fbpx

Die huidige drama rondom die vandalisering van ons monumente en die eise dat hulle verwyder moet word simboliseer tot ‘n groot mate die transformasieproses wat neerkom op die suiwering van Afrikaners uit Suid-Afrika se publieke ruimtes en areas van gedeelde belang.

Hierdie  proses het begin met die uitwerk van Afrikaners uit die staatsdiens, eers as werknemers en later ook as gebruikers van dienste soos publieke hospitale, openbare treine en selfs beskermingsdienste soos die polisie. Ander publieke ruimtes soos stedelike parke en baie strate is vandag “no-go” areas vir baie Afrikaners.

Tot ‘n groot mate het Afrikaners wat besluit het om in Suid-Afrika aan te bly, in natuurlike reaksie op hierdie vervreemding, tot hulself ingekeer. Tim du Plessis het reeds in 2005 hierdie verskynsel as “inwaartse emigrasie” beskryf. Veral diegene wat die bykomende uitgawe kan bekostig skuil agter reuse heinings, diefwering en sekuriteitswagte – vanaf ons blyplekke tot ons werksplekke en ook waar ons inkopies doen, vermaak soek en die hospitale waar ons verkies om mediese hulp te ontvang.

Terwyl dit maklik was om Afrikaners uit belangrike publieke ruimtes te skuif deur ons werksgeleenthede te ontneem en selfs deur algemene kriminaliteit, is dit nie so maklik om al die spore van ons bestaan weg te vee nie. So staan ons monumente nou soos eensame brandwagte op terreine waar ons huiwerig is om self lank te vertoef.

Die druk om ons monumente te skuif het dus ‘n rasionele politieke aanloop, en in die gesig van die venyn wat ons ervaar is dit ten behoewe van ons erfenis selfs ‘n goeie idee om ons beelde na veilige hawens te verskuif.

Dit neem egter nie weg van die voortslepende onreg wat aan Afrikaners gedoen word na die vertroue wat die meeste van ons in die NP en ANC se onderhandelde skikking geplaas het nie. Ons het immers baie prys gegee om ‘n land te skep wat aan almal behoort wat daarin woon. Dit is nou duidelik dat terwyl ons vir ‘n demokrasie gestem het, ons ‘n rewolusie gekry het met eise wat daagliks net al hoe onredeliker word.

Behalwe vir die algemene staatsverval wat rondom ons plaasvind, sien ons ook verdere tekens dat Suid-Afrika se demokrasie besig is om ons te in die steek te laat. Een voorbeeld hiervan is die wyse waarop die media, wat veronderstel is om die waghonde van die demokrasie te wees, die ANC en die EFF se rassisme altyd as politiek  rapporteer, terwyl Afrikaners se politiek as rassisme gebrandmerk word.

So word die rassisme-kaart ook vinnig ingespan teen talle Afrikaners wat baie emosioneel reageer op die aanslag op ons monumente-erfenis.

Orania het nog altyd sterk standpunt teen rassisme en rasse-haat ingeneem en sal dit in die toekoms bly doen. Ons Christelike grondslag leer ons dat mense geskape is na die beeld van God en daarom kan ons nie anders nie as om elkeen met waardigheid en respek te hanteer.

Dit is egter belangrik om in gedagte te hou dat ‘n liefde vir die eie nie dieselfde is as haat vir ander nie, en selfs al sou daar korrelasie wees, leer die statistiese wetenskap ons dat korrelasie nie oorsaak impliseer nie. Anders gestel: Selfs al sou daar rassiste wees onder diegene wat hul kulturele-erfenis probeer beskerm, maak dit nie die aanspraak op kulturele beskerming ongeldig nie. In ‘n ware demokrasie sou ons almal saam gestem het dat dit hul reg is om emosioneel te raak oor hul simbole en om binne die perke van redelikheid hul frustrasie in die publiek uit te druk.

Hoe moet ons dan nou maak om ons monumente-erfenis te beskerm in ‘n kamma-demokrasie wat sy beste doen om ons uit te dryf?

Dit help nie om mee te doen aan die proses om ons uit die publieke ruimte te verban deur bloot ons monumente uit alle openbare terreine te onttrek nie. Dit is duidelik dat daar ‘n groot behoefte aan publieke aanvaarding by Afrikaners is, soos implisiet in die meerderheid se wens dat ons beelde moet bly op die plekke waar hul tans staan. Sonder publieke ruimtes waar ons onsself kan uitleef, word die versoeking vir ons kinders soveel groter om in ander lande en kulture, publieke ruimtes op te soek wat hulle verwelkom.

Dit help egter ook nie om te veg net om ‘n punt te probeer bewys nie. Vir volke sonder ‘n tuiste word laaste staanplekke meestal toegegroeide grafte wat in die vergetelheid verdwyn.

Gelukkig bied ons Westerse tradisie ‘n bodemlose put van inspirasie en hoop.

Terwyl Rome vernietig is, is grondwerke op ‘n moerasagtige eilandstreek gelê waarvoor die meeste Romeine aanvanklik hul neuse opgetrek het, maar wat uiteindelik die wieg van die Renaissance sou word.

Afrikaners kan ook verby ons Rome kyk om ons Venesië te bou.

Laat ons dus soos op Orania werk aan die skep van nuwe publieke ruimtes vir ons monumente wat ons na gelang van ons vermoë in stand kan hou en volgens ons behoefte kan uitbrei. Dan skep ons vir meer as net beelde ‘n tuiste.