fbpx
Carel Boshoff, President van die Orania Beweging, lewer die inleiding tydens vanjaar se Burgervergadering.

Carel Boshoff, President van die Orania Beweging, lewer die inleiding tydens vanjaar se Burgervergadering.

Soos die Orania Beweging se volk-staatbetoog nou vir die tweede keer aan die begin van hierdie jaar gepubliseer is, het die FAK pas vir die tweede keer die jaar afgeskop met ‘n Leiersgesprek in Pretoria. In ‘n sin moet hierdie inisiatiewe die plek inneem van vroeëre parlementsittings waar Afrikaners se belange met dié van Suid-Afrika saamgeval het en dit as’t ware die verhoog was waarop die Afrikaner-drama afgespeel het. Noudat ons mense tot verhaal begin kom, word betekenisvolle alternatiewe vir die noodsaaklike besinning oor ons lot en toekoms geskep.

Dit was my voorreg om die FAK se geleentheid in Januarie by te woon en ek was aangenaam verras met die profiel van die sowat 100 deelnemers. Verskeie organisasies van binne en buite die Solidariteit beweging was daar, heelwat jongmense en (tog van belang) beide vroue en mans. Die drie inleiers was Frans Cronjé van die SAIRR, Dirk Hermann van Solidariteit en Danie Goosen van die FAK.

Frans Cronjé het ‘n kort opsomming van sy ondersoek na moontlike scenario’s vir Suid-Afrika gegee. Hy het dit ook al op Orania aangebied en intussen in boekvorm uitgegee. Dit dit bly egter boeiende dinkgoed omdat dit die werklikhede waarmee ons te kampe het, so deeglik verreken. Om die waarheid te sê, nie sy beste scenario vir Suid-Afrika voorspel veel goeds vir Afrikaners nie en hy het herhaal waarvoor hy vroeër in die media gekritiseer is, naamlik dat Plan B toenemend belangrik word. Dit behels iets anderkant die Suid-Afrika wat ons ken en nie net emigrasie nie. Hy het immers na Orania verwys en gesê “Julle is immers Plan B op steroïde ;-)”

Dirk Hermann het ‘n uiteensetting gegee van Solidariteit se klag teen die Suid-Afrikaanse regering by die Verenigde Nasies oor die diskriminerende toepassing van regstellende aksie. Sonder om te verwag dat dit ‘n kitsoplossing sal oplewer, het Solidariteit besluit om die ANC se bykans onaantasbare posisie in die buiteland te begin uitdaag – en is hulle besig om heelwat sukses daarmee te behaal. Dit is belangrik omdat state geneig is om by mekaar te staan en nie selfbeskikkingbewegings te ondersteun as dit nie “nodig” lyk nie. Aksies soos hierdie toon duidelik aan dat dit nie die hemele is wat in 1994 op Suid-Afrika neergedaal het nie en dat Afrikaners se wens om oor hulle eie toekoms te besluit, nie uit die lug gegryp word nie.

Danie Goosen het die program afgesluit met verwysing na sy boek, “Oor gemeenskap en plek. Anderkant die onbehae”, wat pas by die NP van Wyk Louw Sentrum verskyn het. Dié merkwaardige werk word ook tydens ons Burgervergadering op Orania bekendgestel en lewer ‘n wesenlike bydrae tot hoe ons onsself in die toekoms gaan verstaan en handhaaf. Hy het na vier sleutevrae waarvoor die Afrikaner van ons tyd te staan kom, gestel. Dit is:

  • Die vraag na die verband tussen individu en gemeenskap. Anders as wat liberale denkers graag te kenne gee, is dit nie ‘n kwessie van óf die gemeenskap, óf die vrye individu nie, maar ‘n vraag van hóé die altyd alreeds gegewe gemeenskappe waaruit individue voortkom, die erkenning kry wat hulle verdien. Die gemeenskapsdenke wat ons beoefen, kan dus nie op ‘n neerdrukkende en totalitêre siening van die gemeenskap neerkom nie omdat dit die individu ten gronde sou laat gaan, maar dit kan ook nie terugdeins van die feit dat ons gemeenskappe aansprake op ons maak en eise aan ons stel nie. Eers wanneer ons op ‘n volwasse en verantwoordelike wyse daarmee omgaan, kry ons individuele vryheid diepere betekenis en kan ons ons gemeenskappe na waarde skat en koester.

 

  • Die vraag na grense. Anders as wat die heersende liberale idioom vandag te kenne gee, is grense nie iets om te verswyg of te verwerp nie, want daarsonder kan geen groep, gemeenskap of volk van homself bewus wees nie. Grense is nie net ‘n voorwaarde vir ‘n gemeenskap se selfbewussyn nie, dit is ook ‘n voorwaarde vir verhoudings met ander gemeenskappe, diegene wat buite daardie grense lê. Nou is dit waar dat Afrikaners in die verlede al die grense te eng rondom hulleself probeer trek het, maar die onlangse pogings om voor te gee dat daar in werklikheid nie iets soos grense is nie, het ons ook nie beter toegerus vir die eise wat die nuwe magsorde aan ons stel nie. Ook hieroor moet ons verder besin op’n wyse wat die skeppende energie (en dus mense) in ons geledere nie uitsluit nie, maar nader trek.

 

  •  Die vraag na tussenliggende instellings. Die moderne staat word gekenmerk deur ‘n diepe ongeduld met enigiets wat tussen homself en sy individuele burgers probeer staan – daarom ook dat die liberale ideologie hom soos ‘n handskoen pas. Elke gemeenskapsinstelling wat die staat se poging om totale beheer uit te oefen, aan bande lê, moet uit die weg geruim of ten minste tot die private domein beperk word. Dit geld vir kerke, gemeenskapskole, stamowerhede, selfs kultuurorganisasies, universiteite en wat meer. As Afrikaners die bevoegdheid wat hulle verdien om oor hulle eie toekoms te besluit, wil verkry, sal die weg daarheen loop deur die vestiging en versterking van sulke tussenliggende instellings wat die staat se beheer oor ons lewens, loopbane, finansiële vermoëns, selfs tydsbesteding en vermaak opsy kan skuif.
  • Die vraag na vryheid. Al gebruik talle Afrikaners nog die woord met ‘n mate van huiwering en ‘n skuldige gewete, staan die oeroue strewe na vryheid in die middelpunt van Afrikaners se dilemma vandag. Omdat ons in die verlede ander se vryheid beperk het, voel baie van ons mense vandag nog dat ons nie met vrymoedigheid daaroor kan praat nie. Tegelyk word dit toenemend duidelik dat vryheid presies is wat ons wil hê – en ontsê word. Maar wat word daarby bedoel? Die heersende liberale siening daarvan konsentreer op vryheid as vrye keuse vir die individu en verloor in die proses ‘n belangriker betekenis daarvan uit die oog. Hier word verwys na meer as om vryheid met verantwoordelikheid te balanseer, hier word verwys na ‘n dieper en ouer betekenis van vryheid. Dit is vryheid as selfverwerkliking. Hierdie vryheid staan nie afsydig van of teenoor iets soos reëls (waarvan die vryswewende individu probeer wegkom) nie, maar sluit ten nouste daarby aan. Juis deur die reëls van byvoorbeeld klavierspel en musiek te bemeester en te gehoorsaam, kan die pianis hom- of haarself ten beste verwerklik en nuwe hoogtes van voortreflikheid bereik. Deur by die tradisie aansluiting te vind, kan ons gemeenskap anderkant ons eie beperkings tree, kan ons Afrikanervolk nuwe hoogtes bereik. Daarenteen, as ons ons toekoms net op vrye keuse en willekeur wil bou, moet ons meer van die ondergang verwag wat die liberale denke die afgelope dekades vir ons ingehou het.Die diepgaande vrae wat by die FAK se Leiersgesprek aan die orde gestel is en wat die Orania Beweging in praktyk probeer beantwoord, gee opnuut betekenis aan die FAK se rol in ons volkslewe en ons eie deelname oor jare heen daaraan.

Carel Boshoff is die President van die Orania Beweging.