fbpx

RhodesTans woed die debat oor die moontlike verwydering van die standbeeld van Cecil John Rhodes op die kampus van die Universiteit van Kaapstad in die media. Dis na my wete die eerste standbeeld van ‘n nie-Afrikaner wat in die gedrang is, nadat talle beelde van Afrikanerleiers reeds verwyder is of in gedrang is.

Ons kan sê dat Rhodes vir dinge gestaan het wat lynreg teen die Afrikaner se vryheidstryd was soos Britse imperialisme en internasionale kapitalisme en dat hy een van die aanstigters van die Anglo-Boereoorlog en die Jameson-inval was. Dit bied aan Afrikaners genoeg rede om te sê dat hy verdien om verwyder te word. Sentimente vir Rhodes het ek beslis nie maar die aanslag op sy beeld laat my wel ongemaklik voel omdat dit lyk na die volgende fase van swart kulturele transformasie. Dit baat ons as Afrikaners niks as die wit Engelssprekendes se geskiedenis nou ook aangevat word nie want dit verteenwoordig die poging om die nalatenskap van wit mense in Suid-Afrika weg te vee. As dit met kommunistiese ywer bedryf word stuit dit voor niks nie. Dit vind veel meer in fases plaas: eerste word die beelde van “apartheidleiers” soos Verwoerd verwyder, dan is dit volksleiers uit die tyd van die Boererepublieke, volgende is dit skrywers en digters (soos met Totius reeds gebeur het), eintlik alle standbeelde van witmense behalwe diegene wat deel van die “struggle” was soos Bram Fischer of Beyers Naude. Ook in Zimbabwe is die Rhodes-standbeeld, immers die skepper van die land, verwyder voor in die volgende fase wit mense se plase gevat is in ‘n poging om terug te keer na ‘n verlede voor die koms van Europeërs na Afrika.

Die verwydering van standbeelde in Suid-Afrika is die simptoom van ‘n haat op die geskiedenis wat tot onlangs toe deur wit mense bepaal is en die poging om alle geskiedenis voor 1994 uit te vee en met ‘n soort “reboot” by nul te begin. Dat die oorwinnaars hulle eie helde vereer is vanselfsprekend en dat daar nou oral Mandela-beelde opgesit word behoort niemand te verbaas nie. Afrikaners het na 1948 ook hulle stempel deur middel van talle monumente afgedruk, maar sonder om beelde van Rhodes of koningin Victoria te verwyder. Die Afrikaner-era van Suid-Afrika, wat breedweg van 1924 tot 1994 (of volgens ander interpretasies van 1948 tot 1994) geduur het is as nuwe laag bo die geskiedenis van Engelse oorheersing wat daar voor was, geplaas. Afrikaners het nie probeer om die stempel wat Engelse op Suid-Afrika afgedruk het, al was dit grootliks verbind met geweld en onderdrukking van Afrikaners, te ontken en uit te vee nie.

Enige volk moet vrede met sy geskiedenis en die geskiedenis van sy land maak om homself en sy plek binne die wêreld en die eie land te begryp. Dit wat was, was dikwels sleg, maar is nogtans ‘n onvermydelike boublok vir ‘n beter hede. Vir Afrikaners was die tyd na 1948 ‘n goue era van voorspoed en vooruitgang, maar dit is opgebou op die koloniale skepping van die Unie van Suid-Afrika en moes toegewings aan die Engelse minderheid maak om te slaag, soos tweetaligheid en ‘n konsensus-vlag wat ook die Britse erfenis erken het. ‘n Terugkeer na die landelike Boererepublieke was net so onmoontlik soos wat vandag ’n terugkeer na ’n geïdealiseerde Afrika voor Jan van Riebeek moontlik is.

Die links-radikale geskiedenisbeskouing, wat talle swart asook linkse wit intellektuele aanhang, is egter een van herskepping uit niks. Voor dit kan plaasvind moet die ou orde so totaal en al vernietig word dat mense vergeet dat daar ooit iets soos ‘n geskiedenis was voor die bewindsverandering. Volgens die siening het Nelson Mandela in 1994 ‘n wonderlike reënboognasie geskep waar daar voor die tyd net geweld en onderdrukking was. Die tydperk voor 1994 is as t’ ware taboe en soos wat die skepping van die wêreld en die tyd per definisie met die woorde “laat daar lig wees” begin het, het die tyd van die reënboogland van gelykheid en regverdigheid met die verkiesing op 27 April 1994 begin.

Mense wat die geskiedenis navors en eras met mekaar vergelyk, kan nie anders as om hulle huidige omstandighede in perspektief te plaas en om tot die gevolgtrekking te kom dat nie alles in die verlede sleg was nie en dat die huidige tyd ook nie van ewige duur is nie. Dit is juis dit wat totalitêre bewinde wil vermy. Mense moet glo dat die huidige tyd die beste van alle tye is en dat net die bestaande bewind dit waarborg. Om te dink dat die bewind ooit kan verander word as hoogverraad gesien. Gelukkig is Suid-Afrika geen totalitêre land nie en is toegang tot inligting nog vrylik beskikbaar. Die onkritiese ophemeling van hulle eie helde en die gelyktydige verdoeming van almal wat nie deel van die struggle was nie deur die ANC verteenwoordig egter die soort geskiedenisbeskouing wat ook in totalitêre bewinde aangetref word. ‘n Nugtere blik op die geskiedenis is nodig, ongeag of jy jou eie geskiedenis of ‘n ander volk se geskiedenis bestudeer. Jy mag helde hê en hulle vereer, maar jy moet hulle nie verafgod nie. Net so kan jy ook nie ‘n geskiedkundige persoon net op grond van een daad of een uitspraak beoordeel nie. Swart intellektuele en politici, wat so graag die teerkwas swaai na wit mense en hulle “kolonialisme”, moet hulle eie geskiedenis ook krities ontleed en wegkom van die idee dat alle swart mense wat teen wit oorheersing geveg het helde was en dat die doel van swart bevryding die middele soos brutale moorde op witmense en swartmense wat nie wou meedoen aan die “struggle” nie, heilig.  Ook figure uit die vroeëre verlede, soos Shaka Zulu moet krities ontleed word.

Om terug te kom tot Rhodes: of ons as Afrikaners van hom hou of nie, hy was een van die persone wat Suid-Afrika en selfs die buurstate gevorm het. Sonder Rhodes sou daar geen moderne staat Zimbabwe, Zambië, Malawi en Botswana wees nie en Suid-Afrika sou heel waarskynlik anders gelyk het. ‘n Standbeeld van Rhodes, soos enige monument, behoort mense in die eerste plek aan te moedig om meer oor die persoon en sy tyd te lees en begrip van hulle eie tyd te ontwikkel. Natuurlik is daar persone wat so veel ellende en dood veroorsaak het dat volke liefs van hulle wil vergeet en hulle spore wil doodvee, soos Hitler, Pol Pot of Stalin. Van geeneen van Suid-Afrika se geskiedkundige figure kan dit egter gesê word nie.

In Orania word ons dikwels gekonfronteer met die kamstige verering van “apartheid-leiers” in die vorm van die Monumentkoppie en die Verwoerdmuseum. Ons staan by ons geskiedenis en erken die rol wat die persone gespeel het wat uit ‘n Afrikaner-perspektief grootliks positief was, sonder om egter hulle foute te ontken en hulle te verafgod. Dat ‘n spesifieke Afrikaner-dorp soos Orania Afrikaner-persoonlikhede vereer wat vir die Afrikaner se bemagtiging gestaan het en nie Engelse of swart mense nie, is vanselfsprekend. Dat ons nie Afrikanerleiers vereer wat aanhangers van die Britse Ryk was, of wat Afrikaner-selfbeskikking weggeteken het, is ook vanselfsprekend. Dat ons tans veral beelde van politici uit die meer onlangse verlede het en nog nie van Boeregeneraals of Afrikaanse skrywers of sakemanne nie hang ook maar saam met die beskikbaarheid van beelde. Hopelik sal ons in die toekoms ‘n wyer spektrum Afrikaners se beelde kan opsit.  Deur die beelde wat so vêr soos in die tydperk van die Boererepublieke terugstrek erken ons ons geskiedenis en ons wortels, die goeie en die slegte en bou daarop die nuwe Afrikanertoekoms, wat deur nuwe simbole soos die “Klein Reus” ingelyks verteenwoordig word. Dit sou egter ongeloofwaardig wees en as’t’ ware ‘n poging om ‘n boom sonder wortels te kweek as ons maak asof niks voor die stigting van Orania bestaan het nie en die Afrikaner se geskiedenis niks met ons te make het nie. Dan was Orania nie ‘n Afrikanerdorp nie, maar net ‘n landelike nedersetting waar mense net veiligheid en natuurskoon soek, soos daar talle oor die wêreld heen is.

Sebastiaan Biehl is `n navorser by die Orania Beweging.