fbpx

Die volgende artikel verskyn in die nuutste uitgawe van Voorgrond:

1.    Vryheidstrewe sonder konflik

Vir die Orania Beweging is vryheid vir die Afrikaner in ‘n eie grondgebied die uiteindelike doel.  Vir ons is vryheid primêr om oor onsself te regeer, onsself ekonomies te handhaaf en om ‘n gebied volgens ons oortuigings, geloof, taal en politieke denke in te rig en te bestuur. Vryheid is vir ons nie uitsluitlik nie. Dit mag dus nie ten koste van ander mense en volke se vryheid wees nie.

Ons glo daaraan dat Suid-Afrika groot genoeg is om aan alle groepe en volke wat die behoefte en strewe na vryheid het, dit te gun. Om dié rede kies ons ‘n pad na vryheid wat konflik met ander volke en mededinging om skaars hulpbronne vermy en kies ons ‘n gebied wat ons met persoonlike opoffering kan opbou en ontwikkel tot ons eie voordeel.

2.    ‘n Gebied wat pas by die behoefte

Vryheid kan nooit losstaande van ‘n geografiese gebied met eie instellings gesien word nie. Daarom is alle pogings van Afrikanerselfbeskikking binne die bestaande staat Suid-Afrika beperk.

Die gebied wat geidentifiseer is, is die Noordwes-Kaapkorridor.

Die aanvanklike argument vir die gebied geld nog steeds: die moontlikheid om sonder demografiese druk ‘n relatief groot gebied te kan beset en te kan ontwikkel.

Ander selfbeskikkingsplanne in die Afrikaner se eertydse hartland van  Pretoria, die Hoëveld en Bosveld, is lankal deur die werklikhede onwerkbaar bewys. Die ANC-regering se houvas op Pretoria en omgewing is ook besonder sterk: demografies, simbolies en feitelik. ‘n Regering gee nooit sy ekonomiese hartland en nog minder sy hoofstad op nie.

Ons moet egter nie naïef wees oor die gebied nie. Dit gaan harde werk en baie geld kos om dit te ontwikkel en ons het duisende Afrikaners nodig om dit te doen. Die besetting sal in fases moet geskied en met Orania as die fokuspunt en enjinkamer vir die afsienbare toekoms. Die uiteindelike doel is egter ‘n groter gebied wat ‘n meerderheid Afrikaners kan huisves.

3.    Eie arbeid is ononderhandelbaar

Die hoeksteen van ons selfbeskikkingstrewe is die gebruik van Afrikanerarbeid. Die vloek van die Afrikaners in Suid-Afrika is dat hulle orals ‘n minderheid is, selfs waar hulle in aansienlike getalle gekonsenteeerd is. En dit weens die afhanklikheid van vreemde arbeid. Die prys vir ons vryheid is om self te werk of ten minste jou volksgenote teen lewensvatbare salarisse vir jou te laat werk. Dit is volgens die kapitalistiese logika, waar dit net oor geld gaan, ‘n remskoen vir ekonomiese groei. Die ekonomie kan egter nooit losgemaak word van die samelewing nie en werkers is nie verhandelbare bates sonder ‘n gesins- en kultuurlewe nie. Daardie soort korttermyndenke oor “goedkoop arbeid” het juis misdaad, plakkerskampe, konflik en vervreemding meegebring.

In Orania is ons op die voorpunt van nuwe denke wat die ou kwasiekoloniale arbeidsparktyke vir goed agterlaat. Ons moet leer om ‘n beter werksetiek te ontwikkel, meer effektief te werk, te meganiseer en om mense op te lei vir meer verantwoordelike en beter betaalde werk. ‘n Arm, gefrustreerde wit laerklas kan net so gevaarlik raak soos ‘n arm swart laerklas en het in die geskiedenis al menige bloedige konflikte en rewolusies veroorsaak. Die doel moet wees om hier, soos in suksesvolle lande, betroubare, tevrede en goed opgeleide mense te vestig en daar deur goeie opleiding en werksgeleenthede te hou.

4.    Vryheid word geleidelik verkry

Ons pad na vryheid bied reeds vir ons geleenthede en ons vryheid neem toe soos wat ons vorder. Vryheid is ook iets waarvoor gewerk word en wat geskep word, eerder as iets wat van buite gegee word. Politieke erkenning as onafhanklike entiteit lyk tans vêr, maar vryheid in praktyk is reeds vêr gevorderd in Orania waar ons onsself bevry het van die afhanklikheid van vreemde arbeid, van die vrees vir oorheersing en om ‘n slagoffer te wees en ook van die vreemde waardes en kultuur wat elders op Afrikaners afgedwing word.

5.    ‘n Afrikanerstaat, nie ‘n wit staat nie

Afrikaners se posisie as unieke Afrikavolk met ‘n eie taal en kultuur sou in ‘n “wit staat” wat uit ‘n mengelmoes van Europese emigrante bestaan, met Engels as die kleinste gemene deler, ook in die gedrang wees. Dit was nooit die oplossing vir Afrikaners om hulle heil in ‘n soort multikulturele, maar tog hoofsaaklik Westerse staat soos Australië, Kanada of VSA, te soek nie en dit help dus ook nie dat ons werk vir ‘n multikulturele “wit staat” in Afrika nie.

Waarna ons strewe is ‘n gebied met ‘n onbeskaamde Afrikaanse en Christelike karakter wat ons voortbestaan en vooruitgang op alle terreine, materieel sowel as geestelik en kultureel, verseker.

Die strewe na selfbeskikking is ‘n wêreldwye verskynsel en is ook in Suidelike Afrika niks vreemds nie. Dink byvoorbeeld aan Lesotho, Botswana en Swaziland. So ook is Orania ‘n etnies homogene dorp net soos die talle homogene dorpe van die swart volke in die landelike gebiede van Suid-Afrika.

6.    Wat van die nie-Afrikaners?

‘n Vryheidstrewe wat gebou is op die miskenning en onderdrukking van ander volke is nie regverdig nie en het ook geen bestand nie. Geen gemeenskappe wat in die aangewese gebied woon en daar wil bly, sal teen hulle wil verskuif word nie.

Ons moet verseker dat ‘n meerderheid Afrikaners ‘n gebied bewoon en bewerk as ons selfbeskikking wil bereik. Politieke beheer kan uiteindelik slegs deur middel van ‘n referendum verkry word, waar die algemeen aanvaarde beginsel van een stem vir elke volwasse inwoner van die gebied geld. Diskriminasie teen nie-Afrikaners kan nie toegelaat word nie en selfs as die Afrikaner ‘n meerderheidsbesetting en eie regering bewerkstellig, sal minderhede dieselfde erkenning geniet waarop ons tans ook aandring.

Die vraag of bruinmense ook Afrikaners is en hulle met ons selfbeskikkingstrewe kan vereenselwig, is tot op hede ‘n teoretiese een. Die praktyk is dat bruin mense ‘n duidelik onderskeibare groep vorm wat geen behoefte het om deel van die Afrikaner te word nie en wat hulleself ook nie so noem nie, ten spyte van pogings van sekere meningsvormers om ‘n kunsmatige groep “Afrikaanses” te skep. Aansluiting op individuele vlak van mense wat hulle eerder met ‘n ander volk as hulle eie een vereenselwig is moontlik, maar sal die uitsondering bly, soos die praktyk leer.

7.    Met min hulpbronne is optimale benutting en wedersydse ondersteuning belangrik

Orania het klein getalle en sy ekonomiese krag is tans nog beperk en word gedurig deur die globale ekonomie van die groot stede bedreig. Mense wat in Orania woon en werk moet eenvoudig hulle bydrae tot die ekonomie lewer as ons ‘n lewendige gemeenskap wil wees en bly. Heelwat besighede het die afgelope tyd ontstaan, maar hulle kan net volhoubaar wees deur plaaslike ondersteuning. Die beste manier is om plaaslik te koop, wat dan weer plaaslike produksie en opvolgbesighede aanmoedig.

Die plaaslike geldeenheid, Ora, speel daarby ‘n kardinale rol. Omdat ons ekonomie nog so klein is, is dit noodsaaklik om elke Rand of Ora so veel as moontlik in Orania se ekonomie te laat sirkuleer.

8.    Ekologiese volhoubaarheid is meer as ‘n groen mode

Orania roem op sy ekologiese ingesteldheid wat pas by ons strewe na lokalisme en volhoubaarheid. Om jou kultuur en waardes te bewaar beteken noodwendig ook om die omgewing waarbinne dit plaasvind, te bewaar. Ons grondgebied is nog klein en duur gekoop en om dié rede gebruik ons dit wat ons het spaarsaam en probeer besoedeling en vermorsing voorkom, ook met die oog op toekomstige geslagte.

Ekologiese volhoubaarheid is nie net ‘n gonswoord nie, maar iets wat ons lééf omdat dit inskakel by ons lewensingesteldheid van selfstandigheid, eerbied vir ons Skepper (en daarmee saam respek en dankbaarheid vir die skepping) en die besef dat ons in ‘n gebied met beperkte hulpbronne woon, wat ons só moet gebruik dat dit die maksimum Afrikaners teen die minimum ekologiese impak kan vestig.

9.    Internasionale bande met die regte groepe

Ons strewe is reeds besig om geleidelik verinternasionaliseer te raak, wat noodsaaklik en onvermydelik is as ons wil vorder bo die vlak van net ‘n dorp. Die kennisname van die Afrikaner en sy vryheidstrewe beteken egter nog nie simpatie en steun nie. Ons moet die internasionale opset, die meningsvormers, potensiële vriende en vyande verstaan as ons ons saak suksesvol internasionaal wil bekend stel. Daarvoor is bande met die regte groepe en organisasies belangrik. ‘n Baie sinvolle stap was die aansluiting van die Afrikaner (deur die Vryheidsfront Plus) by UNPO, die Organisasie vir Onverteenwoordigde Nasies en Volke.

Dit sal ons saak skade aandoen as ons met ekstremistiese randgroepe bande vorm. Uit die aard van die saak is daar heelwat gedeelde waardes met Europese groepe en minderhede en om die rede is reeds bande gevestig met die Duitse minderheid van Suid-Tirool (Italië) en met die Vlaminge in België. Ons behoort met enige kleinvolk wat in ‘n minderheidsposisie verkeer, simpatie te hê, bande te bou en ondervindings uit te ruil.

Bande moet ook met nie-Europese volke gebou word, veral in Afrika, die vasteland waaraan ons ons naam ontleen het en waarbinne ons moet voortbestaan en floreer. Binne Suider-Afrika is daar ‘n magdom etniese groepe en volke wat ook vir kulturele handhawing en erkenning veg. Bande met ‘n tradisionele Xhosa-gemeenskap in die Oos-Kaap is reeds gevorm. Die voorvereiste vir bande met ander gemeenskappe is die wedersydse erkenning en die klem op selfstandigheid en ondersteuning teen ‘n gelykmakende en onsimpatieke regering.

As Orania se strewe internasionaal vertolk word as een van rasse-meerderwaardigheid en vyandigheid teenoor Afrika en sy mense, staan ons geen kans nie. As ons die boodskap van selfbeskikking en handhawing van ‘n klein volk met ‘n kosbare kultuur en geskiedenis  kan oordra, sal ons groot steun kry.

10.    Selfbeskikking is vandag nog steeds so brandend soos altyd

Die wêreldpolitieke toneel en veral Suid-Afrika het geweldig verander sedert die Afrikaner se selfbeskikkingstrewe in ‘n eie grondgebied in die vroeë 1980’s met die Oranjewerkers ‘n praktiese werklikheid geword het. Die behoefte aan ‘n eie gebied vir Afrikaners het sedertdien egter nie vervaag nie, maar is vandag meer noodsaaklik as ooit van te vore.

Orania en sy organisasies kon dit grootliks regkry om ons boodskap, ten spyte van ‘n magdom vooroordele in die media en ‘n vyandige makro-politieke omgewing, lewend te hou en om gesindhede geleidelik verander.

Dit is juis in die internasionale konteks wat die ANC se vertolking van die geskiedenis en politiek as ‘n swart anti-koloniale stryd toenemend verouderd en irrelevant lyk.

Orania se strewe is vryheid, nie ten koste van ander nie, en ook nie deur middel van geweld en revolusie nie, maar vryheid wat geleidelik geskep word deur selfstandigheid en die vestiging van ‘n Afrikaanse werklikheid.

*Sebastiaan Biehl is ‘n inwoner van Orania, politieke navorser en skrywer.