fbpx

PFSVan 10 tot 15 September was ek bevoorreg om as verteenwoordiger van die Orania Beweging die jaarlikse konferensie van die Genootskap vir Eiendom en Vryheid (“Property and Freedom Society” – “PFS” in kort) te Bodrum, Turkye by te woon.

PFS kan beskryf word as ’n libertariese ekonomies-filosofiese instelling vanuit die Oostenrykse tradisie wat onbeskaamd die idees van privaat eiendom, kontrakteringsvryheid, vryheid van assosiasie – wat die vryheid om in jou persoonlike en besigheidslewe te disassosieer insluit – en onvoorwaardelike vrye handel voorstaan. PFS veroordeel imperialisme en militarisme (asook die aanhitsing daartoe) en verwerp positivisme, relativisme en die gelykheidsideologie (of dit nou uitkomsgebaseer of geleentheidsgebaseer is).

Ván die sprekers by hierdie jaar se konferensie en hul onderskeie onderwerpe, was:

Prof. Thomas DiLorenzo – The Curse of American Exceptionalism
Mnr. Rahim Taghezadegan – The Lebanon – A Switzerland of the Near East?
Mev. Deanna Forbush – America’s Violent Labor Unions
Mnr. Andrew Shuen – China, the US, the Renminbi, the $ and Hong Kong
Prof. Guido Huelsman – The Culture of Inflation
Prof. Frank van Dun – On the Philisophical Foundations of Libertarianism
Prof. David Dürr – Private Law Society: Answering some of the “difficult” questions
Prof. Hans-Hermann Hoppe – Democracy, De-civilization and Counterculture

Toegang tot hierdie intellektuele netwerk is ontsluit danksy die goeie werk van Aaron Kahland, Orania se ambassadeur in Duitsland. Dit is dan ook hier waar Carel Boshoff, saam met Jaco Kleynhans, sy voorlegging “The Afrikaner community as an experiment” in 2014 gemaak het.

Nodeloos om te sê dat meeste van die konferensiegangers daarom alreeds met my aankoms baie goed van Orania ingelig was. Dit het my vervolgens die geleentheid gebied om meer in detail te gesels oor die onderskeie instellings op Orania en wat ons vir die volgende vyf jaar beplan. Indringende vrae is gevra en die reaksie op my antwoorde was telkens oorweldigend positief. Veral die praktiese toepassing van ons idees het heelwat belangstelling gelok.

Ek sal selfs so ver gaan om te sê dat dit wat Orania doen ’n voorbeeld aan die res van die Westerse wêreld is oor wat ’n gefokusde en doelgedrewe Christelike kultuurgemeenskap kan vermag in ’n vyandige see van humanisme en politiese korrektheid.

Oor die duur van die konferensie is kontakte opgebou met mense van Singapoer, Costa Rica, die VSA, Hong Kong, Duitsland, België, Griekeland, die Oekraïene en nog vele ander lande met mense wat Orania se strewe verstaan en ondersteun. Die beste is ook van die geleentheid gemaak om met Proff. Van Dun en Dürr te gesels oor die verdere uitbou van Orania se interne geskilbeslegtingsprosedure – beide het hartlike uitnodigings gerig om verder oor hierdie en ander konsepte te gesels. Veral prof. Van Dun se perspektiewe op gemeenskap was baie insiggewend.

Dit bevestig net weer dat Orania se stryd nie in isolasie plaasvind nie en dat ons saak resoneer met vele mense van regoor die wêreld. Dit is dan ook ons taak om hierdie netwerke by te hou en op te volg, met die groot uitdaging om te verseker dat ons ons op só ’n manier van ons taak kwyt dat ons nooit ’n verleentheid vir potensiële internasionale bondgenote sal wees nie.