fbpx

486336438Grense is deesdae weer in die nuus. Landsgrense, morele grense, die grense wat die verhouding tussen individue en die staat beheer en grense tussen mense, gemeenskappe en volkere word temas wat toenemend die indiepte-bladsye van koerante en besprekingsprogramma op radio en televisie, veral in Westerse lande, domineer.

Reeds sedert die laat 1960’s beleef die meeste Westerse lande ’n voortdurende veldtog teen grense. Die Britse sosioloog Frank Furedi skryf onlangs dat die Westerse samelewing se vervreemding van grense nie ‘n progressiewe stap is nie, maar dat dit eerder uitdrukking gee aan ‘n krisis onder Westerlinge om by bepaalde grense te bly staan en dit te verdedig. Volgens hom lê die groot probleem in die Westerse samelewing se ontwykende taktiek van nie-veroordeling. Vir enige Westerse beskawing om te oorleef sal die vermoë om waarde-onderskeidings te maak herontdek moet word en sal Westerlinge hul vrees vir hul eie waardes en grense moet oorkom en die vermoë aanleer om dit te kan verdedig, aldus Furedi.

Die Amerikaanse historikus Molly Worthen skryf onlangs in die New York Times oor die verskuiwing van algemene uitdrukkings onder Westerlinge en hoe dit ons aanslag tot belangrike gesprekke verander het. Volgens haar praat mense deesdae eerder van “Ek voel soos dit of dat” as van “Ek dink so” of “Ek glo hierin”. Westerlinge verkies om op maklike abstraksie terug te val eerder as om weens dieper waardes standpunt in te neem.

Die gevolge van meer as vier dekades se afbreek van fisiese en ander grense raak toenemend duidelik. Onwettige immigrante stroom Amerika en Europa binne. In sommige skooldistrikte in Kalifornië word meer as 100 verskillende tale gepraat. Die afgelope tyd heers daar ’n hewige debat in die VSA oor die gebruik van openbare badkamers. Deel van die afbreek van grense was die instel van sogenaamde geslaglose badkamers en die reg aan mense om self te kies watter badkamers hulle wil gebruik.

In Europa het die verval van grense gelei tot onbillike ekonomiese mededinging wat die een krisis na die ander in Suid-Europa, veral Griekeland veroorsaak het. Kommentators skryf van morele verval en die verlies aan identiteit en dus gebondenheid en hoe dit aanleiding gee tot ’n massa ongefokusde individue wat toenemend aan depressie, swak werksprestasie en gebroke verhoudinge lei.

Robert Nisbet het reeds in 1952 in The Quest for Community geskryf dat die verval van grense en identiteit sal lei tot ’n staat van nostalgie en vae verlange wat weer sal oorgaan in diepe ontevredenheid met jou wese en ’n bitter vervreemding van die individu teenoor alles om hom.

Na die verval van grense word dit nou duideliker dat die mens ‘n gemeenskap nodig het. Ons het nodig om aan iets te behoort en om tussen verskillende groepe mense te kan onderskei, om te kan identifiseer met ‘n groep, maar ook met spesifieke duidelike waardes op die terrein van geloof, politiek en kultuur.

Dat Europese lande dus grensbeheer begin toepas en dat 45% van Europeërs verlede week in ‘n peiling aangedui het dat hulle ‘n referedum oor lidmaatskap van die Europese Unie sal wil sien, is ‘n aanduiding dat Westerlinge tog weer begin smag na goeie, gesonde grense.