In 1929 skryf die bekende Spaanse filosoof José Ortega y Gasset in sy boek Die Opstand van die Massas dat nasionalisme slegs positief beskou kan word in tye van konsolidasie. Gasset se kritiek op nasionalisme gaan oor die uitwaartse fokus wat baie keer met nasionalisme gepaardgaan. Gasset het hom in die 1920’s beywer vir ‘n sterk volkseenheid in Spanje, maar terselfdertyd was hy gekant teen imperialistiese denke wat keer op keer vernietegende gevolge vir Europese nasies gehad het. Oor Europa skryf hy dat dié kontinent en sy verskillende nasies daargestel is weens volkere se strewe na ‘n groter onderneming of projek.
Die Tweede Wêreldoorlog met sy vernietegende gevolge is ‘n voorbeeld van die soort ongesonde nasionalisme waarteen Gasset gewaarsku het. Die vernietiging van identiteit oor die afgelope paar dekades is egter ook nie die oplossing vir Europa nie. Gasset het in bogenoemde werk juis gewaarsku oor wat met Europese volkere sou gebeur indien hul hul vermoë om ‘n groot volksonderneming aan te pak, sou verloor.
Die Franse skrywer, Pierre Manent, skryf in die jongste uitgawe van die Amerikaanse tydskrif First Things oor die Franse se reaksie op die Duitse okkupasie van Frankryk in Junie 1940. Charles de Gaulle kon soos die Nederlanders en Belge die bitter nederlaag teen die Duitsers aanvaar. Hy het egter die teenoorgestelde gedoen. De Gaulle het sy volk verenig om meer te vermag as slegs die omverwerping van die Duitse okkupasie. Ge Gaulle wou weer seker maak dat elke Fransman die geestelike onafhanklikheid van Frankryk kon herleef en dat Franse hulself tot die projek om ‘n unieke en duidelik identifiseerbare Franse nasiestaat te bou, kon verbind.
Manent sê dat die era van volkseenheid en ‘n eie Franse identiteit egter tot ‘n einde gekom het met die opstande van Mei 1968. Die Franse filosoof Alain Finkielkraut skryf in sy nuutste boek, Ongelukkige identiteit, dat die opstande van 1968 waarby hyself betrokke was teen imperialisme en kapitalisme in Frankryk was. Die uiteinde hiervan was egter ‘n anti-identiteitsbeweging wat vandag in Frankryk, soos in talle Europese lande ‘n hoogtepunt bereik.
Die Amerikaanse historikus, Michael O’Meara, skryf in sy boek New Culture, New Right: Anti-Liberalism in Postmodern Europe dat die mens in post-modernistiese Europa soos ‘n stuk onaktiewe materiaal beskou word en tot ‘n kwantitatiewe abstraktheid, nie meer onderskeidbaar van ander mense op die planeet, gereduseer word.
Volens O’Meara word die moderne Europeër se lewe deur gesiglose kontraktuele ooreenkomste gereël wat hom sodanig isoleer en uit enige konteks haal dat hy geen groot strewes, soos dié waarvoor Gasset gevra het, meer oor het nie.
Beide Finkielkraut en O’Meara beweer egter dat die opkoms van nuwe identiteitsbewegings in Europa moontlik hierdie verlammende posisie kan teenwerk. Indien nie sal Europa weer in wanorde verval. Die spontane bewegings teen die instroming van onwettige immigrante is dalk net daardie groot onderneming waarna Gasset in 1929 verwys het en wat nodig is om volkere in Europa weer trots en eensgesind te maak, sonder dat nuwe imperialisme en kontinentale oorloë nodig is. ‘n Liefde vir die eie land, taal, kultuur en tradisies eerder as ‘n neo-imperialistiese nasionalisme is nou in Europa nodig.