by Orania Beweging | Mei 18, 2016 | Nuus |
Hoe durf jy? Hoe durf jy sê dat iemand anders se optrede verkeerd is? Die Humanisme skreeu so hard vandag dat selfs goeie Gereformeerdes sukkel om die woord van God tussen al die Politiese Korrektheid te hoor. Verskoon my meneer, ek wil nie aanstoot gee nie, maar jy moet darem nie al jou geld uitdrink sodat jou kinders swaarkry nie. Hoe durf jy? Jammer, meneer. Ek sal nie weer nie. Ek gaan my nek lekker ontbloot en solank op die Polities Korrekte kapblok neerlê: Homoseksualiteit is ook sonde. Ja, daar is vele ander sondes ook, ek weet, soos pedofilie en skinder en diefstal en hoogmoed, maar homoseksualiteit ook; Riaan se uitspraak oor die wreedheid van die gode ten spyt. “Laat die een wat sonder sonde is die eerste klip gooi! Jy mag nie oordeel nie!” gil die quasi-kerk, gil die politieskorrekte, gil die Woolworths tannie, gil die feminis met haar baniere soos die klippe om my reën. Ek gooi nie klippe nie julle, ek sê maar net wat God in sy Woord sê. En die die klippe hou aan teen my vasreën soos ek huiswaarts keer op my scooter. Ek word elke aand nou maar aan die slaap met die ritmiese gedreun van klippe op my sinkdak. Rassehaat is ook sonde en ek is ’n groot voorstander vir verskeidenheid van volkere en kulture en mense, ek kry sommer lekker om die Khoi mense in hul tradisioneel drag nou die dag hier by Orania te aanskou. Ek is trots om ’n Afrikaner te wees en trots saam met ander mense wat hul Kultuur koester. Ek erken en vier selfs die verskille. Mens mag nie haat nie. Hoe durf jy? Gil die vêrregses nou. Hoe durf jy? Gil die super-pienk-liberaliste soos ek oor veelvuldige kulture praat maar ek verdwaal nou agter ’n ander jakkals aan.
Mag mens oordeel? Moet jy oordeel?
Ek lees eenkeer ’n verhaal oor ’n klein dorpie, gebou aan die voet van ’n majestueuse bergreeks. Hierdie dorpie was, soos meeste ander klein dorpies, gevul met die daaglikse gang van die burgery. Hierdie dorpie was egter uniek siende daar, so ’n paar honderd meter van die dorpie se grens, net so agter die begraafplasie, ’n indrukwekkende en onheilspellende grot was. Om eerlik te wees was die grot nie onheilspellend nie, daar was niks spellend daaraan nie, die grot was onheilig, gevaarlik, boos. Wat presies daar gewoon het, of daar aangegaan het, is nooit oorvertel nie, die wat gaan probeer uitvind het se oorskot is weke later buite die dorpie gevind. Hierdie grot was blerrie-lewens-gevaarlik. Die dorpsraad het uiteraard reëls en regulasies ingestel om die burgery te beskerm teen die gevaar. Reëls so eenvoudig soos: “Geen inwoner mag naby die grot gaan nie”
Ongelukkig, soos die mensDOM maar is, het enkelinge en groepies mense die kans gewaag om te gaan kyk en twee weke later het weduwees of kinders of pappas of mammas geween en “Genade onbeskryflik groot” gesing soos die kiste afsak.
As jy in so ’n dorpie sou woon, wat sou jy nie alles doen om jou geliefdes weg te hou van daardie grot af nie? Ek sou, as ek hoor dat hulle wou gaan, so vêr gaan om hulle toe te sluit, vas te hou, om te keer dat hulle hulself skade aandoen.
Jy mag nie oordeel nie, daarmee stem ek saam, maar mag ons mekaar liefhê? Mag jy iemand so passievol en angstig liefhê dat jy hulle van die kwaad wil weghou? Dat jy jouself ongewild sal maak om hulle te beskerm?
Met hierdie verhaal in my gedagtes dink ek weer aan die “Jy mag nie oordeel nie” standpunt. Sien julle nie die grafte nie? Sien julle nie die ontsaglike groot gevaar van die grot van sonde meer raak nie? Weeg Humanisme en Polities Korrek wees swaarder as mense se ewigheid?
My betoog is dat ons, in plaas van ’n humanistiese “almal maar laat begaan om hul eie einde te soek”, werklikwaar weer as gemeenskap mekaar sal liefhê, so ernstig liefhê dat ons sal inmeng en omgee.
As ek op pad na daardie grot is en ek pleit nou by julle almal, asseblief, moenie polities korrek probeer wees nie, help my.
Daar is niks so mensverkeurend gevaarlik as sonde nie. Dit is juis vanuit God se liefde dat hy vir ons die wette gee; om ons te beskerm om ons weg te keer van ons eie geneigdheid tot selfvernietiging; en Hy gebruik mense as sy medewerkers hierin. Dit was immers God self wat die wette vir Moses gegee het, maar Moses het dit aan die volk gaan meedeel, Moses het dit in regspraak aangewend. Is dit nie juis wat ons vandag nodig het nie? Ons benodig meer wette wat weer in God se liefde toegepas en gehoorsaam word.
Ek sluit hierdie skrywe met paar woorde vanuit Jakobus 5.
Broeders, as een onder julle van die waarheid afgedwaal het en iemand hom bekeer, laat hy weet dat die een wat ‘n sondaar van sy dwaalweg bekeer, ‘n siel uit die dood sal red en ‘n menigte sondes sal bedek.
by Orania Beweging | Mei 18, 2016 | Nuus |
Toe die Sowjet Unie op 25 Desember 1991 tot ’n einde gekom het, het die wêreld ook geglo dat die Koue Oorlog verby was. Tog sien ons vandag dat die Westerse lande onder die vaandel van die Noord Atlantiese Verdragsorganisasie voortdurend besig is om strategieë te bedink om die opmars van Rusland te probeer stuit.
Vyf en twintig jaar na die val van die Sowjet Unie het Amerika 35 000 soldate wat permanent in Europa en veral die oosgrens naby aan Rusland, gestasioneer is. Die VSA beplan om binnekort tussen 4000 en 5000 ekstra soldate na Oos-Europa te stuur ten einde die bedreiging van Rusland teen te staan.
Sedert die einde van die Koue Oorlog handhaaf die VSA ’n aktiewe militêre teenwoordigheid in Europa. Onder die presidentskap van George W. Bush is ’n komplekse missielafweerstelsel deur die Amerikaners in Pole ontwikkel.
Hoewel die internasionale gemeenskap vermoed het dat Barack Obama die VSA se militêre betrokkenheid in Europa sou afskaal, het die teenoorgestelde eintlik gebeur. In 2014 het Obama die sogenaamde “Europese Gerusstellingsinisiatief” aangekondig. Dié inisiatief is daarop gefokus om Rusland te verhoed om Europese lande, veral die Baltiese State, binne te val. Met die bekendstelling van die inisiatief het Obama 1 miljard dollar vir die inisiatief beskikbaar gestel. Teen volgende jaar sal dit tot 3,4 miljard dollar verhoog.
Waarom is die VSA en Wes-Europese state so bekommerd oor ’n moontlike aggressiewe strategie van Rusland? Eerstens moet ’n mens erken dat Rusland nie onskuldig is nie. Die Russe het reeds in 2008 Georgië binnegeval en beset vandag steeds Suid-Ossetia en Abkhazia, twee van dié land se noordelike provinsies.
Gedurende Maart 2014 het Russiese seperatiste in die Krimgebied, ’n skiereiland aan die noordkus van die Swartsee, met die hulp van die Russiese regering en weermag die gebied as onafhanklik van die Oekraïne verklaar.
Rusland is dus bekend vir ’n aggressiewe benadering aan sy westelike en suidelike grens. Die redes hiervoor is egter duidelik. Die gebiede waar Rusland betrokke geraak het, is almal gebiede met groot Russiese bevolkings wat eerder deel van Rusland wil wees. Tweedens het Rusland betrokke geraak in gebiede waar sy eie weermag bedreig kan word sou hy nie die grondgebied daarom beheer nie. Rusland het ’n belangrike vlootbasis op die Krimskiereiland.
Beide redes vir Rusland se aggressie word gedryf deur lande soos Georgië en die Oekraïne se besluit om minder met Rusland te assosieer en eerder pro-Westerse regerings te verkies. Terwyl hierdie lande wes begin kyk het, het Rusland gevrees dat sy belange daar bedreig kan word.
Die Weste en veral die VSA oorskat die Russiese bedreiging. Rusland het min rede om ander Oos-Europese lande soos Pole en die Baltiese lande binne te val. Rusland se militêre vermoë word ook oorskat. Terwyl die VSA en NAVO egter hul vermoë in Oos-Europa uitbrei, sal Rusland geen ander keuse hê as om dieselfde te doen nie.
Die toenemende of hernude Koue Oorlog tussen die Weste en Rusland is eerder ’n oorsaak van Westerse oordrewe militêre teenwoordigheid as ’n wesenlike bedreiging van Rusland. Indien die Weste te vêr gaan kan dinge binnekort lelik raak in Oos-Europa.
by Orania Beweging | Mei 13, 2016 | Nuus |
Volgens die onlangse retoriek van die regering en die EFF as vernaamste opposisie, is dit duidelik dat die skroewe aangedraai word om Afrikaners van toegang tot geleenthede te ontsê.
Die minister van Sport se onlangse aksies teen sportliggame wat nie die land se demografie weerspieël nie wys hoe swart ekonomiese bemagtiging en regstellende aksie tot nuwe hoogtes gedryf word. Selfs ons talentvolle sportmense sal voortaan bakhand moet staan.
Terwyl ouer Afrikaners nog tot ‘n mate van die ergste gevolge geïsoleer is omdat hulle steeds kan kapitaliseer op die geleenthede wat hulle wel ontvang het, staan jong Afrikaners voor ‘n besonderse uitdaging. Sommige voel die druk so erg dat hulle selfs hoop om die drukgang oppad na ballingskap te ontsnap deur hul Afrikanerskap en selfs hul moedertaal te ontken.
Jeanelle Greyling beskryf die worsteling van sommige jong Afrikaners as volg: “Ons voel soos die naamgenote van ’n reeksmoordenaar wat vir ewig vervloek sal wees weens sy dade. In ’n land waar werk en geld skaars is, blyk dit Afrikaans trek aan die kort end van die prioriteitslys. Slegs die sterkste oorleef, dus voel dié wat nie beplan om te emigreer nie dat ons maar ons moeder(taal) se rokspante moet los en die mededingendste taal aanneem.”[1]
Om kulturele selfmoord te pleeg is egter nie ons enigste opsie nie. Daar is ruimte vir alternatiewe skuiwe. Terwyl die regering ‘n monopolie het op die geleenthede wat die staat uitdeel en wetgewing kan uitvaardig om besighede te straf wat nie sy edikte gehoorsaam nie, verteenwoordig hul invloedsfeer ‘n baie klein persentasie van die geleenthede wat raakgesien, geskep en uitgebuit kan word.
Indien ons die markwaarde van lande se genoteerde maatskappye gebruik as ‘n aanduiding van ekonomiese geleenthede, dan verteenwoordig Suid-Afrika slegs 1.2% van die beskikbare geleenthede wat reeds ontgin word.

Beteken dit dat mens moet emigreer om meer geleenthede te benut? Nee. Tegnologiese ontwikkeling skep vir ons ongekende moontlikhede om vandag op die wêreldverhoog mee te ding.
Volgens Oxford se Ekonomiedepartement het daar gedurende 2013 verkoopstransaksies ter waarde van $20.4 triljoen (miljoen miljoen) aanlyn plaasgevind. Wanneer ons hierdie syfer vergelyk met die Suid-Afrikaanse bruto binnelandse produk (BBP of totale ekonomiese produksie en verbruik), dan is dit 63 keer die grote van Suid-Afrika se BBP. ‘n Kwart van hierdie transaksies is vir die verkoop van digitale produkte. Weens die aard van die aanlynmark kan dit vanaf enige plek in die wêreld bedien word. Ook vanuit Orania.
Digitale netwerke bied aan jong ondernemers toegang tot geleenthede wat vorige geslagte maar net oor kon droom. Die volgende grafiek dui aan hoe nuwe tegnologie die koste verlaag het om sake te doen. Dit kos vandag minder as 1% wat dit 15 jaar gelede gekos het om ‘n kompeterende besigheid te skep. Die rede hiervoor is dat jy nie meer ‘n fisiese winkel, kantoor of stoor nodig het om sake te begin doen nie. Jy het ook nie meer reuse rekenaarbedieners nodig om jou eie webwerf te begin nie. Jy het nie eers meer jou eie webwerf (en webwerfprogrammeerders) nodig om jou goedere of dienste aanlyn te verkoop nie.
Mense kan op verskillende wyses ‘n inkomste aanlyn verdien. Die eerste is om jou arbeid/diens te verkoop. Webwerwe soos www.fiverr.com bied ‘n markplein waar jy jou dienste kan aanbied. Jy kan jouself bemark om mense te help om dokumente te vertaal, grafika te skep, berekeninge op spreitabelle te doen, dokumente te proeflees, webwerwe te ontwerp, sagteware te programmeer en vele meer. Daar is selfs iemand wat handgeskrewe poskaarte na kliënte pos vir ‘n fooitjie.
Die tweede tipe aanlyn besigheid is om digitale produkte te verkoop. Skrywers kan boeke, kortverhale of digbundels en dies meer elektronies op www.amazon.com publiseer[2]. Dit neem 5 minute om ‘n geredigeerde boek te publiseer en dit is binne 48 uur wêreldwyd beskikbaar op Amazon se Kindle winkels. Skrywers verdien tot 70% kommissie op verkope van hul e-boeke, wat heelwat meer is as tradisionele druk.
Videos is ‘n ander tipe digitale produk. www.youtube.com bied ‘n platform waarop enige persoon sy eie tv-kanaal kan skep en videos op kan laai vir die publiek om te sien. Volgens Alexa (‘n diens wat die gewildheid van webwerwe meet) is youtube die tweede mees-besoekte webwerf in die wêreld. Youtube betaal aan mense wat kanale skep ‘n persentasie van die bemarkingsfooi wat hulle verdien uit die advertensies wat videos op youtube voorafgaan. Hoe meer mense na jou videos kyk, hoe meer verdien jy. Gebruikers van youtube kan ook op kanale inteken. Pewdiepie is die youtube kanaal met die meeste intekenare. Dit is in 2010 deur ‘n Sweedse jong man begin waar hy videos wys van hoe hy rekenaarspeletjies speel en belaglikhede aanvang. In 2014 het hy deur sy kanaal $7 miljoen verdien.[3] Gewilde kanale soos hierdie maak veral geld deur maatskappye se produkte in hul videos te plaas en te bemark. Meer oor digitale bemarking later. Videos mag moeilik klink, maar mens moet in ag neem dat selfone en rekenaars vandag beter kwaliteit videos kan maak as wat moontlik was met die toerusting wat Stephen Spielberg gehad het toe hy Hollywoodtreffers Jaws en ET verfilm het. Youtube het heelwat videos wat jou leer hoe om professionele videos met jy selfoon te maak. Indien jy dit sou verkies om geanimeerde videos te maak, kan jy inteken op videoscribe of powtoon se aanlynsagteware. Hierdie sagteware stel enigeen in staat om ‘n video te maak. Jy het ook die opsie om mense op fiverr te gebruik om jou videos meer professioneel te help maak.
Indien jy oor bepaalde kennis of vaardighede beskik wat ander mense graag sal wil leer (byvoorbeeld hoe om sekere sagteware te gebruik of hoe om jou eie groente op organiese wyse te kweek), kan jy gerus ‘n kursus skep wat jy aanlyn op www.udemy.com kan verkoop. Udemy bied ‘n platform waarop jy deur middel van videos en kursusmateriaal jou eie aanlynkursusse kan verkoop.
Jou talent vir fotografie, skets, video of klankopnames kan ook ‘n bron van inkomste wees indien jy jou dit op istock verkoop. istock betaal kommissie van 15% tot 45% vir elke foto, skets, videobeeld of klankopname van jou wat hulle verkoop.
Toepassings vir slimfone en tabletrekenaars is ook ‘n tipe digitale produk. Indien jy van rekenaars hou kan jy gerus leer hoe om hierdie tipe toepassings te skep. Supercell is ‘n Finse besighed wat deur ‘n paar programmeerders met hul spaargeld in 2010 begin is en vandag is dit ‘n besigheid wat miljarde dollars maak uit hul speletjie “Clash of Clans” wat 10 maande geneem het om te skep. Enige persoon kan hul toepassings, nadat dit deur Apple of Google goedgekeur is, op daardie maatskappye se aanlyn toepassingswinkels verkoop aan ‘n reuse internasionale mark. Indien jy ‘n goeie idee het vir ‘n toepassing, kan jy selfs iemand op fiverr kry om dit vir jou te skep sonder dat jy self hoef te leer hoe om dit te doen.
Sou jy dit egter verkies of fisiese produkte te verkoop, kan jy dit op die Suid-Afrikaanse www.bidorbuy.co.za plaas. www.ebay.com bied ‘n soortgelyke platform vir die internasionale mark. Indien jy produkte in grootmaat van fabrieke af wil aankoop om te verkoop, kan jy www.alibaba.com besoek om jou voorraad te vind. Die bestuur van jou fisiese voorraad kan egter ‘n groot kopseer wees, veral as jy internasionaal wil verkoop. Oorweeg dan gerus Amazon se logistieke diens. Stuur jou voorraad na hul verspreidingsentrums en hulle sal jou kliënte se bestellings namens jou versend. Hulle sal selfs waarborge en terugsendings vanaf kliënte hanteer.[4]
Bogenoemde geleenthede maak gebruik van ander besighede se platforms of webwerwe. Die vooordeel hiervan is dat hulle reeds oor miljoene besoekers en verkeer beskik en dat jy met ‘n enkele produk of diens geld kan begin verdien. Die nadeel is dat jy min beheer het oor die wyse waarop jou produk of diens verkoop word. Jy kompeteer ook teen talle ander verskaffers en dit mag moeilik wees om jouself te onderskei. Jy kan sosiale media soos Facebook en twitter gebruik om jou spesifieke produkte en dienste bekend te stel en deur jou netwerk te bemark. Jy kan egter verder gaan en jou eie webwerf skep waarop jy jou produkte kan bemark. Jy hoef ook nie oor programmeringsvaardighede te beskik om dit te doen nie. www.wordpress.com maak dit vir enigeen moontlik om hul eie webwerwe te skep. Besoek www.tyler.com vir ‘n gratis kursus deur Tyler Moore wat jou wys hoe om ‘n professionele webwerf te skep vir minder as R500. Indien jy jou eie webwinkel wil begin waar mense jou produkte kan koop, maak www.shopify.com jou lewe baie makliker en kan jy sonder ‘n professionele programmeerder jou winkel aanlyn kry.
So hoe maak Tyler Moore geld indien sy kursus oor webwerwe gratis is? Hy doen dit deur kommissie te verdien op affiliasieprogramme. Talle aanlynbesighede laat jou toe om kommissie te verdien op kliënte wat jy na hulle verwys. Amazon betaal jou byvoorbeeld tot 7% kommissie op aankope wat mense op hul webwerf maak vir 24-uur nadat jy die persoon na hul webwerf verwys het[5]. Om dit te doen, registreer jy as ‘n affiliaat en kry jy spesiale skakels waarmee jy mense na hul webwerf kan verwys. Wanneer iemand dan hierdie skakels gebruik om na Amazon te gaan, weet Amazon dat jy die persoon gestuur het, en betaal hulle kommissie aan jou uit hulle sak uit wanneer die persoon iets koop, sonder dat dit die persoon iets ekstra kos. Tyler verdien sy kommissie by Hostgator wat webwerwe teen ‘n jaarlikse fooi huisves. Indien jy ‘n baie gewilde webwerf kan skep wat baie besoekers lok, kan jy skakels op jou webwerf plaas na verskaffers wat aan jou affiliasiekommissie sal betaal. Kyk dus gerus watter aanlynbesighede verkoop goed of dienste waarin mense belang mag stel wat jou webwerf besoek en kyk of hulle oor ‘n affiliasie-program beskik. Indien jy nie hierdie moeite wil doen nie, kan jy eenvoudig by Google se Adsense aansluit en een van hul advertensieborde op jou webwerf plaas. Jy verdien dan inkomste vanaf Google elke keer as iemand op die advertensie op jou webwerf klik[6].
Een van die grootste uitdagings vir Suid-Afrikaners is egter om ‘n bankrekening te kry waarin hul geld oorbetaal kan word wat hulle aanlyn maak. Weens Suid-Afrika se valutabeheer word Suid-Afrikaners effektief afgesny van deelname aan die internasionale geleenthede. Waar dit wel moontlik is om geld na ‘n Suid-Afrikaanse rekening te stuur, word ‘n groot persentasie van jou inkomste verteer deur bankkoste en onbillike wisselkoerse. Daar is egter maniere om daarby verby te kom. Een manier is om oorsee te reis en ‘n bankrekening in die buiteland oop te maak. ‘n Ander manier is om ‘n rekening by ‘n verskaffer soos www.payoneer.com oop te maak, wat namens jou geld sal ontvang waarvandaan jy dan jou geld na jou eie rekening kan oorplaas wanneer jy genoeg bymekaar gemaak het om die bankkoste die moeite werd te maak.
Wat belangrik is, is dat baie mense wat groot suksesse aanlyn behaal het soos fiverr, Pewdiepie, Alibaba en Supercell, nie Engelse mense is nie. In hierdie groepie is die suksesvolle ondernemers se moedertale Sweeds, Hebreeus, Fins en Chinees (Mandaryns). Terwyl Engels vir hulle ‘n belangrike funksie verrig, het hulle nie nodig gehad om hulle eie taal of kultuur te verander om aanvaar te word of Engels effektief te kon aanwend nie. Tewens, daar is heelwat bewyse dat mense wat meer as een taal magtig is, meer kreatief en skeppend is en juis uit hul kulture kan put om interessanthede te vind waarvoor ander bereid sal wees om voor te betaal.
Bogenoemde aanlyndienste is egter nie sonder hul uitdagings nie. Dit is ‘n geval van “gebruikers wees gewaarsku.” Jy is self verantwoordelik vir jou eie besluite en om jou risiko te beperk. Begin klein sodat jy kan toets wat werk vir jou sonder om te veel op die spel te plaas en beskerm jou inligting. Die moontlikhede word net al meer. Die digitale rewolusie bied ‘n bykans onuitputbare bron van geleenthede. Veral ook vir jong Afrikaners wat trots op hul eie bene wil staan.
[1] http://www.netwerk24.com/Stemme/Aktueel/laat-ons-onsself-wees-20160510
[2] https://kdp.amazon.com/
[3] https://en.wikipedia.org/wiki/PewDiePie
[4] http://www.amazon.com/gp/help/customer/display.html?nodeId=200229160
[5] https://affiliate-program.amazon.com/
[6] https://www.google.com/adsense/start/#?modal_active=none
by Orania Beweging | Mei 11, 2016 | Nuus |
Waarheen is jy op pad? Is dit nie een van die groot vrae nie. Waarheen is ons op pad? Ek sien ’n foto van ’n advertensie bord op ’n besige snelweg, dit vra: “Why do you keep doing this to yourself?” Wreed. Wanneer ons so ’n oomblik tot stilstand geroep word, tydjie vat om te dink, wat is jou antwoord op bogenoemde vrae?
So tussen die “jou kombers en my matras” deur marsjeer die volk agter wolkkolomme aan, soos Lucas Maree dit gesing het. As die rookwolk bo die stad immers ’n wolkkolom genoem kan word. Een van my stadsvriende vertel vermakerig hoe hy die oggende 5:30 opstaan tot die lieflike gehoes van die voëltjies.
Die Dave Matthews Band wy ’n hele lied aan die miere wat marsjeer. Soos “Ants Marching” beskryf hy die mensdom en die Prediker beskryf dit alles as ’n gejaag na wind. Ons jaag nie na wind nie, ek jaag, of kruip die N1 langs, in my opmars om my deel te doen, my brood te verdien, om terug te jaag na my veilige kompleks in die ooste. Kompleks, inderdaad die regte woord, want ons beleef juis ’n kompleks, ’n intense en verwarrende identiteitskompleks. Kyk in die spieël terwyl jy skeer of grimering doen. Beleef die kompleks. Werk toe, terug, werk toe terug, werk toe terug. Vasgevang in die mars van die lewe. Waarheen is jy op pad?
Ek bewonder en verwonder my aan diegene wat daagliks heen en weer marsjeer. Ek haal my hoed af, ek salueer. Om jou lewe op te offer vir iets so klein soos net jou eie bestaan verg werklike oortuiging. Ek vra om verskoning vir die sarkasme, dit kom van ’n goeie plek af. Miskien is die mensdom se gevoel van sinneloosheid en nutteloosheid juis dit, juis die feit dat wat jy doen, waarvoor jy studeer en alles opoffer, sinneloos is. Ek wil jou nie negatief maak nie, dit is ons as mensdom sommer vanself, ek wil ’n alternatief aanbied.
Wat is jou eindplan? Is dit die volgende groot reis, die aanbouing aan jou huis, die aankoop van die nuwe Hilux? Is dit jou kinders deur universiteit kry, jou skuld afbetaal, verhoging of bevordering? Daar moet tog iets groters wees; meer wees waarvoor ons marsjeer; meer as dit as die rede vir ons bestaan.
Bob Dylan sing: “How many roads must a man walk down, before you call him a man?” Koos du Plessis sing “en eindelik was almal maar net kinders van die wind…” Ek gaan met Koos verskil en vir Bob antwoord. Ons is meer as kinders van die wind, ons is knegte van die Allerhoogste, teen die hele wêreld vry. “How many roads?” miskien net een, die pad na vryheid. Die FAK sing “we are marching to Pretoria,” ons sing “We are marching to Orania”
Ek bied dit aan as sin, as alternatief, as iets groters as jy: “Eendag in Orania”
Kruip môreoggend N1 langs, maar kruip met ’n doel, met ’n visie, met ’n plan, kondig sommer jou plan luidkeels aan: “We are marching to Orania, Orania, Orania. We are marching to Orania, Orania all te way…” Eendag in Orania.
by Orania Beweging | Mei 10, 2016 | Nuus |
Grense is deesdae weer in die nuus. Landsgrense, morele grense, die grense wat die verhouding tussen individue en die staat beheer en grense tussen mense, gemeenskappe en volkere word temas wat toenemend die indiepte-bladsye van koerante en besprekingsprogramma op radio en televisie, veral in Westerse lande, domineer.
Reeds sedert die laat 1960’s beleef die meeste Westerse lande ’n voortdurende veldtog teen grense. Die Britse sosioloog Frank Furedi skryf onlangs dat die Westerse samelewing se vervreemding van grense nie ‘n progressiewe stap is nie, maar dat dit eerder uitdrukking gee aan ‘n krisis onder Westerlinge om by bepaalde grense te bly staan en dit te verdedig. Volgens hom lê die groot probleem in die Westerse samelewing se ontwykende taktiek van nie-veroordeling. Vir enige Westerse beskawing om te oorleef sal die vermoë om waarde-onderskeidings te maak herontdek moet word en sal Westerlinge hul vrees vir hul eie waardes en grense moet oorkom en die vermoë aanleer om dit te kan verdedig, aldus Furedi.
Die Amerikaanse historikus Molly Worthen skryf onlangs in die New York Times oor die verskuiwing van algemene uitdrukkings onder Westerlinge en hoe dit ons aanslag tot belangrike gesprekke verander het. Volgens haar praat mense deesdae eerder van “Ek voel soos dit of dat” as van “Ek dink so” of “Ek glo hierin”. Westerlinge verkies om op maklike abstraksie terug te val eerder as om weens dieper waardes standpunt in te neem.
Die gevolge van meer as vier dekades se afbreek van fisiese en ander grense raak toenemend duidelik. Onwettige immigrante stroom Amerika en Europa binne. In sommige skooldistrikte in Kalifornië word meer as 100 verskillende tale gepraat. Die afgelope tyd heers daar ’n hewige debat in die VSA oor die gebruik van openbare badkamers. Deel van die afbreek van grense was die instel van sogenaamde geslaglose badkamers en die reg aan mense om self te kies watter badkamers hulle wil gebruik.
In Europa het die verval van grense gelei tot onbillike ekonomiese mededinging wat die een krisis na die ander in Suid-Europa, veral Griekeland veroorsaak het. Kommentators skryf van morele verval en die verlies aan identiteit en dus gebondenheid en hoe dit aanleiding gee tot ’n massa ongefokusde individue wat toenemend aan depressie, swak werksprestasie en gebroke verhoudinge lei.
Robert Nisbet het reeds in 1952 in The Quest for Community geskryf dat die verval van grense en identiteit sal lei tot ’n staat van nostalgie en vae verlange wat weer sal oorgaan in diepe ontevredenheid met jou wese en ’n bitter vervreemding van die individu teenoor alles om hom.
Na die verval van grense word dit nou duideliker dat die mens ‘n gemeenskap nodig het. Ons het nodig om aan iets te behoort en om tussen verskillende groepe mense te kan onderskei, om te kan identifiseer met ‘n groep, maar ook met spesifieke duidelike waardes op die terrein van geloof, politiek en kultuur.
Dat Europese lande dus grensbeheer begin toepas en dat 45% van Europeërs verlede week in ‘n peiling aangedui het dat hulle ‘n referedum oor lidmaatskap van die Europese Unie sal wil sien, is ‘n aanduiding dat Westerlinge tog weer begin smag na goeie, gesonde grense.
by Orania Beweging | Mei 9, 2016 | Nuus |
Talle besoekers aan Orania (en waarskynlik nog meer mense wat Orania nog nie besoek het nie) het die persepsie dat Orania volgens een of ander sosialistiese model bestuur word, omdat ons sê dat ons ‘n gemeenskap is.
Die persepsie is byvoorbeeld dat jy grond nie kan koop nie en dit nie jou eiendom is nie, maar dat jy net ‘n lewensreg het en dit ook nie mag verkoop nie, behalwe aan die maatskappy en sonder wins. Verder is die persepsie dat die dorp se inkomste uit die gemeenskaplike boerdery kom en die inwoners se inkomste na die bestuur toe gaan wat dit dan gebruik vir ontwikkeling en om almal se salarisse te betaal.
Daar is blykbaar ‘n probleem om die idee van privaatbesit en privaatinisiatief met die idee van ‘n gemeenskaplike strewe te versoen. Privaat word gekoppel aan individualisme, en gemeenskap aan sosialisme. Verder is dit blykbaar ook moeilik om te verstaan dat ontwikkeling en voorspoed nie soseer kom uit ‘n maatskappy of bestuur wat alles beheer nie, maar uit verskillende privaatinisiatiewe. “Maar hoe verdien die dorp dan sy inkomste as die landbougrond aan privaatpersone behoort?” word dikwels gevra.
Orania funsioneer met die beginsel van die vrye mark, maar met die gemeenskap as die basis en vryheid vir die Afrikaner as ideaal. Dit is ‘n soort derde weg tussen sosialistiese staatsbeheer aan die een kant, en liberale individualisme aan die ander kant. Sowel die alles beheerdende staat asook die individualisme kalwe gemeenskappe uit, dus moet ons nie te veel van die een of die ander een hê nie. Ons soek egter groei en ontwikkeling, en dit is oor en oor bewys dat owerheidsinmenging groei eerder belemmer as bevorder en dat die owerheid hoogstens ‘n rol moet speel as inisieerder van ontwikkeling en dan moet onttrek en die bestuur aan ander moet oorlaat.
Dit is nie toevallig dat Libertariërs nogal ‘n groot mate van aanklank by Orania vind, nie so seer oor die ideaal nie, maar oor die praktyk van ‘n gemeenskpa met die minimum staatsinmenging. Omdat die staatsfunksie in Orania grootliks afwesig is, word ‘n groot mate van dit wat die staat moet doen, deur Orania-instellings gedoen. Die Dorpsraad, wat dikwels as die regering van Orania beskou word, beperk homself grootliks tot die pligte van ‘n munisipaliteit, naamlik dienslewering. Die Dorpsraad het wel ‘n soort “belasting” tot sy beskikking deur middel van heffings. Die Orania Beweging word befonds uit vrywillige bydrae van lede en ondersteuners. Sekere “staatsfunksies” soos die daarstelling en onderhoud van infrastruktuur, die handhawing van orde, geskilbeslegting, maatskaplike hulp en voorsiening van maatskalike behuising word deur die Dorpsraad of die Orania Beweging bestuur en befonds. Daar is sowel betaalde amptenare asook vrywilligers wat daarmee gemoeid is.
Die verskaffing van werk, lewering van produkte en dienste word feitlik heeltemal aan die privaatsektor oorgelaat. Die ekonomie is markgerig en vry, en die owerheid meng selde daarby in. In die beginjare van Orania was die ekonomie gereguleer deur ‘n permitstelsel wat slegs een besigheid van ‘n soort toegelaat het. Dit het egter nie gewerk nie en gelei tot bevoordeling van sekere mense en ontevredenheid by ander en is daarom vervang deur die huidige stelsel van vrye kompetisie. Dit is werklik betreklik maklik om ‘n besigheid in Orania oop te maak, dit is slegs die markkragte wat jou sukses bepaal. Daar is egter ‘n hele paar markkragte wat in ag geneem moet word voor ‘n mens ‘n besigheid begin. Die kompeterende voordele van Orania is die gemak waarmee ‘n besigheid oopgemaak kan word, relatief lae huur, goeie veiligheid en goeie werkende infrastruktuur asook ‘n betroubare en nie-korrupte plaaslike bestuur. Die nadele is dat Orania ver van die markte is sowel vir in- as uitvoer, dat die plaaslike mark klein en in talle opsigte oorbedien is en dat die aanbod aan geskikte personeel nie altyd volop is nie. Die tegniese sentrum en ander onderwysinstellings in die toekoms sal laasgenoemde toedrag van sake egter aanspreek, en met meer inwoners is daar ook meer geleenthede.
Die basis van die ekonomiese model is dat hier geleenthede geskep moet word om ‘n gesonde gemeenskap te bou, maar dat van die enkeling verwag word om die geleenthede aan te gryp en om nie met die leupel gevoer te wil word nie. Sterk individue vorm sterk gesinne en families en bou sodoende ‘n sterk gemeenskap.
