fbpx

KatalonieOnlangse peilings in Skotland wys dat ʼn meerderheid van Skotte nou onafhanklikheid steun. Verlede jaar in September het 45% van Skotte ten gunste van onafhanklikheid in ʼn referendum gestem. Intussen het steun vir Skotse onafhanklikheid bly toeneem en die verkiesingsoorwinning van die Konserwatiewe Party vroeër vanjaar in Brittanje het Skotte nog meer antagonisties teenoor Britse eenheid gemaak.

Die afgelope Sondag is ʼn belangrike tree na onafhanklikheid vir Katalonië, in die noordooste van Spanje gegee. Pro-onafhanklikheidspartye het ʼn meerderheid in streeksverkiesings behaal. ʼn Koalisie van partye en groepe van regoor die politieke spektrum wat almal onafhanklikheid steun het 62 van die 135 setels in die provinsiale parlement gewen. ʼn Meer radikale pro-onafhanklikheidsbeweging het ook 10 setels gewen. Saam sal die twee groepe nou meer as 50% van die setels in die provinsiale parlement beheer.

Katalane voer reeds sedert die middel van die negentiende eeu ʼn stryd om onafhanklikheid. In 1932 het die provinsie ʼn groot mate van outonomiteit gekry. Die afgelope paar jaar het die onafhanklikheidsbeweging in Katalonië egter nuwe energie gekry. Katalonië is ekonomies een van die meer suksesvolle streke in Spanje en die Katalane voel toenemend dat die Spaanse regering hulle misbruik om gate in armer dele van die land toe te stop. Die Katalane, hoewel baie keer links op verskeie politieke terreine, is ook meer gefokus op die behoud van hul eie taal, kultuur en tradisies.

Die uitslag van Sondag se verkiesing kan daartoe aanleiding gee dat Katalonië die eerste treë na onafhanklikheid begin gee. Die leier van die onafhanklikheidsbeweging Artur Mas het na gister se verkiesingsoorwinning gesê dat hulle in die verlede talle verkiesingsnederlae soos goeie demokrate moes aanvaar. Hulle vra nou vir die res van Spanje om hul verkiesingsoorwinning te aanvaar en te aanvaar dat ʼn meerderheid van Katalane onafhanklikheid steun. Planne word reeds gemaak om dié gebied teen 2017 van Spanje los te maak.

Skotland en Katalonië staan nie alleen in hul stryd om onafhanklikheid nie. Talle ander volkere en streke in Europa deel hierdie ideaal. Die Vlaminge se stryd om van België los te breek, die Suid-Tirolers se stryd om hulself van Italië los te maak en weer deel van Oostenryk te word en deesdae selfs die onafhanklikheidstryd van Venesië is welbekend.

Hoewel die reg om selfbeskikking toenemend internasionaal aanvaar word, is die pad na selfbeskikking meestal moeilik. Die sukses van volkere om selfbeskikking, of ten minste ʼn beperkte mate van outonomiteit, te verkry hang van vyf dinge af.

Die eerste is hul vermoë om ten spyte van interne diversiteit en politieke verskille te kan mobiliseer en op belangrike momente te kan saamstaan soos wat in Sondag se verkiesing in Katalonië gebeur het.

Tweedens is geografiese konsentrasie noodsaaklik. In Noord-Amerika en Suid-Amerika het talle inheemse volkere se stryd om selfbeskikking misluk omdat hulle nie suksesvol ʼn geografiese gebied kon domineer nie.

Die derde vereiste is te besef dat selfbeskikking ʼn proses en nie ʼn gebeurtenis is nie. Groeiende selfbeskikking skep resultate wat mense na groter selfbeskikking wil laat streef.

Vierdens is dit belangrik dat jou saak internasionaal aanvaarbaar is. Die laaste vereiste is goeie leierskap wat daarin kan slaag om mense se vrese oor verandering te besweer en die vuur van vryheid in hul aan te steek.

Afrikaners wat na selfbeskikking streef sal eers hierdie uitdagings te bowe moet kom voordat hulle eise kan begin stel.