fbpx

munisipale verkiesingSuid-Afrika gons oor die komende plaaslike verkiesing. Elke party het iets spesifiek wat hy wil bewys. Die ANC wil aantoon dat die herrie rondom president Zuma en die Gupta-familie nie hulle steun op voetsoolvlak benadeel nie; die DA wil bewys dat sy swart steun hom werklik ‘n alternatiewe regering maak; die EFF wil wys dat sy lawaaierige politiek die verbeelding van die massas aangryp.

En die Vryheidsfront Plus? Die VF Plus wil aantoon dat Afrikaners toenemend deur hulleself op die politieke verhoog verteenwoordig wil word. Dat die strategie om jou stem aan iemand toe te vertrou wat wel nie jy is nie, maar darem jou belange sal dien, uitgedien is; dat die party ook as spreekbuis vir ander minderhede kan dien.

Oor die jare het die VF Plus aan die beginsel van sellfbeskikking verbind gebly. Rondom 1994 is groot drome van ‘n volkstaat gekoester, een wat “in die lewe geroep” of “verklaar” sou kon word. Dat die Vryheidsfront nie hierdie wonderwerk kon verrig nie, terwyl die NP se kulkunsies ook nie minderheidsbelange kon vestig nie, het die Afrikanervolk in 1999 as’t ware polities laat ontbind. As alternatief het hulle die liberale Demokratiese Party (later die Demokratiese Alliansie, of DA) gekies.

Hoopvolle waarnemers het dit as ‘n tydelike flirtasie met liberale politiek beskryf. Dit was nie. In die Suid-Afrika van na 1994 het klassieke liberale waardes, wat kleur en kultuur miskyk om net meriete raak te sien, skielik vir goed opgeleide, welvarende Afrikaners goed gelyk. Die Vryheidsfront het die Vryheidsfront Plus geword en met elke verkiesing veld gewen, maar die DA het steeds die meeste Afrikanerstemme getrek.

Naas die VF Plus het ook die Solidariteit Beweging (spesifiek AfriForum) Afrikanerbelange behartig, veral deur hofaksies. Hulle het juis die liberale kenmerke van die Suid-Afrikaanse grondwet aangewend om Afrikaners ten minste op ‘n gelyke speelveld te probeer hou.

Daarby het Orania onvermoeid aan die skepping van ‘n alternatiewe bedeling vir Afrikaners gewerk. ‘n Gemeenskap wat voldoen aan die voorwaardes vir langtermynoorlewing, is geskep. Orania het selfs in 2000, met die nuwe “kant-tot-wal” munisipale bedeling politieke erkenning gekry, toe die Orania Verteenwoordigende Raad (OVR) in die lewe geroep is om oor die gemeenskap se munisipale status te onderhandel.

Oraniërs het die kans op selfstandigheid aangegryp en hou sedertdien sy eie verkiesing, telkens wanneer Suid-Afrika munisipale rade verkies. Dit is nie omdat Oraniërs hulle isoleer nie. Inteendeel, Orania skakel juis deurlopend met al die betrokke owerhede en neem aan nasionale en provinsiale verkiesings deel.

Die kinkel in die kabel is dat, met die munisipale verkiesings, ook distriksrade verkies word. Orania erken dat hy deel van die Pixley ka Seme Distriksmunisipaliteit is, maar Oraniërs is nie tevore gemobiliseer om vir daardie raad te stem nie. Dit gaan in 2016 verander.

In die Noord-Kaap is die VF Plus in proses om kandidate in elke munisipaliteit te stel. Dit sal Afrikaners wat vir hulleself kant wil kies, geleentheid te gee om dit te doen. Hoewel die party nie Oraniërs gaan mobiliseer om vir die Tembelihle Munisipale Raad (waarvan die owerhede soms beweer Orania deel is) te stem nie, geld die teenoorgestelde vir die distriksmunisipaliteit.

Die VF Plus se werwing vir die distriksmunisipale verkiesing, vul Orania se strewe aan, soos met die OVR, die Orania Beweging en die Orania Dorpsraad ooreengekom. Laat ons elke Afrikaner, ook elke Oraniër, geleentheid bied om vir vryheid te stem.