fbpx

equalityDie oeroue vraag, wat belangriker is vir ‘n samelewing, vryheid of gelykheid, word ook in die konteks van Orania en die Afrikanervolkstaat gevra. Almal is dit eens dat die groot gedagte agter Orania en `n volkstaat vryheid is, maar wat is vryheid? En watter tipe vryheid bedoel ons? Daar is basies twee maniere om vryheid uit te leef – in groepsverband, of individueel. Die twee sluit mekaar nie uit nie, maar of die een of die ander sal die meeste gewig moet dra. In Orania het ons gekies vir groepsvryheid.

Ons as Afrikaners wat hier vir ‘n spesifieke doel bymekaarkom en iets opbou, wil ons vryheid in groepsverband, of volksverband uitleef, omdat ons oor genoeg gemeenskaplikhede beskik. Kom ek noem ‘n paar voorbeelde: Hier praat feitlik almal Afrikaans as moedertaal en daar word nie eers ‘n debat gevoer oor watter taal die openbare taal moet wees nie. Omdat 98% van Orania se inwoners Afrikaanssprekend is, is dit logies dat dit ook die openbare taal is. Daar is egter nog steeds ruimte vir individuele vryheid om byvoorbeeld Engels privaat te gebruik. Dieselfde geld vir die Christelike godsdiens.

Almal wat hier woon of hierheen kom is ten minste nominaal Christene omdat die Afrikaner as volk nog altyd Christene was en in hulle meerderheid nog steeds is, en omdat dit die onderbou van ons volk is. Die individuele vryheid laat mense egter toe om hulle denominasie te kies, en hier is waaragtig ‘n groot verskeidenheid daarvan, van streng gereformeerd en formeel tot charismaties en informeel. Hoe en of jy jou godsdiens uitleef bly elke mens se eie gewetensaak. Niemand hoef kerk toe te gaan nie, maar die konsensus is dat die Sondag en Christelike waardes eerbiedig moet word.

Wanneer individuele vryheid, wat deesdae in die liberale Weste en veral in Suid-Afrika as die enigste vorm van vryheid erken word geld, is dit omgekeerd: die oorheersende taal waarin alles in die openbaar geskied is die “globale taal” Engels, wat in meeste lande eintlik ‘n minderheidstaal is, en ander tale is beperk tot private dinge soos praat by die huis, lees en musiek luister. Dieselfde geld vir godsdiens: sekularisme is die amptelike godsdiens, maar mense word nie verbied om privaat die godsdiens van hulle keuse uit te oefen nie. Met die houding word ontken dat die mens al van die vroegste tye af ‘n groepswese is. Die liberale individualisme is ‘n betreklik onlangse verskynsel en is grootliks beperk tot die Westerse of Westers-geïnspireerde elite.

Vryheid kan egter net ten volle in groepsverband uitgeleef word omdat die mens ‘n groepswese is en as individu eenvoudig nie oor die middele beskik om ten volle sy vryheid uit te leef nie, tensy hy of sy een van die superrykes is wat alles wat hulle wil hê kan koop of self kan oprig met hulle geld. As ons dus sê dat ons ons vryheid as volk in groepsverband uitleef, en nog steeds ruimte laat vir persoonlike vryheid, wat dan van die kwessie van gelykheid? Daar is talle mense, veral onder die swart volke, maar toenemend ook onder Europeërs, wat voel dat gelykheid belangriker is as vryheid oftewel dat vryheid bereik is wanneer die meerderheid se opinie seëvier, en dat dus eerder aan gelykheid aandag gegee moet word.

Weereens moet ons gelykheid eers bespreek en die vraag vra watter tipe gelykheid bedoel word. Absolute gelykheid, soos kommunistiese state dit nastrewe (en wat ook telkens ‘n sentiment in dele van die ANC en ander swart-nasionalistiese partye is), of relatiewe gelykheid, oftewel gelyke kanse. Absolute gelykheid kan net met absolute dwang bereik word, en altyd op die laagste moontlike vlak. Totaal gelyke samelewings lyk dan soos Sjina onder Mao of die Sowjet-Unie onder Stalin, of Noord-Korea vandag, en selfs dan is daar ‘n klein magselite wat bo die res uittroon. Eerder as om gelykheid as absolute ideaal te stel moet beter lewensomstandighede vir elkeen nagestreef word. As ek ‘n huis, ‘n werk, genoeg geld om ‘n gesin te onderhou en af en toe iets ekstra te koop het, hoekom moet dit my dan pla dat daar mense is wat ryker is as ek? Solank daar vir my ook die geleentheid is om so ryk te word soos wat ek reken nodig is. Solank rykdom deur eerlikheid en harde werk en nie deur bedrog en korrupsie bereik word nie, is dit reg.

In die konteks van ‘n volkstaat moet daar genoeg persoonlike vryheid wees om jouself op te werk en nie deur die owerheid tot ‘n anonieme massa gereduseer te word nie. Te groot ongelykhede is egter ongesond want dit skep spanning. Deur opleiding kan verseker word dat almal ‘n ordentlike werk en lewensvatbare inkomste kry. Die ondernemer wat risikos aangaan en in die proses ekonomiese groei en werk skep moet nie oormatig belas en gestraf word vir sy inisiatief nie. ‘n Welvarende ondernemer in die volkstaat behoort (en talle doen dit) ‘n deel van sy winste vrywillig in te ploeg in die opbou van die gemeenskap, of deur bloot hier te koop die ekonomie te stimuleer. Die persoonlike vryheid van die individu moet wel beperk word deur die algemene waardes van die gemeenskap.

Sebastiaan Biehl is `n navorser verbonde aan die Orania Beweging.