fbpx

GrotHoe durf jy? Hoe durf jy sê dat iemand anders se optrede verkeerd is? Die Humanisme skreeu so hard vandag dat selfs goeie Gereformeerdes sukkel om die woord van God tussen al die Politiese Korrektheid te hoor. Verskoon my meneer, ek wil nie aanstoot gee nie, maar jy moet darem nie al jou geld uitdrink sodat jou kinders swaarkry nie. Hoe durf jy? Jammer, meneer. Ek sal nie weer nie. Ek gaan my nek lekker ontbloot en solank op die Polities Korrekte kapblok neerlê: Homoseksualiteit is ook sonde. Ja, daar is vele ander sondes ook, ek weet, soos pedofilie en skinder en diefstal en hoogmoed, maar homoseksualiteit ook; Riaan se uitspraak oor die wreedheid van die gode ten spyt. “Laat die een wat sonder sonde is die eerste klip gooi! Jy mag nie oordeel nie!” gil die quasi-kerk, gil die politieskorrekte, gil die Woolworths tannie, gil die feminis met haar baniere soos die klippe om my reën. Ek gooi nie klippe nie julle, ek sê maar net wat God in sy Woord sê. En die die klippe hou aan teen my vasreën soos ek huiswaarts keer op my scooter. Ek word elke aand nou maar aan die slaap met die ritmiese gedreun van klippe op my sinkdak. Rassehaat is ook sonde en ek is ’n groot voorstander vir verskeidenheid van volkere en kulture en mense, ek kry sommer lekker om die Khoi mense in hul tradisioneel drag nou die dag hier by Orania te aanskou. Ek is trots om ’n Afrikaner te wees en trots saam met ander mense wat hul Kultuur koester. Ek erken en vier selfs die verskille. Mens mag nie haat nie. Hoe durf jy? Gil die vêrregses nou. Hoe durf jy? Gil die super-pienk-liberaliste soos ek oor veelvuldige kulture praat maar ek verdwaal nou agter ’n ander jakkals aan.
Mag mens oordeel? Moet jy oordeel?
Ek lees eenkeer ’n verhaal oor ’n klein dorpie, gebou aan die voet van ’n majestueuse bergreeks. Hierdie dorpie was, soos meeste ander klein dorpies, gevul met die daaglikse gang van die burgery. Hierdie dorpie was egter uniek siende daar, so ’n paar honderd meter van die dorpie se grens, net so agter die begraafplasie, ’n indrukwekkende en onheilspellende grot was. Om eerlik te wees was die grot nie onheilspellend nie, daar was niks spellend daaraan nie, die grot was onheilig, gevaarlik, boos. Wat presies daar gewoon het, of daar aangegaan het, is nooit oorvertel nie, die wat gaan probeer uitvind het se oorskot is weke later buite die dorpie gevind. Hierdie grot was blerrie-lewens-gevaarlik. Die dorpsraad het uiteraard reëls en regulasies ingestel om die burgery te beskerm teen die gevaar. Reëls so eenvoudig soos: “Geen inwoner mag naby die grot gaan nie”
Ongelukkig, soos die mensDOM maar is, het enkelinge en groepies mense die kans gewaag om te gaan kyk en twee weke later het weduwees of kinders of pappas of mammas geween en “Genade onbeskryflik groot” gesing soos die kiste afsak.
As jy in so ’n dorpie sou woon, wat sou jy nie alles doen om jou geliefdes weg te hou van daardie grot af nie? Ek sou, as ek hoor dat hulle wou gaan, so vêr gaan om hulle toe te sluit, vas te hou, om te keer dat hulle hulself skade aandoen.
Jy mag nie oordeel nie, daarmee stem ek saam, maar mag ons mekaar liefhê? Mag jy iemand so passievol en angstig liefhê dat jy hulle van die kwaad wil weghou? Dat jy jouself ongewild sal maak om hulle te beskerm?
Met hierdie verhaal in my gedagtes dink ek weer aan die “Jy mag nie oordeel nie” standpunt. Sien julle nie die grafte nie? Sien julle nie die ontsaglike groot gevaar van die grot van sonde meer raak nie? Weeg Humanisme en Polities Korrek wees swaarder as mense se ewigheid?
My betoog is dat ons, in plaas van ’n humanistiese “almal maar laat begaan om hul eie einde te soek”, werklikwaar weer as gemeenskap mekaar sal liefhê, so ernstig liefhê dat ons sal inmeng en omgee.
As ek op pad na daardie grot is en ek pleit nou by julle almal, asseblief, moenie polities korrek probeer wees nie, help my.
Daar is niks so mensverkeurend gevaarlik as sonde nie. Dit is juis vanuit God se liefde dat hy vir ons die wette gee; om ons te beskerm om ons weg te keer van ons eie geneigdheid tot selfvernietiging; en Hy gebruik mense as sy medewerkers hierin. Dit was immers God self wat die wette vir Moses gegee het, maar Moses het dit aan die volk gaan meedeel, Moses het dit in regspraak aangewend. Is dit nie juis wat ons vandag nodig het nie? Ons benodig meer wette wat weer in God se liefde toegepas en gehoorsaam word.
Ek sluit hierdie skrywe met paar woorde vanuit Jakobus 5.
Broeders, as een onder julle van die waarheid afgedwaal het en iemand hom bekeer, laat hy weet dat die een wat ‘n sondaar van sy dwaalweg bekeer, ‘n siel uit die dood sal red en ‘n menigte sondes sal bedek.