Orania word dikwels as “regs” of konserwatief beskryf. Hou die aantyging water? Is “regs” sleg en wat presies is regs? Daar is soveel vloekwoorde en kamma-persepsies wat aan regs gekoppel word dat dit moeilik is om hier duidelikheid in die deurmekaarspul van politieke korrektheid en verkragting van begrippe te kry. Ek praat hier spesifiek van links en regs en nie byvoorbeeld van liberaal, sosialisties of konserwatief nie, omdat dit alles net sekere dele van die links- of regsspektrum dek. Uit die aard van die saak is daar grys areas, en natuurlik ook sienings wat elemente van sowel links asook regs het, soos liberalisme in sy oorspronklike betekenis. Nogtans is ‘n breë indeling nodig om te weet watter paradigma gebruik word en hoe dit op feitlik alles van toepassing is.
Kom ons begin by die begin, naamlik by die basiese mensbeskouing wat links en regs onderlê. Vir linkses is die mens in beginsel goed en word deur sy omgewing, oftewel die samelewing sleg gemaak of verlei om slegte dinge te doen. Die skuld vir die mens se optrede lê dus buite hom- of haarself en daarom moet nie die mens verander nie, maar die samelewing en omgewing. Dit moet gedoen word deur middel van wette en “social engineering”. Verkeerde optrede het volgens linkses eintlik altyd te doen met ongelykheid of diskriminasie. Jy steel nie omdat jy skelm of boos is nie, maar omdat jy arm of benadeel is sonder jou toedoen. Daarom is die linkses se oogmerk om gelykheid af te dwing want dit sal alle rede vir verkeerde gedrag hokslaan. Die wat uitstaan, moet afgebring en die wat onder is moet opgelig word deur byvoorbeeld belasting, wette en reëls oor die regte gedrag. Die linkses glo ook nie aan ‘n verhouding tussen mens en God nie, omdat volgens hulle die mens maar net toevallig ontstaan het.
Verder beskou die linkses alle mense as gelyk en beskou dus ook verdelings soos volke, godsdiensgroepe, lande, selfs geslag as kunsmatige konstrukte om mense te verdeel. Die linkse ideaal is die broederskap en susterskap van die hele mensdom. Grense moet verwyder word, want grense lei tot oorlog en weerhou mense daarvan om mekaar te omhels en te besef dat ons almal eenders is. Hierdie mensbeskouing was aanvanklik beperk tot die kommunisme, maar het intussen deur allerhande popkulturele politieke kitsch tot in die hoofstroom ingedring as die aanvaarbare mensbeskouing.
Die regse of konserwatiewe uitgangspunt is fundamenteel verskillend. Daarvolgens is die mens nie inherent goed nie, maar volg sy eie belang, en daarom moet die mens deur normes en waardes, veral in groepsverband en wat deur die tradisie onderlê is, beweeg word om dit te doen wat reg en goed is. Die samelewing en sy normes en waardes wat oor ‘n lang tyd gevorm is, is daarom ook nie iets wat sleg is en radikaal verander moet word nie, maar iets wat gerespekteer moet word om ‘’n geordende naasbestaan te verseker. ‘n Belangrike onderskeid met die linkse denke is daarby dat die mens deur God geskape is en ‘n verhouding tussen God en mens bestaan wat ook die mens se optrede bepaal.
Verder glo konserwatiewes ook nie aan gelykheid nie, omdat die blote feite rondom ons elke dag wys dat niks en niemand gelyk is nie (alhoewel gelykwaardig voor God). Mense verskil in vaardighede en intelligensie, geslag, voorkoms, assosiasie, oortuigings en wat optrede betref, om maar net ‘n paar dinge te noem. Anders as wat linkses glo, is die ongelykhede vir regses nie gesetel in ‘n onregverdige samelewing nie, maar is die samelewing veel eerder ‘n weerspieëling van die mense wat dit vorm, en van hulle normes en waardes en optrede. Om die rede is daar samelewings of stelsels wat funksioneer en ander nie. Eerder as om funksionerende en nie-funksionerende stelsels saam te gooi in die hoop dat hulle dan werk (en die ervaring wys dikwels die teendeel), moet dit wat funksioneer eerder beskerm word teen die vernietigende invloede van buite. Eerder as om die hele tyd met nuwe radikale veranderinge vorendag te kom om die samelewing op sy kop te keer en sodoende kamstige ongeregtighede te verwyder, soos wat die linkses dit wil doen, werk die konserwatiewes met die gegewens en die tradisie wat die hede bepaal en wil dit, indien wel, hoogstens baie stadig en versigtig verander.
Alhoewel die behoudende, regse beskouing al telkens in die gelyk gestel is deur die geskiedenis en die ondervinding en die linkse sosiale eksperimente veelvoudig misluk het (geen staat wat sosialisme tot staatsideologie verhef het, was nog ooit ‘n sukses nie en boonop nog skenders van menseregte, wat hulle kamstig wil beskerm), is dit verbasend hoe gewild linkse denke oor die algemeen is en hoe maklik dit veld wen.
Die rede is eintlik maklik: linkse denke is eintlik nie denke nie, maar gevoel en ons tyd word oorheers deur gevoel. Enige konserwatiewe behoort ‘n debat deur goeie redenasie te wen, maar selde word iets vandag deurtas en uitgeredeneer. Alles gaan oor die oomblik, die emosies, die goeie gevoel, om mense nie aanstoot te gee nie. Dit gaan nie oor die langtermyn gevolge of waardes en tradisies nie.
In tye waar beelde meer tel as die geskrewe woord en waar deur middel van facebook, twitter en ander sogenaamde sosiale media almal foto’s, video’s en kort stellings kan plaas en op alles kommentaar kan lewer, het elke Jan Rap en sy maat ‘n politieke kommentator en raadgewer geword. Die gehalte van die diskoers gaan noodwendig agteruit. Politici kompeteer met sangers, akteurs en ander popsterre en oortref mekaar met vêrgesogte eise.
Politiek was vroeër meesal nugtere realpolitiek. Die hoogste doelwit was om binne die raamwerk van die moontlike die beste uitkoms te kry. Die linkses soek egter altyd die utopia en die groot wêreldprojekte, soos gelykheid, wêreldvrede, die verwydering van grense en die opheffing van nasionale state. Die regses of konserwatiewes het nie iets soortgelyks nie en hulle denke is eerder op die doenbare en die oorsigtelike groep, soos jou gemeenskap, of dalk nog jou land of volk gerig. Hulle het ook geen wêreldwye kreet soos “gelykheid/geregtigheid/nie-diskriminasie”, ensovoorts, nie. Vandag gaan dit oor ‘n paar slagspreuke en aanvoeling hoe om massas te begeester. Driewoord sinne soos “Yes we can” (Obama) of “Wir schaffen das” (Merkel) is bedoel om mense te verenig, maar is so niksseggend soos advertensie-slagspreuke.
Baie goeie stuk werk. Ek verskil egter in een aspek. Ek dink dit is n baie goeie ding dat publieke opinie uit die hande van naspers ens gehaal word. Mense moet praat en redeneer met mekaar. Die hoofstroommedia het te lank te veel mag gehad.
Ek glo byvoorbeeld dat dit n baie goeie ding is dat orania stadig groei. Die mense daar is gelukkig. As orania te groot word gaan dat politieke probleme kom.
I think there is a semi-global slogan for conservativism, that is summed up with “Borders, Language, and Culture” by US radio host Michael Savage. As you say, Conservatives are rational thinkers and understand this slogan and the meaning behind it, while liberals only feel and have negative knee-jerk reactions to it, that you want to discriminateat against others. So what, I say, the others would discriminate against you, if you moved to their ancestral lands and tried imposing your culture on them.
Uitstekend, Sebastiaan. Die rede hoekom jy reg is, is omdat dit die Bybelse, Christusgegronde lewens- en wêreldbeskouing is wat jy verkondig, ongelukkig sonder toepaslike Skrifverwysings.
Hanno, ek dink dit is goed dat daar nie skrifverwysings genoem word nie. Ons as Christene herken die waarheid van die Skrif in die redenasies – maar omdat dit nie genoem word nie, maak dit ook sin vir alle rasse, kulture, nasies. Maw ander godsdienssienings sien ook die waarhede raak.