fbpx

backissues.cgiDie grootste konserwatiewe tydskrif in die VSA, National Review, het die afgelope naweek ‘n insiggewende artikel oor Suid-Afrika met die titel “The End of South Africa” gepubliseer. National Review is ‘n geloofwaardige hoofstroompublikasie wat die neo-konserwatiewe denke binne die Republikeinse Party verteenwoordig.

Hierdie artikel volg op soortgelyke ernstige kritiek op die huidige stand van sake in Suid-Afrika deur ander, selfs groter, oorsese publikasies. ‘n Artikel verlede jaar in The Economist het wêreldwyd opslae gemaak weens die fel kritiek wat teen die ANC en die regering uitgespreek is.

Ons sien toenemend hoe ‘n nuwe realisme oor Suid-Afrika in Westerse lande intree. Na 1994 het die meeste Westerse lande die Suid-Afrika-projek as afgehandel beskou. Die monster van Apartheid is uitgewis en Westerse demokrasie is in Suid-Afrika gevestig. Die afgelope 20 jaar is daar min na Suid-Afrika gekyk en wanneer foute raakgesien is, is dit meestal as groeipyne afgemaak.

Hierdie prentjie het egter veral sedert Jacob Zuma president geword het, begin verander. Die Westerse media het deur deurdringende ondersoek toenemend kritiek op die regering begin uitspreek. Die werk van burgerlike organisasies om korrupsie, misdaad en nuwe diskriminasie te ondersoek, ontleed en internasionaal bekend te maak, het ook ‘n impak begin maak.

Die terugvoer van verskeie Afrikanerorganisasies na afloop van skakelbesoeke aan Europa en die VSA is dat daar ‘n nuwe bewustheid van die probleme in Suid-Afrika is. Die hoop dat Suid-Afrika in ‘n model demokrasie vir Afrika sou ontwikkel het reeds begin vervaag.

Die politieke veranderinge in Suid-Afrika aan die einde van die 1980’s en vroeë 1990’s het natuurlik saamgeloop met die voltrekking van Westerse demokrasie in Europa. Die val van die Berlynse Muur in 1989 en die hereniging van Duitsland in 1990, saam met ‘n groot mate van ekonomiese groei en stabiliteit in Amerika en Wes-Europa, het die persepsie geskep dat daar geen beter bedeling as die Westerse territoriale staat kan bestaan nie. Die voltrekking van die demokratiese projek in Suid-Afrika was dus vir die Weste ‘n groot deurbraak. Na Suid-Afrika sou die res van die Derde Wêreld daarna smag om dieselfde pad te stap en sou Westerse demokrasie oor die wêreld spoel.

Dit het natuurlik nie gebeur nie. Die demokrasie in Suid-Afrika het begin om te misluk terwyl demokrasie in die res van Afrika en die Midde-Ooste eerder agteruitboer of selfs glad nie van die grond afgekom het nie. Sedert die mooi jare van die laat 1980’s en die 1990’s het die VSA en Europa ook ernstige geo-politieke uitdagings begin beleef. Die opkoms van Moslem-ekstremisme en grootskaalse immigrasie uit Derde Wêreldlande het nuwe bedreigings vir vrede en veiligheid geskep. Minderhede in Europa het ook selfbeskikking begin eis.

Dit behoort dus nie ‘n verrassing te wees dat die National Review praat van die einde van die huidige Suid-Afrika nie. Die tydskrif gaan sover om die skep van ‘n stadstaat deur Afrikaners voor te stel. Volgens die skrywer is Afrikaners se dae in die huidige Suid-Afrika getel en moet ons, ons eie Singapoer skep. Nuwe Westerse realisme en steun vir selfbeskikking behoort verwelkom te word. Dit is natuurlik goed vir Orania en bewys dat die Orania-denke toe al die tyd reg was.