fbpx

AfDSondag het een uit elke vier kiesers in die Duitse deelstaat Sakse-Anhalt besluit om vir ‘n politieke party te stem vir wie hulle nog nie voorheen kon stem nie. Ook wesenlike dele van die kieserskorps in Baden-Württemberg en Rynland-Palts het dieselfde gedoen. Vyf jaar gelede met die vorige verkiesing in hierdie deelstate het die Alternatief vir Duitsland nog nie bestaan nie.

Duitsers is bekend daarvoor dat hulle nie sommer maklik vir nuwe politieke partye stem nie. Die regerende Christen-Demokrate van die bondskanselier Angela Merkel en die hoofopposisiepartye die Sosiaal-Demokrate regeer reeds vir dekades in Duitsland.

Die afgelope paar maande het ‘n groot politieke verskuiwing egter in Duitsland begin plaasvind. Met die instroming van onwettige immigrante uit Noord-Afrika en die Midde-Ooste het Merkel aangevoer dat Duitsland weens sy verlede, natuurlik verwysend na die Tweede Wêreldoorlog en die volksmoord op die Jode, moet wys dat hy as land werklik verander het. Hiermee het Merkel bedoel dat die behoud van identiteit nie meer ‘n prioriteit in Duitsland is nie en dat die inneem van meer as een miljoen immigrante uit Derde Wêrellande dus ‘n goeie ding kan wees.

Sedert Merkel hierdie standpunt ingeneem het en Duitsland se grense oopgegooi is, het die harde gevolge van massa-immigrasie uit Derde Wêreldse Moslemlande in gemeenskappe regdeur Duitsland begin afspeel. Die massa-aanranding en molestering van Duitse vroue deur immigrante in Keulen op die aand van 31 Desember 2015 was maar net die grootste van honderde indien nie duisende soortgelyke gevalle nie.

Behalwe vir die groot toename in misdaad deur immigrante het dit die afgelope tyd ook aan die lig gekom dat terroristegroepe soos die Islamitiese Staat reeds duisende van hul vegters, vermom as asielsoekers, na Duitsland gestuur het. Potensiële terroristeaanvalle word gereeld gefnuik.

Die gevolge hiervan is dat Duitsers toenemend in vrees leef. Kinders ry nie meer met fietse skool toe nie, maar word by die skool se hek afgelaai. Dogters moet klere dra wat nie hul arms ontbloot nie omdat jong Moslemmans op hulle vloek as hulle te veel lyf wys. Duitsland het ook ‘n verouderende bevolking. Uit ‘n bevolking van net meer as 80 miljoen mense is slegs 10 miljoen jonger as 18. Reeds sedert die 1960’s vind daar voortdurend immigrasie uit Moslemlande, veral Turkye plaas. Volgens onlangse navorsing kan die Moslembevolking van Duitsland binne die volgende jaar of twee tot 10 miljoen mense styg. Dit beteken demografies dat Duitsland binne die volgende dekades ‘n Moslemland kan word.

Soos wat Duitsers vir hul eie veiligheid vrees en die demografiese werklikheid om hul begin besef, tree meer en meer van hulle verby polities korrektheid en die ou en uitgediende skuldgevoel vir sondes van die verlede. Dit bring mee dat miljoene kiesers bereid is om vir die Alternatief vir Duitsland, ‘n anti-immigrasieparty wat onwettige immigrante na hul ande van herkoms terug wil stuur, te steun. Sondag se verkiesingsuitslag in drie deelstate bewys dat Merkel se oopgrensebeleid misluk het en dat Duitsers ‘n harde boodskap vir haar wou stuur. Volgende jaar sal ‘n federale verkiesing in Duitsland plaasvind en die Alternatief vir Duitsland sal ook dan ‘n top mededinger wees.