fbpx

Integrasie is tans die gonswoord in veral Europa in die aangesig van die vlugtelinggolf. Deur integrasie word al die probleme opgelos en word in ‘n kort tydperk van ‘n ongeletterde Moslem uit Afghanistan of Sirië ‘n moderne, goed opgeleide en lojale Europeër, aldus die wensdenkery van talle meningsvormers en politici. Uit die Europese perspektief beteken “integrasie” egter nie dat diegene wat inkom hulle herkoms en kultuur moet aflê nie (wat in elk geval baie moeilik is), maar dat die bestaande samelewing die inkomelinge moet akkommodeer en self moet verander om sodoende ‘n integrasie van die immigrante te kan bewerkstellig. Duitsland of Swede (natuurlik ander lande ook, maar die twee dra vrywillig die hooflas van die vlugtelinggolf) moet nie te veel eise stel nie en wen eintlik deur die nuwe burgers, omdat dit dan ‘n multi-kulturele, “oop” samelewing word wat vir almal aanvaarbaar is en beter as die ou, eens homogene samelewing, aldus dié redenasie. Meer nog, op ekonomiese gebied word dit vir die immigrante maklik gemaak om te oorleef op welsynstoelaes (en asielsoekers mag nie werk terwyl hulle aansoek afgewag word, wat jare kan duur) en dus val die belangrikste integrasiefaktor van almal, die werksplek, weg. Omdat Oos-Europa weet dat integrasie in meeste gevalle gee en neem beteken, en dat dit hulle lande sal verander, is hulle juis skepties oor immigrasie en probeer dit keer.

Europese lande het relatief min en klein golwe van immigrasie beleef (ons kan dink aan die emigrasie van Franse Hugenote weens hulle geloof na Nederland en Pruise in die 17de eeu, of van Pole weens armoede in die 19de eeu na die nywerheidsdele van Duitsland) en weet dus nie hoe om dit te hanteer nie en hoe om die nuwelinge te integreer nie. Hoe meer divers die lande raak, hoe makliker is dit vir immigrante om hulle paralelle strukture te vorm en om enige integrasie te vermy. Omdat Wes-Europa ook nie meer trots is op sy kultuur, taal en geskiedenis nie (en sy godsdiens reeds afgelê het) weet ook niemand meer wat die minimum vereistes vir integrasie is nie.

In die VSA is tradisioneel ‘n ander model van integrasie gevolg. Geen eng kulturele of godsdienstige vereistes is gestel nie. Almal wat ‘n beter toekoms en vryheid gesoek het, was in beginsel welkom, maar, en hier lê die beduidende verskil teenoor die huidige Wes-Europa, die staat het niks gedoen om vir die immigrante behuising, werk of toelaes beskikbaar te stel nie. Dit was ‘n geval van swem of sink. As jy nie kon aanpas in die nuwe wêreld nie, ekonomies of wat die leefwyse (om nie te sê kultuur nie) betref, dan moes jy maar weer teruggaan waar jy vandaan gekom het. Die VSA het ‘n groot mate van gelyke kanse vir die aankomeling gebied: of jy adelik of burgerlik of uit die laerklas was, geen spesiale vergunning op grond van stand en status is vir jou gegee nie, maar ook geen beperking op jou pad na rykdom en die uitlewing van jou persoonlike vryheid geplaas nie. Van jou is egter verwag om jou Europese vel as t’ ware af te lê. Die sogenaamde smeltkroes het sodoende ‘n nuwe volk geskep, hoofsaaklik van Wes-Europese afkoms en met Engels en die christelike geloof as kleinste gemene delers, maar heel anders as Europa.

Getalle speel by integrasie ook ‘n rol. Enkelinge is gewoonlik die beste integreerbaar want vir hulle is daar geen alternatief tot aansluiting by die nuwe kultuur nie. Introu in die nuwe volk vind da nook gewoonlik plaas. Sodra groot getalle immigrante arrivieer, vorm hulle egter parallele strukture.

In Orania sit ons ook met die kwessie van integrasie. Feitlik almal wat na Orania kom is per definisie Afrikaner en Christen (ten minste nominaal), en daar is reeds ‘n sterk en gevestigde kultuur aanwesig. Dit is dus ideale omstandighede vir die integrasie van nuwelinge. Nogtans is ook by ons die integrasie van nuwe burgers nie ‘n gegewe nie. Afrikaners het taamlik uiteenlopend geword, en die nuwe bedeling het ook maar aan ons mense, veral die jeug, afgesmeer. By sommige word Afrikaans net as mengelmoestaal gepraat, kerkbywoning het raar geword, kultuur is globalisties van aard, van geskiedenis is daar min kennis en volkseie arbeid is ‘n vreemde konsep. Dit is dus die gevestigde inwoners se taak om met die integrasie van die nuwes te help. As daar skielik groot getalle “ontstamde” Afrikaners hier aariveer, verander hulle die bestaande inwoners meer as andersom. Verder kan ons ook van die VSA-model leer dat dit vir ‘n samelewing beter is om mense te trek wat struikelblokke kan oorkom en op eie voete kan staan, as diegene wat deur ander gedra wil word. Vir integrasie is dit beter om werksgeleenthede te bied as maatskaplike toelae. Laasgenoemde moet voorbehou wees vir diegene wat te siek of te oud is om te werk. Die model wat dikwels voorgestel word, om wit plakkers deur gratis grond en behuising in groot getalle na Orania te trek sal nie werk nie. Ingerasie is selfs onder goeie omstandighede geen maklike taak nie. Die samelewings waar dit geslaag het is eerder die uitsondering teenoor diegene waar dit misluk het en waar gedurige konflik is. Die volkstaat wat ons bou moet nie net groter, maar ook stewiger word. Dit kan bereik word deur goeie integrasie.

 

Integrasie