fbpx

Selfbeskikking – die reg om inspraak te hê in die besluite wat jou raak – spruit voort uit die beginsels van die klassieke liberalisme.

Dit is egter nie die enigste reg wat daaruit gebore is nie. ‘n Ander, meer kontroversiële reg – wat beskryf word as die reg van ‘n vrou om oor haar eie liggaam te besluit – is weereens ‘n belangrike debatteringspunt in die huidige presidensiële verkiesingsveldtog in die VSA. Dit is die reg op aborsie. In die afgelope paar dae het ‘n Amerikaanse senaatskandidaat groot kritiek ontlok deur sy stelling dat ‘n swangerskap na ‘n verkragting, die wil van God moet wees (seker in ag genome dat baie voornemende ouers sukkel om swanger te raak).

Ook in Suid-Afrika is aborsie wettig. Daar is egter ‘n interessante teoretiese vraag te vra of Afrikaners wat die vermoë het om wette soos hierdie te skryf of te wysig, ook hierdie “vryheid” sal toelaat?

Tydens die korstondige Afrikanerbewind van die vorige eeu was aborsies onwettig, buiten in baie rare gevalle soos waar die moeder se lewe in gevaar gestel is deur komplikasies. So was dobbel ook onwettig.

Tog het tye verander en word die dobbelbedryf in Suid-Afrika in baie gevalle deur Afrikaners ondersteun. So is daar waarskynlik ook baie Afrikaners wat al aborsies gehad het.

In baie gevalle word diegene wat teen aborsie kapsie maak as “ekstremiste” en “fundamentaliste” voorgehou, waar hulle soos in die VSA vergelyk word met voorstaanders van Sharia wetgewing soos deur die Koran voorgeskryf.

Die Christelike posisie ís duidelik en daarom so vatbaar vir die etikette van “ekstremis” of “fundamentalis”. In hierdie bydrae wil ek nie terugval op my Christelike oortuigings en geloof nie, maar eerder my argument vanuit die sekulêre hoek voer. Daarmee voer ek egter nie aan dat die sekulêre wêreldbeskouing altyd die toonaangewende een moet wees nie.

Ek is ‘n voorstaander van vryheid. So is ek ook ‘n voorstaander van verantwoordelikheid en regverdigheid. Ek beskou hierdie as deugde en wil my argumente daarop bou.

As voorstaander van vryheid, glo ek dat elkeen wat ‘n belang by ‘n saak het, die geleentheid moet hê om inspraak te lewer in ‘n besluit wat hom of haar ten nouste raak. Daarom glo ek in selfbeskikking vir minderhede, ook die Afrikaner.

Vroue het die reg om oor hul liggame te besluit. Hulle kan besluit met wie en wanneer hulle intiem wil verkeer en niemand mag ooit daardie reg van hulle vervreem nie.

Die besluit oor ‘n aborsie is egter ‘n eensydige besluit waarby die grootste enkele belanghebbene –die ongebore kind – geen inspraak het nie. ‘n Besluit vir ‘n aborsie raak dus nie net die liggaam van die vrou nie, maar veral ook die liggaam van die ongebore kind.

Daar is sekere gevalle, soos verkragting, wat ‘n grys area bied. Die vraag is egter of dit regverdig is om te verwag dat die ongebore kind die grootste prys vir die afgryslike sonde van sy of haar vader moet betaal?

Ek is vir selfbeskikking – die reg om self te besluit – maar by aborsie het die ongebore kind nie ‘n keuse nie. Daarom kan ek nie ten gunste daarvan wees nie.

Volksmoord word deur die plegers daarvan geregverdig deur die ontmensliking van hul slagoffers. Volgens die VSA se grondwet het alle mense die reg tot lewe. Tog word aborsie geregverdig omdat die ongebore baba nie aan die definisie van ‘n mens voldoen nie. Die vraag is hoe dit nie op ontmensliking neerkom nie? Hoe kan lewe met menslike gene, wat uit mense voortgebring word, dan anders as mens wees? Is hierdie ‘n saak van gerief of ‘n saak van beginsel?

Wat behoort dan te gebeur? In gevalle van ongewenste kinders – en ons kan nie so naïef wees om te dink dat daar nie baie sulke gevalle is nie – moet ‘n gemeenskap wat omgee, vir die swakkes en weerloses intree. Aannemingsprogramme bring baie vreugde vir beide nuwe ouers en kinders.

Dit bring my by my volgende vraag, of die verantwoordelikheid vir – en gevolge van – ‘n aborsie slegs op die skouers van die swanger vrou geplaas kan word? Kan ons nou, soos Farriseërs, ‘n veroordelende vinger wys na diegene wat hulleself deur hierdie proses, wat dikwels traumaties is, sit?

Is ons gemeenskappe – en daarby word elkeen van ons ingesluit – nie medepligtig daarin dat ons ongewenste moeders aanmoedig om die maklike uitweg te kies nie? Moet ons nie daarvoor verantwoordelik gehou word dat die klad van ‘n aborsie makliker weggesteek word (en dus meer aanvaarbaar is) as die klad van ‘n ongewenste kind nie? Is dit ‘n teken van omgee, dat ongewenste kinders ‘n klad is?

Doen ons as Afrikaners genoeg om ons swanger tieners en ongehude moeders te ondersteun sonder verwyt, sodat hulle ook geborge en veilig voel? Is ons gemeenskappe bereid om finansieël op te offer vir sulke kinders? Die karakter van ‘n volk word gemeet aan hoe hy sy swakkes, weerloses en die sonder status behandel.

Die bou van die Nerina woonstelle, wat ook huisvesting vir enkelmoeders bied, is ‘n stap in dieregte rigting deur Orania en die ondersteuners van die Helpsaamfonds.

Hierdie debat is beslis nie ‘n eenvoudige een nie, maar vir die behoud van ons kinders hoop ek dat dit nie ‘n afgehandelde een is nie.