‘n Groot aantal van Suid-Afrika se mees prominente universiteite is onder beleg van belangegroepe wat bereid is om die algemene belang van studente en dosente ter syde te stel en selfs te benadeel ten gunste van die bevordering van hul spesifieke doelwitte.
Maroelamedia berig dat Wits, Rhodes en die Universiteit van Kaapstad al vir 2 dae lank alle klasse opgeskort het, terwyl die Universiteit van Pretoria alle akademiese aktiwiteite en ondersteunende dienste gedurende Woensdag gaan opskort. By Stellenbosch is die administratiewe gebou deur betogers beset en by die Universiteit van die Vrystaat moes die onlustepolisie betogers verwyder wat die hoofingang versper het. By die Noordwes Universiteit in Potchefstroom (of is dit nou Tlokwe?) moes dapper studente hul liggaamlike veiligheid op die spel plaas om te verhoed dat Totius se standbeeld omgegooi word. By die Universiteit van Johannesburg word betoog en behels die eise ook die afstel van veiligheidstelsels en die instelling van busse.
Dit volg na omstrede protesbewegings by die Universiteite van Kaapstad (Rhodesmustfall), Stellenbosch (OpenStellenbosch) en Noordwes (ReformPUK) groot mate van sukses behaal het met die bevordering van hul politieke doelwitte deur ontwrigtende optrede.
Brandende kampusse wat ontwrig en vernietig word deur skreeuende massas wat geen respek vir akademiese ontwikkeling openbaar nie is ‘n ou verskynsel in die land. Gewoonlik speel hierdie gebeure egter op plekke soos die ou Universiteit van die Noorde, Vista, Medunsa of ander voormalige tuislanduniversiteit af. Vandag is dit Suid-Afrika se mees gerekende universiteite wat besig is om onder barbaarse druk te swig.
Hierdie vernietigende optrede is grootliks die gevolg van die ANC se strategie om tydens sy struggle ‘n kultuur van ‘liberation before education’ te vestig onder die swart meerderheid van Suid-Afrika. Vandag is hierdie meerderheidskultuur omvorm tot ‘demand anything before education’. Die grondhervormingsbeleid van die ANC was reeds die eerste aanduiding dat dit hulle doel is om Suid-Afrika na die beeld van die voormalige tuislande te transformeer, eerder as om die hele Suid-Afrika na die beeld van die liberale, vryemark demokrasie te vorm soos wat soveel liberale meningsvormers die afgelope 25 jaar geglo het (en sommige steeds glo). Dit blyk ook nou dat dit bykans onvermydelik is dat hoëronderwys na die standaard van die voormalige tuislande getransformeer gaan word (wat reeds grootliks die geval is met hoër tegniese opleiding). Die Afrikaanse koerante beaam hierdie gevolgtrekking waar hul redaksionele kommentaar skryf: “Kampusdrama is Eskom op ‘n ander verhoog”.
Een van die figure wat sentraal staan in die poging om die vure te probeer blus is professor Adam Habib wat as visekanselier van Wits self deur die protesterende studente vir ‘n kort tyd gyselaar gehou is. Volgens Maroelamedia het Habib die studente opgeroep tot onderhandeling indien hulle nie met die voorgestelde inflasie-gekoppelde verhoging van studiegelde tevrede is nie en dat dit “verskriklik” sal wees indien lesings verder ontwrig gaan word en studente nie hul eksamens kan aflê nie.
Vir my val die ironie nogal op. Prof. Adam Habib was in sy vorige pos adjunk-visekanselier van navorsing, innovasie en vooruitgang aan die Universiteit van Johannesburg waar hy instrumenteel was in die transformasie van daardie universiteit se voormalige RAU kampus (Randse Afrikaanse Universiteit wat grootliks deur private bydraes van Afrikanerouers tot stand gebring is) tot meestal Engelse instelling wat die meerderheid van die land verteenwoordig.
In ‘n artikel in Beeld in Maart 2011, kasty Habib wit Afrikaanse sprekers (let op die ontkenning van die Afrikaner as herkenbare etniese groep wat as sodanig op kulturele- en groepsregte aanspraak kan maak) daarvoor dat hulle besig is om hul kinders na ander universiteite te skuif “omdat hul ’n beskouing het dat instellings met ’n meerderheid Afrikaanssprekende en wit studente ’n makliker omgewing is om by aan te pas.” Verder loof hy die “sommige Afrikaanssprekende en wit gemeenskappe” wat dit belangrik ag om deel van ‘n kosmopolitiese instelling te wees. Habib stel: “Boonop, deur na ’n integrerende instelling te kom en deur aan die gewone kampusaktiwiteite deel te neem – studie, navorsing, sport, kultuur en sosiale interaksie – bou hierdie studente implisiet ’n nuwe Suid-Afrikaanse identiteit, een wat verder strek as wit of swart, ryk of arm, nasionaal en internasionaal.
Hierdie studente bou ’n identiteit wat Suid-Afrikaans, dog globaal is, gemeenskapsgerig, dog ondernemend, sensitief vir die kwessies van spesifieke gemeenskappe, maar wat reageer op dié van ander gemeenskappe, en wat gelykberegtiging en regverdigheid nastreef.”
Die wanorde wat nou dreig om die universiteit wat professor Habib tans bestuur (Wits) te oorspoel dui egter die ware aard van die meerderheidskultuur aan: vernielsugtig, toe-eienend, arrogant, minagtend en roekeloos. Hierdie meerderheidskultuur is nie ‘n akkomoderende kultuur nie; dit is ‘n jaloerse kultuur wat andersdenkendheid vervolg. Dit is ‘n kultuur wat mense wat poog om werk toe te gaan uit bewegende treine na hul dood gooi, wat studente en dosente aanrand wat poog om kennis te bemeester en wat soos met OpenStellenbosch en ReformPUK geen ruimte het om die land se 8 miljoen Afrikaanssprekendes te akkomodeer in selfs ‘n enkele universiteit wat kennis in hul taal toeganklik maak nie.
Waldimar Pelser, redakteur van Rapport, meen dat die leiers van die oproeriges aanvaar moet word omdat hulle, soos Solidariteit met sy ‘Plan B’, aan hulle ondersteurs hoop bied. Pelser skryf ook dat “die reg om hoegenaamd te swot – en baie studente is die eerstes in hul families – troef die reg om in Afrikaans te swot, so pynlik as wat die toegewing ook mag voel.” Dit blyk egter dat studente wat nie in Afrikaans swot nie, glad nie swot nie en nie skroom om ander wat wil studeer te ontwrig nie. Dit is ook verregaande om in die naam van ‘toeganklikheid’ opvoedingsgeleenthede weg te neem van polities-ontmagtigde minderhede en dit vir diegene te gee wat die politieke septer swaai en alleenseggenskap voer oor ‘n staatsbegroting van R900 miljard (meer as ‘n kwart van die land se hele ekonomie).
Solidariteit se Plan B sluit in om ‘n Afrikaanse universiteit op die been te bring. Afrikaners wat hul kinders eendag met kwalifikasies wil sien sal goed doen deur hierdie inisiatief te ondersteun. En nee, Solidariteit se optrede is nie vergelykbaar met die optrede van die oproeriges nie, want die doel heilig nie die middele nie. Elke daad wat vandag uitgevoer word hou gevolge vir die toekoms in. Diegene wat vandag bakstene deur voertuigvensters gooi gaan universiteite afbreek tot instellings wat geen kwaliteit kan lewer nie, terwyl diegene wat bakstene gebruik om te bou vir hul kinders ‘n beter toekoms gaan skep.
Namate Orania groei en sy bande met ons vriende in die buiteland versterk, word dit die natuurlike setel van Afrikanergerigte opvoeding. Soos wat die res van Suid-Afrika al meer transformer om soos die voormalige tuislande te word, kan Orania ‘n sleutelrol speel vir die bemiddeling van internasionale akkreditasie vir Afrikaanse kursusse en die skep van geleenthede vir mense wat in Afrikaans wil studeer.
Dankie vir Orania. ‘n Universiteit en hospitaal is ‘n moet. Ek waardeer dat Solidariteit ‘n Afrikaneer, of is dit nou Afrikaanse, universiteit op die been wil bring. Maar as daardie Universiteit nie op Orania is nie, gaan dit nie help nie. As die Orania beweging vir my op celliersaf@gmail.com laat weet in watter rekening ek maandeliks ‘n bedraggie kan inbetaal sodat daar gebou kan word aan ‘n Universiteit op Orania sal ek dit vanaand doen. Slegs as daardie rekening se doel is vir ‘n Universiteit op Orania en niks anders nie. Al kom daardie Universiteit oor 15 jaar, sal dit nie saakmaak nie, ek sal solank begin “spaar” vir dit. Hierdie gemors op die universiteite is die ideale geleentheid vir Orania. Hierdie is seker een van die grootse “wake-up calls” wat daar nog was hierdie jaar.
Dankie vir jou entoesiasme en bereidwilligheid om by te dra. Ons sal dit bekend maak sodra daar so ‘n fonds gestig word. Intussen vorder bouwerk aan ons tegniese skool vluks en ‘n kweekskool is ook ‘n moontlikheid. Dit is alles boublokke vir ‘n eie universiteit.
Slegs as daardie rekening se doel is vir ‘n Universiteit op Orania en niks anders nie
Ons sal so ‘n rekening skep. Dit kan binne die Orania Beweging geadministreer en geoudit word.