fbpx

Dit is seker teen hierdie tyd bekend dat daar in Europa en deels ook in die VSA iets soos ‘n breedweg regse herlewing (sonder om die word “regs”, wat al te dikwels as vloekwoord gebruik is, in die negatiewe konteks te benut) plaasvind. Die media, gewoonlik die bringer van die “slegte nuus” uit hulle oogpunt, gooi almal as “regs” in een pot wat eintlik heel diverse groepe en strominge is: die streng sekulêre, pro-gay maar anti-immigrasie Partij voor de Vrijheid in Nederland, die godsdienstig-konserwatiewe Party Reg en Geregtigheid in Pole, die anti-EU en populistiese (maar sekulêre) United Kingdom Independence Party, die nasionalistiese, maar ekonomies en maatskaplik linkse Front National in Frankryk, die separatistiese Lega Nord in Italië en Vlaams Belang in België, die eerder regs-liberale Deense Volksparty en die patriotiese Vryheidsparty van Oostenryk en die konserwatiewe Switserse Volksparty, om maar enkeles te noem. Ook Donald Trump, nominaal lid van die Republikeinse Party in die VSA, maar wat opinies betref sy eie man wat sê wat hy wil, Wladimir Putin van Rusland en Victor Orban van Hongarye word in dieselfde pot gegooi. Dat daar ook aan die links-populistiese kant van die spektrum ‘n aansienlike herlewing is, byvoorbeeld Podemos in Spanje, Syriza in Griekeland en die Linke in Duitsland, om van talle links-nasionalistiese partye in Katalonië, Baskeland, Skotland e.a. nie eens te praat nie, word dikwels minder uitgebasuin. Hoe dit ook al sy, dit is ‘n feit dat die politieke sentrum oftewel die sogenaamde hoofstroom van gematigd-links tot Christendemokrate, tans uitgekalwe word. Of dit net verband hou met woede oor die “establishment” en hulle swak leierskap in sake soos die Euro-krisis of die vlugetling-instroming, of meer substansie het en van ‘n blywende aard is, sal die tyd moet leer. In sekere lande is sulke partye al goed gevestig en sal hulle die politieke storms seker oorleef (soos Front National in Frankryk), in ander is dit ‘n nuwe verskynsel wat net sowel weer kan verdwyn (soos die Alternative fuer Deutschland in Duitsland).

Die vraag is egter of daardie breedweg “regse herlewing” iets vir ons beteken. Vir meeste van die genoemde partye en persone gaan dit in die eerste plek oor hulle land, hulle mense en hulle belange. Die klein Afrikanervolk in Afrika verskyn vir meeste van hulle nie eens op hulle radar nie. Dit is die nadeel wat ons teenoor diegene het wat deel van die linkse spektrum is. Die ANC en ander revolusionêre bewegings kon en kan staatmaak op die reeds lank gevestigde linkse netwerk, van kommuniste tot sosiaal-demokrate en hulle fokus op internasionale solidariteit eerder op as nasionale belang.

Die nuwe regse partye is ook nog in die proses van vestiging en het tans nie veel kapasiteit om buite hulle lande groeperinge te ondersteun nie. Eers relatief onlangs kon verskeie nasionalistiese en behoudende partye vir die eerste keer ‘n gemeenskaplike fraksie in die Europese Parlement vorm (en dit bevat hoegenaamd nie alle bogenoemde partye nie). Die verdeeldheid binne regse kringe, wat in Suid-Afrika in veral die 1980’s en 1990’s kenmerkend was, geld ook vir ander lande.

Nietemin, die Orania Beweging het met sekere van die partye goed gevestigde bande, met ander is al kontak gemaak. Daar is heelwat by hulle om te leer. As hulle sterker word en meer fondse en meer invloed het, sal dit ons ook iewers baat. Daar is natuurlik ook sekere partye wat die benaming vêrregs en ekstremisties verdien en met wie ons om goeie redes nie kontak wil maak nie (soos die NPD in Duitsland of die Goue Daeraad in Griekeland).

Belangriker as direkte bande is egter die verandering van die politieke klimaat wat aan die gebeur is deur die opkoms van nasionalistiese en populistiese partye. Vir dekades het ‘n links-liberale monopolie op die openbare mening bestaan. Een van die punte van absolute konsensus, wat selfs hoofstroom sentrum-regse partye gedeel het, was dat “almal saam beter is as elkeen op sy eie” of, anders gestel, dat die holistiese beter is as die partikularistiese en meer nog, dat dit ‘n onomkeerbare proses is. Dit is die groot sentiment agter die Europese vereniging, die Verenigde Nasies (VN) met al sy onderafdelings van “globale regering” en dit staan ook agter die begeestering vir die “nuwe Suid-Afrika vir almal” en verduidelik die onaantasbare status van iemand soos Nelson Mandela.

Tans verdedig die links-liberale hoofstroom verbete hulle oppergesag oor die openbare mening, maar geleidelik verloor hulle hul magsposisie. Die oortuiging dat ‘n al hoe nouer, al hoe groter Europese Unie beter is as een van verskeie vaderlande begin toenemend steun verloor. Wêreldwye krisisse wys dat die VN se invloed nie so groot is soos hulle graag dink nie en dat hulle inmenging dinge dikwels net vererger. Ook in Suid-Afrika is dit intussen duidelik (al mag dit nog nie-amptelik erken word nie) dat die model van die groot, sentralistiese land vir almal misluk het omdat dit ‘n onoorkombare teenstrydigheid bevat. Hoe groter jy raak, hoe meer lomp en hoe minder effektief raak j yen hoe meer word minderhede afgeskeep.

Enige party, enige openbare diskurs, enige internasionale gebeurtenis wat aantoon dat lande, volke en groepe op hulle eie beter funksioneer as in ‘n gedwonge en kunsmatige eenheid, maak ons argumente meer aanvaarbaar en gee ons meer gehoor en meer steun. Ons vordering hang nie af van buitelandse steun nie, maar die verwikkelinge wat daar aan die gang is, is ‘n teken dat die gety besig is om te draai, tot ons voordeel.RightParties_slide2