2016 is ʼn verkiesingsjaar. Dit beteken per definisie dat geweld en onluste plek-plek sal opvlam soos populistiese politici en hul organiseerders intimidasie gebruik en openbare geweld aanhits om kiesers vir die komende verkiesing te mobiliseer.
Plaas dit binne die konteks van die voorafgaande aanslag op Afrikanererfenis en ons was dit te wagte dat Afrikaners as sondebok ingespan sal word wanneer die EFF en die ANC mekaar aan die linkerflank probeer verbysteek met retoriek en beleid. Tog is dit die vlaag openbare geweld op universiteitskampusse wat ons heeltemal onkant betrap het en so ontstel.
Verlede week lees ek hoe Pieter du Toit van Netwerk 24 op Twitter – met die aanhaling van ʼn ander twiet – skryf dat Afrikaanssprekendes mooi moet besin of moedertaalonderrig in Afrikaans nie ter wille van vrede prysgegee moet word nie.
Met hierdie skrywe wil ek nie poog om AfriForum se benadering in antwoord op die geweld te bespreek nie – Kallie Kriel doen dit alreeds hier. Ek wil ook nie die meriete van Afrikaans as onderrigmedium op universiteitsvlak probeer bespreek nie – prof. Danie Goosen doen dit hier.
Wat ek wel wil doen, is om konteks aan hierdie gebeure te gee, wat ons dan hopelik in staat sal stel om dit in ons eie gedagtes te verwerk om ʼn gepaste antwoord op stellings soos dié van Pieter te formuleer.
Die feitelike konteks
Soos reeds hierbo vermeld, het die huidige vlaag geweld op kampusse nie in ʼn vakuum plaasgevind nie. Dit is voorafgegaan deur ander verskynsels van openbare geweld en vandalisme.
Die eerste bedekte aanval op die Afrikaanse karakter van sekere kampusse is in Februarie 2014 geloods deur Adrian Basson, die destydse redakteur van Beeld, met sy valse beriggewing van ʼn sogenaamde Nazi-saluut op die NWU-Potchefstroom kampus. Dit is vervolgens gebruik as regverdiging om die ideologie van transformasie by die NWU vastrapplek te gee.
Die geweld op kampusse is op 9 Maart 2015 afgeskop met die Rhodes Must Fall-veldtog by die UK. Hierna het ʼn vlaag vandalisme gevolg, waartydens Afrikanererfenis landswyd geteiken is. In April 2015 het die Minister van Kuns en Kultuur genoop gevoel om voor te stel “koloniale” erfenis moet eerder uit openbare gebiede verwyder en in ʼn konsentrasiekamp aangehou moet word.
Afrikaners skop vas teen dié voorstel by die vergadering in Freedom Park, maar op die UK kry die geweldenaars hulle sin en die standbeeld van Rhodes word verwyder.
In Augustus 2015 stel Open Stellenbosch hulle dokumentêr “Luister” vry, wat die fokus op die “rassisme” van Afrikaanse klasse op Stellenbosch plaas.
Gedurende hierdie tyd (Augustus/September 2015) vlam geweld by Elsenburg-kollege op, met klasse wat ontwrig word en wit studente wat aangerand word.
In Oktober 2015 volg die Fees Must Fall-veldtog, wat by Wits begin en uitkring na verskeie universiteite landswyd. Op 23 Oktober 2015 kondig president Zuma aan dat klasgelde nie verhoog sal word nie.
In Januarie vanjaar het die Outsourcing Must Fall-veldtog by Tukkies begin. Die bestuur van die universiteit het toegegee aan die eis en die betrokke werkers is permanent deur die universiteit in diens geneem.
Tans woed die Afrikaans Must Fall-veldtog by Tukkies, terwyl slagspreuke soos “Fuck All Whites” en “Kill All Whites” die rondte doen by nie-Afrikaanse universiteite soos Wits en die UK. Dit is daarom opvallend dat selfs waar Afrikaans nie teenwoordig is nie, die geweldenaars genoeg gronde kry om hul optrede te regverdig.
Geboue op die NWU se Mafikeng-kampus het ook verlede week in vlamme opgegaan, met studente wat aandring om op die Potchefstroom-kampus klas te draf. Klasse word nie in Afrikaans by die Mafikeng-kampus aangebied nie, maar wel by die Potchefstroom-kampus.
Elkeen wat objektief na hierdie. feite kyk behoort daarom drie redelike afleidings te maak:
- Die teenwoordigheid van Afrikaans op kampus is nie die rede vir onluste nie, maar slegs die verskoning. Waar klasse glad nie in Afrikaans aangebied word nie, is daar armsvol ander redes.
- Om bloot aan die geweldenaars se eise toe te gee, ontlont nie die geweld nie, maar gee aanleiding tot nuwe eise en gronde vir geweld.
- Dit is daarom duidelik hierdie is verkiesingspolitiek à la “people’s war” en Afrikaans en “whiteness” word baie effektief deur populiste gebruik om geweld aan te blaas. Om dit anders te stel – dis nie ons sienings en menings wat teen ons gebruik word om geweld aan te hits nie, maar eerder wie en wat ons is.
Nou begin sommige mense vra of dit nie beter sal wees om “ter wille van vrede” beginsels soos moedertaalonderrig prys te gee nie. Binne die konteks van hierdie vraag sal dit dalk goed wees om net weer na die Grondwet te kyk, asook sekere feite daarom.
Die Grondwetlike konteks
Artikel 6(5)(a) van die Grondwet gee die mandaat vir die skepping van ʼn Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad wat onder andere “die ontwikkeling en gebruik bevorder en omstandighede skep vir die ontwikkeling en gebruik van alle amptelike tale” (eie beklemtoning).
Artikel 29(2) van die Grondwet “waarborg” die reg om in openbare onderwysinstellings onderwys te ontvang in die amptelike taal of tale van eie keuse waar daardie onderwys doenlik is.
Hoofstuk 9 van die Grondwet maak voorsiening vir staatinstellings ter ondersteuning van grondwetlike demokrasie. Dit sluit onder meer die Artikel 185-Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe in.
Op 14 Januarie 2016 het die Minister van Kuns en Kultuur, Nathi Mthethwa, egter die raad van PanSAT met onmiddellike effek ontbind, omdat hy dink “die raad het nie die verhouding tussen die uitvoerende gesag en die raad begryp nie en nie by die raamwerk aangesluit nie”.
Hy het verder in Orwelliaans verduidelik, “Die ontwikkeling van ons taal en bevordering van veeltaligheid in Suid-Afrika moet versnel word. Die jaar 2016 moet tasbare resultate oplewer …”
Dit het alles gebeur nadat die nuutverkose PanSAT-raad ʼn forensiese verslag laat opstel het oor vorige korrupsie en misbruik van geld by PanSAT.
Verskeie van die Hoofstuk 9-grondwetlike instellings is bloot “wit olifante”, wat slegs die illusie skep dat dit onder andere taalregte beskerm en bevorder, maar in werklikheid net ʼn groot personeelkorps in diens hou.
Net so kan vrae gevra word oor wat die Artikel 185 Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe se daaglikse werk behels en waarom dit nie tot die debat oor Afrikaans op kampus toegetree het nie. Is daar ʼn les te leer uit wat met PanSAT gebeur het toe hulle effektief wou wees?
Wat nou gemaak wanneer die grondwetlike instellings nie bevoeg of by magte is om ons verskanste grondwetlike regte te beskerm en/of te bevorder nie?
Die opneem en afdwing van regte
Wat Afrikaners leer uit die anti-Afrikaanse sentiment van die onluste op sekere kampusse en sekere universiteitsbesture se geneigdheid om voor intimidasie te swig en aan onredelike eise toe te gee, is dat grondwetlike regte nie ʼn gegewe is nie.
Die blote feit dat ’n reg swart-op-wit iewers opgeteken staan, gee nie uiting daaraan nie. Dit beteken nie dat iemand noodwendig daardie reg van jou gaan respekteer nie, of dat die grondwet jou sal beskerm wanneer jou regte geskend word nie.
Vir ʼn geruime tyd is daar baie moeite deur die hoofstroommedia gedoen om die begrip “Afrikaner” met negatiewe assosiasies en konnotasies te vul. Vir lank is daar bepleit dat ons eerder ons identiteit rondom Afrikaans as Afrikaanses of Afrikaanssprekendes moet vorm. Die Afrikaner se kultuur is verdag, maar minstens is Afrikaans as taal verteerbaar.
Wel, hier is ons nou. Ongeag die bepalings van die Handves van Regte in die Grondwet, is Afrikaans as taal ook nou problematies binne ʼn populistiese politieke landskap wat teen ʼn stink spoed na links skuif.
Die vraag wat gevolglik onwillekeurig na vore tree is: As ons nou selfs moedertaalonderrig in Afrikaans sou prysgee, wat is volgende? Die Onteieningswet is sopas deur die parlement goedgekeur … Waar word die perk gestel? Waar sê mens “tot hier toe en nie verder nie”?
Vir Oraniërs is hierdie verskynsel egter ou nuus. Die afgelope drie dekades moes ons ervaar hoe Artikel 235 van die Grondwet selfbeskikking as ʼn reg erken, maar hoe hierdie reg in die media as “rassisties” of “ ʼn terughunkering na apartheid” beskryf en verdag gemaak word wanneer ons hierdie reg opneem en ʼn Afrikanerinhoud daaraan gee.
Die les wat Orania ons geleer het, is dat ons uiteindelik net op onsself aangewese is. Dit waarvoor ons nie bereid is om self te stry en te werk nie, sal nie deur ander aan ons gegee of selfs gewaarborg kan word nie. Om gesag aan ʼn “papierreg” te gee, moet ons dit met erns opneem, inhoud daaraan gee en dit dan uitbou.
Volgens die spreekwoord is die pen magtiger as die swaard, maar niks kom by die troffel nie. Die troffel versinnebeeld hoop. ʼn Verslane mens, sonder hoop, bou nie.
Die “slim” kommentators en joernaliste kan in hul rubrieke maar raas, blaas en verdagmaak nes hulle wil, maar met ons oë gerig na Bo sal ons, troffel in die hand, ʼn toekoms vir ons kinders in Afrika bou. Vry, veilig en voorspoedig…
Ons kan maar aan ons eie kant wees – ons lewens hang daarvan af.
Hierdie artikel is aanvanklik deur Maroela Media gepubliseer. U kan dit hier besigtig.
Uitstekende en waar artikel.