Orania is gevestig en word ontwikkel met die uitsluitlike doel om vir Afrikaners ‘n ruimte te bied waar ons, ons kultuur en ons nageslag kan floreer.

Orania se ontwikkeling is inderdaad besig om te versnel namate al meer suksesse behaal word en meer Afrikaners in die ideaal belangstel en hul bydraes begin lewer. Ons bevind ons ook in die jaar waarin Orania sy 25ste verjaarsdag vier. Dit is daarom gepas om dit wat bereik is in perspektief te stel.

25 Jaar gelede was Orania ’n flenterdorp wat besig was om uitmekaar te val. Geen Afrikaners het hier gewoon nie en nadat dit deur ’n groep van die Orania Beweging gekoop is, moes infrastruktuur herstel word en ’n ekonomie uit die nuut geskep word.

Volgens die Orania Dorpsraad het Orania in 2015 ’n bevolking van 1085 inwoners gehad. Vir baie mense mag dit min klink, maar die prentjie kry effens kleur wanneer ons dit vergelyk met die hoeveelheid Afrikaanssprekendes in Australiese stede. Die Australiese statistiek is gebasseer op hul sensus van 2011 waarin hulle die moedertaal van alle huishoudings aangeteken het.

Orania vergelyk met Afrikaanssprekendes in Australiese stede

Orania vergelyk met Afrikaanssprekendes in Australiese stede

Ten spyte daarvan dat Adelaide ’n bewese ekonomie het en ’n premie vir vaardighede betaal, het daar nie veel meer Afrikaners  hulself in Adelaide gevestig as in Orania nie. Die tabel hiernaas dui aan dat Adelaide 1574 Afrikaanssprekende inwoners het, terwyl Perth slegs 8 keer Orania se aantal Afrikaanssprekendes het. Wat ook opmerklik is, is dat daar veel meer Engelssprekende Suid-Afrikaners na Australië verhuis het. In totaal is daar 145 000 gebore Suid-Afrikaners in Australië waarvan slegs 35 000 Afrikaans praat.

Bogenoemde vergelyking tussen Orania en die Australiese stede se Afrikaanse bevolkings is ook interessant wanneer ons sien dat bogenoemde stede van die mees gesogte internasionale bestemmings vir Afrikaners is. Onlangse sensusdata is gebruik om vas te stel hoeveel Afrikaanssprekendes hulself in die verskeie lande bevind en soos die tweede tabel aandui, is die meeste in Australië (ongelukkig kon ek nie soortgelyke inligting vir Kanada vind nie, maar dit is onwaarskynlik dat daar meer Afrikaners in Kanada sal wees as in Australie).

Afrikaanssprekendes in die buiteland

Afrikaanssprekendes in die buiteland

So hoeveel Afrikaners is daar dan in die wêreld en waartoe is ons teoreties in staat indien ons onsself met ander lande vergelyk met vergelykbare bevolkingsgetalle?

Die beste raming waarmee ek vorendag kan kom is dat daar digby 3 miljoen Afrikaners wêreldwyd is, waarvan 90% in Suid Afrika te vinde is volgens die beskikbare statistiek (die naasgrootste bevolking is in Namibië met 92 000 Afrikaners in 2003).

As ons na die VN se bevolkingstatistiek kyk (verwys https://en.wikipedia.org/wiki/List_of_countries_by_population_(United_Nations) ), is daar 60 erkende onafhanklike lande waarvan die bevolkings minder is as die totale aantal Afrikaners. Daar is ook 40 erkende onafhanklike lande met kleiner bevolkings as die Noord-Kaap.

Slowenië is ’n interessante voorbeeld wat vir vergelyking gebruik kan word. Die land het ’n bevolking van net meer as 2 miljoen burgers. Ten spyte daarvan dat dit ’n ontstuimige vorige eeu beleef het (eers deur Kommunistiese onderdrukking en later deur die uitmekaarval van Jugoslawië) en 144ste is wat bevolkingsgroottes betref, is die land se mense die 38ste rykste in die wêreld (op grond van die grootte van die ekonomie gedeel deur die aantal inwoners). Slowenië beskik oor 5 universiteite wat moedertaalonderrig aanbied. Die landjie gaan verder van krag tot krag, sodanig dat dit ook uitgenooi is om deel van die Europese unie te word in 2004.

Kan Afrikaners deur Orania soorgelyke prestasies behaal as die Slowene? Wel, ons het genoeg getalle, en soos hulle sê: ’n Boer maak ’n plan!

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel