook nie heeltemal onskuldig aan die gevolge van die konflikte waarby ons willens en wetens betrokke geraak het nie. Daar is en was immers genoeg kennis van konflik beskikbaar.
Maar ons kan darem bou.
Ons kon Suid-Afrika help opbou tot die juweel in die kroon van Afrika. Ons het al voorheen infrastruktuur en welvaart geskep waar daar eens niks was nie. Dit kan ons weer doen.
Nog beter, ons kan dit doen waar daar niemand anders is wat daarop aanspraak kan maak nie. Waar niemand anders se arbeid ons toekoms kan wegneem nie.
Dit is die kruiwa, die graaf, die pik en die troffel wat vir ons ‘n toekoms gaan verseker.
In die sweet van ons eie aangesig is ons beveel o
Nuutste Opmerkings