Volgens die onlangse retoriek van die regering en die EFF as vernaamste opposisie, is dit duidelik dat die skroewe aangedraai word om Afrikaners van toegang tot geleenthede te ontsê.

Die minister van Sport se onlangse aksies teen sportliggame wat nie die land se demografie weerspieël nie wys hoe swart ekonomiese bemagtiging en regstellende aksie tot nuwe hoogtes gedryf word. Selfs ons talentvolle sportmense sal voortaan bakhand moet staan.

Terwyl ouer Afrikaners nog tot ‘n mate van die ergste gevolge geïsoleer is omdat hulle steeds kan kapitaliseer op die geleenthede wat hulle wel ontvang het, staan jong Afrikaners voor ‘n besonderse uitdaging. Sommige voel die druk so erg dat hulle selfs hoop om die drukgang oppad na ballingskap te ontsnap deur hul Afrikanerskap en selfs hul moedertaal te ontken.

Jeanelle Greyling beskryf die worsteling van sommige jong Afrikaners as volg: “Ons voel soos die naamgenote van ’n reeksmoordenaar wat vir ewig vervloek sal wees weens sy dade. In ’n land waar werk en geld skaars is, blyk dit Afrikaans trek aan die kort end van die prioriteitslys. Slegs die sterkste oorleef, dus voel dié wat nie beplan om te emigreer nie dat ons maar ons moeder(taal) se rokspante moet los en die mededingendste taal aanneem.[1]

Om kulturele selfmoord te pleeg is egter nie ons enigste opsie nie. Daar is ruimte vir alternatiewe skuiwe. Terwyl die regering ‘n monopolie het op die geleenthede wat die staat uitdeel en wetgewing kan uitvaardig om besighede te straf wat nie sy edikte gehoorsaam nie, verteenwoordig hul invloedsfeer ‘n baie klein persentasie van die geleenthede wat raakgesien, geskep en uitgebuit kan word.

Indien ons die markwaarde van lande se genoteerde maatskappye gebruik as ‘n aanduiding van ekonomiese geleenthede, dan verteenwoordig Suid-Afrika slegs 1.2% van die beskikbare geleenthede wat reeds ontgin word.

Markwaardes

Beteken dit dat mens moet emigreer om meer geleenthede te benut? Nee. Tegnologiese ontwikkeling skep vir ons ongekende moontlikhede om vandag op die wêreldverhoog mee te ding.

Volgens Oxford se Ekonomiedepartement het daar gedurende 2013 verkoopstransaksies ter waarde van $20.4 triljoen (miljoen miljoen) aanlyn plaasgevind. Wanneer ons hierdie syfer vergelyk met die Suid-Afrikaanse bruto binnelandse produk (BBP of totale ekonomiese produksie en verbruik), dan is dit 63 keer die grote van Suid-Afrika se BBP. ‘n Kwart van hierdie transaksies is vir die verkoop van digitale produkte. Weens die aard van die aanlynmark kan dit vanaf enige plek in die wêreld bedien word. Ook vanuit Orania.

Digitale netwerke bied aan jong ondernemers toegang tot geleenthede wat vorige geslagte maar net oor kon droom. Die volgende grafiek dui aan hoe nuwe tegnologie die koste verlaag het om sake te doen. Dit kos vandag minder as 1% wat dit 15 jaar gelede gekos het om ‘n kompeterende besigheid te skep. Die rede hiervoor is dat jy nie meer ‘n fisiese winkel, kantoor of stoor nodig het om sake te begin doen nie. Jy het ook nie meer reuse rekenaarbedieners nodig om jou eie webwerf te begin nie. Jy het nie eers meer jou eie webwerf (en webwerfprogrammeerders) nodig om jou goedere of dienste aanlyn te verkoop nie.Digitale ontwrigting

Mense kan op verskillende wyses ‘n inkomste aanlyn verdien. Die eerste is om jou arbeid/diens te verkoop. Webwerwe soos www.fiverr.com bied ‘n markplein waar jy jou dienste kan aanbied. Jy kan jouself bemark om mense te help om dokumente te vertaal, grafika te skep, berekeninge op spreitabelle te doen, dokumente te proeflees, webwerwe te ontwerp, sagteware te programmeer en vele meer. Daar is selfs iemand wat handgeskrewe poskaarte na kliënte pos vir ‘n fooitjie.

Die tweede tipe aanlyn besigheid is om digitale produkte te verkoop. Skrywers kan boeke, kortverhale of digbundels en dies meer elektronies op www.amazon.com publiseer[2]. Dit neem 5 minute om ‘n geredigeerde boek te publiseer en dit is binne 48 uur wêreldwyd beskikbaar op Amazon se Kindle winkels. Skrywers verdien tot 70% kommissie op verkope van hul e-boeke, wat heelwat meer is as tradisionele druk.

youtubeVideos is ‘n ander tipe digitale produk. www.youtube.com bied ‘n platform waarop enige persoon sy eie tv-kanaal kan skep en videos op kan laai vir die publiek om te sien. Volgens Alexa (‘n diens wat die gewildheid van webwerwe meet) is youtube die tweede mees-besoekte webwerf in die wêreld. Youtube betaal aan mense wat kanale skep ‘n persentasie van die bemarkingsfooi wat hulle verdien uit die advertensies wat videos op youtube voorafgaan. Hoe meer mense na jou videos kyk, hoe meer verdien jy. Gebruikers van youtube kan ook op kanale inteken. Pewdiepie is die youtube kanaal met die meeste intekenare. Dit is in 2010 deur ‘n Sweedse jong man begin waar hy videos wys van hoe hy rekenaarspeletjies speel en belaglikhede aanvang. In 2014 het hy deur sy kanaal $7 miljoen verdien.[3] Gewilde kanale soos hierdie maak veral geld deur maatskappye se produkte in hul videos te plaas en te bemark. Meer oor digitale bemarking later. Videos mag moeilik klink, maar mens moet in ag neem dat selfone en rekenaars vandag beter kwaliteit videos kan maak as wat moontlik was met die toerusting wat Stephen Spielberg gehad het toe hy Hollywoodtreffers Jaws en ET verfilm het. Youtube het heelwat videos wat jou leer hoe om professionele videos met jy selfoon te maak. Indien jy dit sou verkies om geanimeerde videos te maak, kan jy inteken op videoscribe of powtoon se aanlynsagteware. Hierdie sagteware stel enigeen in staat om ‘n video te maak. Jy het ook die opsie om mense op fiverr te gebruik om jou videos meer professioneel te help maak.

udemyIndien jy oor bepaalde kennis of vaardighede beskik wat ander mense graag sal wil leer (byvoorbeeld hoe om sekere sagteware te gebruik of hoe om jou eie groente op organiese wyse te kweek), kan jy gerus ‘n kursus skep wat jy aanlyn op www.udemy.com kan verkoop. Udemy bied ‘n platform waarop jy deur middel van videos en kursusmateriaal jou eie aanlynkursusse kan verkoop.

Jou talent vir fotografie, skets, video of klankopnames kan ook ‘n bron van inkomste wees indien jy jou dit op istock verkoop. istock betaal kommissie van 15% tot 45% vir elke foto, skets, videobeeld of klankopname van jou wat hulle verkoop.

Toepassings vir slimfone en tabletrekenaars is ook ‘n tipe digitale produk. Indien jy van rekenaars hou kan jy gerus leer hoe om hierdie tipe toepassings te skep. Supercell is ‘n Finse besighed wat deur ‘n paar programmeerders met hul spaargeld in 2010 begin is en vandag is dit ‘n besigheid wat miljarde dollars maak uit hul speletjie “Clash of Clans” wat 10 maande geneem het om te skep. Enige persoon kan hul toepassings, nadat dit deur Apple of Google goedgekeur is, op daardie maatskappye se aanlyn toepassingswinkels verkoop aan ‘n reuse internasionale mark. Indien jy ‘n goeie idee het vir ‘n toepassing, kan jy selfs iemand op fiverr kry om dit vir jou te skep sonder dat jy self hoef te leer hoe om dit te doen.

Sou jy dit egter verkies of fisiese produkte te verkoop, kan jy dit op die Suid-Afrikaanse www.bidorbuy.co.za plaas. www.ebay.com bied ‘n soortgelyke platform vir die internasionale mark. Indien jy produkte in grootmaat van fabrieke af wil aankoop om te verkoop, kan jy www.alibaba.com besoek om jou voorraad te vind. Die bestuur van jou fisiese voorraad kan egter ‘n groot kopseer wees, veral as jy internasionaal wil verkoop. Oorweeg dan gerus Amazon se logistieke diens. Stuur jou voorraad na hul verspreidingsentrums en hulle sal jou kliënte se bestellings namens jou versend. Hulle sal selfs waarborge en terugsendings vanaf kliënte hanteer.[4]

Bogenoemde geleenthede maak gebruik van ander besighede se platforms of webwerwe. Die vooordeel hiervan is dat hulle reeds oor miljoene besoekers en verkeer beskik en dat jy met ‘n enkele produk of diens geld kan begin verdien. Die nadeel is dat jy min beheer het oor die wyse waarop jou produk of diens verkoop word. Jy kompeteer ook teen talle ander verskaffers en dit mag moeilik wees om jouself te onderskei. Jy kan sosiale media soos Facebook en twitter gebruik om jou spesifieke produkte en dienste bekend te stel en deur jou netwerk te bemark. Jy kan egter verder gaan en jou eie webwerf skep waarop jy jou produkte kan bemark. Jy hoef ook nie oor programmeringsvaardighede te beskik om dit te doen nie. www.wordpress.com maak dit vir enigeen moontlik om hul eie webwerwe te skep. Besoek www.tyler.com vir ‘n gratis kursus deur Tyler Moore wat jou wys hoe om ‘n professionele webwerf te skep vir minder as R500. Indien jy jou eie webwinkel wil begin waar mense jou produkte kan koop, maak www.shopify.com jou lewe baie makliker en kan jy sonder ‘n professionele programmeerder jou winkel aanlyn kry.

Amazon_logo-4So hoe maak Tyler Moore geld indien sy kursus oor webwerwe gratis is? Hy doen dit deur kommissie te verdien op affiliasieprogramme. Talle aanlynbesighede laat jou toe om kommissie te verdien op kliënte wat jy na hulle verwys. Amazon betaal jou byvoorbeeld tot 7% kommissie op aankope wat mense op hul webwerf maak vir 24-uur nadat jy die persoon na hul webwerf verwys het[5]. Om dit te doen, registreer jy as ‘n affiliaat en kry jy spesiale skakels waarmee jy mense na hul webwerf kan verwys. Wanneer iemand dan hierdie skakels gebruik om na Amazon te gaan, weet Amazon dat jy die persoon gestuur het, en betaal hulle kommissie aan jou uit hulle sak uit wanneer die persoon iets koop, sonder dat dit die persoon iets ekstra kos. Tyler verdien sy kommissie by Hostgator wat webwerwe teen ‘n jaarlikse fooi huisves. Indien jy ‘n baie gewilde webwerf kan skep wat baie besoekers lok, kan jy skakels op jou webwerf plaas na verskaffers wat aan jou affiliasiekommissie sal betaal. Kyk dus gerus watter aanlynbesighede verkoop goed of dienste waarin mense belang mag stel wat jou webwerf besoek en kyk of hulle oor ‘n affiliasie-program beskik. Indien jy nie hierdie moeite wil doen nie, kan jy eenvoudig by Google se Adsense aansluit en een van hul advertensieborde op jou webwerf plaas. Jy verdien dan inkomste vanaf Google elke keer as iemand op die advertensie op jou webwerf klik[6].

Een van die grootste uitdagings vir Suid-Afrikaners is egter om ‘n bankrekening te kry waarin hul geld oorbetaal kan word wat hulle aanlyn maak. Weens Suid-Afrika se valutabeheer word Suid-Afrikaners effektief afgesny van deelname aan die internasionale geleenthede. Waar dit wel moontlik is om geld na ‘n Suid-Afrikaanse rekening te stuur, word ‘n groot persentasie van jou inkomste verteer deur bankkoste en onbillike wisselkoerse. Daar is egter maniere om daarby verby te kom. Een manier is om oorsee te reis en ‘n bankrekening in die buiteland oop te maak. ‘n Ander manier is om ‘n rekening by ‘n verskaffer soos www.payoneer.com oop te maak, wat namens jou geld sal ontvang waarvandaan jy dan jou geld na jou eie rekening kan oorplaas wanneer jy genoeg bymekaar gemaak het om die bankkoste die moeite werd te maak.

Wat belangrik is, is dat baie mense wat groot suksesse aanlyn behaal het soos fiverr, Pewdiepie, Alibaba en Supercell, nie Engelse mense is nie. In hierdie groepie is die suksesvolle ondernemers se moedertale Sweeds, Hebreeus, Fins en Chinees (Mandaryns). Terwyl Engels vir hulle ‘n belangrike funksie verrig, het hulle nie nodig gehad om hulle eie taal of kultuur te verander om aanvaar te word of Engels effektief te kon aanwend nie. Tewens, daar is heelwat bewyse dat mense wat meer as een taal magtig is, meer kreatief en skeppend is en juis uit hul kulture kan put om interessanthede te vind waarvoor ander bereid sal wees om voor te betaal.

Bogenoemde aanlyndienste is egter nie sonder hul uitdagings nie. Dit is ‘n geval van “gebruikers wees gewaarsku.” Jy is self verantwoordelik vir jou eie besluite en om jou risiko te beperk. Begin klein sodat jy kan toets wat werk vir jou sonder om te veel op die spel te plaas en beskerm jou inligting. Die moontlikhede word net al meer. Die digitale rewolusie bied ‘n bykans onuitputbare bron van geleenthede. Veral ook vir jong Afrikaners wat trots op hul eie bene wil staan.

[1] http://www.netwerk24.com/Stemme/Aktueel/laat-ons-onsself-wees-20160510

[2] https://kdp.amazon.com/

[3] https://en.wikipedia.org/wiki/PewDiePie

[4] http://www.amazon.com/gp/help/customer/display.html?nodeId=200229160

[5] https://affiliate-program.amazon.com/

[6] https://www.google.com/adsense/start/#?modal_active=none

Blog Single

Jou kultuur en (digitale) geleenthede

by | Mei 13, 2016 | Nuus | 5 comments

5 Comments

  1. Anthony Schlemmer

    Dankie Ebert. Jong Afrikaners moet hulle bewapen met kennis. Dan is daar altyd hoop…

    Reply
  2. jean

    Mens kan natuurlik Bitcoin gebruik om geld van enige plek in die wereld te ontvang en plaaslik te verkoop vir Rand. Die Yahoo’s en Google’s in die digitale geldeenheid moet nog begin word. Daar is baie geleenthede.

    Reply
  3. Lucas vd Merwe

    Ebert baie goeie artikel. Dit gee baie hoop.

    Reply
  4. Dirk Scheepers

    Goeie artikel, ek stem saam. TransferWise is ‘n nuwe mpy met meer billike oorplasingskostes en bied binnekort USDZAR aan. Al koop Afrikaners net een prima-aandeel uit die Dow 30 in dollar terme beveilig jy jouself teen ‘n afname in die waarde van die Rand en kan boonop nog dividende inkomste ook verdien.

    Reply
  5. Oom Ekonoom

    Baie goeie artikel.regtig baie goed. Soveel moontlik mense moet hiervan uitvind en maniere uitdink om so inkomste te kan verdien. Ek sou voorstel om bietjie meer info te gee in toekomstige blogs oor hoe om die groot probleem van inkomste uit te sorteer, en ook oor opleidingsgeleenthede op coursera, edx en udacity sodat belangstellendes ten volle digitale geleenthede kan benut.

    Reply

Submit a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

4 × 3 =