Verlede Dinsdag is drie jong Moslemstudente deur ‘n kranksinnige man in die universiteitsdorp, Chapel Hill in North Carolina in die VSA vermoor. Die moordenaar is bekend vir sy uitgesproke ateïsme en haat vir alle gelowe.
Saterdagmiddag het ‘n Moslemekstremis in Kopenhagen in Denemarke eers op ‘n kafee en daarna ‘n Joodse sinagoge losgebrand. Minstens een persoon van Joodse afkoms is in die skietery by die sinagoge dood. Volgens die intelligensiedienste in Denemarke was die aanvaller aan hulle bekend en is hy sterk beïnvloed deur die propaganda van ekstremistiese Moslemgroepe.
Sondag is ‘n video deur die Moslemekstremistiese groep ISIS, ook bekend as Islamitiese Staat, bekend gemaak waarin gewys word hoe 21 Koptiese Christene uit Epigte in Libië onthoof is. Koptiese Christene word ook in Epigte deur Islamitiese groepe geteiken.
Hierdie drie voorvalle die afgelope week volg op toenemende spanning tussen mense van verskillende gelowe. Die aanvalle op Christene in Nigerië en die enorme aanslag teen Christene in die Midde-Ooste, veral Sirië en Irak, is bekend. Ook Jode loop toenemend onder geweld deur. Onlangse aanvalle op Joodse skole en sinagoges in onder andere België, Frankryk en Denemarke bewys dit.
Geweld teen mense weens hul geloofsoortuigings is geen nuwe verskynsel nie. Reeds vir eeue word daar gereeld ‘n stryd en soms selfs oorlog gevoer tussen mense van verskillende gelowe. Vandag word hierdie stryd veral gedryf deur die mislukte multikulturalisme in Westerse lande, die radikalisering in die Moslemwêreld en die voordurende stryd tussen Israel en die Palestyne.
Daar is tog toenemend een verskil tussen aanvalle op mense weens hul geloof. Wanneer Moslems geteiken word, soos tydens die aanval in die VSA verlede week, is daar onmiddellik ‘n sterk reaksie vanaf Moslemlande. Ook Westerse lande verwerp sulke misdade en doen opnuut moeite om na Moslemgemeenskappe uit te reik.
Wanneer Jode geteiken word soos die naweek in Denemarke kan Israel reageer. Meer en meer Jode verlaat tans Europa en trek na Israel omdat hulle daar veiliger voel. Weens multikulturalisme word Jode toenemend in stede soos Amsterdam en Antwerpen, voorheen stede met groot Joodse bevolkings en bekend vir hul verdraagsaamheid teenoor diversiteit, geteiken. Joodse skole in Amsterdam moet permanent deur veiligheidswagte bewaak word. Tog het die Jode ‘n plek, Israel, waar hulle tuis kan voel.
Wat is die geval vir Christene? Die toename in aanvalle op Christene behoort vir elkeen van ons ‘n bron van kommer te wees. Christene het egter nie meer ‘n land oor wat namens hulle kan praat nie. Selfs die groot Christenkerke is vandag verswak. Nie die VSA of ‘n enkele Europese land staan meer as ‘n Christenland bekend nie. Westerse lande sit almal met groot immigrante bevolkings en hierdie mense is meestal van ander gelowe, veral die Moslemgeloof. Intussen word Christene in Nigerië, Egipte, Sirië en Irak afgemaai.
Terwyl ons teen intervensionisme soos die Amerikaners se oorlog in Irak gekant moet wees, moet ons as Christene maniere bedink om die Christengemeenskap saam te snoer sodat daar ook ‘n stem, en waar nodig aksie, teen die ongeregtighede wat teen mede-Christene gepleeg word, kan opgaan.
Hallo Jaco, insiggewende Artikel, daar is ‘n organisasie genaamd (Persecution- International Christian Concern) ek dink die organsisasie doen juis werk in die area wat jy noem “ ons as Christene maniere bedink om die Christengemeenskap saam te snoer sodat daar ook ‘n stem, en waar nodig aksie, teen die ongeregtighede wat teen mede-Christene gepleeg word, kan opgaan.”
Die organisasie werk met christene wat vervolg word en help met bybelverspreiding en talle ander projekte.
Hulle som hul werk as volg op :” Christ promised his disciples that they would face persecution in the world. He also called the church to be a voice for the voiceless and a defender of the afflicted. We accomplish this by working in three areas: Advocacy, Awareness, & Assistance.”
As ek kan byvoeg: daar is ook die wêreldwyd operernede groep “Geopende Deure/Open Doors” wat Christene in vervolging bystaan. ‘n Baie goeie organisasie om te ondersteun http://www.opendoors.org
Ons moet ook vir ons broers en susters in vervolging bid.
Direk onder ons eie voete word ons selfs deur ons eie Kerke en geloof ondergrawe.
Die Belhar herrie is net maar een van daardie gevalle.
Kom ons hou ons eie huis skoon.
Daar is ook die Firewall Project – Webwerf http://www.firewallproject.org/home-page.html#