fbpx

Die voormalige Amerikaanse president Ronald Reagan, het die frustrasie van konserwatiewe bewegings regoor die wêreld goed opgesom toe hy gesê het: “Wel, die probleem met ons linkse vriende is nie dat hulle niks weet nie, maar dat hulle so baie dinge weet wat nie waar is nie.” Die realiteit wat ons en baie andere vandag nog beleef, is dat linkses alle waardes, of minstens die bietjie waardes wat hulle nog mag hê, oorboord sal gooi in hul stryd om ideologiese meerderwaardigheid.

Vroeër vanjaar tydens ‘n besoek van die Nederlandse politikus, Martin Bosma aan Orania, bespreek ons juis hierdie ooreenkoms tussen ons en Bosma se party, die Partij voor de Vrijheid (PVV). Nederland is reeds sedert die 1960’s besig om dramaties te transformeer met die twee grootste stede, Amsterdam en Rotterdam waar Nederlanders binne die volgende paar jaar ‘n minderheid sal wees. In Rotterdam is byna 40% van die bevolking Moslems en die stad het reeds ‘n Moslemburgemeester van Marokkaanse afkoms. Minder as 80% van die inwoners van Nederland is nog van Nederlandse afkoms en met ‘n klein bevolkingsaanwas onder Nederlanders en ‘n veel groter bevolkingsaanwas onder immigrante uit Afrika en die Midde-Ooste is die syfer besig om skerp te daal.

Sedert die 1960’s toe die probleem van massa-immigrasie uit Moslemlande in Nederland begin posvat het, was daar gereeld politieke leiers wat hulself daarteen uitgespreek het. Keer op keer is hierdie individue deur die politieke elite verguis en as ekstremiste en rassiste afgemaak. Die media-elite het alles in hul vermoë gedoen om hierdie persone te diskrediteer terwyl gevestigde organisasies soos politieke partye, regeringsdepartemente en vakbonde dit byna onmoontlik vir hulle gemaak het om polities te organiseer. Twee bekende Nederlanders wat hulself teen massa-immigrasie uitgespreek het, die politikus en parlementslid Pim Fortuyn en die filmregisseur en skrywer Theo van Gogh is sedert 2000 weens hul standpunt oor immigrasie koelbloedig in die openbaar vermoor.

Na hierdie moorde het die politikus Geert Wilders as die belangrikste stem teen massa-immigrasie en die totale verval van die Nederlandse identiteit na vore getree. Toe hy in 2004 as parlementslid vir die Volkspartij voor Vrijheid en Democratie (VVD) sy kommer oor die insluiting van die Moslemland Turkye by die Europese Unie uitspreek en voorspel dat so ’n insluiting tot grootskaalse immigrasie van armes uit Turkye aanleiding sal gee, word hy uit die party geskop. Regoor Nederland probeer politici, die media, vakbonde en ander linkse organisasies om Wilders te verguis. Maar  ten spyte daarvan bly Wilders aan as onafhanklike parlementslid en in 2006 wen sy nuutgestigde party, die PVV nege setels in die Huis van Verteenwoordigers. Sedertdien het die PVV se steun skerp toegeneem en peilings toon dat die PVV tans die gewildste party in Nederland is. Dit alles ten spyte daarvan dat daar ’n totale aanslag teen die party en sy lede is, met politici, joernaliste, vakbonde, staatsdienswerkers en selfs onderwyses wat waar hulle gaan die PVV as ekstremiste en rassiste uitmaak. Wilders kry gereeld dreigemente van mense wat hom eerder dood as lewendig sal wil sien en hy word beskou as die Nederlandse politikus wie se veiligheid die meeste bedreig word.

‘n Meerderheid van Nederlandse burgers was nog altyd teen massa-immigrasie, veral uit nie-Westerse lande, gekant. Tog gaan die linkse politieke elite konstant voort met hul pro-immigrasiebeleid. Hul beste metode om hul beleid te beskerm is om dit slegs as ‘n voortsetting van die waardes van verdraagsaamheid en medemenslikheid waarvoor Nederland nog altyd bekend was, aan te bied. Dit veroorsaak dat soveel as 40 000 mense uit Derdewêreldlande jaarliks asiel in Nederland kry. Indien iemand homself hierteen uitspreek, dan word beweer dat hy teen die goeie ou Nederlandse waardes is. Linkses skroom nie om deur leuens, ondemokratiese aksies en karaktermoord enigiemand wat anders as hul dink te probeer vernietig nie. Natuurlik is die immigrasie van armes uit die Derde Wêreld deel van die behoud van linkse politieke partye en organisasies.

Bosma beskryf die linkse aanslag op anti-immigrasiepartye en -individue uitstekend in sy boek, De schijn-élite van die valse munters. Volgens Bosma is Nederlanders so moeg vir die gevolge van massa-immigrasie dat die voortdurende linkse aanslag op die PVV nie meer genoeg is om kiesers teen die party te laat draai soos wat keer op keer sedert die 1960’s met anti-immigrasiepartye in Nederland gebeur het nie.

Die toestroming na Nederland sedert die 1960’s lei vandag tot ‘n toename in Moslem-ekstremisme. Van Gogh se moordenaar was byvoorbeeld ‘n immigrant met Nederlandse en Marokkaanse burgerskap wat haatlike Islamitiese uitsprake teen Van Gogh gemaak het. Voorts veroorsaak die toestroming probleme met ‘n toename in misdaad, werkloosheid en ander maatskaplike probleme. Dele van Amsterdam en Rotterdam is vandag bykans no-go-areas met Slotervaart in die weste van Amsterdam waar polisielede sedert 2006 in gewone kleredrag die strate patrolleer om volgens die politici nie die Marokkaanse en Turkse inwoners uit te lok nie.

Regoor Nederland skiet Moskees tans op met minstens ses Moskee-geboue in Amsterdam alleen. In skole ontstaan probleme weens die groot aantal Moslemleerlinge wat nie Nederlandstalig is nie en ook nie die Nederlanders se kultuur deel nie. Nederlanders is moeg vir die massa-immigrasie uit Moslemlande, maar weens politieke korrektheid en die stryd om die voortbestaan van die sosialisme gaan die linkse elite in Nederland voort om te maak asof daar nie ‘n probleem is nie. Erkenning van jou eie identiteit is boos, behalwe natuurlik as jy nie wit is nie.

Daar is sterk parallelle tussen die linkse aanslag op die voorbestaan van die Nederlandse identiteit en dit wat vandag in Suid-Afrika met die Afrikaner gebeur. Natuurlik is die aanslag op die voortbestaan van die Afrikaner se identiteit reeds heelwat verder gevorder as wat in Nederland die geval is, maar die aanslag van links op enige poging om die behoud van ons identiteit, is duidelik. Veral Orania loop voortdurend deur onder die volslae aanslag van die linkse elite. Die Demokratiese Alliansie spreek homself gereeld teen die beskerming van die Afrikaneridentiteit uit. Die DA predik eerder integrasie en die skep van ‘n identiteitlose nuwe Suid-Afrikaner. Die media se aanslag op Afrikanerselfbeskikking is self meer verstommend. ‘n Onlangse artikel oor Orania in MyTyd in Rapport was deurspek van leuens en onwaarhede. Dit is alles deel van die linkse joernalis (haar linkse waardes kan maklik op die internet uit haar geskrifte opgespoor word) se poging om ten koste van enige joernalistieke waardes Orania te probeer vernietig. Verlede jaar verskyn ‘n tesis van ‘n bekende professor waarin na die manier waarop Orania homself isoleer deur “die groot heining met lemmetjiesdraad wat die dorp omring”, verwys word. Daar is natuurlik glad nie ‘n heining om Orania nie, maar ‘n leuen was maar net dié professortjie se manier om Orania ook in akademiese kringe te diskrediteer.

Tog is Afrikaners sat vir wat in Suid-Afrika aangaan en is daar daagliks ‘n styging in die steun wat Orania geniet. Dit is sigbaar in die styging in die Orania Beweging se ledetal, die styging in die aantal besoekers aan Orania en die styging in algemene navrae vanaf mede-Afrikaners. Net soos wat die PVV se boodskap in Nederland ten spyte van die linkse aanslag groter steun begin kry, slaag ons ook daarin om meer en meer Afrikaners van ons saak te oortuig.

Na die lees van Bosma se boek besef jy hoe onmoontlik sy en Wilders se poging in 2004 om ‘n nuwe politieke beweging te skep, moes lyk. Tog is die PVV vandag ‘n gewilde party en geniet sy boodskap oor immigrasie en die behoud van die Nederlande identiteit toenemend steun. Ons stryd om die behoud van die Afrikaner se identiteit deur die skep van ‘n Afrikanergebied in die Noordwes-Kaap lyk dalk ook nog vir ons ‘n onmoontlike taak. Soms maak die aanslag van links ‘n mens moeg, veral as die linkse elite bestaande uit politici, akademici en joernaliste alles in hul vermoë doen om ons te diskrediteer. Moed verloor kan ons egter nie, want ons mense soek ‘n oplossing en ons weet dat ons aan die regte oplossing werk.

Jaco Kleynhans is uitvoerende hoof van die Orania Beweging. Hierdie artikel het oorspronklik in die Orania Beweging se ledetydskrif, Voorgrond, verskyn.