fbpx

Orania is gevestig en word ontwikkel met die uitsluitlike doel om vir Afrikaners ‘n ruimte te bied waar ons, ons kultuur en ons nageslag kan floreer.

Orania se ontwikkeling is inderdaad besig om te versnel namate al meer suksesse behaal word en meer Afrikaners in die ideaal belangstel en hul bydraes begin lewer. Ons bevind ons ook in die jaar waarin Orania sy 25ste verjaarsdag vier. Dit is daarom gepas om dit wat bereik is in perspektief te stel.

25 Jaar gelede was Orania ’n flenterdorp wat besig was om uitmekaar te val. Geen Afrikaners het hier gewoon nie en nadat dit deur ’n groep van die Orania Beweging gekoop is, moes infrastruktuur herstel word en ’n ekonomie uit die nuut geskep word.

Volgens die Orania Dorpsraad het Orania in 2015 ’n bevolking van 1085 inwoners gehad. Vir baie mense mag dit min klink, maar die prentjie kry effens kleur wanneer ons dit vergelyk met die hoeveelheid Afrikaanssprekendes in Australiese stede. Die Australiese statistiek is gebasseer op hul sensus van 2011 waarin hulle die moedertaal van alle huishoudings aangeteken het.

Orania vergelyk met Afrikaanssprekendes in Australiese stede

Orania vergelyk met Afrikaanssprekendes in Australiese stede

Ten spyte daarvan dat Adelaide ’n bewese ekonomie het en ’n premie vir vaardighede betaal, het daar nie veel meer Afrikaners  hulself in Adelaide gevestig as in Orania nie. Die tabel hiernaas dui aan dat Adelaide 1574 Afrikaanssprekende inwoners het, terwyl Perth slegs 8 keer Orania se aantal Afrikaanssprekendes het. Wat ook opmerklik is, is dat daar veel meer Engelssprekende Suid-Afrikaners na Australië verhuis het. In totaal is daar 145 000 gebore Suid-Afrikaners in Australië waarvan slegs 35 000 Afrikaans praat.

Bogenoemde vergelyking tussen Orania en die Australiese stede se Afrikaanse bevolkings is ook interessant wanneer ons sien dat bogenoemde stede van die mees gesogte internasionale bestemmings vir Afrikaners is. Onlangse sensusdata is gebruik om vas te stel hoeveel Afrikaanssprekendes hulself in die verskeie lande bevind en soos die tweede tabel aandui, is die meeste in Australië (ongelukkig kon ek nie soortgelyke inligting vir Kanada vind nie, maar dit is onwaarskynlik dat daar meer Afrikaners in Kanada sal wees as in Australie).

Afrikaanssprekendes in die buiteland

Afrikaanssprekendes in die buiteland

So hoeveel Afrikaners is daar dan in die wêreld en waartoe is ons teoreties in staat indien ons onsself met ander lande vergelyk met vergelykbare bevolkingsgetalle?

Die beste raming waarmee ek vorendag kan kom is dat daar digby 3 miljoen Afrikaners wêreldwyd is, waarvan 90% in Suid Afrika te vinde is volgens die beskikbare statistiek (die naasgrootste bevolking is in Namibië met 92 000 Afrikaners in 2003).

As ons na die VN se bevolkingstatistiek kyk (verwys https://en.wikipedia.org/wiki/List_of_countries_by_population_(United_Nations) ), is daar 60 erkende onafhanklike lande waarvan die bevolkings minder is as die totale aantal Afrikaners. Daar is ook 40 erkende onafhanklike lande met kleiner bevolkings as die Noord-Kaap.

Slowenië is ’n interessante voorbeeld wat vir vergelyking gebruik kan word. Die land het ’n bevolking van net meer as 2 miljoen burgers. Ten spyte daarvan dat dit ’n ontstuimige vorige eeu beleef het (eers deur Kommunistiese onderdrukking en later deur die uitmekaarval van Jugoslawië) en 144ste is wat bevolkingsgroottes betref, is die land se mense die 38ste rykste in die wêreld (op grond van die grootte van die ekonomie gedeel deur die aantal inwoners). Slowenië beskik oor 5 universiteite wat moedertaalonderrig aanbied. Die landjie gaan verder van krag tot krag, sodanig dat dit ook uitgenooi is om deel van die Europese unie te word in 2004.

Kan Afrikaners deur Orania soorgelyke prestasies behaal as die Slowene? Wel, ons het genoeg getalle, en soos hulle sê: ’n Boer maak ’n plan!

13 Comments

  1. Michael

    Dankie Ebert, ek is in Australie en sal more terugkom as meer afrikaners soos jy redeneer. Die hertseer vir my is dat dit seker baie slegter moet gaan voor mense gaan besef daar is nie hoop in hierdie gemengde toekoms nie. Die ander probleem is dat tyd teen ons tel, ‘n nageslag of twee later gaan hierdie drome verdwyn. Ons kan dit doen, maar daar moet ‘n langtermyn plan wees. Ek bly waar ek is vir nou want my kinders gaan medies studeer en daar is geen toekoms vir hul studies of werk in SA nie. Intussen baklei en se die afrikaners mekaar sleg op verskeie web blaaie, dit gaan seker nog nie sleg genoeg nie….

    Reply
    • Ebert Terblanche

      Dankie vir jou inset Michael. Ek bevind myself in Sydney vir werk en studies op die oomblik.

      Ek het hoop solank Orania môre beter is as vandag en vandag beter is as gister. Mense hou van sukses en ‘n suksesvolle Orania kan baie geslagte Afrikaners inspireer om die beste moontlike Afrikaners te wees.

      Dit is waar dat ons wel mense verloor, maar dan kry ons weer ander by ook, soos Sebastiaan Biehl, Sepp en Rita Eckmaier.

      Reply
  2. Sebastiaan

    Interessante artikel, Ebert. Ek het jou bydrae gemis. Dit is vir my nuus (eintlik goeie nuus) dat daar nie so veel Afrikaners oor die wêreld heen versprei is nie as wat algemeen aanvaar word. Veral oor die klein getalle in Engeland, na my waarneming die hoofbestemming vir Afrikaners, verbaas my. As almal emigreer het ons ook geen argument vir ‘n vastrapplek in Afrika nie, want dan is ons wêreldburgers wat enige plek kan bly. Jy stem seker ook saam dat 1000 Afrikaners in Orania meer impak het en meer golwe maak as 8000 in Perth.

    Reply
    • Ebert Terblanche

      Ek dink baie is na Engeland met tydelike werkspermitte (‘working holiday visa’) en kon dalk nie permanente verblyfreg kry nie. Suid-Afrikaners kwalifiseer ook nie meer vir die ‘working holiday visa’ nie. Ander soos Gawie het weer doelbewus teruggekeer.

      Daar kan ook diegene wees wat verengels, maar hulle is meestal enkellopendes en kan nie baie wees as ons na Suid-Afrika se sensusdata van 1996 en 2011 kyk nie.

      Ja Orania maak impak ver bo sy getalle.

      Reply
  3. Jaco Kleynhans

    Ebert. Baie dankie vir ‘n werklik interessante ontleding. Ek het altyd gewonder of die hoeveelheid Afrikaanssprekendes in Australië nie oordryf word nie en hierdie syfers bevestig dit. Interessant: Ons relatief informele beraming van die Orania-inwonertal staan nou reeds op 1300. Dit was 1085 in November 2014. en het in die 15 maande sedertdien met minstens 200 gegroei. Daar is meer as 50 wooneenhede oor die afgelope 2 jaar in Orania toegevoeg.

    Reply
  4. Ebert Terblanche

    Dankie vir die terugvoer. Ja, na berigte in Rapport rondom 2005 dat daar meer as 1 miljoen blankes uit Suid-Afrika weg is, het mens verwag dat daar meer Afrikaners in die buiteland sou wees.

    Twee waarnemings het my egter laat besef dat dit moontlik nie die geval is nie. Dit het my nuuskierig genoeg gemaak om die statistiek na te gaan.

    Die eerste was die uislag van Suid-Afrika se laaste sensus waarvolgens wit Afrikaanssprekendes (eerste taal) tussen 1996 tot 2011 vanaf 2.5 miljoen tot 2.7 miljoen toegeneem het.

    Die tweede was my eie ervaring in plekke soos Sydney waar ek wel Afrikaners teekom, maar nie tot dieselfde mate as Skotte, Iere ens. nie.

    By nadere beskouing van die Suid-Afrikaanse data was ek ook verbaas om te sien hoeveel wit Engelssperekendes (eerste taal) Afrikaans as hul tweede taal aandui (byna 2 uit 3 Suid-Afrikaanse Engelse dui Afrikaans as hul tweede taal aan). Dalk verklaar dit waarom ons dink dat daar meer Afrikaners oorsee is as wat daar werklik is. Ons onderskat dalk ook hoeveel mense terugkeer nadat hulle genoeg internasionale ervaring opgedoen het.

    Hier is my bron vir die Australiese data. http://profile.id.com.au/australia/language?WebID=10

    Reply
  5. Anthony Schlemmer

    Dankie Ebert. Ek het nog nooit iets van jou gelees wat nie sin maak nie. Hierdie is goeie nuus vir my as Afrikaner. Ons wil nie he dat ons mense die land moet verlaat nie. Tans kan die swak rand ook verder bydrae dat minder mense die land verlaat. Goeie nuus. Behalwe jong mense wat die moed het van die jeug “om onder te begin”.

    Reply
  6. Johan Ferreira

    Orania is die enigste stukkie Afrikaner goeie nuus wat ek onlangs te lese gekry het. Dankie, doen so voort. Beur altyd boontoe!

    Reply
  7. Matie Hoffman

    Dankie Ebert. Dit is nou ‘n interessante perspektief. Dit is die eerste keer dat ek hierdie soort statistieke so mooi bymkeaar sien. Dalk kan jy daarop bou en vir ‘n publikasie by Litnet aanbied.

    Reply
  8. Hannes

    As ek reg onthou was die vraag in die Aussie 2011 sensus of “daar ‘n ander taal as Engels in jou huis gepraat word”. Baie gesinne het al so verengels dat bitter min of geen Afrikaans meer in die huis gepraat word nie. Die sensus onderskat die aantal Afrikaansprekendes. Die punt staan egter dat daar baie minder Afrikaners geëmigreer het as wat wyd verkondig is want min Afrikaansprekendes identifiseer as Afrikaners (net soos in Suid-Afrika). Daar moet egter nie net gekyk word hoeveel emigreer nie, maar ook wie die emigrante is. Die syfers vir Suid-Afrikaans gebore immigrante vertel ‘n storie: die gemiddelde ouderdom is net oor 40 jaar, 25% het grade (teenoor 10% in die bevolking), 13% is in die hoogste inkomstegroep (6.5% in die bevolking) en 80% bly in stede (60% in die bevolking). Dit is algemeen aanvaar dat Afrikaners ‘n groter bydra maak tot Australië as wat hulle getalle sou regverdig. Dit bly belangrik om kulturele bande te bou met alle Afrikaners maak nie saak waar hulle hul bevind nie. Die vraag is egter of en hoe lank die Afrikaner kan oorleef as hy hom los maak van Suid-Afrika?

    Reply
    • Simon

      Die is baie belangrik:

      “Dit bly belangrik om kulturele bande te bou met alle Afrikaners maak nie saak waar hulle hul bevind nie. Die vraag is egter of en hoe lank die Afrikaner kan oorleef as hy hom los maak van Suid-Afrika?”

      Die handjie vol afgeskeepte Afrikaners in Argentinië is ‘n uitsonderlike voorbeeld van Afrikaners wat breedweg oor meer as een generasie, taal en kultuur kon voortdra.

      Daar is heelwat voorbeelde van 1ste generasie Afrikaner kinders gebore in die VK wat nie Afrikaans praat nie.

      Reply
  9. revamus (ons kom!)

    Baie dankie Ebert. Hoop die inligting suiwer die lug plaaslik sodat meer o-e kan oopgaan. Sterkte met jou studies.

    Reply
  10. Wouter Badenhorst

    Ek en my vrou was laas maand in Orania om te gaan kyk hoe dit gaan en 2 aande oorgeslaap. Ons was aangenaam verras en was sooo opgewonde oor al die ontwikkelings wat sigbaar is. Jy sien net stene en boumateriaal wat oral sigbaar is soos was Oraniers bou!!!

    Ons is nou trotse Orania-Beweging ondersteuners en maak maandlikse bydraes ook. Om eendag Orania toe te trek, is nou werklik ‘n opsie.

    Wouter en Hanri

    Reply

Submit a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

3 × 4 =