fbpx

Ukraine_01Reeds gedurende die sesde eeu voor Christus het Grieke aan die kus van die Swart See in die gebied wat vandag die suid-ooste van Oekraïne uitmaak, begin vestig. Die meeste Grieke wat hier gevestig het, was vlugtelinge weens oorloë, aanvalle of erge armoede en swaarkry. Vandag, eeue later, is die oorblyfsels van hierdie vroeë Griekse vestiging een van die oudste gemeenskappe in die wêreld. Net meer as 90 000 Grieke leef steeds in die Ooste van Oekraïne waarvan die meerderheid in die Donetsk-streek woonagtig is. Die grootste deel van die huidige Griekse bevolking in Oekraïne is afkomstig van die Griekse bevolking van die Trebizonde Keiserryk, in die noorde van die huidige Turkye, wat in 1461 teen die aanslag van die Ottomane tot ‘n val gekom het.

Na die aanvanklike vestiging aan die Swart See en ernstige swaarkry het die Grieke stelselmatig gemeenskappe begin bou en ekonomiese aktiwiteite begin bedryf. Hulle het geleenthede in die streek ontgin en het so suksesvolle handelaars met ander volkere om die Swart See geword. Die Griekse bevolking van Oekraïne het deur die eeue talle aanslae en groot uitdagings beleef. Gedurende die twintigste eeu is hulle deur die Russe onderdruk, groot getalle is gedeporteer en massamoorde op die Grieke was ook algemeen.

Oor die afgelope twee jaar met die uitbreek van geweld in die ooste van Oekraïne is hierdie oeroue bevolking weer eens deur aanvalle geteiken. In een aanval Augustus verlede jaar is 170 huise in ‘n Griekse dorpie verwoes en is talle mense gedood. Griekeland het die Grieke in Oekraïne genooi om na Griekeland terug te keer, maar die vraag kan gevra word of hierdie mense werklik Grieke is en of hulle nie eerder ‘n unieke minderheidsgroep in Oekraïne geword het nie.

Die verhaal van die Grieke in Oekraïne is die verhaal van volksplanting in ‘n onbekende plek. Dit is die verhaal van die bou van nuwe gemeenskappe en die ontwikkeling van eie ekonomiese aktiwiteite. Dit is egter ook die verhaal van verlies aan taal, kultuur, tradisies en veral politieke beheer weens demografiese werklikhede. Na geforseerde assilimasie word die ou Griekse taal, wat verskil van vandag se moderne Grieks, nog slegs in enkele afgeleë dorpies in die ooste van Oekraïne gepraat. Die meeste Grieke in Oekraïne praat vandag Russies en selfs die plaaslike Griekse koerant in Donetsk word slegs in Russies gepubliseer. Kultuur en tradisie word toenemend slegs in museums uitgebeeld.

Regdeur die ooste van Oekraïne is die tekens van ‘n ou Griekse beskawing nog sigbaar. Deur dinge soos argitektuur, eetgewoontes en selfs net die voorkoms van sommige mense kan die tekens van die ou Griekse beskawing in hierdie wêrelddeel steeds bespeur word. Ou nedersettings wat meer as een duisend jaar oud is word steeds deur argeoloë in die Krimgebied gevind. Van ‘n lewendige, groeiende gemeenskap wat hul taal, kultuur en tradisies volledig uitleef, het daar egter min oorgebly.

Meer as 300 jaar geled het hier aan die suidpunt van Afrika ook ‘n volksplanting plaasgevind. Vlugtelinge en mense wat op ‘n beter lewe gehoop het, het van Nederland, Frankryk, Duitsland en ander lande gekom en uit hul is die Afrikaner gebore. Vandag sien ons egter ook die demografiese en kulturele agteruitgang. Sal daar oor ‘n paar honderd jaar dalk ook net ‘n klein groepie van minder as 100 000 Afrikaners oorwees van wie min Afrikaans kan praat en wie se kultuur en tradisies tot ‘n museum of twee beperk sal wees? Indien ons so ‘n scenario wil keer sal ons, ons huidige verlies moet erken en dit deur konsentrasie van mense, mag en daad moet teenwerk.