DSC01977Dit lyk die afgelope paar dae asof die EFF en ANC Jeugliga behoorlik met mekaar meeding oor wie die grootste poging teen die Afrikaner en eintlik blankes in die algemeen se erfenis kan loods.

Die huidige debakel oor monumente moenie as iets nuut beskou word nie. Dit is eerder deel van ‘n proses wat reeds in die middel negentigerjare begin het. Die proses om van veral die Afrikaner se erfenis ontslae te raak stop nie by monumente nie. Ja die meeste Verwoerd-standbeelde is lankal verwyder en die kanse dat Paul Kruger se standbeeld op Kerkplein staande sal bly raak by die dag skraler.

Die aanslag op ons erfenis vind egter reeds vir baie jare op ander terreine plaas. Die hoeveelheid Afrikaanse en Afrikanergerigte boeke wat regoor Suid-Afrika uit biblioteke gegooi en in baie gevalle op ashope beland het, is een voorbeeld. Nog ‘n voorbeeld is die onttrekking van staatsubsidies aan talle kultuurorganisasies, monumente, museums en ander instellings en plekke waar die Afrikanerkultuur bewaar word. In sommige gevalle het die ANC-regering beheer oor instellings oorgeneem en dit gedeeltelik begin transformeer soos wat die geval is by die Oorlogmuseum in Bloemfontein en die Taalmonument in die Paarl.

Afrikaners reageer tans verskillend op die verskerpte veldtog teen ons erfenis. Een groep wil alles probeer behou waar dit is. Ander wil hê alles moet verskuif word en ‘n ander groep soek ‘n soort middelgrond.

Wat nodig is, is dat Afrikaners ‘n nuwe realisme ontwikkel. Demografies is ons ‘n reeds klein, minderwordende minderheid. Afrikaners het baie van ons mense aan emigrasie verloor en weens lae bevolkingsaanwas onder ons eie mense en ‘n hoë bevolkingsaanwas onder ander volkere gaan ons aanhou om ‘n kleiner persentasie van die land se bevolking uit te maak. Demografie is belangrik. Een voorbeeld is sekerlik die middestad van Pretoria.

Dertig jaar gelede was dit ‘n Afrikanerhartland waar Afrikaners gewoon en gewerk het. Vandag is daar bitter min Afrikaners wat nog in die Pretoria middestad woon en selfs dié wat daar werk word vinnig minder. Dertig jaar gelede het die meerderheid van mense wat dus by President Kruger se standbeeld verbygestap het, sterk daarmee geïdentifiseer. Vandag is dit nie meer die geval nie. Sou dit dus nie meer sin gemaak het om te aanvaar dat die middestad van Pretoria nie meer ‘n tuiste vir Afrikanerfenis is nie?

Afrikaners woon vandag steeds verspreid oor die hele Suid-Afrika. Ons is nêrens gekonsentreerd nie en vorm byna nêrens ‘n meerderheid nie. Dit is ‘n onvolhoubare werklikheid. Ons kan tog nie voortgaan om te eis dat ons erfenis bewaar moet word in plekke waar die Afrikaner minder as 5% van die bevolking uitmaak nie?

Die harde werklikheid is dat Afrikaners sal moet besef dat ons eerder betyds ons erfenis na plekke waar ons oor die vermoë beskik om dit te bewaar moet verskuif voordat dit voor ons oë vernietig word of op ashope beland. Orania doen reeds baie om erfenisitems daar te bewaar. Die Erfenisstigting doen ook belangrike werk. Afrikanerinstellings sal moet saamwerk om ons erfenisitems na geskikte plekke te verskuif. Orania is reeds goed daarvoor gerat om die meeste items hier te ontvang, te bewaar en ten toon te stel.

 

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel